Helene Bertha Amalie “Leni” Riefenstahl (* 22 Augustus 1902, Berlyn, Duitse Keiserryk – † 8 September 2003, Pöcking, Beiere, Duitsland) was ’n Duitse rolprentregisseur- en vervaardiger, aktrise en danseres wat algemeen bekend is vir haar estetika en innovasies as ’n rolprentmaker. Haar bekendste rolprent was Triumph des Willens (Triomf van die wil), ’n dokumentêre prent wat sy by die 1934-Rykspartydag van Adolf Hitler se Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty (NSDAP) gemaak het. Riefenstahl se prominensie in die Derde Ryk, tesame met haar persoonlike verbinding met Hitler, het haar rolprentloopbaan vernietig nadat Duitsland verslaan is in die Tweede Wêreldoorlog. Sy is gearresteer, maar sonder enige aanklag weer vrygelaat.
Triomf van die wil het aan Riefenstahl onmiddellike en blywende internasionale roem en berugtheid besorg. Hoewel sy die regisseur van slegs agt rolprente was, waarvan net twee aansienlike dekking buite Duitsland geniet het, was Riefenstahl vir die duur van haar lewe bekend. Die propagandawaarde van haar rolprente wat gedurende die 1930’s gemaak is, word deur die meeste hedendaagse kommentators verafsku, maar baie kritici meen haar estetika was uitstaande. The Economist het geskryf dat Triomf van die wil haar reputasie as die “grootste vroulike rolprentmaker van die 20ste eeu bevestig het”.
In die 1970’s het Riefenstahl haar stilfotografie van die Noebastamme in Soedan gepubliseer in verskeie boeke soos Die Nuba (Die Noeba). Sy was aktief tot haar afsterwe op 101-jarige leeftyd en het die seerolprent Impressionen unter Wasser (Onderwaterindrukke) in 2002 vrygestel.
Met toenemende ouderdom het Riefenstahl haar aktiewe betrokkenheid in die Nasionaal-Sosialistiese mediabedryf steeds meer verdring en daarop aangedring dat haar werk as onpolitiese kuns beskou moes word. Dat haar werke inderdaad in haar eie land asook in die buiteland winsgewend bemark kon word, was onder meer aan bekende persoonlikhede uit die Amerikaanse en Britse vermaaklikheidsbedrywe te danke. Tonele uit Riefenstahl se rolprente het inspirasies gelewer vir George Lucas se Star Wars; Mick en Bianca Jagger het portretfoto's deur haar laat neem, Helmut Newton het haar as fotomotief ontdek, en Quentin Tarantino en Francis Ford Coppola was vol lof oor Riefenstahl se rolprent-estetiek.
Na haar dood het die Associated Press Riefenstahl beskryf as ’n “aangeskrewe pionier van film- en fotografiese tegnieke”. Die Berlynse koerant Der Tagesspiegel het geskryf dat “Leni Riefenstahl nuwe grond in die rolprentbedryf gebreek het”. Die BBC het gesê dat haar dokumentêre werke “bestempel is as baanbrekerswerk in die rolprentwese; sy het baanbrekende tegnieke met hyskrane, spore en veelvuldige gelyklopende kameras ontwikkel”.
Lewe vir die oorlog Vroeë lewe Riefenstahl is op 22 Augustus 1902 gebore. Sy is gedoop as Helene Bertha Amalie en is in ’n ryk gesin gebore. Haar vader het ’n winsgewende verwarming- en ventilasiemaatskappy besit en hy wou hê sy moet hom in die sakewêreld volg. Haar moeder het egter geglo dat Riefenstahl se toekoms in die vermaaklikheidswêreld was. In 1918, toe sy 16 was, het sy begin dans en balletlesse neem by die Grimm-Reiter Dansskool in Berlyn waar sy vinnig ’n sterstudent geword het.
Riefenstahl het ’n reputasie in die Berlynse danskringe gekry en kort voor lank het sy ’n aktrise geword. Sy het in ’n reeks rolprente vir Arnold Franck gespeel en in een daarvan, Die weiße Hölle vom Piz Palü (Die wit hel van Piz Palü) (1929), waarvan G.W. Pabst die mederegisseur was, het sy bekendheid buite Duitsland verwerf. Riefenstahl het haar eie werk genaamd Das blaue Licht (Die blou lig) (1932), waarvan Carl Mayer en Béla Balázs die medeskrywers was, vervaardig en was ook die reggiseur daarvan. Hierdie rolprent het die Silwer Medalje by die Venesiaanse Filmfees gewen. In die rolprent het Riefenstahl die rol van ’n plattelandse meisie vertolk wat 'n gloeiende berggrot beskerm het. Die rolprent het die aandag van Hitler getrek, wat geglo het dat Riefenstahl die perfekte Duitse vrou weerspieël het.
