Die halfmens (Pachypodium namaquanum) is 'n sukkulente, bladwisselende boom wat inheems aan die Richtersveld en suidelike NamibiëPlants of the World Online is. Hulle groei net in droë, rotsagtige halfwoestyngebiede, en gedy glad nie goed weg van hul natuurlike habitat nie. Die naam is afgelei van die feit dat die boom soos 'n mens lyk wanneer hulle teen die horison afgeëts is of teen die skemerlug gesien word. Die stam en veral kroon leun na die son- of noordekant oor. Die boom is 'n bedreigde spesie en word streng beskerm. Die boom se FSA-nommer is 649.https://www.treetags.co.za/national-list-of-indigenous-trees/
Voorkoms Die boom bestaan uit 'n lang stam van tot 4 m, en dra seisoenaal 'n krans van golwende, fluweelagtige groen blare aan die bopunt. Die boom is gewoonlik takloos maar kan soms kort takke produseer. Die stam is dik by die wortels en loop spits na die bopunt. Vratterige knoppe bedek die stam en aan elke knop se punt is 'n pendoring, oftewel 'n gemodifiseerde stipuul.
Blomme en vrugte Die treffende, fluweelagtige, trompetvormige blomme word bo en binne die blarekrans gedra. Hulle word in die wintermaande, gewoonlik van Julie tot September, voortgebring. Die blomme is buisvormig (tot 5 cm lank en 1 cm breed), met 'n liggeelgroen tot roomkleurige buitekant en 'n diep maroen of wynrooi binnekant. Die blomme (soos die blaarkroon) leun noordwaarts om sonblootstelling, hitte en sigbaarheid te maksimeer om plaaslike bestuiwers te lok. Die bestuiwers is motte, bye en voëls.
Bestuifde blomme produseer die kenmerkende, horingvormige, donsige tweelingkapsules. Die kapsules droog uit en splyt oop sade vry te stel wat met syagtige, wit "valskerm"-vesels toegerus is, en deur wind versprei word.
Legende 'n Groepie Namas sou glo, om van hul aartsvyande, die Boesmans, te ontvlug, die berge in beweeg het waar hulle in plante verander is om die droogtetoestande te kan weerstaan. Omdat hulle uit die noorde gevlug het, en die gevaar van daardie kant gedreig het, kyk alle halfmense nou nog noord (plaaslik word selfs na hulle as die "noordkykers" verwys).
Galery
Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse bome
Verwysings
Bronnelys Algemene gids tot BOME. Keith, Paul & Meg Coates Palgrave. 2000. REDLIST Sanbi
Kategorie:Pachypodium Kategorie:Bome van Afrika Kategorie:Flora van Namibië Kategorie:Flora van Suid-Afrika