Zimbabwe (Engels: [zɪmˈbɑːbweɪ, -wi], ; Shona: [zi.ᵐba.ɓwe]), amptelik die Republiek Zimbabwe, is 'n landingeslote land in Suider-Afrika tussen die Zambezi in die noorde en die Limpopo in die suide wat aan Zambië in die noordweste, Mosambiek in die noordooste, Suid-Afrika in die suide en Botswana in die suidweste grens. Hoewel dit nie aan Namibië grens nie, is Zimbabwe deur 200 m van die Zambezi se rivierbedding van Namibië geskei (dit is waar die grens met Zambië en Botswana is). Volgens ander menings ontmoet die grense van die vier lande Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe op een enkele punt en sal vervolgens die enigste internasionale vierlandepunt wêreldwyd vorm. Die hoofstad en grootste stad is Harare, tot 1980 Salisbury genoem, terwyl Bulawayo die tweede grootste stad van die land is.

duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Zimbabwe Zimbabwe beslaan 'n oppervlakte van 390 757 km² en het in 2024 'n bevolking van 17 150 352 gehad. Zimbabwe is 'n multi-etniese land en die Mashona is die belangrikste inheemse etniese groep, gevolg deur die Ndebeles; altwee vorm sowat 98% van die land se bevolking. Dié land het 16 amptelike tale, waarvan Engels, Shona en Noord-Ndebele die mees verspreide tale is. Daarmee het Zimbabwe meer ampstale as sy suidelike buurland Suid-Afrika met twaalf ampstale. Zimbabwe is 'n lidland van die Verenigde Nasies, die Afrika-unie, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Beweging van Onverbonde Lande.

Die streek was lank reeds deur San bevolk en sowat 2 000 jaar gelede het Bantoevolke hulle ook in die gebied gevestig. In die 11de eeu het die Mashona begin met die oprigting van die stad Groot-Zimbabwe wat in die 13de eeu een van die vernaamste handelsplekke in Afrika was. Dit het die sentrum van die Koninkryk Groot-Zimbabwe geword, wat deur die Monomotapa- en Rozvi-ryke opgevolg is. Die Britse Ryk het beheer oor die gebied begin konsolideer na die Britse ultimatum van 1890 aan die Portugese, wat in die "pienk kaart" van 1885 die gebied tussen Angola en Mosambiek opgeëis het. Die British South Africa Company (BSAC) van Cecil John Rhodes het in 1890 die gebied Rhodesië afgebaken, nadat hulle Masjonaland en in 1893 Matabeleland tydens die Eerste Matabele-oorlog verower het. Die BSAC-heerskappy is in 1923 met die stigting van Suid-Rhodesië as 'n selfregerende Britse kolonie beëindig. In 1965 het die wit minderheitsregering eensydig Rhodesië se onafhanklikheid verklaar. Dié staat het internasionale isolasie en 'n 15-jarige guerilla-oorlog teen swart rebellegroepe in die gesig gestaar; dit het gelei tot die Lancasterhuis-ooreenkoms, waarmee in April 1980 die huidige Zimbabwe as Zimbabwe-Rhodesië sy internasionaal erkende onafhanklikheid verkry het.

In 1980 het Robert Mugabe die eerste minister van Zimbabwe geword; ná die omskepping van die land se oorspronklike parlementêre in 'n presidensiële stelsel was hy van 1987 tot sy bedanking in 2017 Zimbabwe se president. Tydens Mugabe se outoritêre regime het die staat se veiligheidsapparaat die samelewing beheer en was verantwoordelik vir wydverspreide menseregteskendings wat wêreldwyd veroordeel is. Van 1997 tot 2008 het die ekonomie bestendige agteruitgang beleef en selfs hiperinflasie. Nadat buitelandse geldeenhede pleks van die Zimbabwiese dollar begin gebruik is, het dit 'n vinnige groei ervaar. Ná een jaar se protes teen sy regering asook vanweë Zimbabwe se krimpende ekonomie het 'n staatsgreep in 2017 tot Mugabe se bedanking gelei. Sedertdien dien Emmerson Mnangagwa as Zimbabwe se president.

Etimologie duimnael|links|Die landsnaam "Zimbabwe" is van Groot-Zimbabwe afgelei duimnael|links|'n Kaart van "Rhodesië" in die Encyclopædia Britannica, 1911 Die naam "Zimbabwe" is afgelei van 'n Shona-term vir Groot-Zimbabwe, 'n middeleeuse stad in die land se suidooste naby Masvingo. Daar is twee uiteenlopende teorieë oor die oorsprong van dié naam. Volgens baie bronne is "Zimbabwe" afgelei van dzimba-dza-mabwe, vertaal uit Shona se Karanga-dialek as "huise uit klippe" (dzimba = meervoud van imba, "huis"; mabwe = meervoud van ibwe, "klip"). Die Karanga-sprekende Mashona woon rondom Groot-Zimbabwe in die huidige Masvingo-provinsie. Volgens die argeoloog Peter Garlake is "Zimbabwe" 'n verkorte vorm van dzimba-hwe wat "eerbiedige huise" in die Zezuru-dialek van Shona beteken en gewoonlik na kapteins se huise of grafte verwys.

