duimnael|regs|260px|Beaufort-Wes se sowat 120 jaar oue NG kerkgebou troon vandag nog uit bo die ander geboue in die besige hoofstraat, Donkinstraat, wat 'n deel vorm van die N1- nasionale pad deur die Karoo. Die argitek was James Bisset.

Die NG gemeente Beaufort-Wes, gestig op 16 Mei 1820, is die negende oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland en die 12de oudste in die hele Kerk. Hoewel die NG gemeente Somerset-Wes reeds in 1819 gestig is, word Beaufort-Wes se stigtingsdatum tradisioneel as 1819 aangegee en was die gemeente, toe gemeentes tot die middel jare 70 chronologies volgens stigtingsdatum in die Jaarboek van die NG Kerke gelys is, altyd die negende gemeente van die Kaapse Sinode met Somerset-Wes in die tiende plek.

Van Beaufort-Wes, wat vanweë sy ouderdom die moedergemeente van al die NG gemeentes in die Wes- en Noord-Kaapse Karoo is, het ses dogtergemeentes afgestig: Prins Albert (1842), Victoria-Wes (1843), Fraserburg (1851), Carnarvon (1874) (waarvan afgestig is: Prieska, Williston, Kenhardt, Upington (hoewel dit buite Sinodale verband gestig is en eers later by die Kaapse Kerk ingelyf is) en gedeeltes van Vosburg, Loxton en BrandvleiNG Sinode Noord-Kaapland se gemeenteblaaie en laastens op 22 Junie 1949 op Beaufort-Wes self sowel Gamkavallei as Gamka-Oos op Beaufort-Wes self.

Voorgeskiedenis Die eerste trekboere het teen 1760 die Koup en die Nuweveld binnegetrek en toe reeds is die eerste plase in die latere distrik Beaufort-Wes aangelê. In daardie jaar is die leningsplaas Hooyvlakte in de Carro, waarop die latere dorp uitgelê sou word, uitgegee. Die streek het egter nog baie jare uiters dun bevolk gebly. Selfs in 1804 was die naaste buurman van komm. Abraham de Klerk van Hooivlakte amper 100 km van sy plaasopstal af. Teen die einde van die 18de het enkele boere al veeplase ver noord van die Nuweveldberge gehad. So is die grondslag gelê vir die latere gemeente, dorp en distrik Beaufort-Wes en die gemeentes wat mettertyd van die ou moedergemeente afgestig is.

Teen 1804 was een van die mooiste en mees beboude plase in die omtrek Hooivlakte, waarop die dorp Beaufort (die -Wes het eers in 1869 bygekom) 15 jaar later aangelê sou word en wat toe in die besit van veldkommandant Abraham de Klerk was. In 1805 het De Klerk deur 'n wolkbreuk 3 000 skape verloor, maar hy was oortuig daarvan dat die skade binne twee jaar weer vergoed sou kon word. Afgesien van die beperkte afsetmoontlikhede weens die yl bevolking en reuse afstande van gevestigde markte, die roofsugtige Boesmans en wildediere, was die gebied wat die weiding en die grond betref het, ideaal vir die skaapboer.

Die Slagtersnek-rebellie van 1815 het onverwagse voordele vir die omgewing van die latere Beaufort-Wes ingehou omdat, behalwe vir die vyf wat tereggestel is, sewe na die omgewing verban is. Hulle het hulle saam met hul gesin in die Koup kom vestig, naamlik Willem Krugel, Adriaan Engelbrecht, Andries Meyer, Nicolaas Prinsloo, David Malan, Pieter Prinsloo en Maria Faber. Laasgenoemde was die weduwee van Jan Bezuidenhout, wat sy lewe in die opstand verloor het. Martha en haar 12-jarige seun het haar man se gewere tydens die rebellie een na die ander gelaai en hom getrou bygestaan tot 'n koeël uit die geweer van een van die pandoere (Khoi-soldate) hom dodelik tref en hulle oorweldig is. Die Slagtersnek-huisgesinne het saam met hul bloedverwante en vriende wat later gevolg het, ook hul aandeel gehad in die ontwikkeling van die streek en stigting van die gemeente vyf jaar later. Uit dié kring het baie van die Beaufortse Voortrekkers (1836–1838) gekom.

