duimnael|regs|Plato (links) en Aristoteles (regs) in 'n detail van Die Skool van Athene, 'n fresco deur Raphael. Plato se Republiek en Aristoteles se Politiek het hierdie Griekse filosowe gevestig as twee van die mees invloedryke politieke filosowe.
Politieke filosofie is die studie van onderwerpe soos politiek, vryheid, geregtigheid, eiendom, regte, wetgewing en die toepassing van 'n regskode deur gesag: wat die voorgaande presies sou wees, hoekom of selfs óf dit nodig is, en wat, indien enigiets, 'n legitieme regering sou uitmaak, watter regte en vryhede dit moet beskerm, benewens die redes daarvoor, watter vorm dit moet aanneem en waarom, die onderskeid tussen die verskillende politieke magte (Trias politica), wat die wet is, en watter pligte die burgers aan 'n wetlike regering verskuldig is, indien enige, en onder watter omstandighede dit wettig omvêrgewerp mag word, indien ooit. Ander sake waaroor die politieke filosowe nadink is onder meer die konstruksies van mag, leierskap en deelname aan gesag sowel as die analise en agtergrond van groot politieke stelsels soos demokrasie, kommunisme en kapitalisme.
Die gebruik van die term politieke filosofie kan ook verwys na 'n bepaalde filosofiese opvatting oor die wese of doel van die gemeenskap of staat. Dit kan soms gebruik word as 'n sinoniem vir 'politieke siening'. Die onderskeid wat soms tussen sosiale filosofie en politieke filosofie gemaak word, is meer 'n kwessie van die toevallige studierigtings op universiteite as inhoudsverskille; die grens tussen beide is vaag. Aan baie universiteite en vir baie filosowe bestaan die onderskeid ook nie. Ook oorvleuel dit op sekere punte met die regsfilosofie, waar die regsfilosofie ditself op wetgewing as sodanig rig (byvoorbeeld wat wette regverdig maak), terwyl politieke filosofie eerder die rol van die reg in die breër politiek plaas. Verder hang die politieke filosofie van 'n filosoof ook dikwels saam met sy opvattings oor etiek en wysgerige antropologie.
In die omgangstaal verwys die term "politieke filosofie" dikwels na 'n algemene siening, of spesifieke etiek, politieke geloof of houding rakende politiek, wat nie noodwendig tot die tegniese uitvoering daarvan of die filosofie behoort nie. In kort is politieke filosofie die aktiwiteit, soos met alle filosofie, waardeur die konseptuele strukture onderliggend aan konsepte soos die voorgenoemdes, ontleed word in terme van hulle geskiedenis, doelwitte, ewolusie en die derglike. Charles Blattberg, wat politiek definieer as "repliek op konflik deur dialoog," suggereer dat politieke filosofië filosofiese verslae oplewer van daardie dialoog. Kyk sy in Patriotic Elaborations: Essays in Practical Philosophy, Montreal and Kingston: McGill-Queen's University Press, 2009.
Geskiedenis
Die Oudheid duimnael|Die Chinese filosoof Konfusius is waarskynlik een van die eerste politieke denkers. Die Chinese politieke filosofie gaan al terug tot die tydperk van die Lente en die Herfs (in China), en is so terug te vind by Konfusius in die sesde eeu voor Christus. Dit het ontstaan as reaksie op die sosiale en politieke onrus tipies vir hierdie tydperk en die tydperk van die Strydende State. Die groot filosofieë van daardie tyd - Konfusianisme, legalisme, mohisme, Nongjia en Taoïsme - het elk 'n politieke aspek in hul filosofie. Filosowe soos Konfusius, Mengzi en Mozi het veral aandag vir die skep van politieke eenheid en stabiliteit via hul filosofie. Konfusianisme pleit vir 'n hierargiese, meritokratiese staat, gebaseer op empatie, lojaliteit en interpersoonlike verhoudings. Die legalisme verdedig 'n sterk outoritêre regering, gebaseer op drakoniese strawwe en wette. Daarteenoor staan dan weer die mohisme wat veral pleit vir 'n gemeenskaplike en sentrale bestuur gefundeer op beginsels as spaarsaamheid en asketisme. Volgens die Nongjia is dit ideaal weer kommunalisme en egalitarisme. Die stroming van die Taoïsme dink dan weer in die rigting van 'n soort proto-anargisme. Tydens die Qin-dinastie was die legalisme die dominante filosofie, maar is tydens die Han-dinastie vervang deur die konfusianisme. Hierdie filosofie bly dominant totdat China in die 20ste-eeu tot die staatskapitalisme oorgegaan het.
