Die Namibwoestyn is 'n sanderige gebied in westelike Namibië en suidwestelike Angola. Dit is geleë in Suider-Afrika. Sedert 21 Junie 2013 word groot dele van die woestyn deur Unesco as 'n wêrelderfenisgebied gelys.
Die Namib, aan die Weskus van Suider-Afrika, is 'n woestyn met ’n lengte van ongeveer 1 900 km en ’n breedte wat wissel van 24 tot 140 km. Die Weskus van Namibië vorm die grootste deel daarvan.
Vanweë die heersende antisiklonale windstelsel reën dit byna nooit nie, maar ligte seewinde wat snags oor die koue Benguela-stroom na die binneland waai, is verantwoordelik vir die vorming van mis langs die kus. Hierdie mis is lewensnoodsaaklik vir die flora en fauna van die gebied.
Die Namib word op grond van sy geomorfologie in vyf streke onderverdeel – die Suidelike Namib, die duineveld, die Damara-Namib, die Kaoko-Namib en die Angola-Namib. Baie ou geologiese formasies kom in die Namib voor en 'n deel van die woestyn bestaan uit hoë duine. 'n Betreklik ryk en gespesialiseerde fauna word in die Namib aangetref.
Algemeen Die Namib is 'n strook woestyn, tussen ongeveer 24 en 140 km breed, langs die Weskus van Namibië en 'n soortgelyke, nouer wordende strook in Angola tot ongeveer by Mossamedes. Die Oranjerivier in die suide word dikwels as die grens van die Namib beskou, maar volgens ander sienings strek dit tot by ongeveer die Olifantsriviermond in die Wes-Kaap.
Die totale lengte van die Namib (van die Olifantsriviermond tot by Mossamedes) is ongeveer 1 900 km, terwyl dit 'n oppervlakte van ongeveer 170 000 km2 beslaan. Die woord Namib is 'n Khoi-woord wat "woestyn" beteken.
Klimaat duimnael|Klimaatsones in Namibië volgens die Köppen-klimaatklassifikasie Met 'n reënval wat wissel van 11 mm per jaar by Walvisbaai tot 41 mm per jaar by Mossamedes is die Namib 'n ware woestyn. Dit is egter nie so warm soos ander woestyne nie. Die laagste en hoogste temperature wat reeds aangeteken is, is onderskeidelik 2 °C en 42 °C. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur van Walvisbaai is 17 °C. By die kus bly die temperatuur betreklik konstant.
Die klimaat word bepaal deur die heersende windstelsel, wat antisiklonaal van aard is en onder meer suidoostelike passaatwinde langs die Weskus veroorsaak. Hierdie windstelsel is ook verantwoordelik vir die inbeweging van koue, Antarktiese water langs die Weskus – die koue Benguela-stroom. Die reënwinde waai vanuit die ooste en verloor die meeste vog voordat hulle die Namib bereik. Verder word die lug adiabaties (as gevolg van die verhoging van lugdruk) verwarm wanneer die wind oor die platorand sak.
Die waterhouvermoë van die lug verbeter sodoende en reën is dus nog minder geneig om uit te sak. Die heersende ooste- of suidoostewind gaan lê gewoonlik in die middag en 'n ligte suide- tot suidwestewind begin dan waai. Snags draai die wind noord. Hierdie seewind is verantwoordelik vir die koel klimaat langs die kus en die mis, wat vier tot agt dae per maand tot 50 km diep in die binneland voorkom.
Hierdie mis is lewensnoodsaaklik vir die fauna en flora van die woestyn. Af en toe waai die noordewind so sterk dat die seestroom tydelik gaan stilstaan of selfs terugvloei. Wanneer dit gebeur, kan die seetemperatuur met 'n paar grade Celsius styg omdat warmer water na die kus gewaai word.
Geomorfologie duimnael|Nasa-Satellietbeeld van die Namibwoestyn duimnael|'n Boom in die Sossusvlei-streek duimnael|Die kleipan by Sossusvlei, wat sowat een keer per dekade deur die Tsauchab-rivier gevul word. Dit is geleë in die sentrale Namib-Naukluft, westelike Hardap-streek, Namibië duimnael|"Maanlandskap" in die Namibwoestyn Die Namib kan geomorfologies in vyf streke onderverdeel word. Hulle is van suid na noord die Suid-Namib, die duineveld, die Damara-Namib, die Kaoko-Namib en die Angola-Namib. Die hele gebied word deur slegs twee groot, standhoudende riviere deurkruis, maar heelwat vloedwaterriviere, met ander woorde riviere wat net na reënstorms langs die platorand vloei, word aangetref. Verskeie van hulle loop in die woestyn dood as vleie. Van die oudste geologiese formasies ter wêreld word in die Namib aangetref.
