duimnael|200px|'n Swanger vrou

Swangerskap vind plaas wanneer 'n vrou 'n bevrugte eier in haar baarmoeder dra. Na geslagsgemeenskap word 'n eiersel deur 'n spermsel bevrug en die eier ontwikkel tydens die swangerskap tot 'n embrio en dan 'n fetus, om as baba gebore te word. 'n Vrou se swangerskap duur ongeveer 40 weke, gemeet vanaf die eerste dag van haar laaste menstruasiesiklus. Die term "swangerskap" is slegs op mense van toepassing, ander vroulike soogdiere is "dragtig".

As gevolg van die ontwikkeling van 'n nuwe lewe in haar baarmoeder, ondergaan 'n vrou se liggaam 'n aantal veranderinge, die eerste hiervan is die afwesigheid van haar maandstonde, wat dikwels vir baie vroue die eerste teken is dat hulle swanger kan wees. Ander simptome in die eerste paar maande is (oggend)naarheid, sensitiewe/opgeswelde borste, moegheid, toenemende besoeke aan die toilet en krampe of bloeding wat nie aan die menstruasiesiklus verwant is nie.

Alhoewel elke swangerskap 'n unieke verloop volg, word daar tog 'n algemene tydsverloop gebruik om die groei van die ongebore baba te beskryf, vanaf die vrystelling van die eiersel (week 1) tot geboorte (week 40).

Bevrugting 200px|duimnael|links|Voortplantingstelsel in die vrou: 1. Nier 2. Nierbekken 3. Ureter (urienleier) 4. Fallopiusbuis (eierleier) 5. Ovarium (eierstok) 6. Baarmoeder 7. Blaas 8. Serviks (baarmoedernek) 9. Vagina

Vrouens kry reeds terwyl hulle self nog in hulle moeders se baarmoeder is al die eierselle wat hulle in hul leeftyd sal gebruik. Met haar eerste maandstonde het 'n meisie ongeveer 300 000 eierselle, waarvan daar (tot haar menopouse) elke maand een ryp sal word en afgestoot word, in 'n proses genaamd "ovulasie".

Wanneer 'n vrou ovuleer, gewoonlik in die middel van haar menstruasiesiklus, word 'n eiersel van een van die vrou se twee eierstokke ryp en van die eierstok afgestoot en word die sel dan deur die eierleiers (sien beeld links) oor 'n tydperk van 3 tot 4 dae na die vrou se baarmoeder vervoer. 'n Gemiddelde eiersel lewe egter ongeveer 24 uur, dus moet bevrugting reeds in die eierleiers plaasvind, vóór die eiersel die baarmoeder bereik. Oor die algemeen word slegs een eiersel ryp, maar in sommige gevalle word twee (of selfs meer) ryp en, indien beide bevrug word na geslagsgemeenskap, kan dit tot 'n gewone (nie-identiese) tweeling lei.

Tydens ovulasie word die slym in die baarmoeder dikker en neem dit meer bloed op, vir ingeval 'n bevrugte eiersel daaraan geheg moet word. Indien geen bevrugting plaasvind nie, moet die baarmoeder die onnodige bloed en slym afskei, wat tot 'n vrou se maandstonde lei.

Ná ovulasie is daar 'n tydsduur van slegs 'n paar uur waartydens die eiersel bevrug kan word deur 'n saadsel. Indien 'n man tydens geslagsgemeenskap ejakuleer, stort hy miljoene spermselle in die vrou se vagina, wat dan opwaarts reis en probeer om die eiersel in die eierleier te bevrug, deur daarmee te versmelt. Hierdie reis duur tussen 12 en 24 uur, alhoewel daar aantekeninge is van spermselle wat die eiersel reeds na slegs een uur bereik het. Spermselle lewe baie langer as eierselle, van 3 tot 7 dae, dus is die beste kans op bevrugting wanneer die spermselle reeds die eierleiers bereik het wanneer die eiersel afgestoot word.

