Ds. Adriaan (Attie) Jacobus Louw Hofmeyr (Calvinia, 13 April 1854 – Bellville, 1 Mei 1937) was ’n geliefde maar omstrede predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, bekend as een van die Kerk se welsprekendste en boeiendste leraarsStockenstrom, E. 1942. Gedenkboek van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente te Prins Albert. Kaapstad: Nasionale Pers, Beperk. asook ’n politieke agitator. In sy meer as halfeeu lange dog onderbroke dienstyd as predikant het hy net vier gemeentes bedien, naamlik van 1881 agtereenvolgens Willowmore, Prins Albert en tot 1899 Wynberg, en daarna eers weer van 1928 tot 1933 Kuruman. Vandat hy dus in 1881 in sy eerste gemeente ontvang is totdat hy 52 jaar later sy emeritaat aanvaar het, het hy langer buite die Kerk se diens gestaan as binne.
Dié lang onderbreking was te wyte aan twee beweerde "onfatsoenlike" verhoudings met vroue, waarvan die eerste betreklik gou in die kiem gesmoor is danksy streng optrede deur die Ring van George, maar die tweede, wat volgens oorlewering ernstiger van aard was, daartoe gelei het dat hy die Kerk se diens van 1899 tot 1928 moes verlaat ná ’n bittere twis, waarskynlik juis oor sy onbetaamlike optrede, tussen hom en die kerkraad van die NG gemeente Wynberg.
So het van sy vroeë potensiaal om, net soos sy vader en ander gesiene Hofmeyr-familielede in diens van die evangelie, 'n leidende rol in die NG Kerk te speel, niks tereg gekom nie. Sy broer Jan is in 1887 as predikant geskors nadat hy bedank het, ook weens onsedelike gedrag. Toe ds. Adriaan Hofmeyr eindelik in 1933 aftree as predikant van die NG gemeente Kuruman, was hy die leraar in die NG Kerk met die langste diens, hoewel hy toe bloot 'n betreklik onbekende predikant van 'n verafgeleë gemeente was, maar darem 'n tyd lank as Ringsvoorsitter gedien het. Nietemin het sommige Afrikaners hom vir altyd gebrandmerk as ’n volksverraaier omdat hy tydens die Tweede Vryheidsoorlog as agent van die Britse regering die Boere wou omhaal om die wapen neer te lê."‘Handomkeer Hofmeyr’ het Wynberg-lidmate, Boere verbyster", Die Burger, 20 Maart 1999.
Herkoms duimnael|regs|190px|Adriaan Hofmeyr se vader, prof. N.J. Hofmeyr, een van die eerste twee hoogleraars aan die Kweekskool op Stellenbosch. Hy was van 1851 tot 1858 die eerste leraar van die NG gemeente Calvinia, wat so genoem is op sy voorstel ter ere van die kerkhervormer Johannes Calvyn. duimnael|links|320px|Die eerste B.A.-klas aan die Victoria-kollege, die voorloper van die Universiteit Stellenbosch. Adriaan Hofmeyr, toe nagenoeg 19 jaar, sit-lê voor in die middel. Links van hom is J.M. Zahn (seun van die sendeling Gustav Zahn en van 1889 tot 1905 leraar van die Lutherse kerk in Strandstraat, Kaapstad)Die geskiedenis van die Lutherse kerk in Strandstraat. URL besoek op 10 Mei 2016. en regs J.M. Hoffman. Agter sit H.J. Neethling en G.W. Lückhoff.
Adriaan Hofmeyr is in die NG pastorie op Calvinia in die Noordwes-Kaap gebore waar sy vader predikant was. Hy was die oudste van 13 kinders, van wie twee ook predikant geword het: Jan, wat geskors is, en Nico, wat ná 'n kort bediening bedank het. Die jong ds. N.J. Hofmeyr was ’n seun van die vermoënde en goedhartige Jan Hendrik Hofmeyr (1798–1862) en Hester Sophia Joubert van Welgemeend, die Kaapstadse Hofmeyr-woning wat in 1944 in die besit van die Hoërskool Jan van Riebeeck gekom het nadat die provinsiale administrasie van Kaapland dit onteien het. N.J. Hofmeyr was 'n neef van Onze Jan Hofmeyr. Jan Hendrik se vader, Stephanus Johannes Hofmeyr (1760–1826), was die tweede seun van die Hofmeyrs se stamvader, Johann Heinrich Hofmeyr (1721–1805). Een van N.J. Hofmeyr se broers was ds. Servaas Hofmeyr. Hy trou op sy 25ste verjaardag met Maria Magdalena Louw (1834–1918). Hulle het ses seuns en sewe dogters gehad. Hy het in 1859 ’n beroep aanvaar om, saam met ds. John Murray, een van die eerste twee hoogleraars aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch te word.
