duimnael|regs|190px|Ds. George Morgan, eerste leraar van 1825–1841. duimnael|links|190px|Die standbeeld van ds. J.H. Hofmeyr, die derde leraar van 1867–1908, voor die kerkgebou. duimnael|links|290px|Die kerkgebou is ontwerp deur die argitek Carl Otto Hager, 'n Duitse boorling, Suid-Afrika se grootste eksponent van die Neo-Gotiese boukuns. duimnael|regs|190px|Dié foto is geneem van 'n portret van ds. Jan Hendrik Hofmeyr, leraar van 1867 tot 1908, wat hang in die Somerset-Oos-museum, wat indertyd die pastorie was.
Die NG gemeente Somerset-Oos is die vierde oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Sinode van Oos-Kaapland en die 15de oudste in die hele Kerk.
Flinke stigting Voor die stigting van 'n afsonderlike gemeente op Somerset-Oos in 1825 het een deel van die gemeente van die distrik aan die NG gemeente Graaff-Reinet en die suidelike deel aan die NG gemeente Uitenhage behoort. Die stap om 'n afsonderlike gemeente en 'n kerkgebou op Somerset-Oos te kry, is deur die landdros, William Mackay, gedoen. Op 27 Mei 1825, skaars vyf maande nadat die goewerneur die drosdy Somerset-Oos in die lewe geroep en Mackay as eerste landdros aangestel het, rig hy 'n privaat brief aan die goewerneur, lord Charles Somerset, waarin hy raad vra oor hoe hy te werk moet gaan om die gewenste oogmerk te bereik. Die antwoord, wat ook privaat gegee is, moes aanmoedigend gewees het, want binne 'n maand ná ontvangs het die landdros en heemrade 'n amptelike stoot aan die saak gegee.
Die Kerkorde van De Mist van 1804, wat tot met die Ordonnansie van 1843 gegeld het, het die mag aan hierdie openbare liggaam gegee om namens die regering stappe te doen in verband met die oprigting van gemeentes in die buitedistrikte. Op 'n vergadering gehou in die Somersetse Drostdy op 9 Julie 1825 is amptelik besluit om by die goewerneur aansoek te doen om 'n kerk op die dorp tot stand te bring. Omdat die goewerneur nie op eie houtjie kon reageer nie het hy die versoek na graaf Bathurst, koloniale sekretaris, in Engeland gestuur, maar dié het teleurstellend gereageer op die versoek om die oprigting van 'n kerkgebou toe hy laat weet "dat zijn Lordschap uit hoofde van de armoede van de Koloniale Kas gemelde versoek niet kon toestaan".
Eerste leraar en kerkraad Toestemming is nietemin verleen aan die stigting van 'n afsonderlike gemeente, want in Oktober van dieselfde jaar is ds. George Morgan, een van die eerste ses Skotse predikante wat Kaap toe gekom het om die tekort aan Afrikaanse leraars aan te vul en te help met die verengelsing van die Boerebevolking, as predikant aangestel asook 'n kerkraad bestaande uit die ouderlinge Robert Hart (ook een van Somerset-Oos se eerste drie heemrade) en F.J. van Aardt met die diakens Gideon Jordaan, Michael Bosch, Willem Prinsloo en P.M. Bester. Die eerste koster was Hendrik Waldeck teen 'n salaris van Rds. 25, "benevens de gewone bijlagen en inkomsten hem toekomende bij het bedienen des Doops, het bevestigen van Huweliken". "Gelukkig het die mense in daardie dae baie getrou en is daar groot getalle gedoop en aangeneem," skryf eerw. Andries Dreyer in 1935 in sy Gedenkboek van die Nederduits-Gereformeerde Kerk Somerset Oos, "want sy hele salaris het net 'n bagatel verteenwoordig."
Die eerste voorlesers was George Aldrich, want teen 'n ietwat ruimer salaris as die koster aangestel is. Hy het egter spoedig bedank en tot hy later heraangestel is, het die burger P.B. Botha in sy plek opgetree. Botha kon nie permanent aangestel word nie, want dit was 'n regeringspos en hy het nie Engels geken nie. 'n Latere voorleser was C. Muller. Die plig van die voorleser was om by die godsdiensoefeninge die voorgesange op te gee, die 10 gebooie te lees en van 'n verhogie voor die preekstoel ook voor te sing, want destyds was daar nog geen musiek-instrumente in die kerke nie.
