Wolwedans in die skemer is ’n fiktiewe Afrikaanse verhaal oor Hotel Njala in die Hazyview-vallei wat deur die rolprentresensent en omroeper Leon van Nierop geskryf is. Die verhaal is verwerk tot radiodrama, televisiereeks, rolprent en roman. Die storie het ses weergawes ondergaan.Watkykjy-onderhoud
Radioverhaal Inleiding Die atmosfeer, legendariese musiek, kenwysie (Nadia se Tema van Michell Strogoff) en aankondigings deur Roelf Jacobs word in sowel die 1980’s- as 2012-episodes gebruik. Die inleiding loop:
(geluid van paddas en krieke) (geluid van sebra) (geluid van hadidas)
As die hadida oor ’n huis vlieg en sy angsroep oor die vallei skeur Sê hulle dat iemand gaan sterf. Dis dan wanneer die wolf uit sy skuilplek kruip … As antwoord op die roep.
Ons bied u, Leon van Nierop se verhaal oor Hotel Njala in die Hazyview-vallei.
(kenwysie)
Wolwedans in die skemer
Oorspronklike radioverhaal In 1979 is Leon van Nierop deur veteraan Francois van Heyningen gevra om 'n voorstel vir 'n nuwe soort halfuurvervolgverhaal aan Springbokradio te rig. Op 'n Maandagnamiddag in sy tweevertrek-woonstelletjie te Yeoville, Johannesburg, is Wolwedans in die Skemer uitgedink. Hy het omtrent deurnag geskryf. Die storie se begin, middel en slot is noukeurig beplan op papier. Die eerste episode is met die hand geskryf, op 'n Olivetti Linea 98 met twee vingers getik en die eerste opsomming is ingestuur.
Die voorafepisode is omtrent twee weke later opgeneem en omtrent 'n week later het Wolwedans veertien ander regisseurs en skrywers se pogings oortref.
Die idee het gespruit uit 'n spookagtige ondervinding wat hy en 'n vriendin in 1977 op Pelgrimsrus gehad het. Hy het daar begin dink aan 'n moordenaar wat in 'n Laeveldse hotel deur die gange sluip met 'n byl en die inwoners teister. Kort daarna teen skemer is by die Casa do Sol-hotel te Hazyview ingedraai en het die karakters en intrige ontstaan.
Tydens die eerste opname het 'n kragonderbreking plaasgevind. Die spelers moes omtrent 'n uur lank in die donker wag. Die eerste episode is amper nie opgeneem nie. 'Dit is ’n omen vir wat gaan volg,' het een van die vroulike spelers gesê. 'n Ander probleem is dat die spelers nie altyd beskikbaar kan wees nie. So het oom Schalk Lourens byvoorbeeld vir Patrick Mynhardt ingestaan. Dieselfde het ook met die spelers van die 2012-weergawe gebeur.
Van Nierop en die klankspan het spesiaal in die Laeveld drie dae lank grillerige byklanke opgeneem, soos ’n man wat ’n vrou deur ’n modderige bos met ’n byl jaag, die klank van reëndruppels op piesangblare, die geluid van ’n byl wat deur vleis klief, naggeluide en spookhuis-byklanke. Die gebabbel van toergroepe, Jeeps se deure wat oop- en toegaan en dieregeluide – veral dié van paddas – is opgeneem by die Casa do Sol-hotel en Sabi Sand-wildtuin. Van hierdie byklanke is ook in die 2012-radioweergawe gebruik.
Wolwedans in die skemer is vanaf 4 Augustus 1980 tot 30 Januarie 1982 op Springbokradio uitgesaai, met 385 halfuur-episodes. Die draaiboek het 6 000 bladsye beslaan. Wolwedans in die skemer sou oorspronklik ses maande lank uitgesaai word, maar het op die ou einde gerek tot 'n jaar en 'n half. Van Nierop het dit belaglik gevind om 'n whodunnit so lank uit te rek en die reeks het in 1982 geëindig. 'n Vervolg het in 1983 begin en 1984 geëindig met 325 episodes. Van Nierop moes die skryfwerk staak, want op daardie stadium het hy die kontrak gekry om Ballade vir 'n Enkeling vir die televisie te skryf. Met sy debuut het die radioverhaal binne 6 weke bekend geraak as die gewildste radioverhaal sedert Die Du Plooys van Soetmelksvlei. Skoliere het daarvoor sport misgeloop en huis toe gejaag.Van Nierop, Leon. 2012. Wolwedans in die skemer. Tafelberg-uitgewersDie vervolgverhaal het smiddae om 14:00 aanvanklik 'n geskatte 150 000 luisteraars gehad. Teen die einde van die reeks was omtrent 1 miljoen luisteraars ingeskakel.
