duimnael|regs|220px|Mej. Maria Kloppers, sendingwerkster op Fordsburg en later stigter van die kinderhawe in Observatory, Johannesburg.

Die NG gemeente Fordsburg was van 6 November 1896 tot 1988 ’n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk aan die westelike kant van die Johannesburgse middestad in die gelyknamige voorstad.

Aanvoorwerk Die Kaaplandse Vrouesendingbond (VSB) is in 1889 op Wellington gestig om vroue uit te stuur na verskeie velde om sending- en opheffingswerk te doen. In 1893 kon die VSB sy eerste werksters, onder wie mej. Maria Kloppers, na Johannesburg en na Fordsburg stuur. Die werk aan die Rand was besonder moeilik, veral in die “Brickyards” waar baie Afrikaanssprekendes in die allertreurigste omstandighede gewoon het. Hier het hulle bakstene gemaak wat gebruik is om die toenemende aantal geboue in die ontluikende Johannesburg op te rig. Die werksters moes dikwels eers die huise skoonmaak voordat hulle enige ernstige gesprek met die inwoners kon aanknoop.

Mej. Ferguson besoek die werksters in 1895 (toe daar reeds vyf was) in Johannesburg en Fordsburg. Sy het diep onder die indruk gekom van die selfopofferende en veeleisende werk wat hulle daar gedoen het, want behalwe huisbesoek, bidure, Sondagskole en Kinderkranse, moes hulle gedurig siekes verpleeg, elke dag die siekes en armes van kos voorsien en ook nog werkgeleentheid vir baie soek.

Later jare sou Kloppers vertel: “Toe ek in Johannesburg kom, was dit die eerste geslag van die Afrikanervolk wat gesink het.” Die agterbuurtes was die geboorteplek van die geweldige vraagstuk waarmee Afrikaners later moes worstel en wat honderdduisende rand gekos het, naamlik die armblankes, later armlastiges genoem en nog later minderbevoorregtes. Fordsburg was die middelpunt van die werkkring, want hier het die meeste van die arbeiders gewoon en hulle huise het gestrek tot by die baksteengroewe (“Brickfields” of “Brickyards”) waar die armste en mees verwaarloosde Afrikaners gewoon het. Hier was die huishuur klein en die lewenswyse goedkoop. Honderde en honderde het al dieper in ellende gesak. Die lone was klein en die lewensmiddele onbetaalbaar duur. Binne die grense van wat later die gemeentes Fordsburg en Vrededorp sou word, is die Armblankevraagstuk gebore. Kloppers was wakker en skerpsinnig en het alles in haar vermoë gedoen om die insinking te keer, maar die nood was te groot en die werkers te min. Die aantal gesinne wat in die diepste ellende verkeer, het steeds aangegroei.

In Fordsburg het blankes, bruines en swartes deurmekaar in armoede geleef. In dié toestand het die sendingwerksters met almal in aanraking gekom. Kloppers sien talle onversorgde kinders raak en bring hulle na die sendinghuis, waaruit later die Maria Kloppers-kinderhawe in Observatory sou ontstaan.

Ramp duimnael|regs|340px|Fordsburg se eerste kerk is erg beskadig in die Braamfonteinse dinamietontploffing, skaars twee maande nadat dit in gebruik geneem is. links|340px|duimnael|'n Foto van Fordsburg se eerste kerkie ná die ontploffing. duimnael|regs|190px|Ds. Abraham Kriel.

Fordsburg is in 1896 van Langlaagte afgestig met ds. A.P. Kriel as konsulent. Kort voor die afstigting het hy geld byeen gekry om ’n eenvoudige maar netjiese kerk in dié buurt te laat bou. Dit is Desember 1895 ingewy. Vir Kriel was dit ’n plesier om daar te gaan preek en die opkoms was altyd goed. Hy het gereken dat die kerkbesoek op Fordsburg die beste aan die Rand was.

Op Woensdagmiddag 19 Februarie 1896 het in Braamfontein, nie ver van Fordsburg nie, ’n verskriklike ontploffing gebeur. Later is vasgestel dat treinwaens vol dinamiet, bestem vir die myne, drie dae lank in die son op die stasie gestaan het en dat dit tot die geweldige ontploffing aanleiding gegee het. ’n Gat van by die vier verdiepings diep is in die grond uitgehol. Huise op Vrededorp, Fordsburg en oral omheen is in puin gelê en ander erg beskadig.