Die gemeente was met sy stigting geweldig uitgestrek. Dit het die veldkornetskappe Bruintjes Hoogte, Zwagershoek, Baviaans Rivier, Oost-Rietrivier en Boschjesmans Rivier ingesluit. Daar bestaan geen vermelding van die lidmaattal nie, maar in 1838 is die sieletal op 2 633 bereken. Die distrik het 'n baie groot swart bevolking gehad en in 1825 het honderde van hulle die distrik ingestroom. Hulle was brandarm en het vir kos vir die boere gewerk. Hoewel slawerny toe nog wettig was in die kolonie en daar steeds slawe-eienaars in die distrik was, was dit verbode om swart slawe te besit. Baie van hulle het die boere moeite gegee, soos tydens 'n groot oploop van swartes in 1835 in die distrik toe die kerknotule melding maak "dat de broeder Carel Mattheus op zijn woonplaats door eene vijandelijke bende verraderlijk was vermoord". In die notule van 16 April 1835 staan die volgende oor die saak: "De Vergadering met diepe leedwezen deze ongelukkige gebeurtenis betreurende heeft besloten om dezelve op de Notule van deze bijeenkomst te vermelde, om daaroor de nagedachtenis te bewaren van een achtenswaardig medelik wiens voorbeeldige nederige en nuttige lewenswandel door vele Christelijke deugden verzierd is".
Eerste kerkgebou duimnael|regs|270px|In 1834 besluit die kerkraad om die ou Wesleyaanse kapel op te knap en as pastorie in te rig. Hier het ds. en mev. Pears ook gewoon. Ds. Jan Hendrik Hofmeyr het tot 1908 hier gewoon en sy seun John Murray tot omstreeks 1940. Hierna is die huis aan laasgenoemde se seun dr. Jan-Hendrik Hofmeyr verkoop. In 1971 het die indertydse eienaar, K.S. Birch, die huis as ’n museum beskikbaar gestel en in 1972 het dit ’n provinsiale museum geword, wat bekendstaan as die Somerset-Oos-museum. Die gemeente het nog in die jaar van sy stigting 'n predikant gekry, maar dit sou baie lank duur voor hulle in besit sou kom van 'n eie kerkgebou. Die landdros het 'n grootse plan aan die goewerneur voorgelê en selfs 'n skets van die gebou saamgestuur, maar soos graaf Bathurst met die stigting opgemerk het, dat daar geen geld daarvoor in die landskas nie.
Intussen het die gemeente aanbid in een van die ou regeringsgeboue van Somerset Farm wat hulle vir kerkdoeleindes ingerig het. Somerset Farm was 'n proefplaas wat lord Charles Somerset in 1815 laat aanlê het, gedeeltelik om die militêre troepe op die grens van proviand te voorsien en andersins om tabak te kweek vir uitvoer. Die terrein was 'n strook grond aan die voet van die pragtige Boschberg, wat tydens die bestuur van goewerneur Joachim van Plettenberg in besit van sy eerste eienaar gekom het, naamlik 'n sekere Willem Prinsloo.
Later is dit verdeel in twee leningsplase wat beset is deur die twee boere, Louis Trichardt en Bester. Trichardt was in 1833 die eerste Voortrekker wat dit oor die grense van die kolonie gewaag het. So suksesvol was Trichardt se tabakboerdery dat dit onder aandag van die goewerneur gekom het wat dit toe vir Rds. 200 (£165) laat onteien het. Die goewerneur het 'n bekwame plantkundige, dr. Mackrill, aangestel om die plaas te bestuur, maar die kweek van tabak was hierna 'n mislukking. As verversingspos vir die troepe was dit 'n gedeeltelike sukses, veral toe dit in 1817 onder die toesig kom van Robert Hart, Mackrill se opvolger. Pakhuise vir graan het verrys en vee is aangekoop wat weggestuur kon word wanneer benodig.
