Tito Mboweni (16 Maart 1959 – 12 Oktober 2024) was 'n Suid-Afrikaanse politikus wat van 9 Oktober 2018 tot 5 Augustus 2021 as minister van finansies onder president Cyril Ramaphosa gedien het.
Tussen 1999 en 2009 het hy die pos as agtste goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank beklee. Hy is op 8 Augustus 1999 in die pos aangestel om dr. Chris Stals op te volg. Me. Gill Marcus vervang hom as goewerneur op 9 November 2009. Hy het tussen 1994 en 1999 as minister van arbeid onder president Nelson Mandela gedien.
Mboweni was in Januarie 2019 teen die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit van Pretoria gekant. In Julie 2019 het Mboweni aangekondig dat voorbereidings aan die gang is om 'n staatsbeheerde bank vir private kliënte te stig. Sodoende reageer hy op 'n versoek van die Ekonomiese Vryheidsvegters.
In Januarie 2020 het Mboweni die eerste lid van 'n Suid-Afrikaanse kabinet sedert die einde van apartheid geword wat voorgestel het dat Suid-Afrika en Lesotho as 'n federale staat verenig word. Reaksies op hierdie voorstel in beide lande was deels negatief en deels positief.
Biografie Tito Mboweni is op 16 Maart 1959 as die jongste van drie kinders gebore. Hy het grootgeword in Tzaneen, nou in die Limpopoprovinsie, waar hy later ook lank geboer het.
Hy het aan die Universiteit van die Noorde studeer tussen 1979 en 1980, waar hy vir 'n baccalaureusgraad in handel ingeskryf het. Hy het nie sy studies voltooi nie en het Suid-Afrika in ballingskap in 1980 verlaat. In ballingskap in Lesotho het Mboweni by die African National Congress (ANC), later Suid-Afrika se regerende party, aangesluit en was 'n party-aktivis in baie hoedanighede. Hy het in 1985 'n baccalaureusgraad in ekonomie en politieke wetenskap aan die Nasionale Universiteit van Lesotho verwerf. In 1988 het hy 'n meestersgraad in ontwikkelingsekonomie aan die Universiteit van Oos-Anglië in Engeland verwerf.
Politieke loopbaan Mboweni was van 1999 tot 2009 die agtste goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die eerste swart Suid-Afrikaner wat die pos beklee het. Hy is ná die bedanking van Nhlanhla Nene op 9 Oktober 2018 as minister van finansies ingehuldig.
Sterwe Mboweni is op 12 Oktober 2024 in 'n Johannesburgse hospitaal oorlede ná 'n kort siekbed. Hy was 65 jaar oud.
Verwysings
Eksterne skakels
Kategorie:Geboortes in 1959 Kategorie:Sterftes in 2024 Kategorie:Politici van die African National Congress Kategorie:Suid-Afrikaanse ministers van arbeid Kategorie:Suid-Afrikaanse ministers van finansies Kategorie:Suid-Afrikaanse ekonome