Outisme, ook bekend as outismespektrum of outismespektrumsteuring (OSS), is ’n neuro-ontwikkelingsteuring wat vroeg in die lewe begin. Dit word gewoonlik deur 'n paar eienskappe gekenmerk, onder meer beperkte sosiale interaksie; beperkte verbale en nieverbale kommunikasie; en herhalende en stereotiepe gedrag.

Outisme is 'n spektrumsteuring, wat beteken dit kom in elke mens op 'n ander manier tot uiting. Sommige individue praat nie, terwyl ander spraakvermoëns goed bemeester. Daarom is daar 'n groot verskeidenheid steunbehoeftes in die outismespektrum.

Die vyfde uitgawe van die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging se Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesteurings (DSM-5), wat in 2013 gepubliseer is, het die outismespektrum herdefinieer om die DSM-IV se diagnoses van outisme, Aspergersindroom, ontwykende-ontwikkelingsteuring, kinderdisintegrasiesteuring, hoogfunksionerende outisme en Rettsindroom in te sluit.

Daar is verskeie teorieë oor wat outisme veroorsaak; dit is hoogs oorerflik en hoofsaaklik geneties van aard. Baie gene is egter betrokke en omgewingsfaktore kan ook 'n rol speel. Die steuring kom dikwels saam met ander toestande voor, soos aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsteuring (AAHS), epilepsie en 'n intellektuele onvermoë.

Verskille bestaan steeds oor kwessies soos wat presies in die diagnose ingesluit moet word, of daar betekenisvolle subtipes is en die betekenis van outismeverwante eienskappe in die breë bevolking.

Die kombinasie van breër kriteria en 'n toenemende bewustheid het gelei tot 'n toename in die raming van die voorkoms van die steuring, en dit het wanopvattings veroorsaak soos dat OSS 'n epidemie is en die mite dat inenting dit kan veroorsaak. Outisme raak na raming 1% van kinders wêreldwyd.

Eienskappe Outisme is 'n hoogs veelvormige neuro-ontwikkelingsteuring waarvan die simptome tydens die baba- of kinderjare die eerste keer verskyn en gewoonlik 'n bestendige beloop neem sonder remissie. Outistiese mense kan op sekere gebiede kwaai belemmer word, maar op ander gemiddeld of selfs bogemiddeld vaar. Sigbare simptome begin gewoonlik ná die ouderdom van ses maande en neig om deur die volwasse lewe voort te duur, hoewel dikwels in 'n minder ernstige vorm.

Outisme word deur 'n kenmerkende drietal simptome gekenmerk: belemmering in sosiale interaksie, belemmering in kommunikasie en herhalende gedrag. Ander aspekte soos 'n afwyking in eetgedrag is ook algemeen, maar nie noodsaaklik vir diagnose nie.

Sosiale ontwikkeling thumb|200px|links|’n Seun speel deur blikkies opmekaar te pak. As hy dit oor en oor doen, kan dit ’n aanduiding van outisme wees.

Sosiale tekortkominge onderskei outisme en die verwante toestande in die outismespektrum van ander ontwikkelingsteurings. Outistiese mense het sosiale belemmerings en ontbreek dikwels die intuïsie oor ander wat baie mense as vanselfsprekend aanvaar. Die bekende outistiese persoon Temple Grandin het haar onvermoë om die sosiale kommunikasie van neurotipiese mense (mense met tipiese neurale ontwikkeling) te verstaan, beskryf as dat dit haar laat voel "soos 'n antropoloog op Mars".

Ongewone sosiale gedrag raak vroeg in die kinderjare opvallend. Outistiese kinders skenk minder aandag aan sosiale stimulusse, glimlag minder en kyk minder na ander, en reageer minder as hulle by die naam genoem word. Outistiese kleuters verskil die meeste van sosiale norme: Hulle het minder oogkontak, neem minder spraakbeurte in besprekings en het nie die vermoë om eenvoudige bewegings te gebruik om hulleself uit te druk, soos om na iets te wys, nie.

Outistiese kinders van tussen drie en vyf jaar sal minder waarskynlik tekens van sosiale begrip toon, ander spontaan nader en op emosies reageer, nieverbaal kommunikeer en beurte met ander maak. Hulle vorm egter 'n band met hulle primêre versorger.

Ouer kinders en volwassenes met OSS vaar slegter in toetse in gesigs- en emosie-erkenning, hoewel dit deels kan wees weens 'n kleiner vermoë om 'n mens se eie emosies te definieer.

