Hierdie artikel handel oor die Suid-Afrikaanse nasionale manskrieketspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouekrieketspan, sien Suid-Afrikaanse nasionale vrouekrieketspan, en vir die artikel oor die plant, sien Protea.
Die Proteas is die nasionale krieketspan wat Suid-Afrika in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur Krieket Suid-Afrika (KSA) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Die Proteas is na die koningsprotea, die nasionale blom van Suid-Afrika, genoem. Krieket is een van Suid-Afrika se nasionale sportsoorte en die Proteas behoort tot dié land se vernaamste nasionale spanne. Die Proteas is tans (Maart 2026) tweede op die IKR-toetsranglys, vyfde op die eendagranglys en vyfde op die Twintig20-wêreldranglys.
Suid-Afrika is die derde oudste nasionale span in toetskrieket en het tydens die 1888/89-seisoen sy eersterangse en internasionale krieketdebuut gemaak, toe Suid-Afrika ’n toerende Engeland gehuisves het. Aan die begin kon die span nóg teen Australië nóg teen Engeland meeding, maar nadat hulle beide ervaring en kundigheid verkry het, kon die Proteas aan die begin van die 20ste eeu ’n mededingende span op die veld stuur. Die span het tot in die 1960’s gereeld teen Australië, Engeland en Nieu-Seeland gespeel, maar nadat ’n onverbiddelike weerstand teen Suid-Afrika se apartheidsbeleid ontstaan het, is ’n internasionale verbanning deur die IKR aangekondig, nadat ander internasionale beheerliggame Suid-Afrika ook uitgesluit het. Vervolgens het Suid-Afrika nie aan die eerste vier krieketwêreldbekertoernooie (in 1975, 1979, 1983 en 1987) deelgeneem nie. Toe die verbanning ingestel is, het Suid-Afrika oor ’n span met spelers soos Eddie Barlow, Graeme Pollock en Mike Procter beskik wat destyds as die beste span ter wêreld beskou is.
Die uitsluiting uit internasionale krieket was tot in 1991 in werking en ná hul hertoelating kon Suid-Afrika teen ander toetslande soos Indië, Pakistan, Sri Lanka en Wes-Indië speel. Die span vertoon sterk sedert hul hertoelating en het by tye die eerste plek op die onderskeidelike internasionale ranglyste beklee, maar het tot dusver minder sukses tydens internasionale toernooie behaal. Al is Suid-Afrika telkens een van die gunstelingspanne om beide die krieketwêreldbeker- en die T20I-wêreldbekertrofee te verower, het dié eer hulle nog nie te beurt geval nie. Hul beste prestasie tot dusver is die halfeindstryd, wat die Proteas tydens vyf krieketwêreldbekertoernooie gehaal het (in 1992, 1999, 2007, 2015 en 2023) en die eindstryd tydens die T20I-wêreldbeker 2024, waar hulle naelskraap teen Indië verloor het. Die Proteas het die IKR se Kampioenetrofee tydens hul debuut en die goue medalje tydens die Statebondspele ingepalm (albei in 1998). In 2025 het die Proteas in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap 2023–2025 Australië met vyf paaltjies verslaan en sodoende hul tweede IKR-titel gewen. Van die noemenswaardige spelers sedert hertoelating is Allan Donald, Makhaya Ntini, Shaun Pollock, Jacques Kallis, Graeme Smith, Kagiso Rabada, AB de Villiers, Dale Steyn, Herschelle Gibbs, Faf du Plessis, Morné Morkel, Imran Tahir, David Miller en Hashim Amla. Nege voormalige Suid-Afrikaanse spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.
