230px Zaha Hadid
Brits-Irakkese argitek
Gebore 31 Oktober 1950 in Bagdad, Irak
Oorlede 31 Maart 2016 (op 65) in Miami, Verenigde State
Skool Neofuturistiese argitektuur Dekonstruktivisme
Beduidende projekte Bridge Pavilion in Zaragoza, Spanje
Maggie's Centre in Kirkcaldy, Fife 180px
Contemporary Arts Center in Cincinnati, Ohio
Biblioteek en leersentrum, Universiteit van Ekonomie, Wene, Oostenryk180px
Toekennings en pryse Pritzker-prys (VSA) in 2004 Royal Gold Medal (VK) in 2016
Dame Zaha Mohammad Hadid DBE (31 Oktober 1950 – 31 Maart 2016) (Arabies: زها حديد) was 'n Irakkees-gebore Britse ontwerper, argitek en professor in argitektuur asook stigter van die Londense argitektuurpraktyk Zaha Hadid Architects. Sy is deur vele as die mees vooraanstaande vroulike argitek van die laat 20ste en vroeë 21ste eeu beskou.www.zaha-hadid.com: Zaha Hadid 1950–2016
Hadid is in Bagdad gebore en getoë en het haar akademiese opleiding in Beiroet en Londen ontvang. In die Britse hoofstad het sy die ateljee gevestig wat haar naam gedra het – Zaha Hadid Architects. Haar modernistiese en futuristiese ontwerpe sluit die Londense watersportsentrum (Aquatics Centre, 2011) in wat ter geleentheid van die Olimpiese Somerspele van 2012 ontstaan het, en die Cardiff Bay-operahuis in Wallis ('n projek wat uiteindelik nie uitgevoer is nie).
Haar ontwerpe is twee keer met die Stirling-prys bekroon, en sy was die eerste vrou wie se werk in 2004 met die Pritzker-prys vir argitektuur bekroon is – 'n prys waarna soms as die "Nobelprys van boukuns" verwys word.International Business Times: British architect Zaha Hadid dies: Her brilliant legacy in buildings. Die beoordelaarspaneel het na haar as een van die mees begaafde beoefenaars van die kuns van argitektuur verwys en die "konsekwent oorspronklike en sterk persoonlike visie" gehuldig waarmee sy "die manier waarop ons ruimte sien en ervaar, verander het. [Haar] gefragmenteerde geometrie en vloeiende beweeglikheid skep nie net 'n abstrakte, dinamiese mooiheid nie: hierdie is 'n werk wat die wêreld waarin ons lewe, verken en vertolk."Jaye Abbate en Michael C. Thomsett: Celebrating the Art of Architecture. 25 Years of Pritzker Prize Winning Architects. Columbia, MD: Marketplace Books 2004, bl. 99
Lewe en loopbaan Ouers en kinderjare Zaha Hadid is in 1950 in die Irakkese hoofstad Bagdad gebore. Die families van haar ouers, Wajeeha Sabonji († 1983) en Muhammad Hadid (1907–1999), is uit Mosoel afkomstig waar hulle met handel, industriële beleggings en eiendomme groot welvaart verwerf het. Haar pa het tussen 1928 en 1931 aan die London School of Economics gestudeer waar die ekonome Sidney Webb, Hugh Dalton en John Maynard Keynes net soos die sosiaal-demokratiese gedagtes van die Fabian Society sy bewondering gewek het.Alan Rush: Obituary: Muhammad Hadid, in: The Independent, 6 Augustus 1999
Naas sy sakebelange is hy herhaaldelik as minister van finansies aangestel en was in 1946 'n medestigter van die Iraqi Democratic Party en in 1960 een van die stigters en die leier van die Progressive Democratic Party.
Aangesien haar ouers 'n westelike lewensstyl gevoer het, het Zaha Hadid saam met haar broers in een van die eerste huise in Bagdad grootgeword wat volgens die Bauhaus-styl ontwerp is.Nicolai Ouroussoff: Zaha Hadid: A Diva for the Digital Age. In: The New York Times, 2 Junie 2006 Reeds as kind het sy haar kamer nuut ontwerp en het sodoende 'n voorbeeld gelewer wat deur timmermans in Bagdad vir baie ander kinderkamers oorgeneem is.
