Die Oos-Kaapse kurper (Sandelia bainsii) is 'n bedreigde visspesie wat voorkom in die Kowie-, Groot-Vis-, Buffels-, Tyhume-, Keiskamma- en Nahoonrivierstelsels in die Oos-Kaap, Suid-Afrika. In Engels staan die vis bekend as die Eastern Province rocky of die Rocky kurper.

Voorkoms Die vis is olyf of grysbruin met verspreide swart vlekke en kolle op die lyf. Daar is 'n donkergrys baan agter die oog en die vinne is soms liggeel met 'n swart rant. Die vis word 260 mm lank en die Suid-Afrikaanse hengelrekord is 0.13 kg.

Habitat Die vis leef in strome vol rotse, meestal by oewers waar die stroom stadig vloei. Hulle vreet insekte, krappe en klein vissies. Die wyfie lê haar eiers in die somer nadat die mannetjie 'n nes gebou het. Die mannetjie help om die eiers en kleintjies op te pas.

Bewaringstatus Die vis word bedreig as gevolg van verlore habitat en roofvisse soos die baars en skerptandbabers wat hulle jag.

Sien ook Alfabetiese lys van visse Kurper Lys van Suider-Afrikaanse visse volgens wetenskaplike name Lys van varswater visfamilies Lys van visfamilies

Eksterne skakel Fishbase - Sandelia bainsii

Bron Skelton, Paul: A Complete Guide to the FRESHWATER FISHES of Southern Africa.. 2001.

Kategorie:Beenvisse