Maria Kloppers, indertyd ’n werkster van die Vrouesendingbond in Fordsburg en later stigter van die Kinderhawe in Observatory, Johannesburg, was net besig in die nuwe kerk om haar voor te berei op die biduur om drieuur toe daar ’n geweldige skok was en “die dak sak op my toe. Ek sukkel om uit te kom. ’n Wonder dat iemand lewendig kon uitkom! Die deure en balke onder die vloer uitgedruk. Iemand roep: ‘Mej. Kloppers, leef jy nog? Ag, kom tog hierheen!’ Verwoesting, geklaag, geween, gejammer!”

Lyke het oral rondgelê, in baie gevalle so erg vermink dat hulle heeltemal onherkenbaar was. Van die beseerdes was ook onherkenbaar, maar kon darem hulle naasbestaandes herken. In ’n skoolgebou het ’n ry van hoofde van kinders en grootmense gelê om geëien te word. Onder die puin was onder andere ook ’n menigte lede van die VSB se Sondagskool begrawe. Vier en twintig uur na die ontploffing is klein Francina (2) in ’n holte onder die puin van hul huis gevind, waar sy met ’n emmertjie gespeel het met die geraamte van ’n stoof oor haar. Sy was die eerste van dertien kinders wat na die VSB se sendinghuis gebring is. Hieruit is later die Kinderhawe in Observatory gebore.

Gou was ds. P. Meiring en eerw. Daneel op die plekke waar die verwoesting gesaai is. Die tentoonstellingsterrein is ingerig vir die gehawende mense waar hulle in een groot saal geëet het.

Kriel het tydens die eerste begrafnisdag 127 lyke begrawe. Kiste is op muilwaens aangery. In tien van die kiste was net stukkies van menseliggame. Tientalle het aan hulle beserings beswyk en daar was gedurig ’n begrafnisstoet op pad na die kerkhof. Die dag ná die eerste begrafnis het ds. Kriel in die studeerkamer van ds. J.N. Martins van Johannesburg vooroor gesit en soos ’n kind gesnik.

Eerste kerk herbou duimnael|links|302px|Fordsburg het in 1940 afskeid geneem van dié kerkgebou, hier afgeneem in 1917.

Soos soveel ander geboue was die nuwe kerk op Fordsburg in puin. Net twee maande gelede is dit in gebruik geneem, maar nou het daarvan net die mure oorgebly. Een gewel was tot op die helfte weggeslaan. Die deure en vensters was verbrysel en die dak ingedruk binne die mure in. Die lidmate kon min doen om dit te help herstel, want hulle was self in ellende gedompel en moes hulle toespits op die herstel van hulle eie blyplek. Boonop was die meeste van hulle arm. ’n Tent is by die plek opgeslaan en daar is bidure gehou. Talle het om voorbidding kom vra. Mense was oral besig om na hulle dierbares te soek. Huise is in hospitale verander.

Kriel spring egter dadelik aan die werk, skryf lyste uit en gee dit aan betroubare persone sodat hulle geld kan insamel. Binne 'n kort tyd het die insamelaars £32 000 bymekaar gebring. Gratis reiskaartjies is aan mense voorsien wat na familie elders wou wegkom. Kriel kon staatmaak op die publiek se welwillendheid omdat lidmate hulle eie huis met uiterste moeite moes herstel – en selfs dít kon baie nie eens doen nie. Daarom kon die konsulent met vrymoedigheid by ander aanklop, nie net in Johannesburg nie, maar selfs so ver as Harrismith, waar hy in die kerk van ’n ou vriend gekollekteer het. In een van die dienste lê hy die saak uit. Onder die kollekte begin die orrelis speel, maar Kriel vra dat hy dit nie doen nie, sodat hy die gemeente verder oor die ramp kan inlig. En terwyl die gawes in die bordjies val, skets hy in lewende kleure wat alles op Fordsburg gebeur het.

Die geld is gevind, die kerk herbou en terselfdertyd vergroot. Eers op Sondag 28 April 1940 het die gemeente van dié gebou afskeid geneem en na Mayfair verhuis.

Vrededorp stig af duimnael|regs|170px|Ds. Johannes Stephanus Marais, die leraar van 1920 tot 1925, toe hy uit die bediening tree. Reeds tydens die dienstyd van ds. J.S. Marais, leraar van 1920 tot 1925, het lidmate van Vrededorp en Brixton druk op die kerkraad van die moedergemeente begin uitoefen om hierdie wyke óf af te stig óf ’n hulpprediker aan te stel om hulle beter te bedien. Die kerkraad was geruime tyd sterk daarteen gekant. In 1921 het die skriba van die Ring van Johannesburg aan die kerkraad geskryf en hom versoek om die eerste stappe te doen tot die afstigting van Vrededorp. Die kerkraad het egter vasgeskop en aan die skriba laat weet “dat die kerkraad van Fordsburg weier om een enkel lid van sy gemeente af te staan” (Kerkraadsnotule, Februarie 1922).

