Ds. Meent Borcherds (* Jemgum, Oos-Friesland, Nederland, 3 September 1762 - † Stellenbosch, 28 Februarie 1832) was 'n vroeë predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, 'n skrywer en musikale dilettant (amateurkomponis). Hy was ook die stamvader van die klein familie Borcherds in Suid-Afrika.

Agtergrond Borcherds was die jongste van die ses kinders van Borchardus Borcherds en Titia Kempen. In die 18de eeu was sy geboortedorp 'n groot en ryk dorp met sy eie hawe aan die Eems wat daaraan 'n goeie handel besorg het. Kultureel taalkundig was dit Nederlands. Sy vader was 'n welgestelde koopman, maar die gesin is later geruïneer, eers deur 'n oorstroming en ná die dood van sy vader, deur 'n groot brand.

Die jong Meente begin sy skoolopleiding in 1772 in 'n Latynse skool in Jemgum. Daarna onderrig ds. Bernardus Sanders hom in Latyn, Grieks, Hebreeus en ander voorbereidende vakke vir 'n opleiding in die teologie. Hy skryf op 1 September 1780 in aan die Universiteit van Groningen en bestudeer vakke soos logika, metafisika, homiletiek, Joodse oudheidkunde en eksegese. Hier ontmoet hy prof. Paulus Chevallier, 'n buitengewoon belese geleerde wat, buiten die teologie, 'n grondige kennis van ander wetenskappe van sy tyd het en 'n vername vormende invloed op Meent uitoefen. Dié volg in Chevallier se voetstappe en geniet later vanweë sy belesenheid hoë aansien aan die Kaap.

Teologiese opleiding Van Groningen is hy oor die grens na Lingen in Duitsland waar professore S. en H. Meylen hom nog twee jaar in die teologie onderrig aan die teologiese seminarium wat prins Willem III van Oranje gestig het. Hier maak hy kennis met onder meer Robert Aling, van 1784 tot 1800 predikant van die gemeente Drakenstein, en met die gebore Suid-Afrikaner Christiaan Hendrik Persoon wie se vader hom in 1775 na Lingen gestuur het om vir predikant te leer, maar wat in 1784 die teologie vir die medisyne verwissel het en later 'n beroemde geleerde op die gebied van plantkunde geword het. Persoon het Borcherds baie van die Kaap vertel waardeur 'n neiging by hom opgekom het om daar predikant te word, 'n neiging wat versterk is toe Aling in 1783 deur die bewindhebbers van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie en die Klassis van Amsterdam vir 'n predikantsamp in Suid-Afrika benoem is.

In 1783 lê Borcherds die teologiese kandidaateksamen voor die Klassis ('n ring in hedendaagse NG taal) van Emden af en in dieselfde jaar verwerf hy ook sy licentia concionandi aan die Koninklike Pruisiese Konsistorie van Oos-Friesland. Hy is nou vir die evangeliebediening toegerus en is gretig om in die omgewing van Groningen 'n werkkring te vind. 'n Geweldige brand in Jemgum wat ook sy weduwee-moeder se huis verwoes en die gesin in 'n benarde geldelike toestand laat, noop Borcherds om sy diens in een van Nederland se oorsese besittings beskikbaar te stel. Hy tree in verbinding, met ds. Herman Hubert, predikant van Amsterdam. Die Klassis van Amsterdam was 'n belangrike skakel tussen die Kerk in Nederland en aan die Kaap. Hubert benut dus die geleentheid om die jong proponent se dienste vir die Kaap te werf.

Borcherds is op 7 Junie 184 peremtoir geëksamineer en op dieselfde dag deur die Klassis met handeoplegging georden.

Na die Kaap Op 22 Desember 1884 verlaat hy sy vaderland met die skip Het Meeuwtje en kom op 19 April 1785 in Tafelbaai aan. Hy sou egter nooit sy geboorteland en agtergelate familie en vriende vergeet nie, dit het hom meermale met 'n stil heimwee vervul en hy het sy kinders in sy gesellige huislike kring baie daarvan vertel.

