Jan van Tonder is ’n joernalis en Afrikaanse skrywer.

Lewe en werk Jan Christiaan van Tonder is op 29 Augustus 1954 op Sabie in die Oos-Transvaal (tans Mpumalanga) gebore as die jongste van sewe kinders. Hy het een broer (Andries, wat vyf jaar ouer is as hy) en vyf susters. Sy pa was operateur van ’n stootskraper en ’n eenmanbaggerboot en sy ma was huisvrou. Hy word in Durban in ’n spoorwegwoonbuurt groot en matrikuleer dan op Stanger aan die Natalse Noordkus. Hier leer hy die Zoeloes goed ken en gebruik hierdie agtergrond later vir sy roman “Die kind”. Sy militêre diensplig verrig hy in 1973 by die Vlootbasis in Simonstad, waar hy hondehanteerder is. Hierna studeer hy aan die Universiteit van Pretoria, eers in die Teologie, maar verander later van studierigting. Gedurende vakansies werk hy as stoker en kaartjiesondersoeker op die Spoorweë. In 1978 behaal hy die B.A.-graad met Afrikaans, Sielkunde en Kriminologie as hoofvakke. Gedurende sy finale jaar op universiteit trou hy, maar skei weer enkele jare daarna en trou daarna nie weer nie. Die huwelik was kinderloos. Hy is in 1979 vir ’n jaar in diens van die Gevangeniswese in Durban by Pointgevangenis, waar sy gekla oor die onaanvaarbare behandeling en willekeurige aanranding wat swart, bruin en Indiër-gevangenes kry hom uiteindelik met geweer in ’n wagpos op die muur laat belandElfra Erasmus se artikel in Beeld van 26 Mei 1990 Hierdie ervarings is die inspirasie vir die kortverhale wat hy in “Aandenking vir ’n vry man” bundel. Dan aanvaar hy ’n betrekking as nywerheidsopleidingsbeampte vir ’n groot myngroep, wat hy vir twee jaar beklee. Hierna word hy joernalis, eers as Hooggeregshofverslaggewer by Die Transvaler en later by Die Vaderland en die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie. Benewens skryf, skilder hy ook en speel die kitaar.

Sedert 1988 is hy voltydse skrywer. Hy roep telkens die stadslewe vaarwel om te gaan skryf en keer dan tydelik terug na sy joernalistieke loopbaan in die stad. So woon hy onder andere op Ladismith, waarna hy hom op ’n Karooplaas naby Oudtshoorn vestig, waar hy in die veld rondloop, skryf en skilder. In hierdie milieu ontstaan sy koffietafelboek “Die Klein Karoo / The Little Karoo” (met foto’s deur Lanz van Hörsten). In 1998 verhuis hy na Kaapstad, waar hy vir ’n tyd lank omroeper is by die radiostasie Suid-Kaap Stereo. Hy vestig hom in 2000 weer in Oudtshoorn. In hierdie tyd hou hy hom besig met skryf (onder andere van radiodramas), restaurant bestuur, skilder en dig. Deur die jare word verskeie van sy kortverhale en sketse in tydskrifte gepubliseer. Volgens eie erkenning is hy rusteloos van geaardheid en verhuis gereeld, selfs deur in een stad van een plek na ’n ander te trek net om weer gestimuleer te kan word deur nuwe mense en nuwe indrukke. In 2004 koop hy sy eerste eie huis op Oudtshoorn en ’n betroubare voertuig, op sterkte van inkomste uit “Die kind”, wat twintig herdrukke beleef en voorgeskryf word aan wit en swart skole. Later verhuis hy na Gordonsbaai, sodat hy nader aan meer kunsuitstallings kan wees, ander kunstenaars se werk kan sien en beleef en op die see kan seil. Sy lewensmaat is Jenny.

