Dr. John Daniel Kestell, ook bekend as Vader Kestell, (Pietermaritzburg, 15 Februarie 1854 – Bloemfontein, 9 Februarie 1941) was predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Bybelvertaler, skrywer en kultuurleier. As skrywer het hy soms die skuilname Afrikanus Jr. en Leinad gebruik. Laasgenoemde is sy tweede naam agterstevoor gespel.
Vroeë lewe en herkoms John Daniel Kestell was die vyfde van ses kinders. Sy ouers was die Engelsman Charles Kestell (gebore op 9 Augustus 1818 in Wallis) en die Afrikaner Dorothea Louisa Weyer (26 Maart 1820 – 2 September 1858), wat op 31 Oktober 1845 deur eerw. Daniel Lindley op Pietermaritzburg in die huwelik bevestig is.Nienaber, P.J. Vader Kestell. Tafelberg-Uitgewers Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe 1971 Aan vaderskant was hy ’n regstreekse afstammeling van ’n Britse Setlaarsfamilie wat hulle aanvanklik in die distrik Albanie gevestig en later na Grahamstad verhuis het.
In 1845 het John se vader met die skip Rosebud na Natal gekom en hom op Pietermaritzburg gevestig, waar hy as sterk gelowige by die NG Kerk aangesluit en hier as diaken en ouderling gedien het. Sy moeder is in 1858 oorlede toe John vier jaar oud was. Sy vader se tweede huwelik was op 24 Augustus 1859 met Johanna Susanne van den Berg. John het begin skoolgaan by mej. Osborne van die St. Andrew’s Church en later aan die goewermentskool in die Voortrekkerkerkie, waar eerw. W. Nisbett skoolhoof was. As kind het hy talle Voortrekkers ontmoet, onder wie Sarel Cilliers, J.N. Boshoff, Erasmus Smit, Daniel Bezuidenhout en Marthinus Oosthuijse. Op 31 Maart 1869 het sy vader hom uit die goewermentskool gehad en hom in die skool van mnr. Muirhead geplaas waar hy sy eerste lesse in Grieks ontvang het.
Hy het die skool in 1870 verlaat en op 6 Oktober 1870 by P. Maré begin werk. In hierdie tyd is diamante in Griekwaland-Wes ontdek en op 17 Mei 1871 het hy en sy vader na die diamantkleims by New Rush vertrek, waar hulle genoeg verdien het om aan die lewe te bly en ’n bietjie te spaar. Hulle het die kleim anderhalfjaar later verkoop en in Januarie 1873 teruggekeer na Pietermaritzburg.
Kestell het vanaf Maart 1873 verder aan die Stellenbosch Gimnasium studeer en op die dorp losser by ene mej. Faure loseer. Hy het sy matriek in 1875 voltooi. In hierdie tyd was H.F. Schoon en Abraham Kriel van sy medeskoliere.
Opleiding en studie Vroeg in 1874 het tot bekering gekom en op 6 Februarie 1874 in sy dagboek aangeteken dat hy besluit het om predikant te word. Ná skool het hy om aan die Kweekskool op Stellenbosch ingeskryf waar proff. N.J. Hofmeyr en John Murray hoogleraars was. Intussen het sy vader groot finansiële terugslae gely met transportry na plekke soos Durban, Pretoria, Middelburg, Tvl., en Bloemfontein. In 1876 het hy osse op skuld gekoop om ’n vrag na Middelburg te vervoer, maar onderweg het weerlig die meeste van die osse doodgeslaan. Hierna is hy verplig om John te laat weet dat hy hom nie meer geldelik kon help nie. Ds. Abraham van Velden (leraar van Pietermaritzburg van 1868 tot 1879 toe hy die bediening moes neerlê weens 'n "swakheid" wat sy meester geword het) het £40 by sy lidmate ingesamel om Kestell te help, help hom om ’n lening vir nog onkoste te sluit en ook om sy lewe te verseker sodat hy sy studie kon voortsit. Tydens sy studie op Stellenbosch kon John dit nie bekostig om huis toe te gaan nie en het dus vakansietye by vriende deurgebring. Eers in September 1878 kon hy vir die eerste keer in langer as vyf jaar huis toe gaan, nadat sy vader genoeg geld gespaar het om dit te bewerkstellig. Hy kon ’n maand lank daar bly voor hy teruggegaan het Stellenbosch toe.