In die middel van die 18de eeu was daar nog net drie distrikte: die Kaapse distrik, Stellenbosch en Swellendam. Teen 1769 is die streek noord van die Swartberge as behorende tot die distrik Stellenbosch verklaar. Met die stigting van die distrik Graaff-Reinet in 1798 het die Gamka die wesgrens daarvan uitgemaak. Die gebied wes en suid van die Gamka het onder Stellenbosch bly ressorteer tot 1805 toe dit aan die nuutgestigte distrik van Tulbagh gesny is. Toe die Kaapkolonie in 1814 finaal aan Groot-Brittanje oorgemaak is, was daar sewe distrikte, naamlik voorgenoemde vyf asook Uitenhage (1804) en George (1811). Binne dié distrikte was die eerste 11 gemeentes van die NG Kerk: Kaapstad (1665), Stellenbosch (1686), Paarl (1691), (Tulbagh) (1743), Swartland (1745), Graaff-Reinet (1792), Swellendam (1798), Caledon (1811), George (1813), Uitenhage (1817) en Cradock (1818).

Die drosdye van Graaff-Reinet, Stellenbosch en Tulbagh se houvas op die afgeleë streek van die Koup en Nuweveld was uiteraard uiters swak. Daar is dus heelwat wetteloosheid gepleeg, veral deur die rondswerwende Khoi, San en Basters. Gewetenlose handelaars het byvoorbeeld 'n smokkelhandel in vuurwapens en kruit gedryf met die inboorlinge. Die wetsoortreders moes net noordwaarts oor die Oranjerivier vlug om heeltemal buite bereik van die gereg te wees.

Stigting van distrik en dorp Veral om aan dié wetteloosheid 'n einde te bring, het lord Charles Somerset op 27 November 1818 in 'n goewerneursproklamasie die distrik Beaufort geproklameer, so genoem ter ere van sy vader, die hertog van Beaufort, na wie hy ook hertog van Beaufort Port Beaufort en Fort Beaufort genoem het. Die nuwe distrik is saamgestel uit die oostelike deel van Tulbagh, die westelike deel van Graaff-Reinet en die strook land anderkant die Sakrivier, en is onderverdeel in tien veldkornetskappe. Die distrik was geweldig uitgestrek en het 'n oppervlakte van amper 40 000 km² beslaan, oftewel 'n derde van die provinsie Wes-Kaap of nagenoeg so groot soos Switserland, Denemarke of Nederland. Buiten Beaufort (soos dit tot 1869 eers genoem is), het dit dele ingesluit van die latere distrikte Prins Albert, Fraserburg, Willowmore, Aberdeen, Murraysburg en Victoria-Wes. Dit was dan ook in die praktyk die grense van die oorspronklike gemeente Beaufort, wat in 1869 die "-Wes" bygekry het ter onderskeiding nie van 'n Beaufort-Oos, wat nie bestaan nie, maar wel van Port Beaufort en Fort Beaufort. Die geskiedskrywer George McCall Theal het na Somerset verwys as "the man who was rapidly covering the map of the Colony with the titles of his family". Hy was die tweede seun van die hertog van Beaufort en 'n broer van die markies van Worcester. Daarom kry 'n mens die volgende plekname in die Kaapkolonie: Somerset-Wes, Somerset-Oos, Port Beaufort, Fort Beaufort, Beaufort-Wes en Worcester.

duimnael|regs|250px|Beaufort-Wes se dorpsplan, opgestel in Januarie 1820. Die kerkgebou is geleë op erf 12 op die hoek van Donkin- en Kerkstraat. Op die dorpsplan is dié erf reeds aangedui as "for the intended church".