Adriaan Hofmeyr se ma, Maria Magdalena Louw (1834–1918), was ’n kleindogter van Johannes Wynand Louw (1786–1854), en die oudste van sewe susters wat almal met ’n predikant getroud was. Hulle was: 1. Maria (Miemie); 2. Louisa Adriana (Wiesie) getroud met ds. Arend Hermanus Hofmeyr van Hanover; 3. Margaretha Johanna (Maggie) met ds. Johannes Rudolph Albertyn; 4. Catharina Johanna (Kitty) met ds. George Murray; 5. Johanna Hendrina met prof. C.F.J. Muller; 6. Charlotte met ds. J.C. Truter; 7. Susanna Maria met ds. P.G.J. Meiring. Adriaan se grootouers aan moederskant was Adriaan Jacobus Louw van Babylons Toren, Paarl, en Charlotte Louise Herold, ’n dogter van ds. T.J. Herold (1788–1857). Sy oom Adriaan Jacobus Louw (1859–1935) het ’n leidende rol in die Transvaalse NG Kerk gespeel van 1894 en veral van 1916 tot 1924 toe hy Transvaalse moderator was. Hy was 38 jaar predikant van die NG gemeente Heidelberg, Transvaal. ’n Tante van Adriaan, Susanna Maria Louw (1813–1887), was getroud met die Kaapse bankier Arend Hofmeyr (1802–1887), en hulle was die ouers van ds. J.H. Hofmeyr (1835–1908), 31 jaar predikant van die NG gemeente Somerset-Oos. Sy vrou, Isabella, was ’n suster van prof. John Murray.
Omdat Adriaan skaars vyf was toe die gesin Stellenbosch toe verhuis, geniet hy sy eintlike jeugjare en opvoeding in die Eikestad. Hier studeer hy eers aan die Victoria-kollege en later aan die Kweekskool, waar hy einde 1879 as predikant gelegitimeer is. Op Stellenbosch was hy ’n baanbreker op musiekgebied en het onder meer konserte gehou met ’n orkes van sowat 40 blaas- en strykinstrumente. Hy was ook die leier van ’n groot "gewyd zangkoor".
Huwelik en gesinslewe regs|duimnael|320px|Prof. N.J. Hofmeyr en sy gesin. Voor: Maggie, Lucy, Lily (Susanna); middel: Adriaan met Wynand op sy skoot, Miemie, Tobie; agter: Truida (wat getroud was met ds. John Daniel Kestell), Nico, Annie (Adriaan se vrou), Charlie, Jan en Hessie.
duimnael|links|240px|Ds. Hofmeyr as jong predikant.
Op 8 Maart 1880 trou hy met Anna Jacoba Joubert (27 Augustus 1856 – 23 Junie 1944). Die huwelik was kinderloos, maar die egpaar het wel 'n seun, John William, van wyle ds. Richard van Reenen Barry as hul eie aangeneem. Ds. Barry was die eerste leraar van die NG gemeente Calitzdorp, van 1874 tot 1915 (dit was sy enigste gemeente). Hy is op Calitzdorp oorlede op 16 November 1920 in die ouderdom van 71 jaar.Hopkins, H.C.. 1973. Ned Geref Kerk Calitzdorp 1873–1973. Calitzdorp: NG Kerkraad. Ds. Barry is op die skrikkeldag van 1872 deur Adriaan se vader, prof. Hofmeyr, in die huwelik bevestig met Elisabeth Wilhelmina, wat op 5 Desember 1853 op die familieplaas Spier naby Stellenbosch gebore is as die tweede jongste dogter van Paul A. van der Byl en sy vrou, 'n dogter van ds. T.J. Herold, se tien kinders.
Die eerste mev. Barry is op Donderdagaand 28 Junie 1888 oorlede nadat sy lank bedlêend was. Adriaan Hofmeyr, toe leraar van die nabygeleë NG gemeente Prins Albert, was een van die leraars wat die begrafnisdiens die Saterdagmiddag in die kerk op Calitzdorp gelei het en daar was om die bedroefde familie by te staan. Tydens die diens het ds. Hofmeyr die tussen 500 en 600 toehoorders aangespoor tot bekering en die gelowiges tot volharding in die werk van Here. Hy het hulle ook daaraan herinner hoedat mev. Barry gedurig biddend saam met haar eggenoot gewerk het. By die graf het ds. Hofmeyr die bedankings waargeneem.
Mev. Barry is net meer as 'n maand ná die geboorte van haar tiende kind oorlede. Toe die kinderlose ds. Hofmeyr en sy vrou, 'n niggie van wyle mev. Barry, ná die begrafnis na Prins Albert terugkeer, neem hulle die vierjarige Reggie Barry vir 'n tydjie met hulle saam. Hulle wou hom later aanneem, maar ds. Barry bied hulle die baba, John William (Willie, 16 Mei 1888 – 31 Augustus 1927 op Bethlehem), aan wat hy gereken het die sorg van 'n moeder die nodigste gehad het.