Skaars 'n maand na sy aankoms, op 13 Mei, ontvang hy 'n beroep as medeleraar van die Kaapse gemeente, indertyd een van net vyf gemeentes aan die Kaap. Borcherds is op 22 Mei 1784 deur ds. Christiaan Fleck as opvolger van ds. Johannes Bode bevestig. Hy lewer 'n week later sy intreepreek in die vorige Groote Kerk oor Jesaja 61:5: "En uitlanders zullen staan, en uw kudden weiden; en vreemden zullen uw akkerlieden en uw wijngaardeniers zijn. Statebybel

Nog in dieselfde jaar, op 4 September, 'n dag dus ná sy 22ste verjaardag, tree hy in die huwelik met Aletha Jacoba de Wit, dogter van die oudburgerraad en kommissaris siviel Petrus Johannes de Wit. Uit dié huwelik is drie seuns en sewe dogters gebore, van wie Petrus Borchardus Borcherds die bekendste is

Stellenbosch toe duimnael|320px|Die NG kerk op Stellenbosch voor die drastiese verandering na die ontwerp van Carl Otto Hager in 1863. Borcherds was iemand met 'n swak gestel, 'n ietwat senuagtige gestel en wisselvallige gesondheid. Ook was die kerkgebou in Kaapstad te groot vir sy stem, wat geskikter was vir 'n klein kerkgebou en so word hy verplig om in 1786 om 'n verplasing na die platteland te vra. Met die koms van ds. Helperus Ritzema van Lier is Borcherds dan op eie versoek "door zwakheid van stem en borst, niet als met moeite op een fatiguante wijze sijne Leerredenen aan het gehoor der gemeente brengen kunnende zig zelfs dus beter voor een kleinder kerk geschikt vind", na die gemeente Stellenbosch verplaas nadat hy op 24 September 1786 afskeid van die Kaapse gemeente geneem het.

Borcherds lewer sy intreepreek op Stellenbosch op 22 Oktober van dieselfde jaar. Hier kon hy rustig en waardig arbei en die gemeente kon vooruitgaan tydens sy 44 jaar lange onafgebroke diens totdat hy sy emeritaat in 1830 aanvaar. Hy was 'n beminde figuur wat uit hoofde van sy veeljarige bediening die erenaam "Vader Borcherds" terdeë verdien het. Hy was buitengewoon sistematies en metodies van aanleg en kon daarom aan die einde van sy bediening presies rekenskap gee van die aantal preke wat hy gelewer het, die getal paartjies wat hy in die huwelik bevestig het, die getal kinders wat hy gedoop het, die getal katkisasielesse wat hy gegee het, die getal lidmate wat hy aangeneem het en die bedrag geld wat tydens sy ampsbediening ingesamel is.

Sy houding jeens die sending Hy was 'n voorstander van sendingwerk onder die heidene, maar teen genootskaplike sending het hy hom verset. Die Kerk moes dit doen en nie buite-kerklike genootskappe nie, want naas die Kerk moes daar syns insiens nie nog ander kerke opgerig word nie. Hy was besield met die denkbeeld van "een staat, een kerk" en bespeur die saad van verbrokkeling in die opkoms van die genootskaplike sending. Dié standpunt haal hom die veroordeling op die hals van sendinggeesdrigtiges, ook in sy eie gemeente. Teen die einde van sy bediening het sy verhouding tot die sendingbewustes hartliker geword, hoewel daar van hulle was wat hom steeds as vyand van hul saak gebrandmerk het.

Leier in die Kaapse Kerk Buiten aan sy eie gemeente se sake, wy hy ook sy kragte aan rings- en sinodale aangeleenthede. Saam met dr. Abraham Faure was hy die belangrikste dryfkrag agter die eerste sinode van 1824 toe hy die sleutelposisie van skriba beklee. In 1826 is hy voorsitter van die sinode. So oorheersend is die rol wat hy en Faure sedert 1824 in die kerk aan die Kaap speel, dat daar van onvriendelike kant na hulle verwys is as die "Kaapse pousdom".

Sy teologie As teoloog was Borcherds 'n aanhanger van die supra-naturalisme. Hy was 'n vurige teenstander van die rasionalisme, al het hy hom beskou as 'n voorstander van verdraagsaamheid. As intellektueel wou hy die Bybel met die rede versoen en in sy prediking het hy die klem laat val op die skoonhede van die godsdiens. Hy het predikers onder sy tydgenote soos di. M.C. Vos en H.R. van Lier, wat veral oor verderf en sonde gepreek het, beskou as dweepsugtig. Sy prediking het heeltemal afgewyk van dié van sy voorgangers deurdat dit meer tematies was. Dit het nie byval by sy hele gemeente gevind nie omdat dit deurspek was met die "redelike" godsdiens. So het dit gebeur dit dat wanneer ds. Borcherds Sondags in die kerk diens gehou het, 'n groepie hul afgesonder het en in 'n privaat woning 'n godsdiensoefening waargeneem het.

