Ben Adolf Dekker (gebore 21 Oktober 1940) is 'n Suid-Afrikaanse akteur, digter en kluisenaar van die Oos-Kaap, Suid-Afrika. Hy is veral bekend vir sy rol as die nomadiese Gaitsigubib wat in die TV-reeks Die vlakte duskant Hebron tussen die Boesmans gelewe het.

Dekker het filosofie en kuns aan die Rhodes-universiteit gestudeer en het ook 'n meestersgraad van die Universiteit Kaapstad verwerf. Daarna begin hy by Die Ruimte in Kaapstad toneelspeel. Hier tree hy in stukke soos Gilgamesh en Othello Slegs Blankes op.

Hy raak in die vroeë 1970's bekend as politikus wat sir De Villiers Graaff vir 'n parlementêre setel opponeer. In 1980 verhuis hy na 'n grot in Port St. Johns, waar hy sedertdien woon.Profiel op ESAT

Lewe en werk Ben Adolf Dekker is in 1940 in Centane in die Transkei gebore en is ’n bekende akteur en veelsydige kunstenaar. Sy pa, Frietz Dekker, is ’n sigeuner en brandstoftegnikus van Friesland in Noord-Holland en sy ma, Bertha Lina van Guilijk, ’n jong onderwyseres van Holland en oorspronklik van Indonesië. Die paar ontmoet mekaar op die eiland Curaçao en verhuis later na Suid-Afrika. Ben het twee susters, die tweeling Annemarie en Marianne en twee broers. Hy loop op agtjarige ouderdom weg van sy huis in Oos-Londen om by die vloot aan te sluit en hierdie voorval is tekenend van sy rustelose geaardheid. Na matriek sluit hy by Bosbou aan en werk vir vyf jaar vir hulle om geld te verdien om sy universiteitstudies te kan betaal. In hierdie tyd is hy twee jaar by Saasveld en werk dan drie jaar as opmeter en navorser op verskeie plekke, waaronder Holfontein, Noord-Transvaal, Zoeloeland en die Wes-Kaap. Aan Rhodes Universiteit op Grahamstad behaal hy in April 1966 ’n B.A.-graad in Sielkunde en Wysbegeerte. Hierna werk hy vir ’n jaar as akteur by die Kaapse Raad vir die Uitvoerende Kunste (KRUIK) en spandeer dan ’n jaar om rond te swerf in Afrika, voordat hy ’n B.A. Honneurs-graad in Wysbegeerte aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Een van sy verhandelings vir hierdie graad handel oor Bantoe-wysbegeerte.

In 1970 stel hy hom as onafhanklike kandidaat beskikbaar vir verkiesing tot die parlement in Rondebosch. Dit was die kiesafdeling van sir De Villiers Graaff, die destydse leier van die amptelike opposisie, die Verenigde Party. Hoewel hy aktief stemme werf en steun verkry van veral die linkse studente op die Universiteit van Kaapstad-kampus, is hy nie suksesvol nie. As akteur is dit veral sy rol as die karakter Gaitsigubib in die televisiereeks “Die vlakte duskant Hebron” wat hom ’n bekende naam maak. Rolprente waarin hy optree sluit in “Die wildtemmer”, “Seun van die wildtemmer”, “Snip en Rissiepit”, “The outcast” en “Curse of the dead”. Hy vestig hom later in ’n informele blyplek aan die Oos-Kaapse kus by Port St. Johns, waar hy in eenvoud in ’n eenvertrekhut met ’n gespanne seil as dak woon. Vroeg in die 21ste eeu spreek hy op George ’n konferensie van die Indigenous Plant Usage Forum in George by, waarna hy uitnodigings van Alaska en Nieu-Seeland kry en bykans ’n jaar in die buiteland deurbring.

Verskeie kere is hy in kontroversiële sake betrokke. Die Hooggeregshof van die Oos-Kaap bevind in Oktober 1997 dat hy op dokumente die handtekeninge vervals het van die voormalige president van die Transkei, Kaiser Matanzima, en sy sekretaris. Hierdie dokumente het hom skynbaar die reg gegee om drie akkers grond naby Port St. Johns te bewoon. Hy word dus beveel om die gebied te ontruim. In Desember 2000 word hy skuldig bevind aan openbare onsedelikheid toe hy en ’n plaaslike vrou, Loretta Toon, kaal in die mond van die Umzimvuburivier betrap word. Hy hou vol dat hy onskuldig was en net die vrou wou red toe sy besig was om te verdrink.

As 'n vredesafgevaardigde vir Amnestie Internasionaal in oorloggeteisterde Afrikalande sou hy te voet op 'n plek aankom en teen die tyd dat die res van die konvooi aankom, het hy reeds begin om 'n verhouding met die plaaslike inwoners te vestig.

In 2018 het hy teruggekeer na Kaapstad, en woon nou in 'n karavaan in Woodstock.

Skryfwerk Hy skryf gedigte wat gepubliseer word in die digbundels “Aas vir Aspoestertjie” en “Baai besoekers”. Laasgenoemde is geskryf ter nagedagtenis van die besoek van Bartolomeu Diaz aan die kus van Suid-Afrika in die vyftiende eeu en word uitgegee tydens die Mosselbaai Diasfees in 1993. Hy vertaal ook gedigte van Dylan Thomas in Afrikaans.

Publikasies JaarPublikasies1986Aas vir Aspoestertjie1993Baai besoekers1998Ben Dekker vertaal en illustreer Dylan Thomas

Filmografie Rolprente: Die Wildtemmer, 1973 as Kobus le Grange Seun van die Wildtemmer, 1973 Curse of the Dead, 1974 The Outcast, 1984 as Adam

Televisie: Sam et Sally (TV-reeks), 1980 as Sauerlein Die vlaktes duskant Hebron, 1982 as Gaitsigubib Survivor, 1987 as 'n spesiale gas

Bronnelys

 Tydskrifte en koerante Joubert, Surita “Dekker hou voet by stuk oor Toon” “Die Burger” 13 Januarie 2001 Schoeman, Le Roux “Zille stem waar Dekker woel” “Rapport” 11 Mei 2014 Van der Merwe, Kirby “Legende” “By” 2 Augustus 2008 Van Heerden, Dawie “Ben is nog Ben en plak tog te lekker in sy hutjie” “Rapport” 7 November 2004

Internet Bantu Philosophy tesis deur Ben Dekker, in 2012 gepubliseer. Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Dekker,_Ben Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Ben_Dekker Marais, Chris: http://www.southafrica.net/blog/en/posts/entry/big-old-ben-dekker Mdledle, Simbongile Mtatha Xpress: https://issuu.com/mthatha/docs/mthatha_express_25-06-2014 Van der Merwe, Kirby Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2008/08/02/BJ/14/dekker-586.html

Verwysings

Eksterne skakels Seun van die Wildtemmer, YouTube

Kategorie:Suid-Afrikaanse akteurs Kategorie:Geboortes in 1941 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Alumni van die Universiteit Kaapstad Kategorie:Alumni van Rhodes-universiteit