Kinders met hoogfunksionerende outisme beleef eensaamheid intenser en gereelder as ander mense, ondanks die mening dat outistiese kinders verkies om alleen te wees. Om vriendskappe aan te knoop en te behou is moeilik vir outistiese mense. Die gehalte van vriendskappe, en nie die getal vriende nie, bepaal hoe eensaam hulle is.

Daar is baie verslae, maar min stelselmatige studies, oor aggressie en geweld in individue met ASS. Volgens die beperkte data word outisme by kinders met verstandelike beperkings verbind met aggressie, die vernietiging van eiendom en instortings (meltdowns).

Kommunikasie Sowat 'n derde tot die helfte van outistiese mense ontwikkel nie natuurlike spraak genoegsaam om in hulle daaglikse kommunikasiebehoeftes te voorsien nie.

Verskille in kommunikasie kan van die eerste lewensjaar al teenwoordig wees, en kan insluit 'n vertraging in die gebruik van babataal, ongewone gebare, 'n kleiner geneigdheid om te reageer en stempatrone wat nie met die versorger s'n gesinchroniseer is nie. In die tweede en derde lewensjaar het outistiese kinders minder gereelde en minder uiteenlopende babataal, woorde, konsonante en woordkombinasies; hulle gebare stem minder dikwels ooreen met hulle woorde.

Outistiese kinders is minder geneig om versoeke te rig of van hulle ondervindings te vertel, en meer geneig om bloot ander se woorde te herhaal of voornaamwoorde om te ruil. Herdruk in Gedeelde aandag blyk nodig te wees vir funksionele spraak, en belemmerings in gedeelde aandag onderskei blykbaar kinders met OSS van ander. Hulle sal byvoorbeeld na 'n hand kyk wat na iets wys in plaas van na die voorwerp waarna gewys word, en hulle wys feitlik nooit self na voorwerpe om kommentaar te lewer of 'n ondervinding te deel nie. Dit kan vir outistiese kinders moeilik wees om op verbeeldingstogte te gaan wanneer hulle speel en om simbole in taal om te skakel.

In twee studies het hoogfunksionerende outistiese kinders tussen 8 en 15 jaar oud net so goed, en as volwassenes beter, as mense in kontrolegroepe gevaar in basiese taaltake wat woordeskat en spelling getoets het. Albei outistiese groepe het slegter as die kontrolegroepe gevaar in komplekse taaltake wat verband hou met figuurliketaal-, begrips- en gevolgtrekkingstoetse. Omdat mense dikwels aanvanklik getakseer word op hulle basiese taalvermoëns, dui dié studies daarop dat mense wat met outistiese mense praat, meer as andersins geneig is om te oorskat wat hulle gehoor verstaan.

Herhalende gedrag thumb|260px|'n Jong seun met outisme het al sy speelgoed in 'n ry gepak.

Outistiese individuele kan baie vorme van herhalende gedrag openbaar, wat die Repetitive Behavior Scale-Revised (RBS-R) soos volg kategoriseer:

Stereotiepe gedrag: Herhalende bewegings soos van die hand, die rol van die kop of die wieg van die liggaam. Kompulsiewe gedrag: Tydrowende gedrag wat daarop gemik is om die angs te verminder wat 'n individu ervaar wanneer hy gedwing word om herhaaldelike aksies uit te voer of volgens streng reëls op te tree, soos om voorwerpe in 'n spesifieke volgorde te plaas of hande te was. Eendersheid: Weerstand teen veranderings, soos om daarop aan te dring dat meubels nie geskuif word nie of weiering om onderbreek te word. Rituele gedrag: Onveranderlike patroon van daaglikse handelings, soos dieselfde spyskaart of aantrekritueel. Dit word nou verbind met eendersheid, en 'n onafhanklike studie het voorgestel dat die twee faktore gekombineer word. Beperkte belangstellings: Belangstelling of fiksasies wat abnormaal is wat tema of intensiteit van fokus betref, soos 'n preokkupasie met 'n enkele televisieprogram, speelding of speletjie. Selfbesering: Gedrag van 'n persoon soos om homself in die oog te steek, sy eie vel te knyp, hand te byt en kop te stamp.

Dit lyk nie of enige spesifieke herhalende of selfbeserende gedrag tipies van outisme is nie, maar dit lyk of outisme lei tot 'n gereelder voorkoms en erger graad van dié soort gedrag.