Beheerliggaam
duimnael|links|’n Krieketwedstryd by St Alban's College, Lynnwood Glen, Pretoria Van die 1880’s af is krieket in Suid-Afrika deur beheerliggame bestuur en van die 1890’s af was daar aparte beheerliggame vir elkeen van die Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe. Op 15 Junie 1909 het Suid-Afrika saam met Australië en Engeland die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) gestig. Die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika het in Junie 1991 met die samesmelting van die in 1976 gestigte Suid-Afrikaanse Krieketunie en die Suid-Afrikaanse Krieketraad ontstaan, waardeur die etniese verdeling in Suid-Afrikaanse krieket beëindig is. Krieket Suid-Afrika (KSA) is in 2002 gestig en het tot in 2008 langs die in 1991 gestigte Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika (VKR) bestaan. Van 2002 tot 2008 was die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika verantwoordelik vir amateurkrieket, terwyl Krieket Suid-Afrika toesig gehou het oor professionele krieket; in 2008 het die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika saamgesmelt met Krieket Suid-Afrika. Sedertdien is dit die beheerliggaam van krieket in Suid-Afrika en toesighouer van die Suid-Afrikaanse nasionale krieketspanne. Reeds in 1991 het Suid-Afrika weer ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword en Suid-Afrika mag dus toetskrieket speel. Daarbenewens was die Suid-Afrikaanse beheerliggaam in 1997 ’n stigtingslid van die Afrikakrieketvereniging.
Krieket Suid-Afrika bestuur al die Suid-Afrika-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is KSA verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Suid-Afrikaanse span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Suid-Afrika oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem. Suid-Afrika A is die tweede nasionale span van Suid-Afrika en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Geskiedenis Invoering en vestiging van krieket duimnael|links|upright|Donald Currie, skenker van die Curriebeker in beide krieket en rugby Soos in ander dele van die wêreld het Britse kolonisasie die spel krieket na Suid-Afrika gebring, waar dit vinnig gewildheid verwerf het. Die eerste bekende krieketwedstryd in Suid-Afrika het in 1808 tussen twee diensspanne in Kaapstad vir ’n prys van duisend riksdaler plaasgevind.
Die oudste krieketklub in Suid-Afrika is die Port Elizabeth Krieketklub wat in 1843 gestig is. Van 1862 af is ’n jaarlikse “Moederland teen Koloniaalgeborenes”-toernooi in Kaapstad aangebied. Teen die laat 1840’s het die spel van sy vroeë wortels aan die Kaap begin versprei, en ook belangstelling onder die Boere in hul Boererepublieke Oranje-Vrystaat en Transvaal geprikkel, hoewel hulle as nasate van die oorspronklike Nederlanders nie as ’n krieketspelende volk beskou is nie; Nederland self het eers ná die Napoleontiese Oorloë ’n krieketspelende land geword, te laat vir die ou Nederlandse Kaapkolonie. In 1876 het Port Elizabeth die “Champion Bat” vir wedywering tussen Suid-Afrikaanse stede van stapel gestuur; die eerste toernooi is in Port Elizabeth gehuisves. King William’s Town se span het die toernooi in 1876 en ook in 1877 gewen.
In 1888 het Sir Donald Currie die eerste Engelse toer na Suid-Afrika befonds. Dit is deur majoor Robert Warton gereël en die Engelse span was onder kapteinskap van die toekomstige Hollywood-akteur C. Aubrey Smith. Dié toer het, terugwerkend, die aankoms van beide eersterangse en toetskrieket in Suid-Afrika gekenmerk. Currie het die Curriebeker (oorspronklik bekend as die Kimberleybeker en nie te verwar met die Curriebeker in Suid-Afrikaanse rugby nie) geskenk wat die trofee sou word van ’n nasionale kampioenskap onder die Suid-Afrikaanse provinsiale spanne en vir die eerste keer in 1889/90 deur Transvaal ingepalm is. Kort ná die invoering van organiseerde krieket in Suid-Afrika is dié sport van die 1890’s af deur aparte beheerliggame vir elkeen van die Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe bestuur.