In die laat 1950's het sy die boubedrywighede by die nuwe gebou van die Irakkese Departement van Beplanning in Bagdad dopgehou – 'n projek wat deur Gio Ponti volgens die voorbeeld van die Pirelli-wolkekrabber in die Noord-Italiaanse metropool Milaan ontwerp is. Zaha Hadid het haar skoolopleiding aanvanklik in 'n kloosterskool in Bagdad, wat deur Rooms-Katolieke nonne bestuur is,Mail Online, 21 Februarie 2016: Dame Zaha Hadid 'not part of the establishment' despite royal honours. Besoek op 20 Februarie 2018 en later in 'n Switserse en 'n Britse kosskool ontvang.The Guardian, 14 November 2012: Zaha Hadid: 'Being an Arab and a woman is a double-edged sword'. Besoek op 20 Februarie 2018
Akademiese opleiding Zara Hadid het tot en met 1971 wiskunde aan die Amerikaanse Universiteit in Beiroet en tussen 1972 en 1977 argitektuur aan die Architectural Association School (AA) in Londen gestudeer. Onder leiding van Alvin Boyarsky het die AA in die 1970's tot 'n soort sentrum van die teenbeweging van 'n tweede argitektoniese modernisme geword.British Council (2005): Zaha Hadid
Dosente soos Rem Koolhaas en Bernard Tschumi het hier sentraal gestaan in die poging om nuwe stylvorme buite die klassieke moderne boukuns en neo-historisme te ontwikkel. Zaha Hadid se buitengewone talent is al in hierdie periode raakgesien. Haar finale eksamenwerk was die ontwerp vir 'n hotel by die Londense Hungerford-brug wat sy Malevich's Tectonics genoem het – 'n sinspeling op die Russiese suprematis Kasimir Malewitsj.
In 1977 het sy 'n pos as medewerkster by Koolhaas se Office for Metropolitan Architecture (OMA) aanvaar waar sy saam met haar kollegas Rem Koolhaas en Ella Zenghelis ook self gedoseer het. In 1980 het sy haar eie ateljee as argitek in die Britse hoofstad geopen. In 1988 het die Duitse argitek en huidige professor Patrik Schumacher (* 1961) as vennoot tot die praktyk toegetree.
Argitektoniese werke en projekte duimnael|350px|links|phæno – Die Experimentierlandschaft, suidfasade, in Wolfsburg, Duitsland In 1983 het Zaha Hadid se ontwerp vir die vermaakilkheidspark The Peak Leisure Club internasionaal opspraak gewek. Volgens haar planne sou die park teen 'n berghelling in Hongkong ontstaan, maar die projek is uiteindelik nooit verwesenlik nie. Nogtans is die ontwerp met 'n prys bekroon en ook ter geleentheid van die uitstalling oor Deconstructivist Architecture, wat in 1988 in die New Yorkse Museum of Modern Art gehou is, vertoon. Zaha Hadid is danksy dié ontwerp as een van die baanbrekers vir die teoretiese basis van dekonstruktivistiese boukuns beskou.
Hadid se styl was indertyd egter allesbehalwe beperk tot dekonstruktivisme. Sy was eerder op soek na haar eie vormtaal binne die modernistiese stroming. 'n Lang reeks van ontwerpe, wat nie verwesenlik kon word nie, wys hoe moeilik dié soektog was. Uiteindelik het Zaha Hadid in 1993 'n deurbraak gemaak met haar ontwerp vir 'n brandweerhuis vir die Vitra-aanleg in Weil am Rhein, Duitsland. Rolf Fehlbaum, die bestuurder van Vitra, het indertyd al bekendgestaan as opdraggewer vir 'n reeks innoverende fabrieks- en ander geboue wat deur leidende internasionale argitekte soos Tadao Ando en Frank Gehry ontwerp is, waaronder die Vitra-ontwerpmuseum.
'n Ander, minder opspraakwekkende ontwerp van Zaha Hadid vir 'n woonhuis met binnehof in die Berlynse stadsdeel Kreuzberg het reeds in 1987 ter geleentheid van die argitektoniese uitstalling Internationale Bauausstellung (IBA) in 1987 ontstaan, maar is eers in 1994 verwesenlik. Haar grootste projek in Duitsland was phæno in Wolfsburg, Nedersakse – 'n interaktiewe museum van natuurwetenskappe waarby sy nuwe konsepte vir die dinamiese ontwerp van ruimtes getoets het. Vir Hadid was hierdie projek besonder ambisieus aangesien dit ongeag sy ingewikkelde konstruksie die indruk van gewigloosheid skep.Eva Karcher: Architektin Zaha Hadid. Über Ecke. In: Süddeutsche Zeitung, 14 November 2009
Haar onlangse meer vloeiende ontwerpe verbind volgens kritici argaïese en futuristiese elemente met mekaar.Horst Brandenburg: Löwin unter Löwen – Die Architektin Zaha Hadid. In: ARD, uitgesaai op 30 November 2010 Haar argitektoniese ateljee het sy werksaamhede na ontwerpkuns uitgebrei en ontwerp onder meer meubels, binnenshuise argitektuur, pawiljoene en ander dekorasies vir tentoonstellings en gebruiksvoorwerpe.
