Fridtjof Nansen (*10 Oktober 1861 – †13 Mei 1930) was ’n Noorweegse ontdekkingsreisiger, wetenskaplike, diplomaat en filantroop en wenner van die Nobelprys vir Vrede. Hy was in sy jong jare ’n ski- en ysskaatskampioen en het die span gelei wat die eerste was om die binneland van Groenland in 1888 te deurkruis. Hy het internasionale roem verwerf nadat hy ’n rekord noorderbreedte van 86°14’ bereik het gedurende sy Noordpool-ekspedisie van 1893–1896. Hoewel hy na sy terugkeer na Noorweë afgetree het van ontdekkingsreise, het sy tegnieke van poolreis en sy innovasies in toerusting en klerasie ’n generasie van Arktiese en Antarktiese verkenningstogte beïnvloed.
Nansen het dierkunde aan die Koninklike Frederik-universiteit studeer en later gewerk as kurator by die Universiteitsmuseum in Bergen waar sy navorsing oor die sentrale senuweestelsel van laer seediere hom gehelp het om ’n doktorsgraad te verwerf; dit het ook bygedra om die moderne teorieë van neurologie te vestig. Na 1896 het sy wetenskaplike belangstelling oorgeskakel na oseanografie; in die loop van sy navorsing het hy talle wetenskaplike reise onderneem, hoofsaaklik in die Noord-Atlantiese oseaan, en bygedra tot die ontwikkeling van moderne oseanografiese toerusting. As een van Noorweë se mees prominente burgers het Nansen in 1905 hom uitgespreek oor die Unie tussen Swede en Noorweë en het hy ’n belangrike rol gespeel om Prins Karel van Denemarke te oortuig om die troon van die nuwe onafhanklike Noorweë te bestyg. Tussen 1906 en 1908 het hy gedien as die Noorse verteenwoordiger in Londen waar hy gehelp het met die onderhandeling van die Integriteitsverdrag wat Noorweë se onafhanklike status verseker het.
In die laaste dekade van sy lewe het Nansen hom hoofsaaklik gewy aan die Volkebond na sy aanstelling in 1921 as die Bond se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge. In 1922 is hy vereer met die Nobelprys vir Vrede vir sy werk ten bate van die ontwortelde slagoffers van die Eerste Wêreldoorlog en verwante konflikte. Onder die inisiatiewe wat hy ingestel het was die Nansen-paspoort vir staatlose mense, ’n sertifikaat wat in meer as 50 lande erken is. Hy het tot sy skielike dood in 1930 gewerk ten gunste van vlugtelinge. Na sy dood het die Volkebond die Nansen Internasionale Kantoor vir Vlugtelinge ingestel om te verseker dat sy werk voortleef. Hierdie kantoor het in 1938 die Nobelprys vir Vrede gewen. Nansen is deur talle nasies vereer en sy naam word herdenk in verskeie geografiese funksies, veral in die poolgebiede.
Gesin en kinderjare duimnael|links|upright|Nansen op vierjarige ouderdom Die Nansens is oorspronklik van Denemarke. Hans Nansen (1598–1667), ’n handelaar, was ’n vroeë ontdekkingsreisiger van die Witseegebied van die Arktiese Oseaan. In sy later lewe het hy hom in Kopenhagen gevestig en in 1654 die burgemeester van dié stad geword. Latere generasies van die familie het tot die middel-18de eeu in Kopenhagen gewoon toe Ancher Antoni Nansen na Noorweë (wat toe nog deur Denemarke regeer is) verhuis het. Sy seun, Hans Leierdahl Nansen (1764–1821) was ’n landdros in die Trondheimdistrik en later in Jæren. Na Noorweë se afskeiding van Denemarke in 1814 het hy die politiek betree as verteenwoordiger vir Stavanger in die eerste Storting. Hy het hom sterk uitgespreek vir die eenwording met Swede. Hy is oorlede na ’n verlammende beroerte in 1821 en het ’n vierjarige seun, Baldur Fridtjof Nansen, die vader van die ontdekkingsreisiger, agtergelaat.Brøgger en Rolfsen, pp. 1–7, 10–15
Baldur was ’n prokureur wat nie in die openbare oog wou wees nie. Hy het verslaggewer aan die Hooggeregshof van Noorweë geword. Sy tweede huwelik was met Adelaide Johanne Thelka Isidore Bølling Wedel-Jarlsberg van Bærum, ’n niggie van Herman Wedel-Jarlsberg wat gehelp het met die raamwerk vir die Noorse Grondwet van 1814 en later die Koning van Swede se Noorse Onderkoning.Brøgger en Rolfsen, pp. 8–9 Baldur en Adelaide het in Store Frøen, ’n landgoed by Aker noord van die Noorse hoofstad Christiana gaan woon. Die egpaar het drie kinders gehad; die eerste is as baba dood; die tweede, wat op 10 Oktober 1861 gebore is, was Fridtjof Nansen.Reynolds, pp. 11–14Huntford, pp. 7–12
