duimnael|regs|240px|Die Veenemans-gesin: Bennie, Barbara, Bernard, Olga en Leonore. duimnael|regs|240px|Leonore het kleintyd al talle trofeë op eisteddfods, kunswedstryde en in kompetisies gewen. duimnael|regs|240px|Leonore was nie net om haar stem bekend nie, maar ook om haar skoonheid en aangename persoonlikheid. Hier is sy met vakansie op Margate in 1957.

Leonore Mona Veenemans (getroude van Brewis) (Witbank 16 Februarie 1935 – naby Prins Albert 17 Februarie 1973) was 'n Suid-Afrikaanse sopraan wat opera- sowel as ligte musiek gesing het. Sy word waarskynlik die beste onthou vir haar vertolking van 'n Russiese volksliedjie wat in Afrikaans "Liefste Madelein" geword het. Hoewel sy slegs enkele langspelers tydens haar kort loopbaan in ligte musiek uitgereik het, is heelwat snitte van dié plate in later jare op versamelalbums ingesluit, ook nadat CD's langspeelplate vroeg in die jare 90 vervang het.

Lewensloop Reeds tydens haar tienerjare het sy welslae op plaaslike eisteddfods behaal. Haar sangafrigter was die Walliese sopraan Gwladys Jones Webber. Tydens haar studie aan die Onderwyskollege in Pretoria het sy haar sangafrigting tydelik gestaak, maar dit in 1951 in Johannesburg onder Stella Cavalli hervat. Eva Harvey het aangebied om verdere studie te finansier toe Veenemans in enkele verhoogproduksies opgetree het en bekend geraak het danksy radio-uitsendings.

In 1961 vertrek sy na Wenen, die hoofstad van Oostenryk, waar sy ses maande lank studeer. Met haar terugkeer na Suid-Afrika word sy gekies om Adele in Die Fledermaus van Johan Strauss II te sing tydens 'n opvoedkundige toer van die Suid-Afrikaanse Operavereniging (OPSA). Met die opening van Johannesburg se Stadskouburg in 1962 kry sy die rol van Hänsel in Engelbert Humperdinck se opera oor Hansie en Grietjie.

Drie jaar later besluit sy om haar voltyds op haar sangloopbaan toe te spits en sing sy in verskeie opvoerings van die destydse streeksrade, in musiekrolprente en neem sy ook talle plate met gewilde nommers op, waarvan "Liefste Madelein", 'n vertaling gegrond op 'n Russiese volkswysie, die bekendste is. Vir haar operarolle is sy dikwels afgerig deur Jossie Boshoff en Joyce Barker. In 1969 bring sy besoek aan Milaan vir verdere opleiding.

Sy sterf in 1973 in 'n motorongeluk op die nasionale pad naby Prins Albert. Ondanks die raad van vriende en kollegas het sy op die aand van haar dood besluit om Johannesburg toe te ry ná 'n uitvoering in die Nico Malan-operahuis in Kaapstad.

Haar suster, Barbara Veenemans is een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde opera soprane wat vir al die streeksrade hoofrolle in Suid-Afrika gesing het. Barbara se sangloopbaan het oor 45 jaar gestrek. Leonore se broer, Bennie Veenemans (as seunsopraan), het ook gesing en opnames gemaak. Bennie word beskou as een van die beste seunsoprane wat Suid-Afrika tot dusver opgelewer het. Hy het tallose kunswedstryde gewen en in talle konserte met die beste sangers van sy dag, soos Emma Renzi en Webster Booth, opgetree. Hy het hom later as dokter bekwaam en op Hazyview in Mpumalanga 'n praktyk gehad.

Operarolle Die Fledermaus, 1961 Net ná haar terugkeer uit Wene, is Leonore gevra om op te tree vir die Opera Society of South Africa (Opsa) se opvoedkundige toer in haar eerste groot rol, dié van Adéle in Johan Strauss se operette Die Fledermaus. Joubero Malherbe vertel: "Hier is sy deur die Suid-Afrikaanse publiek op die hande gedra en elke opera en operette waarin sy daarna gesing het, was 'n groot sukses vir haar. Gedurende hierdie tyd ontvang sy onderskeidelik sangonderrig in Suid-Afrika van Xander Haagen en Joyce Barker." Hänsel und Gretel, 1962 Met die opening van die Johannesburgse Stadskouburg in 1962 is Leonore genader om haar eerste operarol, dié van Hänsel in Humperdinck se opera Hänsel und Gretel, in die Stadskouburg te sing. In hierdie produksie het sy onder andere saam met Jossie Boshoff en Doris Brasch opgetree. Die Huwelik van Figaro, 1963 Sy sing saam met onder meer Gert Potgieter, Dawie Couzyn, Nellie du Toit en Jossie Boshoff in die Truk-produksie met Anton Hartman as dirigent. Dis haar eerste hoofrol vir die destyds Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste toe sy die rol van Cherobino vertolk in die opvoering in Afrikaans. Daar was altesaam 13 opvoerings en dis beskou as 'n meer tradisionele produksie. Die speelvak was baie gewild en omtrent elke aand uitverkoop en het sowat R19 000,00 by die loket verdien.

