Lucas Cornelis Malan (1946–2010) was 'n Afrikaanse digter. Hy word beskou as een van die belangrikste Afrikaanse digters wat in die jare tagtig gedebuteer het.Terblanche, E. "Lucas Malan (1946–2010)", LitNet. https://archive.ph/20121224183746/http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&news_id=53135&cause_id=1270
Lewe en werk Malan is op 19 Julie 1946 op Nylstroom gebore as die tweede jongste van ses kinders, vier seuns en twee dogters. Sy pa is ’n meubelmaker op die dorp. Hy gaan aanvanklik skool op Modimolle en matrikuleer dan in 1963 aan die Hoërskool Pietersburg. Lucas skryf in 1964 by die Normaalkollege Pretoria in, waar hy in 1966 'n B.A.-graad behaal met Afrikaans-Nederlands en Kunsgeskiedenis as hoofvakke en 'n Transvaalse Hoër Onderwysdiploma in 1967. In 1968 word hy onderwyser in Afrikaans by die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg, waar hy in die koshuis inwoon. In 1973 neem hy studieverlof en begin met sy B.A. Honneursgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Randse Afrikaanse Universiteit, wat hy in 1974 verwerf. In dieselfde jaar word hy aangestel as Departementshoof vir Afrikaans (Tweede Taal) aan Jeppe Boys High School in Johannesburg. In 1975 begin hy met sy M.A.-graad aan die Universiteit van die Witwatersrand onder leiding van Ernst van Heerden, en in 1978 word hy die graad met lof toegeken, met ’n proefskrif getiteld “Barnard Gilliland se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde”. Teen die einde van 1977 en begin 1978 bring hy ’n paar maande by die skryfster Eleanor Baker en haar man in Teheran in Iran deur en reis daarna vir ’n tyd deur Europa. By sy terugkeer gee hy weer vir ’n jaar skool by Jeppe Boys High waarna hy vanaf April 1979 aangestel word as lektor in Afrikaans by die Witwatersrand Technikon. Vanaf Januarie 1983 word hy dosent en in 1987 hoof van die Departement Afrikaans aan die Johannesburg College of Education. In 1984 behaal hy 'n tweede B.A. Honneursgraad, in Toegepaste Linguistiek, aan RAU en in 1989 sy D.Litt. aan die Universiteit van Pretoria met ’n proefskrif getiteld “Paradoks en parabool: ’n studie oor Ernst van Heerden se latere poësie”.
Hy is aktief as literêre kritikus wat gereeld boeke resenseer vir koerante en tydskrifte en vanaf 1986 tot 1992 behartig hy ’n gereelde rubriek in De Kat oor die Afrikaanse poësie. Vir die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) vertaal hy ook ’n aantal verhoogtekste. Hy gee voordragte by verskeie geleenthede, soos in 1991 by die Grahamstadse Kunstefees oor eietydse taal- en kultuurvraagstukke, in 1993 by die Nasionale Leeskringseminaar in Welkom en verskeie kere by die Versindaba op Stellenbosch. Met die afsterf van Ernst van Heerden word hy aangestel as die literêre eksekuteur en word Van Heerden se private biblioteek aan hom bemaak, wat hy op sy beurt aan die Poëziecentrum in Gent, Vlaandere skenk. Hierdie skenking het ten doel om vergelykende letterkundestudies aan te moedig. Na sy dood word sy eie versameling ook aan die Poëziecentrum geskenk. Lucas was vir amper 30 jaar by die onderwys betrokke. Lucas was ’n gereelde bydraer tot koerante en tydskrifte en sy resensies (toneel en letterkundig) en artikels verskyn in Rapport, Vrye Weekblad, Kalender, Karring, Die Transvaler en Beeld. Vanaf 1986 tot 1992 skryf hy ’n gereelde rubriek in De Kat oor die Afrikaanse poësie. Hy het ook verskeie tydskrifverhale in Die Huisgenoot, Sarie en Rooi Rose laat publiseer. Een van die verhale word vir radio verwerk.
