Ds. Adriaan de Vooght (Amsterdam, 1636 of '37 - Batavia, 1674) was die vierde predikant in Suid-Afrika en van 1667 tot 1674 die vierde leraar van die NG gemeente Kaapstad nadat sy drie voorgangers, di. Joan van Arckel (1665 - 1666), Johannes de Vooght, waarskynlik sy tweelingbroer (26 Februarie tot 23 November 1666) en Petrus Wachtendorp (November 1666 - Februarie 1667), nie een langer as 'n jaar aan die Kaap gebly het nie. Die eerste en derde is hier oorlede en die tweede het na Oos-Indië vertrek.
Adriaan en Johannes de Vooght is saam op 25 Mei 1657 op twintigjarige leeftyd aan die Universiteit van Leiden as student in die godgeleerdheid ingeskryf. Tussen Julie 1663 en Julie 1664 is hulle saam deur die Klassis van Leiden geëksamineer en beroepbaar gestel.
Op 23 Februarie 1665 is hulle saam vir die predikdiens in Indië aangeneem. Adriaan het Holland egter eers op 26 Desember 1666 met die skip De Handelaar verlaat en op 10 Mei 1667 in die Kaap aangekom, waar hy op 22 Mei vir die eerste keer die Avondmaal bedien het.
Ds. Adrianus de Vooght was iemand met 'n baie swak gesondheid en dit het aan die Kaap vererger. By tye was dit van so 'n aard dat hy nie in staat was om op Sondae twee keer te preek nie en soms kon hy glad geen dienste waarneem nie. Hy het aan hewige koliek gely en veral gedurende die laaste twee jaar van sy verblyf aan die Kaap het dit baie vererger.
Op 8 Februarie 1674 het hy verlof gevra om na Indië verplaas te word in die hoop dat hy deur die verandering van klimaat beterskap sou kon ondervind. Dit is toegestaan en op 21 Mei het hy in Batavia aangekom, waar hy nog in dieselfde jaar oorlede is.
Hy was getroud met Anna Meranus.
Kaapse predikante tydens die 17de eeu Joan van Arckel (ook Johannes), 1665 - 1666 Johannes de Vooght, 26 Februarie tot 23 November 1666 Petrus Wachtendorp, November 1666 - Februarie 1667 Adriaan de Vooght, 1667 - 1674 Rudolphus Meerlandt, 1674 - 1675 Petrus Hulsenaar, 1675 - 1677 Johan Frederick Stumphius, Mei 1678 Johannes Overney, 1678 - 1687 Johannes van Andel, 1687 - 1689 Pierre Simond, 1688 – 1702 Leonardus Terwoldt, 1689 - 1693 Hercules van Loon, 1695 - 1697 Petrus Kalden, 1697 - 1707
Bronne Engelbrecht, prof. dr. S.P. 1952. Die Kaapse predikante van die sewentiende en agtiende eeu. Kaapstad en Pretoria: H.A.U.M.-De Bussy.
Kategorie:Predikante van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Kategorie:Geboortes in 1636 Kategorie:Sterftes in 1674