Louis van Niekerk (27 Junie 1935 - 7 Februarie 2023) was ’n Afrikaanse verhoog-, rolprent- en TV-akteur en ’n teaterregisseur.

Loopbaan Van Niekerk het op 12-jarige ouderdom begin toneelspeel. Sy eerste rol was in Babs Laker se Ek onthou vir Mamma.Louis van Niekerk op Litnet URL besoek op 28 Februarie 2013 Hy het as ’n vryskutakteur gewerk totdat hy in 1965 by die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (Truk) aangesluit het. Hy het ’n diep stem en sterk verhoogpersoonlikheid gehad en diep spore by Truk getrap.The Encyclopaedia of South African Theatre, Film, Media and Performance URL besoek op 28 Februarie 2013 Van sy bekendste rolle was Dogoman in P.G. du Plessis se Nag van Legio, Mattewis in Mikro se Mattewis en Meraai en Giel in Du Plessis se Siener in die Suburbs. In 1975 het hy die titelrol gespeel in François Swart se Afrikaanse produksie van Othello, ook met Sandra Prinsloo en Marius Weyers.

Omstreeks 1978 was Van Niekerk Truk se toneelhoof. In die 1980's het hy Truk se artistieke direkteur geword. Hy het die regie van omtrent 25 stukke behartig en was oor die verloop van 33 jaar betrokke by meer as 200 produksies vir Truk, waar hy vier merietetoekennings ontvang het. Van die talle toneelstukke wat hy geregisseer het, is Kanna Hy Kô Hystoe, Die Vader, Die Dagboek van Anne Frank, Chris Barnard se Die Swanesang van Majoor Sommer en Shakespeare se Die Koopman van Venesië.

Van Niekerk het ook talle TV-rolle vertolk, onder meer in Amalia, Die Vierde Kabinet, Fees van die Ongenooides, Getroud met Rugby, Agter Elke Man en Grondbaronne.

Hy het tot einde Augustus 2009 as toesighoudende vervaardiger van Egoli gewerk en was daarna voorsitter van die Teaterbystandsfonds.Louis van Niekerk – ten volle akteur, Beeld, 28 Junie 2010 URL besoek op 28 Februarie 2013

Van Niekerk was getroud met Lettie Scheepers. Sy is in 1983 oorlede.

Louis van Niekerk is in die ouderdom van 87 op die 7de Februarie 2023 om 19:00 in die Milpark hospitaal in Johannesburg oorlede.

Pryse In 1990 is hy vereer met die Erepenning vir Toneelkuns van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het hy ook die Gerhard Beukes-prys ontvang. In 2005 het hy die Afrikoon-toekenning van die ATKV en die Naledi-prys vir lewenslange bydrae tot teater gewen. In 2012 het hy ’n Fiesta-prys gekry vir sy lewenslange bydrae tot die teater.Kwêla: 21 Maart 2012 – Louis van Niekerk (Deel 1) URL besoek op 28 Februarie 2013

Rolprente Elsa se Geheim, 1979

TV Amalia, seisoen 1 – Ben Viljoen Amalia, seisoen 2 – Ben Viljoen Die Vierde Kabinet, seisoen 1 – Piet Badenhorst Hartland, seisoen 1 – Oupa Venter Zero Tolerance, seisoen 1 – Pieter Markgraaff Fees van die Ongenooides Villa Rosa Getroud met Rugby – Festus Koekemoer 7de Laan Agter Elke Man Grondbaronne

Toneel Nag van Legio Mattewis en Meraai Siener in die Suburbs Othello The Road to Mecca My Seuns Dood van ’n Handelsreisiger Die Storm King Lear Die Keiser Julius Caesar Don Gxubane Onner die Boere Die Leeu in Winter

Verwysings

Kategorie:Suid-Afrikaanse manlike akteurs van die 20ste eeu Kategorie:Suid-Afrikaanse regisseurs Kategorie:Geboortes in 1935 Kategorie:Sterftes in 2023 Kategorie:Afrikaners