In 1997 tree hy af en vestig hom op Darling in die Wes-Kaap. Hier gaan hy voort met die skryf van twee digbundels, skoolboeke, resensies en artikels vir Afrikaanse koerante en tydskrifte. Hy neem ook deel aan Sanlam-LitNet se aanlyn skryfskole, waardeur ontwikkelende skrywers wat nog nie ’n eie debuut gemaak het nie, deur gevestigde skrywers in die skryfproses gelei word. Lucas was ook gedurende 1999 en 2000 ’n gereelde skrywer van die daaglikse rubriek in Volksblad, "Stop van myne", wat later "Goeiemôre" word. Hy is op 15 April 2010 in ’n hospitaal in Kaapstad oorlede weens komplikasies na ’n hartklepoperasie.
Skryfwerk Hy het as kind relatief min blootstelling aan literatuur en intellektuele stimulasie ontvang, en van sy kinderboeke onthou hy die Trompie-boeke op laerskool en "’n grootliks onverteerde King Lear in ons matriekjaar". "Dit was eers in 1971, toe ek Hubert Selby jr se verbluffende (en verbode) roman oor menslike leed en verval, Last exit to Brooklyn (1966), gelees het, dat ek besef het hoe skamel my mooi opvoeding was."
Poësie Hy begin om gedigte en enkele kortverhale in die sewentigerjare te publiseer in Tydskrif vir Letterkunde en Contrast en later publiseer hy ook in The bloody horse, Ensovoort en Standpunte. Sy digkuns word getipeer deur bedrewe vakmanskap in vormvaste verse oor die natuur, liefde, verlies, die aktualiteit van Suid-Afrika en die dood. Sy taalgebruik is standaard-Afrikaans, maar dit doen nie outyds of gedateer aan nie. Hy is verstegnies en tematies ’n klassieke digter, met uitstaande gebruik van metafore en beelding.
'n Bark vir die Ontheemdes In 1981 verskyn sy debuutbundel,Brink, André P. “Standpunte” Nuwe reeks 161, Oktober 1982“’n Bark vir die ontheemdes”. Die titel verwys na ’n vaartuigCloete, T.T. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 22 no. 2, Junie 1982 waarin die vervreemdes en verlatenes ’n reis na die beskutte wêreld van die poësie kan onderneem.Olivier, Fanie “Die Transvaler” 1 Maart 1982 Die soeke na geborgenheid en ’n woning of vaste staanplek word nie net in hierdie bundel ondersoek nie, maar is ’n deurlopende tema in Malan se digkuns. Verskeie verse in die bundel ondersoek menswees en ontleed die mens en menslikheid, veral in terme van die lewensreis en die ellendigheid van bestaan. Die bundel word in twee genommerde afdelings verdeel, met die eerste afdeling wat hoofsaaklik liefdesverse bevat, met persoonlike ontheemding en hunkering na geborgenheid voorop. “Anatomieles” beskryf die simmetrie van die liggaam, met klem op die kwesbaarheid en broosheid daarvan, in teenstelling met die sentrale plasing van die “wilde soetvrug” van die geslag. Die seksuele word verken in gedigte soos “Verwagting” (met bevrugtingsbeelde uit die mensgemaakte tuin), “Astronomie” (met kosmiese vergelykings as suggestie van masturbasie) en “Metamorfose” (waar die beeld van ’n dolfyn sentraal staan). “Spraakverbruik” skets die verwarrende taalspel tussen geliefdes, wat later aanleiding gee tot verwarring in die verhouding. In “Op ’n wederkoms” is die tema van die skip of vaartuig wat die ontheemde na die geliefde moet vervoer sentraal, met die geliefde wat altyd ontwykend blyk te wees en die laaste twee versreëls wat suggereer dat ook hierdie reis in teleurstelling sal eindig. Die ontroue minnaar is die tema van “Jakkalsdraai” en “Ewige minnaar”. Die tweede afdeling se gedigte is meer bespiegelend van aard met gedigte oor die aard en sin van lewe, hunkering na die verlede, bedreiging van oorlogsgeweld en die apokalips. In die proses word die fases van die lewensreis weergegee. “Stamboom” skets die wesenstrekke van die erfenis wat die spreker van sy voorgeslagte ontvang, waar die saamgestelde skuld afkomstig van die konsentrasie van konserwatiewe geloof vergroei tot bitsigheid en venyn. “Fetus-foto” is aanduidend van die voorgeboortelike belofte, terwyl “Betoog” die jeug uitbeeld. In “Herinneringe” word die ouderdom beskryf, met die verlange na die jeug. “Afgetrede paar” is ’n gevoelige uitbeelding van die twee oumense wat in die verassing in die kaggelvuur hulle eie onafwendbare dood sien. “Storm oor Johannesburg” beeld die donderstorm uit met verwysing na die mitologie, terwyl “Skudding in Johannesburg” die aardskudding uitbeeld as die orgasme van ’n ou vrou.