Ander simptome Outistiese individue kan simptome hê wat nie oor die algemeen gediagnoseer word nie, maar wat hom of sy gesin kan raak. 'n Geraamde 0,5% tot 10% van individue met OSS het ongewone vermoëns; dit wissel van besonderse vaardighede, soos die memorisering van onbenullighede, tot die buitengewoon seldsame talente van briljante outistiese savants.

Baie individue met OSS toon besonderse vermoëns in waarneming en aandag, relatief tot die algemene publiek. Sintuiglike abnormaliteite word aangetref in meer as 90% van outistiese mense en word deur sommige beskou as kerneienskappe, hoewel daar geen goeie bewyse is dat sintuiglike simptome outisme van ander ontwikkelingsteurings onderskei nie.

Daar is groter verskille wat betref onderreaksies (soos om in goed vas te loop) as oorreaksies (soos stres oor harde geluide) of die soek van sensasie (soos ritmiese bewegings). 'n Geraamde 60-80% van outistiese mense het motoriese aanduidings, wat insluit swak spiertonus, swak motoriese beplanning en om op die tone te loop; belemmerings in motoriese koördinasie kom algemeen voor by alle vorme van OSS en meer dikwels by ware outisme.

Ongewone eetpatrone kom voor by sowat driekwart van kinders met ASS, in so 'n mate dat dit voorheen 'n diagnostiese aanduider was. Selektiwiteit is die algemeenste probleem, hoewel eetrituele en weiering om te eet ook voorkom.

Daar is tentatiewe bewyse dat genderdisforie meer dikwels by outistiese mense voorkom.

Probleme van die spysverteringstelsel is een van die algemeenste verwante mediese steurings by outistiese mense. Dit word verbind met groter sosiale belemmerings, irriteerbaarheid, gedrags- en slaapprobleme, taalbelemmerings en buiwisselings.

Die ouers van kinders met OSS ervaar hoër stresvlakke. Sibbes van kinders met OSS sê hulle het 'n groter bewondering vir en minder konflik met dié kinders as die sibbes van onaangetaste kinders; dit stem ooreen met die mening van sibbes van kinders met Downsindroom. Hulle dink egter hulle het laer vlakke van nabyheid en intimiteit as die sibbes van kinders met Downsindroom. As volwassenes het die sibbes van mense met OSS 'n groter risiko van negatiewe welsyn en swakker verhoudings met hulle sibbes.

Moontlike oorsake Dit is steeds onbekend presies wat outisme veroorsaak. Daar is lank veronderstel dat die drie belangrikste simptome 'n gemeenskaplike oorsaak op die genetiese, kognitiewe en neurale vlak het. Die vermoede raak egter al hoe sterker dat outisme eerder 'n komplekse steuring is waarvan die belangrikste aspekte verskillende oorsake het wat dikwels saam voorkom.

thumb|250px|Uitwissing (1), duplisering (2) en omkering (3) is alles chromosoomafwykings wat dalk 'n rol in outisme speel. Outisme het 'n sterk genetiese basis, hoewel die genetika van outisme ingewikkeld is. Dit is ook onduidelik of OSS beter verduidelik kan word aan die hand van seldsame mutasies met ernstige gevolge, of van seldsame multigeenwisselwerkings van algemene genetiese variante. Kompleksiteite ontstaan vanweë interaksies tussen verskeie gene, die omgewing en epigenetiese faktore wat nie DNS-volgorde verander nie, maar oorerflik is en geenuitdrukking beïnvloed. Baie gene is al met outisme verbind deur die volgordebepaling van die genome van outistiese mense en hulle ouers.

Studies met tweelinge dui daarop dat oorerflikheid 0,7 vir outisme en so hoog as 0,9 vir OSS is, en sibbes van outistiese kinders se kans om ook outisties te wees is 25 keer so hoog as dié van die algemene publiek. Die meeste van die mutasies wat die risiko op outisme verhoog, is egter nog nie geïdentifiseer nie. Outisme kan gewoonlik nie teruggespoor word na 'n enkelgeenmutasie of 'n enkele chromosoomafwyking nie, en daar is nie bewyse dat enige van die genetiese sindrome wat met OSS verbind word, op sy eie OSS veroorsaak nie. Verskeie kandidaatgene is al gevind, met net 'n klein invloed wat aan 'n besondere geen toegeskryf kan word.