Die Antenne-sterrestelsels (ook bekend as NGC 4038/NGC 4039 of Caldwell 60/61) is twee botsende sterrestelsels in die sterrebeeld Kraai. Hulle ondergaan tans ’n fase van steruitbarsting, waar die botsing van wolke gas en stof, met verstrengelde magneetvelde, vinnige stervorming veroorsaak. Die stelsels is in 1785 deur William Herschel ontdek. NGC 4038 is geleë by regte klimming en deklinasie ; en NGC 4039 by en .
Oorsig duimnael|170px|links|Soos deur ’n teleskoop van die Aarde af gesien. Die twee interaktiewe sterrestelsels is in die NGC 4038-sterrestelselgroep geleë saam met vyf ander stelsels en is besig om te bots. Hulle kry hul naam van die feit dat hul twee lang sterte van sterre, gas en stof wat weens die botsings uitgewerp word, soos die antennes van ’n insek lyk. Die stelsels se kerns is besig om te verenig en een groot sterrestelsel te vorm. Die meeste sterrestelsels ondervind waarskynlik minstens een botsing in hul bestaan. Dit sal ook oor ’n paar miljard jaar die lot van die Melkweg en die Andromeda-sterrestelsel wees.
Die Antenne-stelsels bevat ’n relatief jong versameling groot sterreswerms wat die resultaat kan wees van die botsing. Dié jong swerms, in teenstelling met die meeste bekende sterreswerms wat sowat 12 miljard jaar oud is, het moontlik ontstaan vanweë skokgolwe en die meegaande samepersing van groot, swaar molekulêre wolke.
In ’n onlangse studie is bevind die stelsels is nader aan die Melkweg as wat voorheen vermoed is – 45 miljoen ligjare in plaas van 65 miljoen. Vyf supernovas is tot dusver in die stelsels ontdek: SN 1921A, SN 1974E, SN 2004GT, SN 2007sr en SN 2013dk.
Tydlyn Sowat 1,2 miljard jaar gelede was die Antennes twee verskillende sterrestelsels. NGC 4038 was ’n staaf-spiraalsterrestelsel en NGC 4039 ’n spiraalstelsel. Sowat 900 miljoen jaar gelede het hulle na mekaar toe begin beweeg en 600 miljoen jaar gelede het hulle in mekaar in beweeg. Nog 300 miljoen jaar later het stelsels mekaar se sterre begin aantrek. Vandag strek dié strome sterre tot ver buite die oorspronklike stelsels.
Binne 400 miljoen jaar sal die twee stelsels se kerns bots en ’n enkele kern vorm. Waarnemings en simulasies van botsende sterrestelsels dui daarop dat die twee stelsels eindelik ’n elliptiese sterrestelsel sal word.
X-straalbron Gebiede in die twee stelsels met groot hoeveelhede neon, magnesium en silikon is deur die Chandra-X-straalsterrewag ontdek. Hierdie elemente is nodig vir planete wat lewe kan onderhou, om te vorm. Dié spesifieke wolke bevat 16 keer soveel magnesium en 24 keer soveel silikon as die Son.
Verwysings
Eksterne skakels The Register ESA/Hubble-nuusvrystelling ESA/Hubble-foto's
15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Arp-voorwerpe Kategorie:Caldwell-voorwerpe Kategorie:Interaktiewe sterrestelsels Kategorie:Kraai (sterrebeeld) Kategorie:Spiraalsterrestelsels Kategorie:NGC-voorwerpe