Die Westerse politieke filosofie ken sy begin by die Ou Grieke en meer spesifiek by Plato se Politeia in die vierde eeu voor Christus. Hierdie ou Griekeland word gekenmerk deurdat dit versnipperd was in Polise waarin vlugtig geëksperimenteer kon word met verskillende politieke strukture. Hierdie is deur Plato onderverdeel in vier kategorieë: timokrasie, tirannie, demokrasie en oligargie. Ander sentrale werke binne hierdie Griekse filosofie was Aristoteles se Ethica Nicomachea en Politika. By beide filosowe word die politieke denke oorheers deur die destydse staatsindeling. Daar word nie gepraat oor regte state nie, maar net oor die Polis. Aristoteles sien byvoorbeeld die stadstaat as die perfekte staatsvorm en direk voortvloeiend uit die aard van die mens: die mens is naamlik van nature 'n sosiale wese.
Na Plato en Aristoteles sou veral deur Alexander die Grote, aan wie Aristoteles nog les gegee het, die Polis van die kaart laat verdwyn en vervang word deur 'n ware staat waar die verskillende stede onder 'n sentrale bestuur plaas word. Nog sterker het hierdie unifikasie na vore binne die Romeinse Ryk wat werklik 'n wêreldryk gevorm het. Dit sou sy invloed hê op die Romeinse politieke filosofie, alhoewel dié verder ook sterk beïnvloed word deur die Stoïsisme, waaronder ook die bekende staatsman Cicero. Belangrik is onder andere sy werk De republica (Die Staat) en De legibus (oor die Wette) waarin hy praat van die ideale staat en oor Romeinse reg. 'n Ander belangrike stoïstiese politiek filosoof was Marcus Aurelius, wat self 'n Romeinse keiser was.
Middeleeue duimnael|Die Kerk Vader Augustinus van Hippo was een van die vroegste Christelike politieke denkers, maar is sterk beïnvloed deur Plato. Kunswerk deur Gerard Seghers. Die politieke filosofie in Europa word in die middeleeue sterk beïnvloed deur die Christendom. Een vroeë voorbeeld hiervan is die kerkvader Augustinus van Hippo. Die vroeë Christelike filosofie van Augustinus word ook sterk beȉnvloed deur die werk van Plato. Die groot verskuiwing van hierdie Christelike filosofie bestaan uit die tempering van die Stoïsistiese filosofie en die Romeinse regverdigheidssideaal, en 'n groter klem op die idee van vergifnis. Hy het, grotendeels vanuit die idee van die erfsonde, die optimisme van Plato en Aristoteles gebruik as wat die mense die perfekte lewe kan bied deur die ideale staat te organiseer. Die belangrikste werk wat Augustinus op die vlak van politieke filosofie geskryf het, was die De civitate Dei.
Ook die middeleeuse skolastikus Thomas van Aquino het hom sterk besig gehou met politieke filosofie en regsfilosofie. Hy het veral die verskillende soorte wette wat moontlik is, ondersoek. So is daar volgens Thomas vier soorte wette, naamlik God se kosmiese wette, God se geskrewe wette, natuurlike en universele wette wat deur die rede gestuur word en menslike wette spesifiek opgestel vir tasbare situasies. Daarbenewens ontwikkel hy in sy Summa Theologica ook die idee dat 'n koning wat as 'n tiran regeer in werklikheid geen ware koning was nie en onttroon kan word. Dit het ook teruggekom in die Magna Carta, wat ook gedurende die middeleeue ontstaan het. Ook van invloed was die Engelse biskop Johannes van Salisbury.