Zimbabwe was voorheen bekend as Suid-Rhodesië (1898), Rhodesië (1965) en Zimbabwe-Rhodesië (1979). Die eerste opgetekende gebruik van "Zimbabwe" as 'n nasionale term dateer uit 1960 op 'n muntstuk deur die swart nasionalis Michael Mawema, wie se Zimbabwe National Party die eerste was wat in 1961 die naam gebruik het. Die term "Rhodesië" – afgelei van Cecil Rhodes se van, die primêre aanstigter van Britse kolonisasie in die gebied – is deur Afrikanasionaliste as onvanpas beskou weens sy koloniale oorsprong en verbintenis.

Volgens Mawema het swart nasionaliste in 1960 vergader om 'n alternatiewe naam vir die land te kies en name soos "Matshobana" en "Monomotapa" voorgestel, voordat sy voorstel "Zimbabwe" geseëvier het. Dit was aanvanklik onduidelik hoe die gekose term gebruik sou word – Mawema het in 'n 1961-letter die naam "Zimbabweland" gebruik – maar "Zimbabwe" was teen 1962 genoegsaam gevestig om die swart nasionalistiese beweging se algemene voorkeurterm te word. Soos baie name van Afrikalande wat tydens die Koue Oorlog onafhanklik geword het, is Zimbabwe 'n etnies neutrale naam. Dit is debatteerbaar tot watter mate Zimbabwe, wat meer as 80% homogeen Shona is en op verskeie maniere deur hulle oorheers word, as 'n volkstaat beskryf kan word. Die grondwet erken 16 tale, maar slegs twee van hulle op nasionale vlak, naamlik Shona en Engels. In teenstelling met Noord-Ndebele word Shona algemeen aan skole onderrig. Boonop het Zimbabwe nog nooit 'n nie-Shona-staatshoof gehad nie.

Geografie duimnael|Kaart van Zimbabwe Zimbabwe beslaan 'n gedeelte van die groot plato in Suider-Afrika en dit is 'n landingeslote land sonder enige kus. Die hoëveld met 'n lengte van 1 525 meter het twee hoofriviere, naamlik die Zambezi in die noorde wat die grens tot Zambië vorm en die Limpopo in die suide wat die grens met Suid-Afrika vorm. Die Karibameer is net stroomaf van die Victoria-waterval in die Zambezi op die grens met Zambië en is een van die grootste mensgemaakte mere in die wêreld.

In die noordweste kom die lande Namibië (Kaprivistrook) en Zimbabwe baie naby aan mekaar en dié twee lande word slegs deur 200 m se gebied in Botswana, wat op sy beurt aan Zambië grens, van mekaar geskei. As die vier lande aanmekaar geraak het, sou dit die enigste internasionale vierlandepunt tussen onafhanklike lande gevorm het. Dié moontlike vierlandepunt is egter sonder algemene internasionale erkenning.

Die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe is 230 km lank en word in sy geheel deur die Limpoporivier gevorm. Die belangrikste grenspos is Beitbrug langs die Beitbrug-Bulawayo Spoorweg.

In die suidooste van Zimbabwe is die historiese streek Gazaland geleë.

Klimaat duimnael|Klimaatsones in Zimbabwe volgens die Köppen-klimaatklassifikasie Zimbabwe het 'n subtropiese tot tropiese klimaat met vogtige en warm somers (tot meer as 35°C) en droë winters met 'n aangename warmte (ca. 25°C). In die Hoëveld wat oor die grootste gedeelte van die land strek, is die warm somers gematigd (25 tot 30°C) en in die winter is nagryp moontlik (tot −5 °C). Die reënseisoen duur van November tot Maart met meer as 90% van die jaarlikse neerslag wat gemiddeld 1 000 mm beloop.

Die aardverwarming se gevolge in Zimbabwe sluit 'n om 5% verminderde neerslag in die 20ste eeu (tot 2017) in; daarbenewens is 'n onvoorspelbare reën op uiteenlopende plekke en verskillende tye asook 'n toename aan droogtes en hittegolwe waarneembaar. Oorstromings kom meer en meer voor, soos in 2007/2008, waartydens mense dood en oeste bedreig is. Daarteenoor het Suider- en Oos-Afrika in 2015/2016 onder 'n ernstige droogte gebuk gegaan.