Die Suid-Namib, die gedeelte van ongeveer die Olifantsriviermond tot net suid van Lüderitz, bestaan uit ’n verskeidenheid baie ou rotsformasies in die suide en graniet/gneis in die noorde. Die binnelandse grens is die plato rand van kwartsiet, wat in hierdie deel gemiddeld ongeveer 130 km van die kus af geleë is. Die maksimumhoogte bo seespieël is ongeveer 1800 m. Verskeie kwartsietriwwe het hul oorsprong te danke aan plooiing van die ou gesteentes, terwyl die Klingelhardtberge van vulkaniese oorsprong is. Nog 'n interessante verskynsel is die rotsboog by Bogenfels, wat uit die kalksteen langs die kus deur watererosie gevorm is. In hierdie gebied is betreklik min duine.
Dit is veral hierdie suidelike deel van die Namib wat bekend is vir sy diamante, wat op 'n paar plekke ontgin word. Die grootste delwery is aan die mond van die Oranjerivier. Al hierdie diamante was oorspronklik deel van kimberlietpype (vulkaniese gesteentes) in die binneland en het deur verwering van die gesteentes vrygekom en met die groot riviere afgespoel see toe. Omdat die seestroom noordwaarts vloei, is baie van die diamante noord van die riviere langs die kus op vervoer en het hulle op die strand uitgespoel.
Die riviere het ook gereeld van koers verander, sodat die diamante oor 'n lang strook van die kus versprei is. Hierdie proses het miljoene jare lank voortgeduur, en met die wisseling in seevlak en die voortdurende afsetting van grond is verskeie lae diamanthoudende gruis gevorm. Die gruis word op 'n hoogte van 9 tot 84 m bo die huidige seevlak aangetref. Van die noorde van die vorige streek tot by die Kuisebrivier bestaan die Namib hoofsaaklik uit duine, wat op plekke tot 140 km in die binneland in strek.
Noord van die Kuiseb is 'n smal strook duine tot by die Swakoprivier. In die binneland is die duine betreklik lank en stabiel, met lengteasse wat meestal in 'n noordelike tot noordwestelike rigting wys. Op sommige plekke, byvoorbeeld in die omgewing van Sossusvlei, is die duine meer as 300 m bo die duinstrate. Naby die kus word die duine baie meer beïnvloed deur die suide- tot suidwestewinde en vind baie beweging van die duine plaas. Dagsome van oergesteentes word hier en daar, veral naby die see, aangetref.
Die Uri-Hauchabberge suidwes van Sossusvlei is 'n voorbeeld van 'n groot graniet-dagsoom. Benewens die Kuisebrivier in die noorde is daar drie dreineringslyne in die duineveld, maar geeneen van hulle loop tot by die see nie. Net suid van die Kuisebrivier ontstaan die Tsondabrivier op die platorand en eindig as die Tsondabvlei. Die Tsauchabrivier nog verder suid ontstaan in die Naukluftberge en eindig in die bekende Sossusvlei. Die Tsauchabrivier is die grootste rivier in die duineveld en Sossusvlei het die meeste water; dit kan soms baie lank staan voordat dit opdroog.
Noordoos van Lüderitz is die Koichabpan, wat die eindpunt van ’n paar dreineringslyne is. Geen beweging van duine vind oor die Kuisebrivier plaas nie, en die rivier vorm 'n duidelike skeidslyn tussen rooi sand aan die suidekant en wit sand aan die noordekant. Die gebied tussen die Kuisebrivier en die Hoanibrivier is baie rotsagtig en staan bekend as die Damara-Namib. Hierdie deel van die Namib is topografies slegs 'n uitloper van die binnelandse plato, wat geleidelik afwaarts hel, want daar is geen platorand soos langs die res van die Namib nie.
Skis is die algemeenste tipe gesteente op die vlaktes, terwyl die riwwe wat in die gebied voorkom, meestal uit kwartsiet of marmer bestaan. Hier en daar is koppies van intrusiewe graniet. 'n Paar betreklik hoë berge word in die Damara-Namib aangetref, waarvan die bekende Brandberg van graniet die hoogste is. Die drie groot riviere wat op die binnelandse plato ontspring en deur hierdie deel van die Namib vloei, eindig almal, soos die Kuisebrivier, in die see, maar vloei ook bale selde.