Van Nierop beskou Wolwedans as sy grootste verhaal. Dit het, in sy woorde, bloedtap gekos. Elke halfuur-episode moes iets nuut en aktueel wees. Hy was baie afhanklik van die reaksie van luisteraars om die regte rigting in te slaan. Vyf episodes is elke keer vooruit beplan.
Van Nierop glo die wenresep van die reeks is bloedstollende bangmaaktonele, swart humor, romanse, ’n bietjie verbode liefde, die skoonheid van die Laeveld en die donker geborge geheime van ’n familie.
Die rolverdeling vir die oorspronklike radioverhaal was soos volg:Jacques Liebenberg. Wolwedans: Ou treffer in nuwe skaapsklere.Taalgenoot. Winter 2012. Bl.64 – 66.
Sonja: Bettie Kemp Ryno: Ryno Hattingh Armand: Leon van Nierop Adéle: Lerina Erasmus Diana: Anne-Marie Muller Maggie: Mariëtte Engelen Oom Tooi: Patrick Mynhardt Morné: Chris van Niekerk Conrad Nolte: Mieder Olivier
2012-radioverwerking Leon van Nierop het sedert die middel-1980's gereeld versoeke gekry dat die storie na die radio moet terugkeer. Die navrae daaroor het nooit, ooit opgehou … vir 32 jaar nie. 'n Meer vreemde voorval het Van Nierop een Novemberaand by 'n gastehuis in Pretoria oorgekom toe hy uit verveeldheid die tuin begin verken het. Hy het in die gastehuiseienaar se troetelwolf, Brutus, vasgeloop. Vir Van Nierop was dit die teken en daardie Desember is die draaiboek geskryf by sy huis op Hazyview wat hy in 1984 laat aanbou het.
Die SAUK (nou SABC) het in 2012 sy 75ste bestaansjaar gevier en Magdaleen Krüger, die stasiebestuurder van RSG, wou Wolwedans weer laat opvoer. Volgens Van Nierop is die radioverhaal natuurlik meer uitgebrei as die fliek; die twee genres werk dus aanvullend op mekaar.
Wolwedans in die skemer as 2012-radioverwerking is op weeksmiddae om 14:45 vanaf 6 Augustus 2012 tot 23 November 2012 op Radio Sonder Grense uitgesaai, met 80 kwartier-episodes.RSG-potgooi 20120806_WOLWEDANS_IN_DIE_SKEMER_1RSG-potgooi 20121123_WOLWEDANS_IN_DIE_SKEMER_80 Dieselfde verhaal van die 1980's word gemoderniseer na 2012. Sonja is steeds op pad na Hotel Njala, is steeds in 'n motorongeluk betrokke en ontmoet dieselfde gesin, maar veranderinge word aangebring. Die polisiepersonages is een voorbeeld.
Moderne tegnologie soos DNS-analise, sellulêre telefone, die Internet en ander nuwe gesofistikeerde speurtegniek is in berekening gebring. Die verhaalruimte van die 1980's se Wolwedans was ooreenstemmend met die destydse Hazyview, wat vroeër maar 'n klein dorpie sonder misdaad was met slegs 'n apteek, kruidenierswinkel, vulstasie, poskantoor en die Numbi-hotel. Die huidige Wolwedans-Hazyview het, heel aktueel, na 'n misdaadgeteisterde stad verander. Misdaad en strooptogte bly die slang in die paradys. Gastehuise was destyds afwesig, wat 'n nuwe verhaalintrige meebring: die konkurrensie tussen Hotel Njala en ander gastehuise. Die hadida se skreeu was vir die mens destyds angswekkend, maar vandag is dit bloot 'n irritasie. Dit is veral opvallend hoe Ryno in die verhaal self die sukkelende hotel letterlik uit sy gestolde 1980's-styl die 21ste eeu inlei deur onder meer sosiale mediabemarking in te span, 'n moderne spa te laat aanbou en uitgebreide verrassingstoere spontaan te reël met 'n informele aanslag.
In 'n onderhoud met Huisgenoot, waartydens Van Nierop aan Episode 80 werk, word Rooikappie as intertekstuele bron beskou. Hy spot dat Wolwedans nou nog net in 'n musiekblyspel omskep kan word.Huisgenoot TV: Wolwedans in die skemer draai landwyd
Van die luisteraars van die nuwe vervolgverhaal het gevra waarom die ou akteurs nie gebruik word nie. Die rede hiervoor is omdat die helfte van die spelers al oorlede is of te oud vir hul rolle klink. Die rolverdeling vir die 2012-radioverhaal was soos volg:
Sonja Daneel: Rolanda Marais Ryno Lategan: David Louw Armand Naudé: Jacques Bessenger Adéle Joubert: Desiré Gardner Maggie Joubert: Lelia Etsebeth Diana Joubert: Amor TredouxVolgens Taalgenoot se Winteruitgawe 2012 sou hierdie rol deur Riana Wilkens vertolk word. Jan Joubert: Leon van Nierop Die naam van die vertolker van Jan Joubert word nie in die slotepisode (80) erken nie, hoewel die stem duidelik herkenbaar is. Luitenant Conrad Nolte: Gérard Rudolf Sersant Berta van Schalkwyk:Karen Wessels Yolande du Preez: Donnalee Roberts
Televisiereeks Die televisiereeks het Junie 1987 die lig gesien en is op Maandae om 21:05 op TV 1 gebeeldsend. Aanvanklik sou die reeks in Februarie 1987 uitgesaai word.