PAK in die Pretoria News op 17 Mei 1963 het die volgende onder die opskrif "No champagne at the wedding" geskryf: "Dawie Couzyn, who displays a lively feeling for comedy in his role as Figaro, and in partnership with Leonore Veenemans as the pageboy Cherobino, came closest to realising Mozart's intension in this light-hearted opera. (In) a somewhat self-conscious demonstration of enthusiasm, a group of students pelted Pretoria soprano Nellie du Toit with flowers at the end of last night's performance of 'Die Huwelik van Figaro' (The Marriage of Figaro) at the Aula. This was our introduction to PACT's Opera Company and the individual performances were often admirable, the Josef Witt production was rather over-large for Mozart's intimate work; the whole lacked pace and, the emphasis on solidity and weight, it seldom had elegance … Without Dawie Couzyn's Figaro and Leonore Veenemans's Cherobino, the rather protracted performance would have been sadly lacking in any spirit of animation, though Nellie du Toit, as the Countess, was not in good voice but showed a nice humour of these complicated situations … Leonore Veenemans was a delightful Cherobino, dominating the stage with a lively boyishness from the first entrance . . ."

Die Fledermaus, 1966 Sy vertolk die rol van Rosalinda in Johan Strauss se komiese operette vir Truk tydens plattelandse toere deur Suid-Afrika. Sy toer onder andere saam met Dawie Couzyn, Nicolai Cencherle, Xander Haagen, en Ralie Meyer.

Die Sigeunerbaron, 1966 Op 11 Junie 1966 maak Leonore haar debuut in die Alhambra-teater in Durban vir Naruk in die rol van Saffi in Johann Strauss se Sigeunerbaron. As Saffi en Sandor was Leonore en Gé Korsten die ideale sangpaar. Hermien Dommisse het die regie behartig en Charles Denholm was die dirigent.

In die Natal Mercury van 27 Mei 1966 onder die opskrif "Exciting soprano" word die volgende oor Leonore geskryf: "She is South Africa's most exciting lyric soprano and I predict a brilliant future for her. This is how Miss Hermien Domisse, guest director of NAPAC's forthcoming 'Gipsy Baron', describes Leonore Veenemans, the young Benoni singer who will play the role of Saffi". Pieter Serfontein skryf in Die Transvaler op 16 Junie 1966: "NARUK kan met reg trots wees op hierdie opvoering … dit is beslis die beste wat nog in Durban op die planke was! Hierdie eer kom Hermien Dommisse (regisseuse) toe en natuurlik die opperbestuur wat haar gekies het om die Sigeunerbaron af te rig … Van die soliste was dit Leonore Veenemans (Saffi) en Gé Korsten wat 'n groot indruk gemaak het. Mej. Veenemans se Saffi is 'n natuurlike jong meisie, vol grasie en opregtheid. As dit later aan die lig kom dat sy van adellike afkoms is, kan 'n mens begryp waarom die Sigeunervurigheid ontbreek. Haar sangstem het die afgelope jaar sedert ons haar hier in Die Huwelik van Figaro gehoor het, tonne verbeter. Daar is nou 'n dramatiese kwaliteit wat sy tegnies ten volle benut. Die bekende Sigeunerlied het sy byvoorbeeld uitstekend gesing. 'n Sangeres wat ons hier (soos Hermien Dommisse) baie meer van behoort te hoor. Haar warme persoonlikheid behoort te pas by vele operarolle … 'n Groot applous vir die twee sangers wat ondanks 'n ongedissiplineerde (en uiters swaar) orkes, sang van hoë gehalte gelewer het..."