duimnael|250px|'n Spermsel probeer 'n eiersel binnedring duimnael|250px|Selverdeling van 'n bevrugte eiersel, met d en e as morulas. Voor 'n spermsel die eiersel bereik moet hy eers deur die vrou se baarmoeder reis; 'n gebied wat oor die algemeen nadelig is vir die spermsel en waar die meeste sterf. Tydens voorbereiding vir ovulasie verander die omgewing in 'n baarmoeder, wat dan vir 'n tyd meer spermselle laat oorleef om verder te reis, alhoewel die swakste en meeste van hulle steeds hier sal vrek. Die sterkste spermselle bereik die eiersel en swerm dan in 'n sirkel om dit en probeer om daarmee te versmelt, deur deur die buitenste wand van die sel deur te dring. Dit is egter nie maklik om deur hierdie wand te dring nie; die eiersel bevat 'n beskermende laag wat die spermselle slegs kan oplos deur ensieme te produseer. Sodra 'n spermsel die beskermende laag bo 'n deeltjie van die wand voldoende opgelos het, kan hy tot die eiersel deurdring. Slegs een spermsel kan 'n eiersel binnedring; sodra hy daarin geslaag het, sluit die eiersel die beskermende laag en kan geen ander spermselle meer daarin slaag om dit binne te dring nie. Die suksesvolle spermsel verloor sy stert en sy kopdeel (of kern) beweeg tot by die eiersel se kern waar die twee verder saamsmelt en lei tot die eerste deling van die eiersel.

Die spermsel en eiersel bevat elkeen 23 chromosome in hul kern. Die samesmelting van die twee kerns bring die totaal chromosome tot 46, die normale aantal chromosome vir 'n mens, en word 'n "sigoot" genoem. Die uiteindelike baba se geslag, alle uiterlike kenmerke en 'n groot deel van sy karakter is nou reeds vasgestel. Moontlike chromosoomafwykings word ook nou bepaal. Terwyl daar tydens die versmelting van die twee kerns iets fout gaan, kan dit ook lei tot aangebore gebreke.

Die bevrugte eiersel beweeg nou tydens 'n aantal dae na die baarmoeder. Op pad daarheen verdeel dit in selle. Die verdeelde selle word 'n "morula" genoem en lyk op 'n mikroskopiese moerbei. Indien die sigoot verdeel om twee (of meer) aparte embrios te vorm, is daar sprake van 'n identiese tweeling; dit gebeur gewoonlik binne die eerste agt dae ná bevrugting. Die morula word mettertyd 'n blastosiet wat aan die slymvlies van die baarmoeder vasheg. Hierdie vashegting vind normaalweg tussen 6 en 12 dae na bevrugting plaas en gaan soms gepaard met klein bietjie bloedverlies, wat op die begin van 'n (vroeë) maandstonde kan lyk. Met die vashegting van die blastosiet is 'n vrou amptelik swanger en begin die sel sy embrionale fase.

Indien 'n vrou 'n swangerskap beplan, is dit belangrik dat sy reeds vóór bevrugting ophou met rook, alkohol drink en dwelmmiddels gebruik. In die geval van 'n onbeplande swangerskap is dit belangrik om daarmee op te hou sodra dit bekend word. Ook word dit aangeraai om reeds voor bevrugting foliensuur in te neem, wat die risiko van 'n oop ruggie (spina bifida) en waterkoppie (hidrokefalus) drasties verlaag.

Eerste trimester: week 1 – 13

Omdat swangerskap bereken word vanaf die eerste dag van die laaste maandstonde kan dit soms verwarrend wees om te weet hoe oud 'n embrio is. 'n Vrou wat byvoorbeeld ses weke swanger is se embrio is ongeveer vier weke oud. Die presiese ouderdom kan eers met die eerste sonar, wat gewoonlik tussen 8 en 12 weke plaasvind, bereken word. Oor die algemeen hou die embrionale fase tot die tiende week aan, waarna daar na die embrio as 'n "fetus" verwys word.

duimnael|250px|Die aanwesigheid van MCG in 'n vrou se urine veroorsaak 'n positiewe uitslag in 'n swangerskapstoets. Kort na bevrugting het die embrio begin om menslike chorioniese gonadotropien (MCG) te produseer. Ongebruikte MCG verlaat die vrou se liggaam in haar urine en is dan ook die hormoon waarvoor getoets word tydens 'n swangerskapstoets. Die doel van die MCG is om die geelliggaam, of corpus luteum, te onderhou, wat weer op sy beurt progesteroon produseer, 'n hormoon wat belangrik is vir die ontwikkeling van die embrio. Die hoeveelheid MCG wat afgeskei word, word soms ook gekoppel aan hoe naar 'n swanger vrou voel en 'n hoë hoeveelheid MCG kan op 'n meerling dui, alhoewel dit geensins altyd die geval is nie. Die hormoon kan ook gebruik word om sekere gevalle van onvrugbaarheid te behandel.

