Deon Opperman (15 Maart 1962, Uitenhage-) is 'n Suid-Afrikaanse akteur en dramaturg, wat naas verskeie ander toekennings twee keer die Hertzogprys vir sy dramas ontvang. Hy lewer ook 'n beduidende bydrae tot die Afrikaanse televisie met reekse soos Hartland, Kruispad, Bloedbroers en Getroud met rugby.
Hy is 'n suksesvolle sakeman en is ook die stigter van die South African School of Film, Television and Drama (AFDA) in Milpark, Johannesburg, die teatertrust, die Independent Theatre Trust en Tanstaafl. Laasgenoemde sluit Packed House Productions (wat professionele opvoerings aanbied), eQ2 Corporate Services (’n korporatiewe konsultantbesigheid) en Bottom Line Entertainment (’n televisie-produksiehuis) in.
Lewe en werk
Vroeë lewe en opleiding Deon Louis Opperman is op 15 Maart 1962 op Uitenhage gebore. Hy is die middelkind tussen twee susters en sy jonger suster is Esmé. Sy pa Pieter is besturende direkteur van Joko Tee wat eintlik argitek wou wees en sy ma is ’n nooi Coetzee uit die Vrystaat. In 2009 erken hy egter by die Aardklop-kunstefees dat hy aangeneem is en dat sy werklike ma ’n nooi Els van Cradock in die Oos-Kaap was en sy werklike pa ’n Olivier van Uitenhage, ook in die Oos-Kaap.Tempelhoff, Elise “Ons is die vasteland se doring” “Beeld” 2 Oktober 2009
Hy word groot in Oos-Londen en matrikuleer aan die Engelstalige Selborne College in Oos-Londen. Op skool word hy gekeur om na die Drakensberg-seunskoor te gaan, maar sy ouers dink nie dit is ’n goeie idee nie. Sy verpligte twee jaar militêre diensplig ondergaan hy op Oudtshoorn, waarna hy ook twee kampe as seiner op die grens deurbring. Vanaf 1982 studeer hy aan die Rhodes Universiteit in Grahamstad en hy behaal in 1984 die B.A.-graad met hoofvakke Engels en Drama. As akteur verower hy in 1982 die Michael Atkinson-toekenning as mees belowende eerstejaarstudent en in 1983 ontvang hy die Beste Akteur-toekenning vir sy vertolking van Boesman in Boesman and Lena. Hy kry ook ’n AA Life Vita-toekenning as mees belowende akteur in 1985.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Deon_Opperman In hierdie tyd skryf hy sy eerste drama, Môre is ʼn lang dag, vir die ATKV Kampustoneel omdat hulle R1000 betaal vir die beste nuwe teks en hy die geld nodig het vir ’n verloofring. Wanneer hy die prysgeld wen, lei dit tot sy verlowing en latere troue met Bridget Fitzhenry van Grahamstad, ’n plaasmeisie oorspronklik vanaf Jansenville uit die Karoo.
Sukovs en verdere studie Vanaf 1985 tot 1986 is hy letterkundige adviseur van Sukovs. Na sy bedanking in 1986 by Sukovs studeer hy in 1987 drama (regie) aan die Universiteit van Kaapstad en behaal in 1988 die B.A. Honneurs Drama-graad met lof. Hy stig in 1989 sy eie produksiemaatskappy, Bold Productions, wat daardie jaar drie stukke opvoer by die Kunstefees op Grahamstad. In 1990 bied Trust Bank hom ’n borgskap vir ’n jaar om hom in staat te stel om voltyds te skryf, die eerste borgskap van sy soort in Suid-Afrika. Hy studeer in 1991–1992 met ’n Fullbright-studiebeurs aan ’n meestersgraad in rolprent- en televisieproduksie en voltooi hierdie studie met lof aan die Northwestern University in Chicago in 1994.