Die Ring was egter vasberade dat Fordsburg te groot was vir 'n enkele predikant en het laat weet as die kerkraad nie bereid was om Vrededorp af te staan nie, moes hy minstens onderneem om ’n medewerker vir die plaaslike predikant aan te stel. Die kerkraad het meer geneig in die rigting van ’n hulpprediker, maar hulle was destyds uiters skaars, sodat ene ds. Venter eers aan die begin van 1924 kon begin werk en ook net uiteindelik drie maande lank. Daarna moes die gemeente weer enkele maande lank aansukkel tot ds. D.J.J. Rossouw as hulpprediker, veral met die oog op Vrededorp en Brixton, aangestel kon word. Hy het egter na ses maande vertrek en toe kon die kerkraad weer niks doen met betrekking tot die intensiewer bearbeiding van Vrededorp en Brixton nie. Ná ds. J.S. Marais gedwing is om te bedank, ds. J.C. Pauw bevestig is en die gemeente se sake reggeruk is, het die Ring weer die beter bearbeiding van die twee wyke onder die kerkraad se aandag gebring. Dit was veral in die lig van uitsprake deur die Transvaalse Sinode en Ringe ten gunste van kleiner gemeentes. Hulle het aangevoer ’n gemeente moes nie meer as duisend lidmate tel nie, waarna ’n hulpprediker aangestel of, nog beter, ’n gedeelte moes afgestig word.

In 1926 blyk dit op die sitting van die Ring van Johannesburg op Waterval dat Fordsburg tussen 1 500 en 1 600 lidmate tel en het die Ring die Ringskommissie gelas om weereens die kerkraad van Fordsburg te pols oor die afstigting van ’n deel van die gemeente of so nie die verkryging van ’n hulpprediker. Die Ringskommissie het die kerkraad in Oktober daardie jaar ontmoet en die saak broederlik met hom bespreek. Uiteindelik het Fordsburg se kerkraad ná ’n uitvoerige bespreking op ’n daaropvolgende vergadering ingestem om dié deel van Vrededorp wat aan die gemeente behoort, af te stig, veral vanweë die ervaring met hulppredikers. Die kerkraad het Vrederus se kerkraad toe genader om sy gedeelte van Vrededorp ook af te staan, sodat die hele voorstad as een enkele gemeente sou kon afstig. So stig die Ringskommissie Vrededorp op 26 Augustus 1927 af van Fordsburg én Vrederus, waarvan die naam toe Melville geword het om verwarring te voorkom.

Fordsburg weier afstigting duimnael|links|270px|'n Begrafnis uit die ou kerk, iewers in die 1930's.

Skaars is Vrededorp afgestig of die Ringskommissie skryf weer aan Fordsburg dat die gemeente steeds te groot is vir een predikant en dat hy die kerkraad oor ’n verdere afstigting wil spreek. Die kerkraad het egter gevoel die kommissie is veels te haastig. Daarom moes Fordsburg se skriba die Ringskommissie inlig “dat daar onlangs ’n afstigting plaasgevind het en dat die kerkraad besig is (om) aan die nuutgestigte gemeente Vrededorp £7 10s. per maand te betaal vir twee jaar. Voordat daardie saak nie afgehandel is nie, sien die kerkraad nie kans om tot verdere afstigting oor te gaan nie” (Kerkraadsnotule, April 1928).

Twee jaar later, toe Fordsburg sy verpligting teenoor Vrededorp nagekom het, dring die Ringskommissie aan dat die kerkraad ten minste ’n hulpprediker vir Brixton moet aanstel. Uiteindelik slaag hy in Maart 1931 om die diens van prop. D.S. Lubbe te bekom, maar toe hy ’n maand of wat later vertrek, besluit die kerkraad “om vir eers nie weer ’n hulpprediker te bekom nie” (Kerkraadsnotule, Mei 1931). So duur die toestand meer as twee jaar voort totdat ouderling P.C.N. Jooste in die kerkraadsvergadering van Oktober 1933 opstaan en die mening lug “dat die gemeente te groot geword het vir een predikant . . . en dat die tyd aangebreek het om ’n deel van die gemeente af te stig of ’n hulpprediker te verkry” (Kerkraadsnotule, Oktober 1933).

Eiendom in Brixton aangekoop