Tydspoor Die debuut word gevolg deur “Tydspoor”Brink, André P. “Rapport” 14 Julie 1985 waarin die titel die verbygaan van tyd en reise impliseer,Cloete, T.T. “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 24 no. 4, November 1986 terwyl tyd ook ’n spoor of merk agterlaat. Hierdie spore is ook simbolies van vooruitgang en die gedigte bevat dan ook deurgaans ’n suggestie van lewenskragtigheid en groei. In die bundel word verbande gelê tussen generasies en tydperke, met die impak wat die verlede steeds op die hede het as kern. Die verskille tussen toe en nou word verkenGrové, A.P. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 25 no. 3, September 1985 met telkens verrassende insigte. Die bundel word in drie afdelings verdeel. “Spoke en verwante” bevat gedigte met ’n terugkerende motief van eenheid Hambidge, Joan. “Beeld” 29 Julie 1985 wat uit brokke en skerwe te voorskyn kom en die teenoorgestelde is van eenheid wat versplinter. Sommige van hierdie gedigte is jeugherinneringe. In “Wintergroei” is die oopskop van ’n ou fles in ’n tuin die katalisator vir die onthou van ’n hele rits simbole van die gelukkige verlede, met die seisoen wat saam met die herinneringe veranderLe Roux, André. “Die Burger” 5 September 1985 na die somer wat gepaardgaan met daardie herinneringe. “Gesinsportret” herroep ’n Sondagmaal en die atmosfeer daarvan. “Versoening” is ’n poging van die spreker om met die gestorwe vader vrede te maak deur ook bome in sy tuin te plant wat gebruik kan word om meubels te maak, iets wat die vader se passie was. Die afdeling “Galery” se gedigte gaan oor beelde en figure. Hier word soms na skilderye verwys, soos in “Tête d’arlequin II” na aanleiding van die bekende Picasso-skildery van ’n harlekyn wat deur die Johannesburgse Kunsmuseum aangekoop is. “Sprokie” verwys na Sheila Cussons en is ’n toespeling op haar gedig “Kleindorpse fragment”, met die laaste strofe wat doeltreffend die titels van haar digbundels “Verf en vlam” en “Knetterende woord” saamvat. “Retoriese vraag” is daarenteen ’n toespeling op Elisabeth Eybers se gedig “Twee kleuters in die Vondelpark”. In die derde afdeling (“Ander kante”), word die relatiewe aard van die aarde bewoord, met ’n grootse visie op goddelike skepping en skeppingskrag. “Terra minora” is ’n uitbeelding van God se skeppingsaksie, terwyl “Antropologie” die mens se evolusie as tema het. “Vader Tyd” is ’n geestige verslag van tyd se onverbiddelike voortgang, terwyl “Pagters” hierby aansluit in sy weergawe van die tydelikheid van verblyf en die wisselende seisoene. “Taksonomie II” sluit tematies aan by sy debuutbundel, waar skepe in watter vorm ook al slegs gesien word as ’n vaartuig op soek na ’n ankerplek.
Edenboom