Terugkeer na Suid-Afrika By sy terugkeer uit Amerika vestig hy hom in Johannesburg, waar hy aktief betrokke is by die toneel as skrywer, akteur en regisseur. Hy begin ook in 1996 om opleiding in die skryfkuns te gee by die ATKV-skryfkursusse. As entrepreneur stig hy in 1994 AFDA, die South African School of Film, Television and Drama in Milpark, Johannesburg waar hy spoedig honderde studente het. Van die studente se werk word vanaf 2000 op die grootste kortrolprentfees in die wêreld by Claremont-Ferrand vertoon.Kotzé, Jansie Oulitnet: http://www.oulitnet.co.za/teater/deonmond.asp
Independent Theatre Trust en Tanstaafl In 2003 staak hy sy betrokkenheid by AFDA. Hy begin ook ’n teatertrust, die Independent Theatre Trust, saam met ander stigterslede soos Lizz Meiring, Eric Nobbs, Hannes Muller, Susan Danford, Garth Holmes, Stephen Jennings, David Clatworthy, Wilmien Rossouw en André Odendaal. Sy belangstelling in besigheidsbeginsels laat hom vir 'n Meestersgraad in Besigheidsadministrasie inskryf wat hy in 2006 by die Universiteit van die Witwatersrand verwerf.
Hy begin Tanstaafl (“There ain’t such thing as a free lunch”) in 2004, wat die maatskappy Packed House Productions (wat professionele opvoerings aanbied), eQ2 Corporate Services (’n korporatiewe konsultantbesigheid) en Bottom Line Entertainment (’n televisie-produksiehuis) insluit. Packed House Productions bied verhoogtreffers soos The sound of music, My fair lady, Fiddler on the roof en A funny thing happened on the way to the forum vir groot gehore in groot ouditoriums aan, wat populêre sterre soos Steve Hofmeyr in die vername rolle gebruik om die loketinkomste verder te verhoog.Packed House: http://www.packedhouse.co.za/DeonOpp.htm
Werk as akteur Deon is ook steeds gereeld bedrywig as akteur en speel verskeie rolle in sy eie dramas asook in 1983 die titelrol in Tom Stoppard se The real inspector by die Grahamstadse Kunstefees. As toorkunstenaar bied hy ook The Mister Magic Man Show vir kinders by die Grahamstadse Kunstefees aan.
Persoonlike lewe Sy huwelik met Bridget word in September 2001 ontbind en hy trou dan met die aktrise Hanli Rolfes. Hulle bly in ’n meenthuis in Melville, maar hierdie huwelik eindig in 2010 ook in ’n egskeiding. Beide hierdie huwelike is kinderloos. Hierna is hy betrokke in ’n verhouding met Marelize Landman.
Intussen ondervind hy groot materiële welvaart weens die sukses van sy sake-ondernemings en hy koop vir hom ’n huis in die rykmansbuurt Saxonwold. Hy skryf ook in vir ’n doktorsgraad in bedryfsbestuur met die doel om ’n model te ontwikkel wat empiries sal voorspel hoeveel mense na ’n produksie sal gaan kyk, terwyl hy selfs planne maak om sy sakeryk op die effektebeurs te noteer. Hy is in 2014 getroud met die musikant en komponis Janine Neethling, wat ’n seun, Sammy, uit haar vorige huwelik met die akteur Dale Cutts het. Hulle koop ’n huis in Onrus in die Kaap, waar hulle merendeels bly.
Publieke figuur Hy is ’n omstrede figuur in die bedryf, wat gereeld in polemiek betrokke raak. Sy beswaar teen die burokratiese keuringsproses van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in 2003 lei tot planne van hom om in 2003 ’n kompeterende eie fees op George te hou. Hierdie geskil word egter na onderhandelinge opgelos en hy tree weer in 2004 by die KKNK op.
As sakeman steur hy hom ook nie veel aan kritici nie en skryf vir die teater stukke wat hy glo kommersieel suksesvol sal wees, soos die lewensverhaal van Steve Hofmeyr (Dis hoe dit was...) waarin Hofmeyr self die hoofrol vertolk en op hierdie kunstenaar se gewildheid en omstredenheid staatmaak vir loketinkomste.