Eerste toetse duimnael|Die eerste Suid-Afrikaanse span wat in 1889 ’n toetswedstryd gespeel het. Die nasionale span sou, soos die rugbyspan, mettertyd die Springbokke genoem word In 1889 het Suid-Afrika die derde toetsspelende land geword, nadat hulle onder kaptein Owen Robert Dunnell op St. Georgespark, Port Elizabeth, hul eerste toets teen Engeland gespeel het. Hierna is die tweede toets op Nuweland, Kaapstad, gespeel. Albei wedstryde het, soos al die ander wedstryde van die destydse “Suid-Afrika XI” teen toerspanne, nie amptelike toetsstatus geniet nie; Suid-Afrikaanse wedstryde het eers van 1909 af oor amptelik erkende toetsstatus beskik, nadat hulle op 15 Junie 1909 saam met Australië en Engeland op die Londense Lord’s die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) gestig het, alhoewel die Unie van Suid-Afrika eers in 1910 gestig is.
Die besoekende Engelse span wat deur majoor Warton georganiseer is, het nie eens beweer dat hulle Engeland verteenwoordig nie; die wedstryde is as ‘Major Warton’s XI’ t ‘Suid-Afrika XI’ bemark. Die deelnemende spelers was ook nie bewus daarvan dat hulle internasionale krieket gespeel het nie en die Suid-Afrikaanse span is as van ’n swak gehalte beskou. Dié span is aangevoer deur C.A. Smith, ’n gesoute mediumsnelbouler van Sussex, en vir twee spelers van die Major Warton’s XI, Basil Grieve en Charles Coventry, het die twee toetse hul eersterangse loopbaan ingelui. Die ontluikende jong ‘Suid-Afrika XI’ was baie swak en het in albei wedstryde teen Engeland swaar nederlae gely; die Engelse draaier Johnny Briggs het 15 paaltjies vir 28 lopies in die tweede toets in Kaapstad geneem. Albert Rose-Innes het egter geskiedenis gemaak toe hy die eerste Suid-Afrikaanse bouler geword het om ’n vyf-paaltjie-oes in toetse, in Port Elizabeth, te neem.
Suid-Afrika se eerste toetse is met tien nederlae die swakste onder al die huidige toetslande, met slegs ’n enkele gelykop in hul eerste elf toetse, hulle het eers in 1904 in ’n internasionale kwaliteitspan begin ontwikkel. Suid-Afrika het sy eerste toetsoorwinning oor Engeland op 4 Januarie 1906, ná 17 jaar, in Johannesburg behaal. Die laagtepunt van hierdie onvrugbare vroeë periode vir die Suid-Afrikaanse span was ’n Engelse toer in 1895/96, waartydens Engeland met 3–0 skoonskip gemaak het; Suid-Afrika, bestaande uit ’n vergelykbare toetsspan, het die drie toetse onderskeidelik met 288 lopies, ’n beurt en 197 lopies en ’n beurt en 32 lopies verloor. Die Engelse toerspan, wat deur Lord Hawke saamgestel is, het vier van die destyds beste krieketspelers ter wêreld ingesluit: Tom Hayward, C. B. Fry, George Lohmann en Sammy Woods.
Opkoms as ’n internasionale kwaliteitspan duimnael|links|upright|Reggie Schwarz is die uitvinder van beide die draaibal en die “draaibalrewolusie” in Suid-Afrika en een van die wêreld se eerste beste draaibalboulers duimnael|upright|Aubrey Faulkner word as die eerste beste veelsydige Suid-Afrikaner in internasionale krieket beskou. In ’n legendariese toetsloopbaan van 25 wedstryde tussen 1906 en 1924 het hy 1754 lopies teen ’n lopietempo van 40.79 aangeteken en 82 paaltjies teen ’n boultempo van 26.58 geneem duimnael|links|upright|Herbie Taylor is die eerste Suid-Afrikaner wat die mylpaal van 2 500 toetslopies teen ’n lopietempo van 40.77 behaal het duimnael|upright|Jimmy Sinclair het die rekord vir die hoogste lopietempo in die geskiedenis van toetskrieket aangeteken