Riviere duimnael|'n Kaart met Zimbabwe se belangrikste rivierlope Zimbabwe word in 'n hidrologiese opsig deur die van suidwes na noordoos loopende Ovambo-Kalahari-Zimbabwe-breuk (OKZ Axis) Andy Moore, Tom Blenkinsop, Fenton (Woody) Cotterill: Southern African topography and erosion history: plumes or platetectonics? In: Terra Nova. Band 21, 2009, Nr. 4, 310–315 (orca.cf.ac.uk, PDF). René A. Pelletier: Mineral Resources of South-Central Africa. Oxford University Press, Cape Town, London, New York, Toronto 1964, bl. 137. as die sentrale waterskeiding (Central Zimbabwe Watershed A. E. Moore, F. P. D (Woody) Cotterill, T. Broderick & D. Plowes: Landscape evolution in Zimbabwefrom the Permian to present, with implications for kimberlite prospecting. In: South African Journal of Geology. Band 112, 2009, bl. 65–88 (www.mantleplumes.org, PDF).) in twee gedeel. Die Zambezi se opvanggebied in die noorde is met sowat 50% die belangrikste. Die suide ontwater deels in die Limpopo en die Saverivier. Nog verder oos vloei kleiner riviere in die Buzi en die Pungwe en 'n kleiner gebied in die weste wat oor die Nata in die Makgadikgadi-soutvlakte uitmond.

Omgewing Van Zimbabwe se bekendste nasionale parke sluit in Gonarezhou, Groter Limpopo-vredespark, Mana Pools en Matopos.

Flora en fauna Die land is grootliks deur droë savanne bedek, waar veral Miombo- en Mopanie-boomvelde oorheers. Boabab en worsboom kom algemeen voor, asook die haak-en-steek. Die savanne se gras is gedurende die droë seisoen bruin en verdor, maar aan die einde van die reëntyd bereik dit hoogtes van tot twee meter en is die voedselbron vir talle diere.

Geskiedenis Voorgeskiedenis Volgens argeologiese uitgrawings dateer argaïese menslike teenwoordigheid in die huidige Zimbabwe op sowat 500 000 jaar gelede. Zimbabwe se vroegste bekende inwoners is waarskynlik die San-mense wat spore soos pylpunte en rotskuns agtergelaat het. Sowat 2 000 jaar gelede, in die ystydperk, het die eerste Bantoesprekende boere tydens die Bantoemigrasie hulle in Zimbabwe gevestig.

Monomotapa

duimnael|'n Lugbeeld van Groot-Zimbabwe Onder die Bantoevolke was die voorsate van die Mashona wat vandag met sowat 84% die bevolkingsmeerderheid vorm. Van die 11de tot die 15de eeu het die Bantoes 'n belangrike beskawing gevorm met die ruïnes van Groot-Zimbabwe, hoofstad van die Koninkryk Monomotapa, as die bekenste baken. Groot-Zimbabwe het homself as een van die vernaamste handelsplekke in Afrika gevestig.

Die vroeë geskiedenis van die Koninkryk Monomotapa (wat eintlik "Heer van die Myne" beteken) is onbekend; dit het reeds sedert die Middeleeue bestaan. Ná die hoofstad Groot-Zimbabwe met sy ringmuur, tempel en tweeverdiepinghuise wat uit stene gebou is, was daar honderde dorpe waarvan sommige ook 'n stadsuitleg gehad het. Landbou, veeteelt en mynbou was die ekonomiese fondament van die ryk. Danksy die goudmynbou kon die koninkryk handel met Arabiere, Perse en Ethiopiërs dryf. Goud, ivoor en slawe is teen speserye, yster, sout en ander Oosterse ware geruil. Islamitiese handelaars wat hulle langs die Oos-Afrikaanse kus gevestig het, het die latere Swahili-kultuur geword. Die Zimbabwe-beskawing het duidelik van dié van die Swahili verkil.

In die middel-15de eeu het met die agteruitgang van die goudmynbou die mag van die konings verswak en die Zimbabwe-kultuur se sentrums is verskuif, langs die kus is die Swahili-handelaars meer en meer deur Portugese verdring; in 1607 moes hulle die myne aan die Portugese afstaan. In 1629 het die koninkryk 'n vasalstaat van Portugal geword. Die Portugese het ook koper, yster, lood en tin begin ontgin en landbou op grootplase bedryf. In 1837 is die Mashona-state verower deur die Ndebele, wat tydens die Mfecane vanuit die huidige Suid-Afrika noord getrek het.

British South Africa Company en Suid-Rhodesië

duimnael|Die Britse vlag is op 13 September 1890 in Fort Salisbury gehys