duimnael|regs|270px|Die gemeente se laaste kerkgebou, afgeneem in 1987, en later gesloop. In 1952 het die gemeente se medewerker heel ironies gegewe wat later gebeur het, in Ons gemeentelike feesalbum geskryf: "Die mynkamp van 1886 het die grootste stad in Suid-Afrika geword, waar wriemelende menigtes elke dag mekaar verdring tussen hoë geboue en op oorvolle strate wat maar nie al die verkeer wil vat nie; maar hoog tussen die kransagtige blokke woonstelle en kantore steek die kerkgebou van Johannesburg nog uit, asof hy wil sê: Die mens – soos gras is hy, maar die Woord van God bly tot in ewigheid!"

Die NG gemeente Johannesburg was op 14 Augustus 1887 die eerste gemeente wat die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Goudstad gestig het. Regstreeks en onregstreeks het uit dié gemeente oor die daaropvolgende eeu al die gemeentes op die Witwatersrand ontstaan, maar teen die tweede dekade van die 21ste eeu het daar van die Johannesburgse moedergemeente amper niks oorgebly nie: die lidmaattal was volgens die NG Kerk se jaarboek net 90 en die gemeente was jare reeds vakant.

Die ontdekking van goud duimnael|280px|regs|Die noordelike aansig van die kerk langs die sinodesentrum in De Kortestraat, Braamfontein, wat gesloop is. Die sinodesentrum staan nog langs die leë erf. Dit huisves nou (2015) die vakbond Satawu en staan bekend as Satawu House. duimnael|360px|regs|Die eerste NG kerkgebou aan die Rand was in Von Brandisstraat en is in Augustus 1887 ingewy. Regs is die pastorie wat gebou is kort na prop. Martins se aankoms in Brickfields. duimnael|170px|regs|Ds. J.N. Martins, die eerste leraar. duimnael|links|220px|Die kansel uit die Braamfonteinse kerk van 1904 staan vandag (2016) in die Irenekerk. duimnael|links|260px|Die gemeente se vierde kerkgebou, wat in 1904 ingewy is. Dit word soms ook die Clifton-kerk genoem omdat die voorstad wat op die plaas Braamfontein aangelê is, eers so geheet het. Dit is in 1955 gesloop.The History of Braamfontein duimnael|regs|220px|Die Kerkbode het op 8 September 1937 'n foto van die kerkgebou op sy voorblad geplaas ter viering van die 50-jarige bestaan van die oudste gemeente aan die Rand. Daar was toe reeds 22 gemeentes in die gebied met 62 000 lidmate. duimnael|links|170px|P.G.J. Meiring, tweede leraar duimnael|regs|210px|Die kerkgebou van 1904 omstreeks 1947, sowat agt jaar voor dit gesloop is om vir die laaste kerkgebou plek te maak duimnael|260px|regs|Ds. D.P. Cillié, leraar van 1920 – '26 en '29 – '33, saam met sy gesin. Ná sy dood in die tuig is sy vrou met ds. P.S.Z. Coetzee getroud, wie se vrou in 1936 ná 'n "smartlike lyding" oorlede is.

Die eerste toestroming van mense na die mynkamp Johannesburg, wat binne tien jaar ná sy ontstaan in 1886 vir Kaapstad as die grootste stad in die latere Suid-Afrika sou verbysteek, het gevolg op die ontdekking van 'n dagsoom met gouddraende erts op die plaas Langlaagte, waarop die dorpie met dieselfde naam ontwikkel het en wat later die voorstad Langlaagte sou word. Kort na die hoofrif ontdek is, is vasgestel dat dit deur Langlaagte byna 50 km na die ooste en weste strek.

Vroeër was die algemene opvatting dat dit die Australiese rondreisende prospekteerder George Harrison was wat op 'n Sondag in Maart 1886 op 'n rotsagtige uitsteeksel van die hoofrif afgekom het op die plaas Langlaagte van die weduwee van Gerhardus Cornelis Oosthuizen. Volgens oorlewering het Harrison sy ontdekkerskleim vir ongeveer R20 verkoop.Die geskiedenis van goud, Myfundi

'n Staatsondersoekkomitee het egter in 1941, ná die aanhoor van breedvoerige getuienis, besluit dat dié eer P.J. Marais toekom. Nog twee aanspraakmakers op die ontdekking van die hoofrif op Langlaagte is Hermanus Johannes van Staden, skoonseun van Oosthuizen, en ene Peter Bernardus de Ville.Die Bronberger

