William Ewart Gladstone Louw (31 Mei 1913 – 24 April 1980) was kunsredakteur van Die Burger en ’n professor in Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy was 'n Afrikaanse digter en lid van die Dertigers-beweging in die letterkunde, wat die Hertzogprys met sy poësie gewen het.Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/louww.htmlEsat: http://esat.sun.ac.za/index.php/W.E.G._Louw

Lewe en werk regs|300px|duimnael|W.E.G. Louw en sy vrou, die komponis Rosa Nepgen.

Herkoms en vroeë lewe William Ewart Gladstone Louw is op 31 Mei 1913 as die jongste van vier broers in Sutherland gebore. Sy ouer broer was die latere digter N.P. van Wyk Louw, en die gesin se woonhuis in Jubileestraat is later weens sy en sy broer se belang in die letterkunde as museum verklaar. Albei seuns het hul skoolloopbaan aan SACS voltooi, toe nog in die Kaapse middestad. In 1935 is hy die Hertzogprys vir Die ryke dwaas (saam met C. Louis Leipoldt en Totius) toegeken. Die versameling poësie kan moontlik as die begin van die Dertigers-beweging in die Afrikaanse literatuur beskou word.Lindenberg, E., et al. Inleiding tot die Afrikaanse Letterkunde. Pretoria en Kaapstad: Vyfde uitgawe, 1980.

Hy was die seun van die prokureur Bismarck von Moltke Louw en Martha Hendrina Johanna Frederika (Poppie) van Wyk, dogter van ’n bekende boer van die distrik. Sy broers was Koos, die bekende digter N.P. van Wyk Louw en Bismarck von Moltke.Geni: http://www.geni.com/people/W-E-Gladstone-Louw/6000000004148776685 Hy begin sy laerskoolopleiding op Sutherland. In Desember 1920 vestig die gesin hulle in Oranjezicht in Kaapstad. Die verhuising is egter nie ’n volslae breuk met sy plattelandse verlede nie, aangesien hulle huis in Sutherland eers in 1925 verkoop word, sy pa steeds vennoot in die prokureurspraktyk op die dorp is en die kinders vir etlike jare steeds vir die somer- en wintervakansies sou terugkeer na familie in die distrik of die naburige Calvinia-distrik. In Kaapstad ontvang hy sy laer- en hoërskoolopleiding hoofsaaklik aan die Engelsmedium South African College, waar hy in 1930 matrikuleer. Sy matriekuitslae sluit twee onderskeidings in en hy verower hiermee ’n studiebeurs.

Op hoërskool dien hy op die redaksie van die skooltydskrif The South African College Magazine, waarin van sy eerste gedigte verskyn, terwyl hy ook dien op die komitee van die Literary and Debating Society. In hierdie tyd ontvang hy musieklesse by ’n Duitse dame, wat sy belangstelling in verskeie ander aspekte van die Wes-Europese kultuur prikkel. Skoolvakansies bring hy meestal deur op sy oupa Van Wyk se plaas Gunsfontein naby Sutherland.

duimnael|regs|240px|Dié herinnering aan sy aanneming as lidmaat van die NG gemeente Jeppestown is op 11 April 1943 aan W.E.G. Louw uitgereik.

Verdere studie en loopbaan as digter Van 1931 af studeer hy aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy die B.A.-graad in 1933 en die M.A.-graad in 1934 met ’n studie oor die poësie van die Nederlandse digter J.H. Leopold verwerf. Van die begin van 1931 neem hy elke Vrydagaand privaatlesse in Duits by N.P. van Wyk Louw en hierdie kontak verstewig die verhouding tussen die twee broers, wat weens die groot ouderdomsverskil tot in daardie stadium oppervlakkig was. Hy wys die gedigte wat hy skryf in hierdie tyd aan sy broer en ’n paar intieme vriende en hulle moedig hom aan om dit te laat publiseer. Vergesel van ’n paar vriende lees hy dan die verse aan professor F.E.J. Malherbe voor, maar dit is ’n ongelukkige ontmoeting. In ’n latere brief aan Malherbe stip W.E.G. Louw redes hiervoor aan, naamlik hulle vreemdheid vir mekaar, die teenwoordigheid van ander, sy eie smaaklose lees van die verse en Malherbe se moegheid en prikkelbaarheid.

