thumb|220px|'n Voorblad van Imagination, 'n Amerikaanse wetenskapsfiksie-en-fantasiepulptydkrif (1952).

Wetenskapsfiksie is die genre van spekulatiewe fiksie wat gevorderde en toekomstige veranderinge in tegnologie, wetenskaplike kennis of biologiese stelsels voorstel. Die elemente wat algemeen met wetenskapsfiksie verbind word, het met verloop van tyd toegeneem: van ruimteverkenning, buiteaardse lewe, tydreise en robotika; tot parallelle heelalle, distopiese samelewings en biologiese manipulasies; en, meer onlangs, tot inligtingstegnologie, transhumanisme, posthumanisme en omgewingsuitdagings. Wetenskapsfiksie ondersoek dikwels menslike reaksies op die gevolge van hierdie soort geprojekteerde of verbeelde wetenskaplike vooruitgang.

Die presiese definisie van wetenskapsfiksie word al lank deur skrywers, kritici, akademici en lesers betwis. Dit bevat baie subgenres, waaronder "harde" wetenskapsfiksie, wat die klem op wetenskaplike akkuraatheid plaas, en "sagte" wetenskapsfiksie, wat op sosiale wetenskappe fokus. Ander noemenswaardige subgenres is: ruimteopera, wat die klem plaas op suiwer avontuur in ’n heelal waarin ruimtereise algemeen voorkom; kuberruimtefiksie, wat die wisselwerking tussen tegnologie en die samelewing ondersoek; en klimaatsfiksie, wat omgewingskwessies behandel.

Daar word beweer voorlopers van wetenskapsfiksie het al sedert die oudheid bestaan. Sommige boeke wat tydens die Wetenskaplike Rewolusie en die Verligtingstydperk geskryf is, is as vroeë wetenskapsfantasieverhale beskou. Die moderne genre het hoofsaaklik in die 19de en vroeë 20ste eeu ontstaan, toe gewilde skrywers na tegnologiese vooruitgang begin kyk het vir inspirasie en bespiegeling. Mary Shelley se Frankenstein, wat in 1818 geskryf is, word dikwels as die eerste ware wetenskapsfiksieroman beskou. Jules Verne en H.G. Wells is sleutelfigure in die ontwikkeling van die genre. In die 20ste eeu het die genre gegroei en het dit uitgebrei met die bekendstelling van ruimteoperas, distopiese letterkunde en pulptydskrifte.

Wetenskapsfiksie het nie net die letterkunde beïnvloed nie, maar ook rolprente, televisie en kultuur in die algemeen. Dit kan die hedendaagse samelewing kritiseer en alternatiewe ondersoek, sowel as vermaak verskaf en ’n gevoel van verwondering teweegbring.

Subgenres Daar bestaan talle subgenres in wetenskapsfiksie. Van die bekendste subgenres en temas is:

"Afrofuturisme": Filosofie van wetenskap, en die geskiedenis wat die kruising van die Afrikadiasporakultuur met wetenskap en tegnologie ondersoek. "Alledaags": Speel op die Aarde of in die Sonnestelsel af, sonder interstellêre reise of menslike kontak met buiteaardse wesens, asook met 'n geloofbare gebruik van eietydse tegnologie en wetenskap. "Alternatiewe geskiedenis": Is gebaseer op die beginsel dat historiese gebeurtenisse heel moontlik anders verloop het. Parallelle wêrelde is dikwels ook deel van dié subgenre. "Ander wêreld": Die skep van 'n heeltemal fiktiewe wêreld of heelal, waarvan die strukture totaal en al van ons eie verskil. "Apokalipties" en "postapokalipties": Waarin die Aarde (of 'n ander plek) se beskawing tot 'n einde kom of reeds ophou bestaan het. "Buiteaardse wesens": Oor vreemde wesens wat uit die buitenste ruim of van 'n spesifieke planeet af kom. thumb|200px|'n Voorbeeld van dieselpunkkuns. "Dieselpunk": Meng die astetika van dieselgebaseerde tegnologie van die tydperk tussen die twee wêreldoorloë met retrofuturistiese tegnologie en postmoderne gevoelighede. "Eindtyd": Handel oor die einde van die mensdom, deur die mens se eie toedoen of deur oorlog, siektes, 'n sterrekundige botsing of ekologiese ramp. "Ekstrasensoriese persepsie": Oor karakters of vreemde wesens met 'n natuurlike vermoë wat telepatie, psigokinese, teleportasie, levitasie, dwang, prekognisie, heldersiendheid, ensovoorts insluit. "Goties" of "tegnonoir": kombineer film noir en wetenskapsfiksie soos in Ridley Scott se Blade Runner (1982) en James Cameron se The Terminator (1984). "Habitat": Oor mense wat leef in koepels, generasieskepe, asteroïede, ruimtestasies, ensovoorts. "Harde wetenskapsfiksie": Word gekenmerk deur streng aandag te skenk aan die noukeurige en korrekte besonderhede op die gebied van fisika, astrofisika, sterrekunde en chemie. "Kloning": Oor genetiese ingenieurswese of manipulasie van 'n gekloonde mens, vervaardig in die mens se laboratoriums. "Kuberpunk": Handel gewoonlik oor hoë tegnologie in die nie so verre toekoms. Die hooftema handel oor die vernietiging van die mensdom en is gewoonlik waarskuwend oor die moontlike kwade gevolge wanneer tegnologie in die verkeerde hande val. "Militêr": Speel gewoonlik af in 'n tyd van konflik tussen nasionale, interplanetêre of interstellêre stelsels, waar die hoofkarakters gewoonlik soldate is. "Onsterflikheid": Oor mense wat op soek is na hulle eie vorm van onsterflikheid, en die uiterstes waartoe hulle sal gaan om dit te bekom. "Robotika": Robotte is 'n geliefde onderwerp. Wat gebeur as mense vervang word deur meganiese, stoom- of elektriese masjiene? "Ruimteopera": Lê klem op epiese avonture in die buiteruim in 'n heelal waar dit algemeen is om vinniger as lig te reis; die woord "opera" word gebruik soos in "seepopera" en verwys nie na musiek nie. "Ruimtewestern": 'n Kombinasie van westerns en wetenskapsfiksie wat in die buiteruim afspeel. "Sagte wetenskapsfiksie": Sluit gewoonlik werke in wat gebaseer is op die sosiale wetenskappe soos biologie, sielkunde, ekonomie, sosiologie en antropologie. "Supermens": Oor mense wat oor die vermoë beskik wat ver bo die vuurmaakplek van die gewone mens is. Dit kan spruit uit 'n natuurlike oorsaak of kan die gevolg van inmenging en manipulasie wees. "Tydreise": Word gekenmerk deur die aanwending van 'n uitvindsel om akkurate tydvakke te besoek, hetsy reise na die verlede of die toekoms.

Letterkunde 18de eeu en vroeër thumb|links|200px|New Atlantis (1626) deur Francis Bacon.

Sommige geleerdes beweer wetenskapsfiksie het sy oorsprong in antieke tye gehad, toe die onderskeid tussen mites en feite vaag was. Die roman A True Story, wat in die 2de eeu n.C. deur die satirikus Lucianus geskryf is, bevat baie temas en verhaalmotiewe wat kenmerkend van moderne wetenskapsfiksie is, waaronder reise na ander wêrelde, buiteaardse lewensvorme, interplanetêre oorlogvoering en kunsmatige lewe. Sommige beskou dit as die eerste wetenskapsfiksieroman.

Daar word ook aangevoer sommige verhale uit die volksverhaalversameling Duisend-en-een-nag, asook die 10de-eeuse Japannese fiksiewerk Die Verhaal van die Bamboessnyer (cf. ) en die Arabiese alweter Ibn al-Nafis se 13de-eeuse roman Theologus Autodidactus bevat elemente van wetenskapsfiksie.

Verskeie boeke wat tydens die Wetenskaplike Revolusie en later in die Verligtingstydperk geskryf is, word as ware werke van wetenskapsfantasie beskou. Francis Bacon se New Atlantis (1627), Johannes Kepler se Somnium (1634), Athanasius Kircher se Itinerarium extaticum (1656), Cyrano de Bergerac se Komiese geskiedenis van die state en ryke van die maan (Frans: L'Autre monde ou les états et empires de la Lune, 1657) en Die State en Ryke van die Son (Les États et Empires du Soleil, 1662), Margaret Cavendish se "The Blazing World" (1666), Jonathan Swift se Gullivers Travels (1726), Ludvig Holberg se Nicolai Klimii Iter Subterraneum (1741) en Voltaire se Micromégas (1752) is voorbeelde.Khanna, Lee Cullen "The Subject of Utopia: Margaret Cavendish and Her Blazing-World". Utopian and Science Fiction by Women: World of Difference. Syracuse: Syracuse UP, 1994. 15–34.