Die landelike omgewing van Store Frøen het Nansen se kinderjare gevorm. In die kort somermaande was die hoofaktiwiteite swem en visvang, terwyl die herfsmaande oorheers is deur jag te maak op wild in die woude. Tydens die lang wintermaande is daar geski en Nansen het al begin toe hy slegs twee was op pasgemaakte ski’s. Op 10-jarige leeftyd het hy sy ouers verontagsaam en die skisprong naby Husebyrennet aangedurf. Hierdie uitstappie het byna rampspoedige gevolge gehad omdat die ski’s met die landing in die sneeu gesteek het en Nansen vorentoe gegooi het: “Ek het, kop eerste, ’n boog in die lug gemaak … [T]oe ek afkom is ek tot by my middellyf in die sneeu geboor. Die seuns het gedink dat ek my nek gebreek het maar toe hulle sien daar is nog lewe … het hulle begin lag.” Hierdie insident het nie Nansen se lus om te ski gedemp nie maar hy onthou dat sy pogings oorskadu is deur die skiërs van die bergagtige gebied van Telemark waar ’n nuwe skistyl ontwikkel is. “Ek het agtergekom dat dit die enigste manier is”, het Nansen later geskryf.Scott, pp. 9–10
Op skool het Nansen goed genoeg gedoen sonder om enige spesifieke aanleg duidelik te maak. Studies was sekondêr tot sport of tot verkenningstogte in die woude waar hy “soos Robinson Crusoe” vir weke aaneen geleef het.Scott, pp. 11–12 Deur hierdie ervaringe het Nansen ’n groot mate van selfstandigheid ontwikkel. Hy het ’n talentvolle skiër en baie bekwame ysskaatser geword. Sy lewe is egter onderbreek in die somer van 1877 toe sy moeder skielik oorlede is. Sy vader het die eiendom by Store Frøen verkoop en is met sy twee seuns na Christiania.Huntford, pp. 16–17 Nansen se vaardigheid in sport het steeds ontwikkel; op 18 het hy die wêreldrekord vir een myl in skaats gebreek en in die volgende jaar het hy die nasionale veldskikampioenskap gewen. Hy het dit daarna nog 11 keer reggekry.
Student en avonturier duimnael|170px|Nansen as student in Christiania In 1880 het Nansen sy toelatingseksamen vir die universiteit geslaag. Hy het besluit om dierkunde te studeer en het gesê hy het juis dié rigting gekies omdat hy dan in die opelug sou kon wees. Hy het in 1881 aan die Koninklike Frederik-universiteit begin studeer.Huntford, pp. 18–19
Vroeg in 1882 het Nansen “die eerste stap geneem wat my van die stil lewe van die wetenskap laat dwaal het.”Scott, p. 15 Professor Robert Collett van die departement dierkunde aan die universiteit, het voorgestel dat Nansen op ’n seereis gaan om die Arktiese dierkunde eerstehands te bestudeer. Nansen was entoesiasties en het reëlings begin tref deur ’n onlangse kennis, Kaptein Axel Krefting, bevelvoerder van die robjagskip Viking. Die tog het op 11 Maart 1882 begin en vir die volgende vyf maande geduur. In die weke voor hulle vertrek het, kon Nansen nog eers op sy wetenskaplike studie fokus. Deur watermonsters het hy aangedui dat, in teenstelling met die vorige aanname, see-ys op die oppervlak eerder as daaronder vorm. Sy metings het ook gedemonstreer dat die Golfstroom onder ’n koue laag oppervlakwater vloei.Reynolds, p. 20 Deur die lente en vroeë somer het die Viking tussen Groenland en Spitsbergen gevaar op soek na robtroppe. Nansen het ’n vaardige skut geword en aangeteken dat sy span op een dag 200 robbe geskiet het. In Julie het die Viking vasgevang geraak in die ys naby ’n onverkende deel van die Groenlandse kus; Nansen wou graag aan land gaan maar dit was onmoontlik. Hy het egter die idee gekry dat die Groenlandse ysplaat verken en selfs oorkuis kan word. Op 17 Julie het die skip losgekom uit die ys en in vroeë Augustus was hulle terug in Noorse waters.Huntford, pp. 21–27