Naarheid is een van die hoofsimptome tydens die eerste semester. Alhoewel daar soms daarna as "oggendnaarheid" verwys word, is daar baie vroue wat juis op ander tye, of selfs die hele dag naar is. Sommige vroue voel mislik sonder dat hulle opgooi, terwyl ander weer aanhoudend opgooi en nie mislik voel nie. In laasgenoemde se geval is daar 'n gevaar dat die vrou (en embrio) kan dehidreer en dat hulle nie die nodige voedingstowwe inkry nie (omdat dit die liggaam telkens weer verlaat). Ook is die maagsure wat in braaksel aanwesig is sleg vir die aanstaande moeder se tande. Indien daar sprake van uitermatige braking is, is dit raadsaam om 'n huisdokter te kontak. Vir ander vroue is daar 'n aantal nie-medisinale hulpmiddels beskikbaar, van meerdere, klein maaltye deur die dag tot gemmerkapsules of gemmertee tydens hoofmaaltye. Aanstaande moeders wat maklik naar word leer ook gou om té geurige en sterk kos te vermy, asook 'n verskeidenheid ander geure (verskil van vrou tot vrou).

Ander simptome in die eerste trimester is sensitiewe, opgeswelde borste, moegheid, verhoogde reuksintuig, rugpyn, hoofpyn, afkeur in sommige kossoorte en voorliefde vir ander asook reëlmatige urinering. Dit is onwaarskynlik dat 'n vrou ál hierdie simptome sal ervaar.

duimnael|links|250px|'n Embrio van 5 weke (7de week van swangerskap). Hierdie embrio is 10 mm groot en die arm- en beenstompies is sigbaar, asook die stert (wat later sal verdwyn), hart (wat uit die borskas uitsteek), oë-holtes, kornea, ooglens en brein. Na die bevrugte eiersel aan die baarmoeder vasgeheg het, begin die embrio in die baarmoeder se slymvlies ontwikkel. Die vrugvlies, met die chorionvlies aan die buitekant en die amnionvlies aan die binnekant, vorm 'n ballonvormige ruimte waarin die embrio kan rondbeweeg. Die embrio ontwikkel teen 'n vinnige spoed: die brein begin ontwikkel, asook die ruggraat, hart en spysverteringskanaal. Die hart begin reeds 10 dae na vashegting klop.

In die vierde en vyfde week van swangerskap word die stompies wat uiteindelik die arms en bene word sigbaar, alhoewel hulle nog nie maklik onderskei kan word nie. Die hart klop teen 'n vaste tempo en die plasenta het begin vorm. Die eerste bloed beweeg deur die hoof-are en vroeë strukture, wat uiteindelike die oë en ore sal word, begin vorm. Aan die einde van die vyfde swangerskapsweek is die embrio ongeveer 6 mm groot.

In die sesde swangerskapsweek begin die vorming van die longe, kaak, neus en verhemelte. Arms en bene is nou duideliker, met 'n gewebde struktuur aan die einde wat uiteindelik die vingers en tone sal word. 'n Week later het die vorming van al die belangrike organe reeds begin, waaronder ook die lewer, niere en pankreas. Die stel niere wat nou ontwikkel is eintlik al die tweede stel: tydens swangerskap gebruik die embrio en fetus drie stelle niere (die laaste stel is die permanente stel). Ook die haar- en nippelfollikels ontwikkel nou. In week 7 begin die ooglede en tong ook vorm, asook die bene van sy ledemate en die elmboë en tone word steeds duideliker.

Tydens die agtste week van swangerskap begin die naelstring funksioneer en die gesig word meer herkenbaar as dié van 'n mens. Nog bene vorm en verhard en spiere begin saamtrek. Die embrio is nou byna aan die einde van sy embrionale fase en is ongeveer 2,5 cm groot. Die eerste sonar word gewoonlik tussen 8 en 12 weke gemaak.

duimnael|250px|'n Fetus tydens die 10de week (8 weke oud) In week 9 is die embrio se belangrikste liggaamsdele volledig en begin hy uiters vinnig groei: van week 9 tot 13 groei die fetus tot ongeveer 7 cm – hy is dan byna drie keer so groot as in week 8. In week 9 verdwyn die fetus se stert en sy ooglede sluit om eers weer tydens die 28ste week van swangerskap oop te gaan. Die manlike of vroulike geslagsdele is ook duidelik gevorm aan die einde van hierdie tyd, maar steeds te klein om met die sonar te sien.