Gepubliseerde preke duimnael|270px|La Gratitude, ds. Borcherds en sy gesin se woonhuis op Stellenbosch. Van sy redevoeringe met teologiese inhoud is daar drie gepubliseer: sy "Redevoering over Deut. 8: 1, 2" het in 1826 in die Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift (N.Z.A.T.) verskyn en in dieselfde blad is in 1839 ná sy dood afgedruk sy "Redevoering tot aanmoediging van den opbouw der thans zoo voorspoedige kerk der Nederduitsche Hervormde Gemeente aan den Wynberg, gehouden . . . op Zondag den 27 September 1829 . . . uitgesproken in de Engelse Kerk aan de Wynberg". Sy slotrede by die sinode van 1826 verskyn as bylaag by die Acta Synodi van dieselfde jaar.

Skrywer duimnael|240px|links|Titelblad van die 1855-herdruk van Borcherds se gedig "De Maan". Maar sy betekenis eindig nie by die evangelie-bediening en die teologie nie. Hy is veral ook verdienstelik as vroegste geskiedskrywer in Suid-Afrika wat primêre argivale bronne as basis van sy geskiedskrywing gebruik. Toe die N.Z.A.T. in 1824 sy verskyning maak, begin Borcherds met 'n reeks artikels oor die geskiedenis van Stellenbosch wat gegrond is op die dokumente van die Stellenbosse drosdy-argief.

In 1826 vra hy die redakteur van die N.Z.A.T. of dit nie tyd is dat 'n algemene geskiedenis van die Kaap die Goeie Hoop wat nie op los gerugte of partydige beskrywings van deurtrekkende reisigers nie, maar op die oorspronklike argiewe van die land gebaseer is, opgestel moet word eer die kennis van die ou skryfwyse in openbare dokumente wat alreeds begin verminder het, heeltemal verlore gaan nie. Die redakteur was van oordeel dat daar niemand geskikter as Borcherds vir so 'n taak was nie. Hy het dus begin met ondersoek in die argief van die politieke raad, en voor sy dood het hy reeds die geskiedenis van die volksplanting aan die Kaap vir die vroegste tydperk (1652–73) geboekstaaf. Hierdie geskiedenis verskyn in 1830 in verkorte vorm in die South African Quarterly Journal.

Nog 'n historiese bydrae is sy "Geschiedenis der gecombineerde kerkvergadering gehouden in de Kaapstad in de jaren 1745-1757", wat in 1828 in die N.Z.A.T. verskyn en eweneens die vrug is van studie van die oorspronklike stukke.

Borcherds het die Suid-Afrikaanse letterkunde verder verryk met sy gedigte en geskiedkundige verhale. Toe die eerste drukpers omstreeks 1800 aan die Kaap in gebruik geneem word deur die Zuid-Afrikaansche Drukpers-Genootschap waarvan Borcherds 'n stigter was, het hy dit verwelkom met 'n gedig. By hierdie geleentheid het ook 'n tweede gedig van hom verskyn, met die titel "De maan: een leerdigt", en hierdie twee gedigte kan as die eerste letterkundige voortbrengsels wat aan die Kaap gedruk is, beskou word. As digter was Borcherds 'n verteenwoordiger van die klassisisme, waarvan die poëtiese ontboeseminge te verstandelik uitgedink word en te weinig gevoel bevat. Ondanks hul literêre gebreke, is sy gedigte uit kultuurhistoriese oogpunt uniek.

Sy letterkundige produkte, sommige onder sy eie naam en ander onder die skuilnaam E.D.P. — verskyn gewoonlik in die N.Z.A.T . Sy geskiedkundige verhale munt nie uit vanweë besondere vormskoonheid nie, maar sy styl is eenvoudig en direk. Net soos by sy gedigte het hy hier soms geworstel met die lewensprobleme soos van 'n ernstige predikant verwag kan word. Ook op hierdie gebied is dit die kultuurhistoriese betekenis, pleks van die intrinsieke waarde daarvan, wat van belang is.

Komponis Buiten sy historiese en poëtiese werk het Borcherds, soosblyk uit twee bewaarde notaboekies, ook die toonkuns as liefhebbery beoefen. Die boekies bevat afskrifte van 'n aantal van C.P.E. Bach se "Gellerts geistliche Oden und Lieder", waarvan 'n paar in Hollands vertaal is. In die eerste boekie is vyftien kort stukkies vir klavier of klavesimbel opgeteken, sonder vermelding van die komponis. Nege hiervan is minuette, vier het "Murky"-basse en twee is gigues. Die tweede gigue, genoem "Commolan", is klaarblyklik deur 'n ander hand geskryf. Dit is die werk van 'n musikale amateur, moontlik Borcherds self. So nie kon dit verwerkings op blote afskrifte gewees het.