Isaac Asimov en Carl Sagan het Johannes Kepler se 1634-roman Somnium as die eerste wetenskapsfiksieverhaal beskou; dit beeld ’n reis na die maan uit en hoe die aarde se beweging van daar af gesien word. Daar is na Kepler verwys as die “vader van wetenskapsfiksie”.

19de eeu thumb|200px|'n Inval deur buiteaardse wesens in die roman The War of the Worlds (1897) deur H.G. Wells, geïllustreer deur Henrique Alvim Corrêa in 1906. Ná die ontwikkeling van die roman in die 17de eeu as ’n letterkundige vorm het Mary Shelley se Frankenstein (1818) en The Last Man (1826) gehelp om die vorm van die wetenskapsfiksieroman te definieer. Die Engelse skrywer Brian Aldiss het aangevoer dat Frankenstein die eerste werk van wetenskapsfiksie was. Edgar Allan Poe het verskeie verhale geskryf wat as wetenskapsfiksie beskou word, waaronder "The Unparalleled Adventure of One Hans Pfaall" (1835) oor ’n reis na die maan.Tresch, John (2002). "Extra! Extra! Poe invents science fiction". In Hayes, Kevin J. The Cambridge Companion to Edgar Allan Poe. Cambridge: Cambridge University Press. pp. 113–132. .

Jules Verne is bekend vir sy aandag aan besonderhede en wetenskaplike akkuraatheid, veral in die roman Twenty Thousand Leagues Under the Seas (1870).

In 1887 het die roman El anacronópete deur die Spaanse skrywer Enrique Gaspar y Rimbau die eerste tydmasjien bekendgestel.La obra narrativa de Enrique Gaspar: El Anacronópete (1887), María de los Ángeles Ayala, Universidad de Alicante. Del Romanticismo al Realismo : Actas del I Coloquio de la S. L. E. S. XIX, Barcelona, 24–26 October 1996 / reds. Luis F. Díaz Larios, Enrique Miralles.El anacronópete, Engelse vertaling (2014), www.storypilot.com, Michael Main, accessed 13 April 2016 ’n Vroeë Franse/Belgiese wetenskapsfiksieskrywer was J.-H. Rosny aîné (1856-1940). Rosny se meesterstuk is Les Navigateurs de l'Infini (Die Navigators van die Oneindigheid) (1925), waarin die woord astronautique ("astronout") vir die eerste keer in Frans gebruik is.Arthur B. Evans (1988). Science Fiction vs. Scientific Fiction in France: From Jules Verne to J.-H. Rosny Aîné (La science-fiction contre la fiction scientifique en France; De Jules Verne à J.-H. Rosny aìné) In: Science fiction studies, vol. 15, no. 1, p. 1-11.

Baie resensente beskou H.G. Wells as een van die belangrikste skrywers van wetenskapsfiksie, of selfs as "die Shakespeare van wetenskapsfiksie". Sy romans sluit The Time Machine (1895), The Island of Doctor Moreau (1896), The Invisible Man (1897) en The War of the Worlds (1898) in. Sy wetenskapsfiksie het oor buiteaardse invalle, biologiese ingenieurswese, onsigbaarheid en tydreise gegaan. In sy niefiksiewerk as toekomskenner het hy die ontstaan van vliegtuie, militêre tenks, kernwapens, satelliettelevisie, ruimtereise en iets soortgelyks aan die wêreldwye web voorspel.

20ste eeu links|thumb|200px|Die uitgawe van Science and Invention van Augustus 1923 – die uitgawe oor wetenskapsfiksie – was die eerste uitgawe van ’n tydskrif wat deur Gernsback uitgegee is wat noemenswaardige fiksie-inhoud bevat het.Science and Invention, vol. 11, no. 4, August 1923, by die Universiteit van Minnesota; Maart 2017; besoek op 4 Februarie 2026

Edgar Rice Burroughs se roman A Princess of Mars, wat in 1912 gepubliseer is, was die eerste in sy 30-jarige reeks oor planetêre romanse; die romans was op Mars gesetel en die held was John Carter.Porges, Irwin (1975). Edgar Rice Burroughs. Provo, Utah: Brigham Young University Press. .

Een van die eerste distopiese romans, Ons, is deur die Russiese skrywer Jewgeni Zamjatin geskryf en in 1924 gepubliseer.Brown, p. xi, citing Shane, gives 1921. Russell, p. 3, dates the first draft to 1919. Dit beskryf ’n wêreld van harmonie en eensgesindheid binne ’n verenigde totalitêre staat.