Skryfwerk Hy begin ernstig skryf terwyl hy tronkbewaarder is, hoofsaaklik om ’n uitlaatklep vir sy frustrasies in sy werk te vind. Sy eerste kortverhaal (die tema waarvan hy later grondig verwerk as die roman “Is Sagie”) word in 1979 in Huisgenoot gepubliseer en ook aangewys as hierdie tydskrif se Kortverhaal van die Maand. In sy beste werk is dit die suiwer en onsentimentele vertelstyl wat opval, waardeur die leser die verhaal as eg en deurleef ervaar. Sy eerste kortverhaalbundel isBrink, André P. “Rapport” 19 Mei 1985 “Aandenking vir ’n vry man”, waarin hy kortverhale oor die tronk skryf en die ingehoue geweld en die mens op sy wreedste en mees weerlose uitbeeld in ’n nugter styl wat nie die skokeffek uitbuit nie. Hy gebruik die tegniek van skielike ommeswaai baie goed in hierdie meestal baie kort verhale, met die stroefheid van die taal wat die inhoud se wreedheid versterk. Hoogtepunte in die bundel is onder andere “’n Mooi dag” (waarin ’n laksman ’n ander lewensperspektief kry deur ’n enkele opmerking van die Zoeloe wat hy voorberei vir teregstelling); “Dube weet” (waar die verteller ’n medegevangene se foltering weergee wanneer hy deur vier bewaarders gemartel word op vermoede dat hy aandadig is aan ’n verhoorde se ontsnapping, met die openbaring in die slotsin dat die verteller eintlik die skuldige is); en “Ontsnapping” (waar ’n grootskaalse soektog na ’n vermiste gevangene op tou gesit word, met die onthulling aan die einde dat die gevangene wat gedurende die dag se werk aan hitte-uitputting op die lande dood is, nie bygetel is nie). “Aandenking vir ’n vry man” is ’n verhaal oor ontsnapping, wat op fisiese en geestelike vlakke beweeg. Een van die gevangenes stel die lewe in die tronk gelyk aan die lewe self en wanneer Allies inderdaad uitkom, is hy uit die tronk maar deur sy selfdood ook uit die lewe uit. In die kort kortverhaal “Victor Singh” is die naam ironies, want daar is geen sprake van ’n oorwinnaar en vreugde nie. Victor Singh was Pretoria toe om gehang te word, maar het teruggekeer, net om voortaan te lewe asof hy gedurig in die skadu van die galgtou is. “Elias” beskryf ’n gevangene wat by die sel (met 96 gevangenes) se tralies uitkyk na die see, vasberade om te ontsnap al het hy net ’n maand van sy vonnis oor. As lid van die werkspan wat bedags kan uitgaan om te werk, is hy hierdie dag inwendig ondersoek om te verseker dat hy niks ingesmokkel het nie. Die wrede bewaarder het hom verseker dat hy die res van die tyd soortgelyke vernederings sal moet deurmaak, want hy hou nie van Elias nie. Partykeer gaan ’n bewaarder egter te ver en kry hy onverwagse teenstand.

’n Keur uit Van Tonder se reisrubrieke en reisverhale wat hoofsaaklik in Tydskrif Rapport verskyn het, word onder die titel “Anderkant omdraai” gepubliseer. Hy lewer gereelde verhale vir Tydskrif, die bylae tot Rapport, en kortverhale en sketse van hom verskyn ook in ander tydskrifte. Van sy kortverhale word in versamelbundels opgeneem, waaronder “Die hardloper” en “Ragel” in “Op hulle stukke” onder redaksie van Jeanette Ferreira. Ander versamelbundels waarin sy werk verskyn sluit in “Die Afrikaanse kortverhaalboek” saamgestel deur Abraham H. de Vries, “Vuurslag” onder redaksie van Hennie Aucamp, “Vertellers 1 en 2” van Merwe Scholtz en “Drif” onder redaksie van Lindeque de Beer.