Die stigting het ontwikkel as depot sowel as proefplaas. Heelwat mense van alle rasse is in diens geneem en in 1821 begin eerw W. Shaw van die Wesleyaanse Kerk met godsdiensoefeninge, wat later, toe daar 'n kerkgeboutjie opgerig is, voortgesit is deur die sendelinge eerww. S. Kay en J. Ayliff. Dié kerkie is uiteindelik omskep in 'n pastorie vir die NG kerk.
duimnael|links|240px|Die hoeksteen van die eerste NG kerkie op Somerset-Oos is 25 Desember 1830 gelê. Die toring is eers later aangebou. Die nuwe kerk is vyf jaar ná Pears se dood in 1871 ingewy.
Later het die goewerneur toestemming verleen dat die gemeente in die ou Drostdy kon aanbid. Blykbaar het die gemeente in die begin onder die wanindruk verkeer dat hulle op besondere behandeling van Somerset kon aanspraak maak omdat die dorp na hom genoem is. Hulle het gedurig by hom aangeklop en sy raad gevra omdat die kerk destyds die Staatskerk was en niks sonder sy toestemming gedoen mog word nie. Maar steeds was die antwoord teleurstellend weens die stand van die staatskas. Die kerkraad het selfs 'n versoek om skenkings aan die koloniale sekretaris, goewerneur, luitenant-goewerneur en ander hooggeplaastes gerig, maar die notule vermeld nie 'n oulap wat uit dié bronne ontvang is nie. So het die gemeente die les geleer dat hulle hulself moes help.
Lyste is toe in 1826 onder die mense in die distrik uitgestuur. Van diegene wat nie geld kon gee nie, sou die gemeente vee aanvaar. Met moeite is die lyste eers twee jaar later teruggegee en daarop was vir die bedrag van £560 geteken. Die luitenant-goewerneur, sir Richard Bourke, besoek die dorp in September toe die predikant, ds. Morgan, en die ouderling Hart hom versoek om 'n stuk grond as bouterrein vir 'n kerk. So staan hy ná 'n inspeksie 'n mooi stuk grond aan die suidelike punt van Beaufortstraat aan.
Dit het egter nog lank geduur voordat met die bouwerk begin is, want in Augustus 1828 het die goewerneur op 'n skrywe van die kerkraad geantwoord at hulle voorgestelde gebou ver te groot en te duur is en dat hy iemand gelas het om 'n plan op te stel vir 'n gebou met sitplek vir 300 mense. Die kerkraad besluit eenparig dat die voorgestelde plan veels te klein is omdat die gemeente toe uit 5 698 siele bestaan het en die huis wat as kerk gebruik is, hoewel dit meer as 300 sitplekke bied, met Nagmaalsgeleenthede so "opgepropt" is dat vele moet omdraai en ander glad nie eers opdaag nie. Die goewerneur het toegegee en gelas dat die aritek Shinnon 'n plan moet ontwerp met 600 sitplekke.
In 1829 is nog geen aanstalte met die werk gemaak nie en toe die tydelike kerkgebou is 'n slegte toestand raak en ongeskik vir gebruik word, het die Ring van Graaff-Reinet 'n memorie aan die goewerneur gestuur om te versoek dat die ou Drostdy gebruik mag word vir kerkdoeleindes tot tyd en wyl die nuwe kerkgebou voltooi is. Die goewerneur keur die versoek goed en toe hy in September 1829 die dorp besoek, het ds. Morgan en ouderling Hart weereens die groot behoefte aan 'n kerkgebou onder sy aandag gebring. Hulle rapporteer later aan die kerkraad dat hulle glo die goewerneur sou bereid wees om 'n lening van £700 aan die gemeente toe te staan en ook die toestand van die gemeente aan die regering in Engeland oor te dra.
Dié versoek is toegestaan en so kon die gemeente, met die lening en bedrag wat reeds deur lidmate belowe is, 'n begin gemaak word. Eers op 6 September 1830 is die bouplan goedgekeur vir die kerk met 'n binneruim van 75 by 40 voet (23 by 12 m, dus 276 m²), 20 voet hoog (6 m), met mure 2½ voet dik (0,75 m). Die toring voor die gebou sou 16 x 16 voet (4,89 x 4,89 m) groot wees. Aan die voorkant is 'n deur, en vier vensters voorsien, met dieselfde aan die teenoorgestelde kant. Die baasmesselaar was ene Sandilands van Graaff-Reinet en H. Waldeck het die tender gekry om die hout van Kowie Bos aan te ry teen Rds. 25 vir 800 voet se planke (244 m). Bandiete is gebruik om die bouwerk te help.
Hoeksteen gelê