Reeds 34 jaar vantevore, in 1852, het J.H. Davis die eerste goud aan die Witwatersrand op 'n plaas naby Krugersdorp ontdek, maar die regering van die ZAR het hom gedwing om stil te bly daaroor. Eers in 1886 was dit duidelik dat hierdie vonds die hoofgoudrif van die Witwatersrand was. Drie gedeeltes van die plaas Langlaagte was in Oosthuizen se besit. Die gedeeltes is uitgekoop deur president Paul Kruger vir dorpstigting en die toekenning van mineraleregte aan prospekteerders of myners.Inskrywing op Facebook deur nasaat van die Oosthuizens

Die dorp Johannesburg het egter ontwikkel op die plaas Randjeslaagte, van waar dit in alle rigtings uitgestrek het.Industrialisasie in Suid-Afrika Die dorp is genoem na Johann Rissik, waarnemende landmeter-generaal, en Johannes Pieter Meyer, veldkornet van die wyk.

Aanloop tot gemeentestigting Voor die Johannesburgse moedergemeente in 1887 gestig is, skaars 18 maande nadat goud ontdek is op Langlaagte, was die landelike gebied deel van die NG gemeente Heidelberg. Landbouers uit die Kaap, wat daarvaan af weggetrek het om onder die Britse bewind uit te kom, het al in die dekade na 1840 op die Hoëveld begin aankom. Maar dit was die kerkraad van die NG gemeente Dutoitspan wat onder leiding van ds. Abraham Kriel die eerste stap gedoen het tot gereelde bearbeiding van die goudveld deur hulle hulpprediker, prop. J.N. Martins, af te staan om die evangelie aan die lidmate op die Rand te verkondig.

Die goudstormloop het mense uit alle wêrelddele na die Rand gebring. Sover vasgestel kon word, het ds. S.J. du Toit, destydse superintendent-generaal van onderwys in die Zuid-Afrikaansche Republiek, die eerste NG diens in Johannesburg gehou. Dit was 'n opelugdiens op 'n Sondag teen die middel van 1886 in die skaduwee van 'n wilgerboom naby die terrein waarop NG gemeente Langlaagte se latere kerkgebou en die Abraham Kriel-kinderhuis gebou is. Sy teks het uit Genesis 2:12 gekom: "En die goud van die land is goed."

Onder die intrekkers op die Rand was ook lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, wat hulle veral in groot getalle aan die westekant van die teenswoordige middestad gevestig het in wat destyds as die "Dip" bekend gestaan het. Dit was die minder gegoede buurte van Langlaagte, Fordsburg en Vrededorp, wat lank die enigste deel van die ontluikende stad was waar Afrikaners plek-plek in die meerderheid was. Die meer gegoede noordelike (Parktown, Houghton ens.) en noordoostelike voorstede (Observatory, Orange Grove ens.) was nog altyd amper uitsluitlik Engels, terwyl Afrikaners, namate hulle ekonomiese posisie verbeter het, hulle later jare ook in groot getalle in die noordwestelike dele (Melville, Westdene, Aucklandpark, Northcliff, Linden, Randburg en omstreke) gaan vestig het. In 'n mindere mate as in die "Dip" het Afrikaners ook gaan woon in die omgewing van Jeppestown, onmiddellik oos van die middestad. In 'n stadium was daar byvoorbeeld binne 'n smal strook wat 8 km wes van die middestad gestrek het, 14 NG gemeentes, maar oor dieselfde afstand na die ooste net vyf.

Ontstaan Dit was die kerkraad van die Dutoitspan onder leiding van ds. Abraham Kriel wat die eerste stap gedoen het tot die gereëlde bearbeiding van die goudvelde deur hul hulpprediker, prop. J.N. Martins, af te staan "om die dierbare Evangelie ook aan ons broers op die goudvelde te gaan verkondig". Prop. Martins het op 17 Mei 1887 op Johannesburg aangekom en moes in die begin sy dienste in 'n "rietstal" hou, maar reeds drie maande na sy aankoms kon die eerste kerkgebou, van hout en sink opgerig, in gebruik geneem word. Hierdie gebeurtenis het byna saamgeval met die stigting van die gemeente op 14 Augustus 1887. Prop. Martins, wat nog al die tyd voortgegaan het om die gemeente in 'n tydelike hoedanigheid te bedien, is op 21 November 1887 tot herder en leraar van die gemeente Johannesburg beroep en eers in Mei 1888 as sodanig bevestig.