Danseres en aktrise Riefenstahl het danslesse geneem en was reeds van ’n vroeë ouderdom by dansakademies ingeskryf. Sy het haar loopbaan begin as ’n bekende vertolkende danseres en het deur Europa gereis en met Max Reinhardt saamgewerk in ’n vertoning wat deur die Joodse vervaardiger Harry Sokal befonds is. Nadat sy haar knie beseer het tydens ’n vertoning in Praag het sy ’n natuurrolprent gesien oor berge (Der Berg des Schickals, 1924) en is sy betower deur die moontlikhede van hierdie soort rolprent. Sy is na die Alpe om die regisseur van die rolprent, Arnold Fanck, te ontmoet met die hoop om die hoofrol in sy volgende projek te kry. Sy het egter vir Luis Trenker, ’n akteur in Fanck se rolprente, ontmoet en hy het haar aan die regisseur bekendgestel.
Riefenstahl het in baie van Fanck se bergrolprente gespeel as ’n atletiese en avontuurlustige jong dame met ’n suggestiewe aantrekkingskrag; sy het gedurende die wintermaande waartydens die verfilming plaasgevind het, ’n talentvolle bergklimmer geword en tegnieke vir rolprentproduksie aangeleer. Riefenstahl het daarna ook ’n suksesvolle loopbaan as aktrise in stilrolprente gehad. Sy was gewild onder die Duitse publiek en hoog aangeskrewe by regisseurs. In 1930 moes sy die hoofrol in Der blaue Engel (Die blou engel) prysgee toe die regisseur, Josef von Sternberg, dit aan Marlene Dietrich gegee het. Voordat sy ’n regisseur geword het, was haar laaste akteursrol die medewerking in 1933 tussen die Duitse SOS Eisberg deur Arnold Fanck en die Engelse SOS Iceberg deur Tay Garnett. Die rolprente is gelyktydig verfilm en deur Universal Studios vervaardig en versprei. SOS Iceberg was Riefenstahl se enigste Engelse rol as ’n aktrise. Een van haar bewonderaars op daardie stadium was Adolf Hitler. Riefenstahl is saam met Arnold Fanck na die Olimpiese Winterspele 1928 in St. Moritz waar haar belangstelling in die fotografering en verfilming van atlete geprikkel is.
Riefenstahl het die geleentheid aangegryp om in 1932 in Die Blou Lig te speel. Dit rolprent het weggebreek van Fanck se styl van realistiese stories in sprokiesagtige berggebiede waar Riefenstahl — in samewerking met die linkse draaiboekskrywers Béla Balázs en Carl Mayer — Die Blou Lig as ’n romantiese, ten volle mistieke storie verfilm het waaroor sy gevoel het die omgewing beter by pas. Sy was medeskrywer, regisseur en akteur in die rolprent en het dit onder haar eie maatskappy, Leni Riefenstahl Productions, vervaardig. Die Blou Lig (Die blou lig) het die Silwer Medalje tydens die Biënnale van Venesië gewen en is aan gehore regoor Europe vertoon. Dit is egter nie oral goed ontvang en Riefenstahl het die oorwegend Joodse kritici geblameer. Met die vrystelling van die prent in 1938 is die name van die medeskrywer Béla Balázs en vervaardiger Harry Sokal, albei Jode, van die lys van medewerkers verwyder; sommige meen dit was in opdrag van Riefenstahl. Die regisseur het later die naam van haar Joodse mededraaiboekskrywer aan die propagandis Julius Streicher gegee. Riefenstahl het uitnodigings vanuit Hollywood ontvang om rolprente daar te gaan maak, maar sy het die aanbiedinge van die hand gewys sodat sy in Duitsland by haar vriend kon bly.