Hy debuteer met die roman “Wit vis”. Dit behandel ’n lesbiese verhouding in ’n eng gemeenskap uit die perspektief van ’n man, maar is nie ’n geslaagde roman nie. Hyself erken later dat die boek te vroeg uitgegee is. “Is Sagie” vertel die verhaal van die onskuldige verhouding tussen twee verstandelik gestremde jongmense,Du Plooy, Heilna “Beeld” 16 November 1987 maar veral behandel dit die mens se hulpeloosheid teenoor die wêreld en sy onvermoëVan Zyl, Ia “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 27 no. 1, Februarie 1989 om homself of sy geliefdes teen die katastrofes van hierdie lewe te beskerm. Sagie boer saam met sy pa Barend op die plaas Greundal in die Dwarsrivier-vallei in die Klein Karoo. Die verhaal word hoofsaaklik uit sy kinderlike perspektief vertel. Hy beleef baie vreugde, want hy kan klein dingetjies waardeer, terwyl sy omgang met mense en diere en sy vriendskap met Ansie de Wet van die buurplaas Kopland opreg en ongekompliseerd is. Hierteenoor staan die onvolkomenheid van die lewe en die tekortkoming van mense. Ansie se pa is teen die verhouding gekant en besluit om haar uit die Dwarsrivier-vallei weg te neem. Sagie kan met sy beperkte vermoëns nie die traumatiese gebeurtenisse verwerk nie, hoofsaaklik omdat hy dit nie begryp nie. Daarom probeer hy dit ontken deur te sê “issie”, waaruit die ironiese titel van die boek dan afgelei word. Hy besluit ten slotte om ten spyte van alles tog voort te gaan met die bou van Ansie se huis. “Is Sagie” is in 1987 die naaswenner van die ATKV-prys en in 1988 weer op die kortlys vir hierdie prys.Botha, Frederick J. “Tydskrif vir Letterkunde” Vierde reeks Jaargang 51 no. 1 Herfs 2014 “Is weer Sagie” is ’n vervolg hierop en hervat Sagie se verhaal vier jaar nadat hul bure,Koen, Dewald “Beeld” 7 Oktober 2013 die De Wets, met hul dogter Ansie uit die Ladismith-distrik vertrek het. Sagie (Sagrys van Greunen) het nou groot toekomsdrome en is steeds besig om eiehandig te bou aan die huis. Hoewel hy in vier jaar nog niks van Ansie gehoor het nie, oortuig sy kinderlike geloof en onskuld hom dat sy sal terugkeer sodra daar rook uit die huis se skoorsteen trek. Sagie is steeds onderdanig aan sy pa, maar sy karakter het goed ontwikkel en hy raak al hoe meer selfstandig, ondanks sy beperkte intellektuele vermoëns. Hy slaag daarin om talle teleurstellings te oorkom en toon deernis met sy medemens, al word hy by talle geleenthede verneder en onwaardig geag. Die verrassende slot skep verwagtinge dat Sagie se droom verwesenlik kan word, al is dit miskien nie heeltemal soos hy dit verwag nie.

“Die kind”Hough, Barrie “Insig” Junie 1990 slaag daarin om deur middel van die eenvoudige, maar treffende verhaal van ’n Zoeloevrou en die kind wat sy lank nie wou hê nie, die dilemma van ’n hele volk uit te beeld.Pakendorf, Gunther “Die Burger” 15 Maart 1990 Die Zoeloe-vrou Amazolo verwag ’n kind van haar geliefde, Mlenzana, wat weggaan om op die myne te gaan werk.Van Zyl, Ia “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 29 no. 2. Mei 1991 Hy is onbewus daarvan dat hy pa gaan word en kom nie weer terug nie, waarna Amazolo die kind om daardie rede verstoot. In die roman word die naamlose kind se kinderdae en jeug in hierdie omstandighede uitgebeeld, asook die ma se hartseer en verset teen die impak van Westerse gebruike op die Zoeloe-tradisies. Die rol van die eiesoortige geloof van die Zoeloes in die daaglikse gebruike en lewe in ’n landelike swart gemeenskap word goed geskets as agtergrond tot die gebeure. Die kind (Mvula, wat later Zolile word) weier na voltooiing van sy skoolloopbaan om te gaan boer en skryf in as ’n mediese student, waarin ook die nuwe teenoor die tradisionele gebruike teen mekaar afgespeel word. Zolile word eindelik ’n groot man in sy gemeenskap. “Die kind” word in 1990 bekroon met die ATKV-prys, verower ook ’n FAK-prys en is in 1991 op die kortlys vir die toekenning van die M-Net-prys. Hierdie boek word wyd voorgeskryf aan wit en swart skole, beleef meer as twintig drukke en word in Engels vertaal.