Malherbe het tydens die ontmoeting ’n aantal opmerkings gemaak wat Louw as onvanpas en sonder werklike insig beskou het, en hy besluit daarna om eerder self die gedigte te publiseer as om deur ’n uitgewer te werk. So verskyn Die ryke dwaas dan, wat ook met die Hertzogprys bekroon word en amptelik die Dertiger-beweging in die poësie inlui. Malherbe kry ’n afskrif van die bundel en skryf uit die bloute ’n waarderingsbrief aan Louw, waarin hy die genot wat hy aan die bundel het, duidelik stel. Hy lewer dan ook ’n waarderende resensie daaroor in Die Huisgenoot, maar in latere jare is daar ’n breuk tussen Louw en Malherbe, wanneer dit uit getuienis soos vervat in Dokumente van Dertig van J.C. Kannemeyer duidelik begin word dat Malherbe se optredes nie altyd vry te spreek is van onegtheid, ’n gebrek aan insig en ’n jag na eie voordeel nie. Gerrit Dekker, vername meningvormer in die letterkunde van daardie tyd, skryf ook ’n positiewe resensie, waarna die sukses van die bundel feitlik verseker is.

Tydens sy studentejare is Louw aktief betrokke by die Afrikaanse Nasionale Studentebond. Hy het in sy vroeë studentejare ’n verhouding met Hettie Smit (wat weerklank vind in haar boek Sy kom met die sekelmaan) en leer ook vir F.J. le Roux goed ken. Hy het ook ’n belangrike aandeel aan die stigting van die Vereniging vir die Vrye Boek in 1936 wat hom ten doel stel om die aandag op die nuwe poësie te vestig en om N.P. van Wyk Louw se Alleenspraak gepubliseer te kry. As student blink hy uit deur die J.H. Hidding-beurs aan Kaapstad Universiteit en die Queen Victoria Memorial Scholarship vir oorsese studie in die Verenigde Koninkryk te ontvang. Gedurende 1935 is hy vir ’n tyd waarnemende lektor in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad. Teen die einde van 1935 vertrek hy na Nederland, waar hy aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam studeer en in 1939 die doktorale eksamen (Drs.Litt.) voltooi onder leiding van N.A. Donkersloot en A.A. Verdenius. Hy neem Kunsgeskiedenis hier as ’n byvak.

Deur kritiese beskouinge en toesprake stel hy die jonger Afrikaanse poësie aan die Nederlanders bekend en publiseer onder meer in 1939 ’n bestekopname van die jongste Afrikaanse digkuns in De nieuwere Afrikaanse poëzie, terwyl hy ook die bydrae Vernuwing in die Afrikaanse poësie lewer tot J. Haantjes se Kroniek van Zuid-Afrika, wat in 1938 verskyn. Tydens sy tyd in Nederland maak hy van die geleentheid gebruik om gereeld konserte, toneelopvoerings en museums te besoek en tydens vakansies reis hy na ander dele van Wes-Europa. In München in Duitsland maak hy ’n intensiewe studie van Rembrandt se skilderye in opdrag van Frederik Hendrik oor die lyding en dood van Christus, wat later sou lei tot sy reeks sonnette Die passie van ons Heer wat in Adam en ander gedigte opgeneem word. Net na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog keer hy in November 1939 terug na Kaapstad, waar hy in 1942 aan die plaaslike universiteit promoveer (Ph.D.-graad) met ’n proefskrif oor Die invloed van Gorter op Leopold: ’n Bydrae tot die studie van die sensitivisme, wat later gepubliseer word.

Saam met D.B. Bosman, N.P. van Wyk Louw en Jan Greshoff stel hy die bloemlesing Tussen die engtes (1940) saam met die doel om Nederlandse skrywers tydens die Duitse besetting te steun. Geld so ingesamel stel hulle in staat om later vir A. Roland Holst en J.C. Bloem op besoeke na Suid-Afrika te bring. Daarna werk hy vanaf September 1941 ’n tyd lank by die Reddingsdaadbond in Johannesburg, ’n organisasie wat gestig is om op ekonomiese en kulturele gebied hulp te verleen aan Afrikaners wat weens die droogte en depressiejare verarm is. Hier vertolk hy veral ’n groot rol as toneelorganiseerder. Hy probeer ’n betrekking by Die Burger kry, maar die bevinding is dat hy met ’n doktorsgraad te goed gekwalifiseer is vir die joernalistiek. In 1942 doen hy aansoek om die pos as hoogleraar in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, ’n posisie wat vakant word met die aftrede van D.F. Malherbe. Hoewel hy die enigste kandidaat is wat deur die Senaat aanbeveel word, stel die Raad ’n ander kandidaat aan. Hulle neem klaarblyklik eksepsie teen “politieke” verse in sy bundel Terugtog (veral die Renegaat-sonnette, wat as ’n toespeling op generaal J.B.M. Hertzog beskou is).Remembered: http://remembered.co.za/obituary/view/8469