Die here Fischer en Andries Stockenström, vader van die latere luitenant-goewerneur van die Oostelike Provinsie, ook Andries Stockenström, onderskeidelik landdroste van Tulbagh en Graaff-Reinet, moes 'n geskikte plaas uitsoek wat kon dien as dorp en setel van die nuwe distrik. Hul keuse het geval op die pragtige Hooivlakte, wat die regering toe tesame met die aangrensende Bosjesmansberg van Abraham de Klerk aangekoop het vir die bedrag van 13 333 riksdaalders, sowat £1025 11s. Die dorp is toe op eersgenoemde plaas aangelê. Aan die kort daarna aangestelde assistent-landdros J. Baird is dit opgedra om sonder verwyl die nuwe dorp uit te lê. Die goewerneur het 6 000 riksdaalders afgesonder om die bestaande opstalgeboue op Hooivlakte in orde te bring sodat dit kon dien as woonhuis vir die landdros, die predikant, die klerk van die landdros, 'n gevangenis en ander buitegeboue en woonhuise vir die ondergeskikte amptenare van die drosdy.

Stigting van die gemeente Die uitbreiding van die NG Kerk, wat tot 1843 die besondere rol van Staatskerk in Suid-Afrika vervul het, het nie altyd tred gehou met die volksplanting nie. Behalwe die heersende skaarste aan predikante, wat die Kweekskool is eers in 1859 gestig, was dit moeilik om sonder geld in die uitgestrekte en ylbevolkte binneland gemeentes te stig. Boonop was die staat in gedurige geldnood. Teen die einde van die 18de eeu was daar net sewe gemeentes in die Kaapkolonie. Die eerste rondgaande hof van 1811 het roerend verslag gedoen oor die toestande in die afgeleë distrikte. Godsdiens en onderwys was in 'n toestand van verval, maar dit was merkwaardig dat daar onder omstandighede nog soveel tekens van beskawing was. Die kommissie het bereken dat van die sowat 34 000 kinders in die distrik Graaff-Reinet, waaronder 'n deel van die Koup en Nuweland toe geval het, hoogstens 'n honderdtal (sowat 0,3%) skoolonderwys ontvang het. Sterk op aanbeveling van dié kommissie is die gemeentes van George (1813) en Uitenhage (1817) enkele jare later gestig. Cradock het in 1818 gevolg.

Van skole was daar destyds so goed as geen sprake nie en die mense kon maar een of twee keer per jaar die paar honderd kilometer lange afstand met die ossewa aflê na die naaste kerk op Graaff-Reinet, Tulbagh, in die Paarl of Kaapstad. (Worcester sou eers in 1821 afstig.) By die eerste kind in Beaufort se oudste doopboek (1818–1827) staan "gedoopt 2 Febr. 1819 aan de Paarl". Eers vandag April 1819 is daar op Beaufort gereeld kinders gedoop. Van behoorlike geestelike bearbeiding deur die Kerk was daar so te sê geen sprake nie.

Eerste predikant: ds. John Taylor duimnael|links|190px|Ds. John Taylor, Beaufort-Wes se eerste predikant. Groot werkkring Juis in hierdie tyd het 'n paar sendelinge van die Londense Sendinggenootskap hulle losgemaak van dié genootskap en leraarsposte in die NG Kerk aanvaar. Onder hulle was ds. John Taylor, vroeër leraar van die Presbiteriaanse Kerk in Skotland. Lord Charles Somerset was maar te gretig om van hulle gebruik te maak om in die heersende nood aan predikante te voorsien.en terselfdertyd sy plan om die NG Kerk te verengels, stukrag te gee. In dieselfde proklamasie waarin die stigting van die distrik Beaufort aangekondig word, is ook kennis gegee van die aanstelling van ds. Taylor as predikant van dié distrik. Vroeg in Desember 1818 het ds. Taylor hom reeds op Beaufort gevestig en sy werksaamhede hier begin. Hy moes nie slegs wit lidmate besoek en bearbei nie, maar ook die gekleurdes en saam met die landdros toesig hou oor die pasgestigte nedersetting op Kookfontein, wat gestig is as nedersetting of reserwe om die rondtrekkende inboorlinge te beweeg om hulle binne die grense van die Kolonie te kom vestig en 'n gevestigde lewenswyse aan te neem. Hy moes dus predikant sowel as sendeling vir 'n gebied so groot soos Nederland wees.