Whittlesea (vroeër bekend as Bulhoek) is 'n dorp in die landelike Oos-Kaap, Suid-Afrika. Onder die vorige politieke bedeling (tot 1994) was dit in die noordwestelike uithoek van die Ciskei-tuisland geleë. Die naaste groot dorp is Komani (voorheen Queenstown), 37 km noordoos hiervan.

Geskiedenis Die dorpie is in 1847 gestig as 'n militêre buitepos. Tydens die Agtste Grensoorlog, op 5 Maart 1851, het die koloniale garnisoen, wat hier gestasioneer was, bekendheid verwerf toe hulle 'n aanval afgeweer het van die Thembu Xhosas en sekere Khoikhoistamme. Die dorp is vernoem na sir Harry Smith se geboorteplek, Whittlesey. Die naam het Whittlesea geraak as gevolg van iemand se verkeerde spelling.

Besighede Die dorpie se sakekern huisves 'n poskantoor, landdroshof, polisiestasie, twee vulstasies en verskeie kleinhandelaars. Die gerieflikste winkel is die Spar en 'n paar ander supermarkte, wat ook die groot banke se OTM's huisves.

Op die dae wanneer salarisse en pensioene uitbetaal word, ontplof die gehuggie in 'n warreboel van voetgangers, taxi's, busse en straatsmouse; dit alles weerskante van 'n groot provinsiale deurroete, die R67 tussen Komani en Grahamstad.

Hospitaal 'n Goed-gevestigde algemene hospitaal, by name Hewu Hospitaal, is slegs 3 km buite die sakekern in die Ekuphumleni-buurt geleë.

Distrik Die dorpie is aan die oewer van die Klipplaatrivier. Bees- en skaapboerdery word die meeste beoefen, terwyl etlike honderde boerbokke ook deur plaaslike bestaansboere in kuddes aangehou word.

Sien ook Lys van dorpe in Suid-Afrika Bulhoek-opstand Bulhoek (plaas)

Bronne B.P.J. Erasmus: Op Pad in Suid-Afrika. 1995.

Verwysings

Kategorie:Nedersettings in die Oos-Kaap