In 1952 berig Ons gemeentelike feesalbum: "Die gemeente het eintlik nooit geleentheid gehad om rustig te bestaan en opgebou te word nie. Meer as enige ander gemeente moes hy voortdurend in die brandpunt van elke stryd staan wat volk en Kerk die afgelope driekwarteeu moes stry en was hy gedurig blootgestel aan die gevare wat die onstandvastigheid van 'n sneltoenemende kosmopolitiese gemeenskap meegebring het. Bewys hiervan is dat die kerkgebou wat in 1887 opgerig is, drie jaar later deur 'n groter een op Von Brandisplein vervang moes word." Van Brandisplein (hoek van Von Brandis- en Pritchardstraat) het aanvanklik, ná die bou van die eerste NG kerkie, Kerkplein geheet. Later (omstreeks 1997) sou die regering die tweede kerkgebou uitkoop en toe is die oop ruimte langs die kerk Goewermentsplein genoem. Later is dit herdoop tot Von Brandisplein, ter ere van Carl von Brandis, Johannesburg se eerste landdros. Boere en prospekteerders het op die orige gedeelte van die plein gekampeer en later was dit ook die tuiste van die stad se eerste sinagoge. Oorkant die NG kerkie was 'n ry winkels, waaronder 'n fietswinkel van die gebroeders Hunt, wat later Williams Hunt & Kie sou word. Die mynkamp se eerste skool is ook langs die kerk gebou. Tydens sy leeftyd is die kerkie vir verskeie doele gebruik, onder meer as 'n bakkery, lesingsaal, stemlokaal tydens verkiesings en die kantoor van die "Rand Aid Association". Johannesburgers het in opstand gekom toe die regering sy voorneme bekend maak om die geboue op die perseel te sloop en so plek te maak vir 'n hofgebou, maar die besware het op dowe ore geval en die slopery het in 1909 begin. Vandag staan die Suid-Gautengse Hooggeregshof op die plein waar die NG kerk in Johannesburg sy eerste tuiste gehad het.

Die tweede kerkie was middelpunt van die gemeente tot die afstigting van die gemeentes Johannesburg-Oos en Jeppestown op 8 Julie 1897, toe 'n noodkerk (weer van hout en sink) in Jorissenstraat, Braamfontein, opgerig is. Vanweë die Anglo-Boereoorlog is die oprigting van 'n meer permanente gebou (die vierde kerk) vertraag en kon die volgende (voorlaaste) kerkgebou eers op 13 April 1904 ingewy word. Ons gemeentelike feesalbum skryf in 1952: "Hierdie gebou sal vanweë bouvalligheid binnekort gesloop moet word sodat die gemeente in die kort tyd van sy geskiedenis hopelik teen 1953 vir die vyfde maal 'n kerk sal inwy. So is Johannesburg!" Met die sloping van die vierde kerkgebou in die jare vyftig het die sierlike gebou van die NG gemeente Jeppestown in Fairview die oudste NG kerkgebou in die stad geword.

Ds. Martins het die gemeente tot in 1920 bly bedien, toe hy sy emeritaat aanvaar het. Reeds teen 1952 het daar 25 gemeentes bestaan in die gebied wat vroeër die moedergemeente uitgemaak het. Teen 1973, op die hoogtepunt van die NG Kerk se bestaan in die Goudstad, het die oorspronklike gebied van die moedergemeente uit vyf ringe (Johannesburg, Langlaagte, Turffontein, Linden en Melville) bestaan en was daar 47 gemeentes. Teen 2010 het dié getal tot 21 gemeentes gekrimp met die inlywing of samesmelting van Langlaagte (1892), Fordsburg (1896), Johannesburg-Oos (1897), Jeppestown (1897), Turffontein (vroeër La Rochelle, 1906), Cottesloe (vroeër Vrededorp, 1927), Brixton (1939), Rosettenville (1938), Malvern (1940), Johannesburg-Noord (1942), Bezuidenhoutsvallei (1944), Johannesburg-Wes (1944), Parkhurst (ingelyf by Parksig, nou Parkkruin Familiekerk, 1944), Crosby-Wes (vroeër Hurst Hill, 1949), Suid-Rand (1950), Johannesburg-Suid (1950), Belgravia (1952), Mayfair (1953), Aucklandpark (1958), Noordoos-Rand (1959), Sterrewag (1964) en Andrew Murray (1966), die ontstaan uit samesmeltings van Deo Gloria, Parkkruin, Vergesig, Kensington en Johannesburg-Noord/Andrew Murray Congregation asook die ontstaan van die enigste nuwe gemeente, Weltevreden.

"Die mynkamp van 1886 het die grootste stad in Suid-Afrika geword, waar wriemelende menigtes elke dag mekaar verdring tussen hoë geboue en op oorvolle strate wat maar nie al die verkeer wil vat nie; maar hoog tussen die kransagtige blokke woonstelle en kantore steek die kerkgebou van Johannesburg nog uit, asof hy wil sê: Die mens – soos gras is hy, maar die Woord van God bly tot in ewigheid!"

Ds. en mev. Coetzee se verwelkoming