Hulle is die Swakop-, die Omaruru- en die Ugabrivier. Die Swakoprivier loop in 'n diep ravyn wat oor miljoene jare deur die water uitgekerf is, maar die ander twee riviere vorm breë valleie. Groot hoeveelhede ondergrondse water kom in die meeste rivierbeddings van die Namib voor, met die gevolg dat baie bome en struike daar groei. By die mond van die Omarururivier is die soutgehalte van die grondwater besonder laag, sodat die water drinkbaar is, in teenstelling met die brak water van die meeste kuspanne tussen Swakopmund en Kaap Kruis. Die hele noordwestelike deel van Namibië staan bekend as die Kaokoveld, en daarom word die westelike deel van die Namib, noord van die Hoanibrivier, die Kaoko-Namib genoem.
Aan die westekant van die deel van die Namib is die plato rand weer duidelik gevorm en bestaan dit uit kwartsiet en kalksteen. Direk suid van die Kunenerivier word die Namib in twee verdeel deur die gneisagtige Hartmannberge (waar die Hartmannse bergsebra sy naam vandaan kry), wat van noord na suid loop, en 'n ent suid van hierdie berge word die verdeling voortgesit deur 'n rif van Kaokolawa, bekend as die Orupembe-Kabererif. Die gebied van die Kunenerivier af suidwaarts is vir ongeveer 90 km een groot sandvlakte, feitlik sonder plantegroei.
Verder suid is daar meer graspolle. In die omgewing van Rocky Point (20˚ S) is die kusvlakte rotsagtig, 'n ent van die kus af is 'n reeks duine en agter die duine is daar weer 'n ruwe graniet/gneis-rotsmassa. Meer na die binneland is hier en daar ’n fontein, byvoorbeeld Sesfontein bo in die Hoanibvallei, waar landbou soms op 'n beperkte skaal beoefen word. Net soos die Kuisebrivier vorm ook die Kunenerivier 'n versperring vir die beweging van sand, maar in teenstelling met die Kuisebrivier is die Kunene 'n groot rivier wat altyd water het.
Suid van die Kunene is heelwat duine op die sandvlakte van die Kaoko-Namib, maar direk noord van die Kunene is daar slegs rotse. Verder noord begin die duine weer en strek dit tot ongeveer 80 km noord van Baia dos Tigres. Noord hiervan vorm die kusstrook ongeveer 45 m bo seespieël 'n verhewe vlakte. Die gesteentes van hierdie vlakte bestaan hoofsaaklik uit sandsteen, kalksteen en mergel (kalkagtige moddersteen). Tot by Mossamedes (15˚ S) is daar ’n duidelike, steil platorand aan die westekant van die Namib, maar daarna swaai die platorand na die binneland toe weg. Van Mossamedes af word die woestyn vinnig smaller en strek tot feitlik by Baja dos Elefantes. Die oorgang tussen die woestyn en die oop Acacia- en mopaniesavannes meer na die binneland is baie geleidelik, sodat dit moeilik is om 'n definitiewe grens vir die Namib te bepaal.
Flora en fauna duimnael|'n Gemsbok (Oryx gazella) in die Namibwoestyn duimnael|'n Welwitschia (Welwitschia mirabilis) in die Namibwoestyn duimnael|Kokerbome (Aloidendron dichotomum) in die Namibwoestyn Vanweë die lae reënval is die plantegroei oor die Namibwoestyn as geheel baie yl en grotendeels beperk tot vleie en rivierbeddings. Die gereelde oggendmis dien egter as 'n bykomende bron van water en die totale neerslag as gevolg van die mis is op plekke ongeveer 40 mm per jaar. Langs die kus bestaan die plantegroei hoofsaaklik uit vetplante, veral van die genus Mesembryanthemum, en uit ligene, wat baie van hulle vog direk uit die lug kan absorbeer.
Verder van die see af bestaan die plantegroei hoofsaaklik uit 'n paar grasspesies, veral van die genus Aristida (steekgrasse), in die duine uit kokerbome (Aloidendron dichotoma) en in die rotsagtige dele uit vetplante van die familie Euphorbiaceae. Boesmankerse (Sarcocaulon burmannii) groei veral in die rotsagtige dele van die Suid-Namib. Noord van die Kuisebrivier tot ongeveer in die omgewing van Mossamedes in Angola groei die wêreldbekende welwitschia (Welwitschia mirabilis), ’n naaksadige plant wat sekere ooreenkomste met die blomplante toon.