Nansen het nie sy formele studies aan die universiteit voortgesit nie. Hy het eerder op aanbeveling van Collett ’n pos as kurator in die dierkundige departement van die Universiteitsmuseum in Bergen aanvaar. Hy het die volgende ses jaar van sy lewe daar deurgebring — behalwe vir die ses maande sabbatsverlof waartydens hy ’n reis deur Europa onderneem het — en het met leidende figure soos Gerhard Armauer Hansen, ontdekker van die melaatsheidsbasil,Huntford, pp. 28–29 en Daniel Cornelius Danielssen, die direkteur van die museum wat dit van ’n dooierige versameling in ’n sentrum vir wetenskaplike navorsing en opleiding omgeskakel het, gewerk.Reynolds, p. 25 Nansen se gekose studie-area was die onverkende gebied van neuroanatomie, veral die sentrale senuweestelsel van laer seediere. Voordat hy in Februarie 1886 op sabbatsverlof gegaan het, het hy ’n referaat gepubliseer wat sy navorsing tot op datum opgesom het waarin hy genoem het dat “anastomose of bindings tussen verskillende ganglionselle” nie met sekerheid gedemonstreer kon word nie. Hierdie onortodokse beskouing, bevestig deur die gelyktydige ondersoeke van die embrioloog Wilhelm His en die sielkundige August Forel, het Nansen die mede-oprigter van die moderne teorie van die senuweestelsel gemaak. Sy gevolglike referaat, Die struktuur en kombinasie van histologiese elemente van die sentrale senuweestelsel wat in 1887 gepubliseer is, het ook sy doktorale proefskrif geword.Huntford, pp. 65–69
Oorsteek van Groenland Beplanning duimnael|upright|Adolf Erik Nordenskiöld, wie se 1883-ekspedisie tot 160 km binne die Groenlandse ysplaat deurgedring het Die idee van ’n ekspedisie oor die Groenlandse ysplaat het aan Nansen bly knaag terwyl hy in Bergen was. In 1887, na die indiening van sy doktorale proefskrif, het hy begin om die projek te organiseer. Voor sy ekspedisie was die twee mees beduidende verkenning van die Groenlandse binneland dié van Adolf Erik Nordenskiöld in 1883 en Robert Peary in 1886. Albei het vanuit Diskobaai aan die weskus vertrek en ongeveer 160 km oos gereis voordat hulle omgedraai het.Huntford, pp. 73–75 In teenstelling hiermee het Nansen voorgestel om van oos na wes te reis met Diskobaai as die eindbestemming. ’n Geselskap wat van die onbewoonde weskus sou vertrek, sou volgens Nansen, iewers moes terugkeer omdat geen skip met sekerheid die ooskus kon bereik om hulle op te laai nie.Reynolds, pp. 44–45 Deur aan die oostekant te begin — met die aanname dat daar wel aan wal gegaan kan word — sou Nansen se reis in een rigting na ’n bewoonde gebied wees. Die geselskap sou nie kon terugkeer na ’n veilige basis nie en die enigste pad sou vorentoe wees. Hierdie filosofie het Nansen goed gepas.Scott, pp. 44–46
Nansen het die ingewikkelde organisasie en groot mannekrag wat die ander Arktiese onderneming geverg het, verwerp en in plaas daarvan beplan om met ’n geselskap van slegs ses mense te gaan. Die mense in die geselskap sou self die voorrade op spesiaal-ontwerpte liggewig-sleë trek. Baie van die toerusting, insluitend die slaapsakke, klere en stofies moes ook nuut ontwerp word.Huntford, pp. 79–81 Hierdie planne is oor die algemeen nie goed in die pers ontvang nie;Scott, p. 46 een kritikus het geen twyfel gehad dat “indien [die] plan in sy huidige vorm aangedurf word … die kanse tien teen een is dat hy … sy eie lewe en moontlik dié van andere weggooi”.Nansen (1890), p. 8 Die Noorweegse parlement het geweier om finansiële ondersteuning te bied en het geglo dat so ’n potensiaal gevaarlike onderneming nie aangemoedig behoort te word nie. Die projek is uiteindelik geloods met ’n donasie van Augustin Gamél, ’n Deense sakeman; die res van die fondse het hoofsaaklik van klein bydraers vanuit Noorweë gekom nadat studente aan die universiteit ’n fondsinsameling gereël het.Nansen (1890), p. vii