Midde-Ooste Ook die opkoms van die Islam, gebaseer op die Koran en die profeet Mohammed, sorg vir 'n sterk verskuiwing in die politieke denke, ten minste rondom die Middellandse See en in die Midde-Ooste. Die Arabiese filosofie lê veral die nadruk op die verhouding tussen wetenskap en godsdiens, en die noodsaaklikheid van ijtihad ( interpretasie van die Koran) om die waarheid te vind. In die Weste word egter veral gekyk na hoe die politieke filosofie na vore gekom het by die groot denkers van die Arabiese filosofie, soos Al-Kindi, Al-Farabi, Avicenna, Averroes en Ibn Khaldun. Dit is veral hierdie laaste filosoof wat belangrike bydraes gelewer het tot die politieke filosofie. So beroep byvoorbeeld die hedendaagse filosoof Ernest Gellner hom op Ibn Haldun se definisie van regering as "n instituut wat alle onreg vaardighede van 'n ander soort as wat hulle self veroorsaak, voorkom" as die beste geformuleerde definisie binne die politieke filosofie. Volgens Ibn Khaldun moes die staat beperk word tot 'n minimum en slegs bestaan as 'n noodsaaklike kwaad, naamlik in die vorm van die beperking van die vryheid deur die vryheid van andere. Ook word daar wel gekeken na die spesifieke mag denke soos wat by die Islamitiese denke voorkom met begrip soos sultan en oemma.
Europese Renaissance Tydens die Renaissance ontstaan die eerste sekulêre politieke filosofie, terwyl hulle in die middeleeue nog die teologie dien. Die vernaamste politieke denker tydens die Renaissance was die Italiaanse filosoof Niccolò Machiavelli, wat sy filosofie veral uitgespel het in Il Principe, postuum gepubliseer in 1532. 'n Ander vooraanstaande politieke werk van Machiavelli is Discorsi sopra la prima deca di Tito Livio. Beide werke het 'n sterk invloed gehad op die verdere politieke denke. In hierdie werke stel Machiavelli 'n pragmatiese en konsekwente opvatting van politiek uiteen. Goed en kwaad word gedefinieer in terme van wat nuttig is en wat is nie om 'n bepaalde doel te bereik, en dus in terme van magsbehoud. Bedrog en hardhandige onderdrukking is soms nodig as dit tot die voordeel van die heerser in die konteks is. Ook die bekende filosoof Dante Alighieri het 'n werk geskryf De Monarchia (1310 - 1313) waarin hy 'n verdediging van die monargie uiteengesit het.
Die Engelse denker Thomas Hobbes het op hierdie idees gebou en het ook die begrip sosiale kontrak ontwikkel. Nie Machiavelli of Hobbes was ondersteuners van die gedagte dat die koning 'n soort goddelike reg gehad het om te heers nie, maar het in plaas daarvan vertrek van die inherente egoïsme van die mens. Daarom het Hobbes gepleit vir 'n sentrale leier, die Leviatan, wat die "oorlog van almal teen almal sou stop" en so orde instel.
Verder het die Engelse filosoof John Locke ook bygedra tot politieke filosofie, hoofsaaklik in sy werk, Two Treatises of Government (1689). Soos Hobbes vertrek Locke van 'n sekere natuurlike toestand waarvolgens die individue dan 'n sosiale kontrak met mekaar sluit. Hy het egter 'n absolute heerser as onnodig gesien, want hy was oortuig dat daar sekere natuurwette was wat saam met 'n rasionaliteit in die mens self tot goeie bestuur sou lei.
Die Nederlandse filosoof Baruch Spinoza het ook betrokke geraak by politieke kwessies. Hy is die bekendste vir sy Tractatus theologico-politicus (1670). Hierdie werk was 'n pleidooi vir vryheid van uitdrukking en het demokrasie as die beste vorm van regering gesien. Hy het ook sterk gereageer op godsdienstige onverdraagsaamheid en bevraagteken die gesag van die Bybel en die sewentiende-eeuse dogma.
Verligting duimnael|Eugène Delacroix se “Die Vryheid lei die mense” (1830, Louvre), 'n simbool vir die botsing van die ou regimes met die nuwe politieke idees. Tydens die Verligting het baie nuwe politieke idees ontstaan oor die menslike toestand, die oorsprong van die staat en die wette. Daarbenewens het hulle omstreeks hierdie tyd ook met baie ander samelewings in aanraking gekom deur die verreikende Europese kolonialisme. Hierdie tydperk is ook gekenmerk deur 'n reeks revolusies en burgeroorloë, waaronder die Engelse Burgeroorlog, die Amerikaanse Revolusie en die Franse Revolusie. Hierdie grootskaalse konflikte was in 'n onderlinge interaksie met die groot politieke denkers van daardie tyd, soos Jean-Jacques Rousseau en John Locke.