Meer as 300 akteurs het oudisies afgelê vir omtrent tien karakters. Sonja Daneel is vertolk deur Elizabeth Archer en Adéle Joubert deur Brümilda van Rensburg. Die ander akteurs was Marie du Toit, Lerina Erasmus, Elize Cawood, Ryno Hattingh, At Botha, Michelle Botes, Ian Roberts, Charl van Heyningen en Bruwer Engelbrecht. Die tegniese en spelleiding-regisseur was Hannes Roets en William Egan onderskeidelik.
Die kritici het die televisiereeks negatief beoordeel. Die reeks het te veel na die radioverhaal geklink, die "kykers se intelligensie onderskat", die afwisseling tussen die spannende en komiese tonele het te vinnig plaasgevind en die "snaaks [was] soms té snaaks en die erns té ernstig".
Rolprent
Die rolprent is ’n Boere-noir-riller.wolwedans-movie.com Boere-noir is 'n tong in die kies verwysing na film noir, maar verwys ook na die sterk Afrikaanse element en storie, asook Wolwedans in die skemer as 'n stuk Afrikana self. Afrikana-elemente is dan ook ingebring, soos die verwysing na die voorgeskiedenis van die Afrikaner, ossewaentjies, ou voortrekkerkleredrag en antieke meubelstukke. Die storie is vasgevang in 'n verlede wat nie kan aanbeweeg nie. Dit is ook Suid-Afrika se eerste film noir-rolprent. Dit het ’n ouderdomsperk van 13-jaar (seks, geweld). Die rolprentvervaardigers het gemik na 'n ouer gehoor in die ouderdom van 38 jaar plus.
Vervaardiging In die laat 1980's en vroeë 1990's is Van Nierop genader deur rolprentvervaardigers. Hy het die aanbod van die hand gewys omdat hy gevoel het hulle nie reg sou laat geskied aan sy verhaal nie. Behalwe My Broer se Bril, Die Vlindervanger en Weerskant van die nag, wat riller-elemente bevat, het die yl gesaaide Afrikaanse rillergenre 'n groot markgaping as geleentheid gebied.
Leon van Nierop, Henk Pretorius en Hanneke Schutte het nou saamgewerk om die draaiboek van 20 000 bladsye te verminder tot 100. Van Nierop moes nou ook op 'n visuele manier skryf, wat anders is as die klank- (radio), televisie- (beeldradio) of romangenre waaraan hy gewoond was. Die regisseur, Jozua Malherbe, het sy gunstelingrillers, dié van Alfred Hitchcock, Stanley Kubrick se The Shining en Nicolas Roeg se Don’t Look Now, as inspirasie gebruik. Die oudisies het 5 September 2011 gesluit en die verfilming het in November 2011 in die Laeveld plaasgevind. Slegs ernstige akteurs is gekies en geen sangers nie. Van Nierop was ingenome met die rolverdeling en veral met die akteur David Louw wat sy rol as ’n onopgesmukte boerseun sonder enige aanstellerigheid kon vertolk. Volgens 'n vroeë nuusberig sou die rolprent tot middel Desember 2011 geskiet en vroeg in 2012 uitgereik word. 'n Latere artikel berig dat verfilming vroeg in November 2011 in die Witrivier-omgewing sou begin en dat die rolprent die silwerdoek vroeg in 2012 sou bereik.
Die rolprent is op 50 plekke in die Laeveld geskiet. Daar is 250 tonele. 'n Regte wolf is uit 148 wolwe gekies as die hoofkarakter. Die Laeveldse somerhitte was vir die filmspan ondraaglik. Drie wolwe van 'n Vrystaatse plaas is in die rolprent gebruik, en moes onder sproeiers koel gehou word. Omrede wolwe moeilike diere is om te dresseer, is geen spesifieke aksies in die draaiboek gevra nie. Malherbe, die kinematograaf Tom Marais, produksieontwerper Waldemar Coetsee en Danie Bester, die fliek se vervaardiger, het in September 2011 vir vyf dae in Van Nierop se huis, Wolwedans, buite Hazyview deurgebring om elke toneel, kameraskoot, reël en beweging te beplan. Meer as 35 mense was in begin-November 2011 op die stel betrokke.Die boshut is deur Waldemar Coetsee en sy span binne 3 dae gebou.