Cosi fan tute, 1966 Gedurende 1966 is Leonore op toer vir Truk en sing die hoofrol van Fiordiligi in dié Mozart-opera

The Bartered Bride, 1966 Op 14, 17, 20, 22 Desember sing Leonore vir Truk die rol van Mařenka in Bedřich Smetena se opera "The Bartered Bride" wat sy met Nellie du Toit deel. Die opera word in Engels opgevoer. Dit was een van twee operas waarin die Veenemans-susters saam opgetree het; Barbara het die rol van Hata vertolk. Die opera is in die Aula in Pretoria sowel as in die Johannesburgse Stadskouburg opgevoer. Krušina is gesing deur Jaco van der Merwe, Ludmilla deur Stella Beder en Micha deur Wicus Slabbert. Gert Potgieter het Vašek vertolk en Gé Korsten was Jenik. Ander bekendes was Webster Booth as die Ringmeester en Margaretha Deysel as Esmeralda. Dirigent: Leo Quayle. Regisseur: Victor Melleney.

Pieter Serfontein van Die Transvaler skryf op 20 Desember 1966 die volgende resensie onder die opskrif "Jong kunstenaars beïndruk in opera en ballet": "Saterdag het drie jong kunstenaars die geleentheid gehad om hoofrolle te vertolk in TRUK se huidige opera- en balletopvoerings. In die aandopvoering het Leonore Veenemans die Mařenka-rol in Die Verkoopte Bruid gesing. SOPRAAN: Ons het Leonore Veenemans ongeveer vier jaar gelede hier in 'n opera-opvoering gesien. Dit is jammer. Indien hierdie voortreflike sopraan meer dikwels gebruik was in die verlede sou sy vandag beslis gereken kon word as een van ons voorste operasangeresse. Die sangstem is daar, die gawe tot toneelspeel ook … Leonore Veenemans se Marenka is 'n vrolike opgewekte dorpsmeisie wat groot patos toon sodra sy uitvind dat haar geliefde "ontrou" is. Haar voorstelling van die rol is geloofwaardig. In Saterdagaand se opvoering was sy die enigste wat oortuig het as 'n karakter. 'n Mens kon in Marenka glo, jy het saam met haar droefheid en vrolikheid meegemaak. Maar nommer een is die sopraan se uitstekende tegniek. Wat die opvallendste is, is dat mej Veenemans emosie met haar sangstem kan weergee. Dink hier bv aan haar lewering van Marenka se groot aria in die derde bedryf. Dit was vol patos, eensaamheid, nostalgie, en met haar tegniese suiwerheid het Leonore Veenemans die aria 'n hoogtepunt in hierdie opvoering gemaak. Geen wonder die gehoor was luidrugtig in sy applous nadat hierdie eerlike sangeres die skone aria gesing het nie. 'n Mens kan net hoop dat TRUK in die toekoms baie meer van Leonore Veenemans sal gebruik maak. Daar is talle rolle wat sy met groot sukses sal kan sing. Dink maar aan die talle romantiese operas waarin sy 'n ware heldin kan wees. Sy verdien erkenning, want Saterdagaand het sy 'gearriveer' as operasopraan."

The Bartered Bride, 1967 In Mei 1967 herhaal Truk sy produksie van "The Bartered Bride" met in die rolverdeling Jaco van der Merwe, Stella Beder, Leonore Veenemans, Barbara Veenemans, Gert Potgieter, Lloyd Strauss-Smith, Øystein Liltved, Webster Booth, Margaretha Deysel, John Llewellyn. Diriget: Leo Quayle. Die regisseur was Victor Melleney.

In 'n resensie (koerant en datum onbekend) skryf PRB onder die opskrif "Potgieter skitter in komiese rol": "Die heropvoering van die volksopera deur Truk was 'n goeie gedagte, veral met die oog op die feit dat die tragiese opera, Macbeth van vanaand om die beurt aangebied word. Leo Quayle het die orkes met 'n vaste hand gedirigeer, maar tog die lewenslustige kwaliteit wat die opera verlang, behou. Met die openingsakkoord van die ouverture was dit duidelik dat die orkes in goeie hande is. Die regte atmosfeer is geskep deur Bill Smuts se effektiewe dekor en hoewel daar geen dekorverwisseling dwarsdeur die opera is nie, word die toeskouer nooit moeg daarvoor nie. TRUK se balletgeselskap het ook daarvoor gesorg dat die opera 'n dansende opera gebly het, veral die Dans van die Komediante was 'n juweel (die oorspronklike choreografie is gedoen deur Frank Staff en Nina Alova was verantwoordelik vir die herproduksie).