Voorbeelde en inspirasies duimnael|Dongdaemun Design Plaza, Seoel, Suid-Korea duimnael|Die vervoermuseum Riverside Museum in Glasgow, Skotland (2007-11). Die ontwerp simboliseer die golwe van die Clyderivier en die oseaan as huldeblyk aan die stad se verbintenis met die see duimnael|Aluminium-sitbank buite die Dallas-kunsmuseum, Texas, VSA Zaha Hadid het haar inspirasies en voorbeelde veral by Russiese suprematiste en konstruktiviste soos Kasimir Malewitsj of El Lissitzky gevind. Sy het strominge soos postmoderne argitektuur verwerp. Volgens waarnemers het Hadid met haar boukuns 'n sentrale beginsel van Malewitsj gevolg wat hy in 1928 geformuleer het: "Ons kan ruimte slegs waarneem indien ons onsself losmaak van die Aarde en enige punt van aanraking verdwyn."
Hadid het die primaat van die regte hoek op 'n wiskundige manier verwerp:
'n Ander sentrale aspek van Zaha Hadid se argitektoniese visie is die kruispunte tussen boukuns, landskap en geologie. Baie kere het sy natuurlike en kunsmatige stelsels in haar ontwerpe met mekaar geïntegreer en geëksperimenteer met video- en digitale beeldkuns asook fisiese modellering. Uit sodanige prosesse en eksperimente het dikwels onverwagte en dinamiese bouvorme voortgespruit wat hul gestalte ook deur die beperkings gekry het wat bouterreine en bouvoorskrifte aan projekte opgelê het, soos byvoorbeeld in die ontwerp vir die terminus Hoenheim-Nord in Straatsburg, Frankryk wat tussen 1999 en 2001 ontstaan het.Ausstellung Zaha Hadid – Architektur. MAK Wene. Besoek op 16 April 2017
Doseerwerk In die laat 1980's het Zaha Hadid haarself toegespits op haar teoretiese werk as gasprofessor aan die Harvard-universiteit se Graduate School of Design (Kenzō Tange-Chair) en vervolgens aan die Universiteit van Chicago se School of Architecture (Sullivan-Chair). Sy is later aangestel as gasprofessor aan die Hochschule für bildende Künste Hamburg, die Knolton School of Architecture in Ohio en by die Masters Studio, Columbia-universiteit te New York.
Vanaf 2000 was Hadid as professor aan die Instituut vir Argitektuur van die Universiteit vir Toegepaste Kuns in Wene, Oostenryk werksaam. In 2002 was sy daarnaas Eero Saarinen-gasprofessor aan die Yale School for Architecture in New Haven, Connecticut.
Zaha Hadid is as 'n erelid van die American Academy of Arts and Letters en 'n erevennoot van die American Institute of Architects benoem.
Ontwerpkuns duimnael|Eetgereistel Zaha. WMF 2007Indianapolis Museum of Modern Art Vir die Duitse vervaardiger WMF het Zaha Hadid in 2007 die eetgereistel Zaha ontwerpZaha Hadid Architects: WMF Cutlery. Besoek op 5 September 2020 wat vir die Ontwerpprys van die Bondsrepubliek Duitsland genomineer is.Rat für Formgebung: Designpreis 2009. Designpreis der Bundesrepublik Deutschland 2009 | Design Award of the Federal Republic of Germany 2009. Basel • Boston • Berlin: Birkhäuser 2009, bl. 678
Dood In Maart 2016 het Zaha Hadid tydens 'n besoek aan Miami brongitis opgedoen. Terwyl sy in 'n hospitaal behandel is, is sy vroeg die oggend op 31 Maart skielik en onverwags aan 'n hartaanval oorlede.Zaha Hadid: 1950–2016. Besoek op 5 April 2016www.archdaily.com, 31 Maart 2016: Zaha Hadid Dies Aged 65www.archdaily.com, 1 April 2016: Tributes Pour in With News of Zaha Hadid's Passing Zaha Hadid, wat ongetroud en kinderloos was, het haar laaste rusplek op die Brookwood-begraafplaas, ook bekend as London Necropolis, in die Engelse graafskap Surrey gevind.www.findagrave.com: Zaha Hadid. Besoek op 2 Mei 2017
Verwysings
Eksterne skakels Wiki-webtuistes
Amptelike webtuiste
Amptelike webwerf Virtuele besigtiging van geboue
Google Arts and Culture: A Virtual Tour of Zaha Hadid's Most Iconic Buildings London Design Museum
Architect Magazine, 11 Julie 2013: Zaha Hadid Buys London Design Museum
Kategorie:Britse argitekte Kategorie:Geboortes in 1950 Kategorie:Sterftes in 2016