Die musiekspele Ons vir jou (oor die Anglo-Boereoorlog, met generaal De la Rey as hoofkarakter kort nadat die lied van Bok van Blerk oor De la Rey kultusstatus bereik het); en Tree aan!, oor verpligte militêre diensplig tydens apartheid, word deur baie gesien as polities onsensitief in ’n tyd wat die Afrikaner al meer geteiken word deur die populistiese uitsprake van politici en lok hewige reaksie in die briewekolomme van daaglikse nuusblaaie en die webwerf LitNet uit.Williamson, Eagan “Toneelstuk oor oorlog ‘rassisties, geldgedrewe” “Beeld” 24 April 2008
Skryfwerk
Afrikaanse Drama Vir die verhoog skryf hy meer as vyftig dramas wat opgevoer word, terwyl hy ook vir die televisie produseer. Sy eerste drama, Môre is ’n lang dag, beskryf die konflik tussen vyf jong manne op militêre diens aan die grens en maak indruk met lewendige dialoog en die wyse waarop die tema universele waarhede uitbeeld. Die stuk speel af op ’n Sondagaand in ’n Weermagtent tydens die grensoorlog op die Angolese grens. Die skynbaar onbenullige aktiwiteite en doellose gepraat van die karakters geskied teen die agtergrond van die gebeurtenis wat almal doelbewus vermy, naamlik die medesoldaat (Willie) wat dood is terwyl twee van die vyf manne in die tent tydens ’n wagbeurt geslaap het. Hierdie gebeurtenis bring dan die bestaanskwessies van die futiele oorlog, redelose geweld en ook die lewe sonder sin te berde. Die vyf dienspligtiges is Lappies, ’n eenogige rassis; Van wat onder Lappies se invloed is; Christo, ’n seun met goeie opvoeding en tradisionele waardes; Kosie, die bangbroek en vredemaker; en die Engelse Neil, ’n siniese jongman wat die Afrikaners se nasionalisme en geloof bevraagteken. Die uiteenlopende politieke oortuigings, persoonlikheidsverskille en huistale van die dienspligtiges word dramaties ontgin. Vele vrae word gevra oor oorlog, die doel van die lewe, geloof, die verlede, die toekoms en die dood, maar daar is nie klaarblyklike antwoorde nie. Terselfdertyd is die doellose gesprekke en die repetisie van aksies ’n teruggryp na die teater van die absurde en die implikasie van die sinloosheid van alles.Odendaal, L.B. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 27 no. 3, September 1987Schutte, H.J. “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 26, no. 4 November 1989 In 1985 deel Opperman met Môre is ’n lang dag die AA Life Vita-toekenning vir dramaturg van die jaar en hierdie drama word ook vir die televisie verfilm.
Die teken is ’n drama waarin ’n jong dogter, Anna-Marie, bely dat sy die Christus van die herkoms verwag. Dit skep spanning tussen haar moeder, die dogmatiese vader en die onsekere predikant en ontbloot die vrese en vooroordele van die gemeenskap. Dit lei dan tot die dramatiese einde, waar die pa sy kleinkind vermoor omdat hy hom as ’n Antichris beskou. Anna-Marie sterf kort na geboorte, om so die belofte van redding in die kiem te smoor en die geloofskrisis te vererger. Onderliggend aan hierdie drama is baie Afrikaners se blinde navolging van Calvinisme en hulle onwilligheid om godsdienstige voorskrifte en waardes te bevraagteken.Brink, André P. “Rapport” 28 Desember 1986Du Plessis, Phil “Die Burger” 11 Desember 1986 Hierdie twee dramas (Môre is ’n lang dag en Die teken) word saam gepubliseer en besorg aan Opperman in 1987 die Eugène Marais-prys, terwyl beide ook in 2006 as deel van sy gepubliseerde oeuvre in 2006 met die Hertzogprys bekroon word. Môre is ’n lang dag word later in Vyfmylpaal opgeneem, ’n versamelbundel van sy beste dramas.