Op 15 Desember 1877 raak hy verloof aan Geertruida Anna (Truida) Hofmeyr, dogter van prof. N.J. Hofmeyr. Deur sy huwelik met Truida Hofmeyr het hy die swaer van drie NG predikante geword, van wie die eerste twee uit hul amp geskors is, maar eerste dekades later daarin herstel is: Adriaan Hofmeyr (1854–1934), Jan Hofmeyr (1856–1924), Nicolaas Hofmeyr (1860–1932).
duimnael|page=2|Brief (1881) Kestell het in September 1880 oorsee na Utrecht in Nederland gegaan om sy teologiese studie voort te sit en het hier onder prof. Nicolaas Beets studeer. Hy het ook privaat lesse in Frans geneem en so goed gevorder dat hy die taal vlot kon praat, wat hom tesame met ’n deeglike kennis van Grieks en Hebreeus vyf talige magtig gemaak het. In Desember 1880 het hy Engeland besoek om ’n uitgewer vir sy drama The struggle for freedom te vind en van Londen besoek hy ook Parys. In Januarie 1881 was hy terug in Utrecht om sy studie voort te sit, maar het van einde Maart 1881 ’n uitgebreide reis deur Europa onderneem en onder meer België, Duitsland, Italië en Switserland besoek. Op 21 Maart 1881 was hy terug in Utrecht.
Hy het sy studie voltooi en op 29 Mei 1881 na Engeland vertrek, waar hy byna ’n maand vertoef het voor hy die terugreis na Suid-Afrika aangepak het. In Augustus 1881 was hy terug in Suid-Afrika en het sy studie aan die Kweekskool voltooi. Hy is Oktober 1881 georden as predikant in die NG Kerk. links|duimnael|J.D. Kestell
Toetrede tot die bediening Onmiddellik ná sy ordening het hy 'n beroep ontvang na die NG gemeente Lindley in die Vrystaat, wat hy bedank het. In 1881 is hy bevestig as hulpprediker in die NG gemeente Dutoitspan op die Kimberleyse diamantveld.
Op 28 Februarie 1882 is hy op Stellenbosch met Truida Hofmeyr (1858–1946), die tweede jongste kind en enigste dogter van prof. Nicolaas Hofmeyr, wie se biografie ds. Kestell later geskryf het, getroud. So het hy drie predikante as swaers gekry, van wie die oudste twee geskors is, maar die oudste dekades later in sy amp herstel is: di. Adriaan Jacobs Louw Hofmeyr (1854–1934), Jan Hendrik Hofmeyr (1856–1924, ook eerste redakteur van die Hollandse nuusblad Ons Land) en Nicolaas Hofmeyr (1860–1932). Sy vierde swaer was Charles Louis Hofmeyr (1865–1939), prokureur en skoolinspekteur in Kaapland. Uit hul huwelik is vyf kinders gebore, twee seuns (Charles en Nicolaas Hofmeyr) en drie dogters (Gertruida Anna, Maria Magdalena en Louise Johanna).
Hy is op 25 Maart 1882 as leraar van die naasliggende NG gemeente Kimberley bevestig. Die lot van die kinders en vroue op die delwerye het hom en sy vrou so aangegryp dat hulle die Newton-tehuis gestig het om hulp te verleen. Hierna is hy in 1893 beroep na die NG gemeente Harrismith en op 12 Januarie 1894 aldaar bevestig. In hierdie tyd het hy gereelde bydraes gelewer, ook kortverhale, tot die Gereformeerd Maandblad en Ons Tijdschrift.
Tweede Vryheidsoorlog links|duimnael|Ficksburg se kerkgebou, waarvan ds. Kestell medeargitek was, en die eerste ses predikante, waarskynlik uitgereik in 1944 tydens die 50-jarige herdenking van die gemeente se ontstaan. duimnael|Ds. Kestell in 1902 toe hy genl. Christiaan de Wet as sy sekretaris na Europa vergesel het.
Tydens die Tweede Vryheidsoorlog het ds. Kestell van Oktober 1899 af as kapelaan en veldprediker van die Harrismithse Kommando gedien en Met de Boeren commando’s (deur F.W. Reitz vertaal as Through shot and flame), wat Reitz se wedervarings in die oorlog uitbeeld. Sy vrou en kinders het die oorlog by haar familie in Pietermaritzburg deurgebring, want die Engelse het hulle die pastorie op Harrismith belet. Sy vyftienjarige seun, Charles, het sy pa na die slagvelde vergesel.
Met die Slag van Platrand naby Ladysmith op 6 Januarie 1900 het ds. Kestell sy eie lewe in gevaar gestel deur gewondes aan albei kante se wonde te verbind en hulle dors te les. Op versoek van die Britte is ’n gedenksteen by hierdie koppie later vir hom opgerig. Hy het ’n vriend en adviseur van pres. M.T. Steyn en genl. Christiaan de Wet geword en dié drie het weldra as die Driemanskap van die Vrystaat (die staatsman, die soldaat en die geestelike leier) bekendgestaan. Saam met sy kommando het ds. Kestell na Nauwpoort vertrek en al langs die Klein-Caledonrivier op en daarna kruis en dwars oor die Vrystaatse vlaktes soos hulle voor die Engelse uitbeweeg het. Hulle het Steyn en De Wet op 14 November 1900 by Korannaberg ontmoet.