Loopbaan as akademikus en in die koerantbedryf Vanaf die begin van 1944 word hy aangestel as hoogleraar in Afrikaans-Nederlands aan die Rhodes Universiteitskollege in Grahamstad. In dieselfde jaar tree hy in Melville in Johannesburg in die huwelik met die komponis Rosa Sophia Cornelia Nepgen van Barkly-Oos, ’n huwelik waaruit twee seuns gebore word, Johannes en Paul. Saam met N.P. van Wyk Louw en H.A. Mulder rig hy in 1945 die onafhanklike blad Standpunte op en hy tree ook geruime tyd op as redaksie-sekretaris van hierdie blad. Aan die einde van 1948 vertrek hy op ’n ses maande lange oorsese reis. Op Grahamstad speel hy ’n belangrike rol in die klein Afrikaanse gemeenskap en is die dryfkrag agter die stigting in 1956 van ’n plaaslike Afrikaanse skool, Hoërskool P.J. Olivier. Wanneer die koshuis van hierdie skool later gebou word, kry dit die naam van Huis W.E.G. Louw. Deur sy bemiddeling kom die Vlaamse letterkundige Rob Antonissen in 1951 na Suid-Afrika en word hy aangestel as dosent aan Rhodes Universiteit en volg Louw as hoogleraar op wanneer hy besluit om die professoraat in 1957 te laat vaar.

Hy verhuis in 1957 na Oranjezicht in Kaapstad, waar hy kunsredakteur word van Die Burger, ’n betrekking wat hy tot einde Desember 1966 beklee. In hierdie kapasiteit skryf hy gereeld self artikels oor musiek en die skilderkuns en lewer toneel, rolprent en letterkundige kritiek, terwyl hy elke week ’n kort essay skryf wat Saterdae as die hoofartikel in die blad verskyn. Hy redigeer en skryf verskeie artikels en reekse waarin hy die belangstelling van die lesers in die letterkunde prikkel, soos byvoorbeeld Omgang met poësie van 19 Mei 1959 en die Euwel van die voorgeskrewe boek. Hy redigeer ook bylaes van kulturele aard, soos die Wonder van Afrikaans bylae wat op 16 April 1959 in Die Burger, Die Volksblad en Die Oosterlig verskyn het, met bydraes van onder andere M.E.R., N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman en Boerneef.

Vanaf Januarie 1967 tot einde 1978 is hy professor in die Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy vir W.J. du P. Erlank (Eitemal) in hierdie kapasiteit opvolg en in 1979 is hy besoekende professor in Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad. Steeds gaan hy voort om gereelde toneelresensies vir Die Burger te skryf. Hy vestig hom in hierdie tyd eers in ’n huis op Stellenbosch en later op ’n plasie tussen wingerde en olyfbome langs die Strand-pad naby Stellenbosch, wat hy Sondraai noem.

Tussen 1948 en 1973 lê hy ses oorsese besoeke af en besoek feitlik elke Wes-Europese land vir studie, of as afgevaardigde van genootskappe, of om lesings ingevolge kultuurverdrae te gee. In 1954 bring hy onder andere besoek aan sy broer N.P. van Wyk Louw in Amsterdam, waar hy vier maande vertoef in sy navorsing oor Martinus Nijhoff se literatuuropvattings en enkele lesings aan die Universiteit van Amsterdam gee oor Prosodie: die wetenskap van die ritmiek.

Persoonlike lewe en sterfte Hy leef hom ook uit op kultuurgebied en is sedert 1944 lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, van 1960 lid van die Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde, sedert 1954 erelid van die Friese Akademie en lid van die Afrikaanse Skrywerskring. Hy dien vanaf 1955 tot 1968 op die uitvoerende komitee van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings en dien ook op die beheerrade van die S.A. Kultuurhistoriese Museum en van die Nasionale Kunsmuseum. Hy is tussen 1958 en 1966 raadslid van die Universiteit van Kaapstad. Tot met sy dood is hy letterkundige adviseur van die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling, toneelkritikus van Die Burger en direkteur van Historiese Huise van Suid-Afrika Beperk.

Hy is ’n oortuigde Calvinis en dien by herhaling as ouderling in sy kerk.