Ds. Barry het hierna gereeld met kar en perde Prins Albert toe gery om klein Willie te besoek en so kry hy mettertyd 'n ogie op die prinsipale van die plaaslike skool, Christina Maria (1883–1933), met wie hy op 22 April 1890 op Stellenbosch trou. Sy was 'n leerling in prof. Hofmeyr se Bybelklas op Stellenbosch. By haar het ds. Barry nog ses kinders gehad. Soos die geval in die huwelik van sy aanneemouers, was ook Willie se huwelik met Helena Brink op 8 Junie 1918 op Wellington, kinderloos. Sy is in 1887 gebore en op 29 Januarie 1954 in die ouderdom van 66 jaar oorledeGenealogieonline.com oorlede.
Willie was blykbaar ten tyde van sy dood 'n bankbestuurder op Bethlehem.Genealogieonline.com Helena Barry-Hofmeyr was lid van die Provinsiale Raad vir die kiesafdeling Bethlehem vir die Nasionale Party vanaf die provinsiale verkiesing in 1949 tot in 1953 en daarna nog sekretaresse van die N.P. se tak Bethlehem-Wes, toe sy by Burgerstraat 39,Die huis op Google Maps gewoon het.Goosen, D.P. (red.). 1953. Die triomf van Nasionalisme in Suid-Afrika (1910–1953). Johannesburg: Impala Opvoedkundige Diens (Edms.) Bpk.
Dit was waarskynlik as gevolg van sy aangenome seun en skoonsuster se verbintenis met Bethlehem dat ds. Hofmeyr gevra is om op 28 Februarie 1931 die wydingsdiens waar te neem tydens die ingebruikneming van die NG kerk Bethlehem-Wes.
Ds. Hofmeyr, wat bekend was om sy liefde vir kinders, het Willie soos hul sy eie grootgemaak. Hy het die seun gereeld saam geneem met huisbesoek, ook op die omliggende plase. By sy vader het klein Willie sy liefde vir perde gekry.Capeinfo.com/blogs Karoo Rose se blog, Letters from a Parsonage .
Willowmore duimnael|regs|250px|Die ou kerkgebou van die NG gemeente Willowmore, waarskynlik ontwerp deur Carl Otto Hager. Ds. Hofmeyr was skaars drie jaar lank predikant hier voor hy die beroep na Prins Albert aangeneem het.
Aan die begin van 1881 word ds. Adriaan Hofmeyr met handeoplegging deur sy vader in sy eerste gemeente, Willowmore, bevestig, waar hy baie goeie werk verrig het, veral ten behoewe van die jeug. Dié gemeente was toe skaars 17 jaar oud nadat dit in 1864 gestig is. Die eerste leraar, ds. P.N. Ham, is in November 1865 bevestig, maar hy is oorlede ná 'n bediening van slegs 10 maande.
Die gemeente was hierna 'n verdere drie jare vakant omdat die nodige geld nie gekry kon word om 'n leraar te betaal nie. Nietemin besluit die kerkraad in 1869 om weer 'n leraar te beroep sodat ds. George Murray in Julie van daardie jaar bevestig word as die gemeente se tweede leraar. Van toe af kon die gemeente onder dié seun van ds. Andrew Murray sr. en 'n broer van dr. Andrew Murray se geseënde arbeid begin bloei en groei.
Tydens sy bediening word ook die ou kerk vervang deur 'n groot en doelmatige gebou wat moontlik ontwerp is deur die grootste eksponent van die neogotiese kerkboustyl in Suid-Afrika, Carl Otto Hager, en in 1879 ingewy is. Die kerk het sitplek gebied aan 800 kerkgangers, maar is in 1963 gesloop om plek te maak vir die huidige.
Ds. Hofmeyr vertrek ná sy kort dienstyd van hier na die nabygeleë Prins Albert nadat ’n volstrekte meerderheid van die kerkraad op 27 Augustus 1883 besluit het om hom te beroep, die tweede predikant wat beroep is tydens die vakature wat gelaat is nadat ds. W.A. Krige in Junie 1883 sy emeritaat aanvaar het. Ds. Hofmeyr is op 15 Desember 1883 plegtig ingeseën.
Leraar op Prins Albert Ontvangs en bevestiging duimnael|links|210px|Die kerkgebou van die NG gemeente Prins Albert waarin ds. Hofmeyr die Woord bedien het van 1883 tot 1895. Die hoeksteen van dié gebou is op 1 Oktober 1860 gelê.