Op 6 Junie 1901 het die Engelse hom gevange geneem op Graspan naby Reitz en in ’n kraal op die plaas saam met ander Boere gevange gehou. Dieselfde middag is hulle egter ná ’n hewige geveg deur ’n aantal Boere bevry. Sy seun Charles is in Oktober 1901 gevange geneem en as krygsgevangene op Ladysmith oorlede. Op 23 Februarie 1902 is die Boeremagte deur die Engelse vasgekeer by Kalkkrans naby Harrismith, maar De Wet se krygsvernuf het gesorg dat ds. Kestell en Steyn en die ander Boere ’n deurbraak bewerkstellig. As sekretaris van die Boeremagte het ds. Kestell hierna ’n belangrike rol tydens die vredesonderhandelinge gespeel en ook die amptelike notule van die onderhandelings geskryf wat uitgeloop het op die vredesluiting op Vereeniging.
Besoek aan Europa duimnael|links|Buiteblad van die Helpmekaar Gedenkboek, in 1917 uitgegee deur De Nationale Pers Beperkt.
In Augustus 1902 het ds. Kestell saam met genls. De Wet, Koos de la Rey en Louis Botha na Europa vertrek om geld in te samel vir die geteisterde Boere. Op hierdie reis was hy De Wet se sekretaris en het hy die generaal ook met die proeflees en verwerking van sy boek van oorlogsherinnerings, De Strijd Tusschen Boer en Brit, gehelp. Dit het, het hy binne drie maande vermag, terwyl hy self besig was om sy eie oorlogsherinnerings te boek stel en Nico Hofmeyr (sy swaer) se manuskrip, Zes maanden bij de Commando’s, persklaar te maak.
Bediening op Ficksburg In Februarie 1903 is ds. Kestell na die NG gemeente Ficksburg beroep. Sy bevestiging is bepaal vir 7 Maart 1903 en sy eerste vergadering is op 9 Maart daardie jaar gehou. Reeds 'n paar maande ná sy bevestiging het ds. Kestell hom vir die bou van 'n nuwe kerk op Ficksburg beywer. Op die gemeentevergadering van 25 Julie 1903 is dan ook besluit dat 'n monument ter gedagtenis aan die gemeente se gesneuweldes die vorm van 'n nuwe kerk sal wees. Hierdie sierlike Godshuis, waarvan ds. Kestell medeargitek was, is op 12 April 1907 ingewy. Die besluit om 'n kerk te bou is deur 'n gemeentevergadering bekragtig en 'n boukommissie is gekies.
Op 23 Oktober 1903 het die voorsitter 'n geskenk aan die gemeente van die heer en mev. J.G. Keyter ontvang bestaande uit 'n Bybel, 'n Psalm-en-gesangboek en 'n Formulierboek. Keyter was jare lank Volksraadslid en later lid van die Unie-Parlement. Hy was 'n wetgeleerde en het 'n som van £300 000 aan die Sending van die Kaapse kerk nagelaat. Op die vergadering van 4 Maart 1905 is melding gemaak van die stigting van die NG gemeente Marquard.
Op die vergadering van 8 November 1906 het 'n versoekskrif gedien deur 97 lede van die NG gemeente Ficksburg waarin hulle toestemming vra tot die afstigting die gemeente Clocolan. Op 2 Februarie 1907 is die volgende besluit geneem: "Daar in de nieuwe kerk een groot orgel geplaast sal worden, en er 'n bekwame orgelist toe nodig zyn, besluit de vergadering het salaris te verhogen tot £48 per jaar." 'n Maand later, op 2 Maart 1907 is die heer G.W. van der Vyver benoem tot orrelist en L.R. Prinsloo tot koster.
Kerk ingewy links|duimnael|Die NG kerk Ficksburg, waarvan ds. Kestell medeargitek was. duimnael|Agteraansig van die Ficksburgse kerkgebou, 2015.
Die nuwe kerk van Ficksburg is ingewy op 12 April 1907. 'n Uitgebreide program is by die geleentheid opgevoer. Die verrigtinge het geduur van die Vrydagmôre halfagt tot laat die Sondagaand. Die wydingsdiens is gehou deur die 80-jarige prof. N.J. Hofmeyr, skoonvader van die leraar, en die orrel is bespeel deur prof. P.K. le Roux. Die kinderdiens is gelei deur ds. Herman van Broekhuizen, seun van die gemeente se tweede leraar.