Propaganda en dokumentêre rolprente duimnael|Leni Riefenstahl met Heinrich Himmler (links) by Neurenberg in 1934 Riefenstahl het vir Adolf Hitler in 1932 by ’n byeenkoms gehoor praat en is betower deur sy talent as ’n openbare spreker. Sy beskryf die ervaring in haar memoires as: “Ek het iets soos ’n apokaliptiese visioen gehad wat ek nooit kon vergeet nie. Dit was asof die oppervlak van die aarde voor my uitgesprei was, soos ’n halfrond wat skielik opdeel in die middel en ’n enorme waterstraal uitspuit, so kragtig dat dit die lug geraak en die aarde geskud het”. Volgens die Daily Express van 24 April 1934 het Riefenstahl Mein Kampf gelees terwyl sy besig was met die verfilming van Die Blou Lig. Dieselfde koerant skryf dat Riefenstahl gesê het dat “die boek ’n enorme indruk op my gemaak het. Nadat ek die eerste bladsy gelees het, is my Nasionaal-Sosialisme bevestig. Ek het gevoel dat die man wat so ’n boek geskryf het, ongetwyfeld die leier van Duitsland sou word. Ek was gelukkig dat so ’n man nou hier was”. Sy het daarna aan Hitler ’n brief geskryf en ’n ontmoeting versoek. Na haar ontmoeting met Hitler is sy die geleentheid gebied om op te tree as regisseur van Sieg des Glaubens (Sege van die Geloof), ’n uurlange speelfilm oor die vyfde byeenkoms van die Nazi Party by Neurenberg in 1933. Riefenstahl het ingestem om die regisseur te wees wanneer sy van Groenland sou terugkeer na die verfilming van ’n rolprent aldaar.
duimnael|Hitler wens Riefenstahl in 1934 geluk duimnael|Riefenstahl se rolprent van die 1934-Rykspartydag in Neurenberg Hitler was beïndruk met Riefenstahl se werk en het haar gevra om die opkomende 1934-Rykspartydag in Neurenberg op rolprent vas te lê. Riefenstahl het dit aanvanklik, volgens haar memoires, teengestaan en wou sy nie meer Nazi-rolprente maak nie; sy wou liewer ’n speelfilm maak wat gebaseer was op Hitler se gunsteling opera, Tiefland deur Eugen d’Albert. Riefenstahl het privaatbefondsing vir die vervaardiging van Tiefland gekry maar die verfilming in Spanje is ontspoor. Hitler het uiteindelik daarin geslaag om haar te oortuig eerder om Triomf van die Wil te maak, met die voorwaarde dat hy haar nie weer sou vra om rolprente vir die party te maak nie. Sy het verder ook aan Hitler gesê dat sy die vryheid wou hê om weer as akteur te kon optree: “Ek sal nie langer kan leef as ek nie meer ’n akteur kan wees nie”.
Die gevolglike kroniek van die Neurenberg-byeenkoms, Triomf van die Wil (Hitler het die titel verskaf) is algemeen erken as ’n meesterlike, epiese, innoverende dokumentêre rolprent. Triomf van die Wil was ’n opruiende sukses in Duitsland. Dit het ook gesorg dat Riefenstahl die eerste vroulike regisseur was wat internasionale roem verwerf het. In onderhoude vir die 1993-rolprent Die mag van beeld: Leni Riefenstahl, het Riefenstahl ten sterkste ontken dat die rolprent ’n uitdruklike poging tot Nazi-propaganda was en sy het met afkeur toegesien hoe dit vir sulke doeleindes gebruik is.
Ten spyte daarvan dat sy beloof het om nie weer sulke prente te maak oor die Nazi-party nie, het Riefenstahl in 1935 die 18-minuutlange Tag der Freiheit: Unsere Wehrmacht (Dag van Vryheid: Ons Weermag) oor die Duitse weermag gemaak. Net soos Sieg des Glaubens en Triomf van die Wil is hierdie prent by die jaarlikse Rykspartydag in Neurenberg verfilm. Riefenstahl het nooit ontken dat sy die prent gemaak het nie, maar sy het altyd volgehou dat dit ’n deelversameling van Triomf van die Wil was wat toegevoeg is omdat die weermag gevoel het hy is nie genoegsaam verteenwoordig in Triomf van die Wil in 1934 nie. Meer as ’n miljoen Duitsers het aan die byeenkoms in 1934 deelgeneem. Na dit het die jaarlikse byeenkomste in Neurenberg selfs nog meer mense gelok. Die byeenkoms in 1935 is bekend vir die uitsprake omtrent die status van Jode in Duitsland. Dit het bekend geword as die Wette van Neurenberg.
duimnael|Leni Riefenstahl besig met verfilming tydens die Olimpiese Somerspele 1936