Die nasionale vlag van Botswana is op 30 September 1966, toe die land sy onafhanklikheid verkry het, amptelik in gebruik geneem en het die Union Jack vervang. Die vlag vertoon ’n horisontale tweekleur in bane van blou, swart en blou met wit fraiings langs die swart baan. Dit is een van min vlae van Afrikalande wat nóg die Pan-Afrika kleure nóg die kleure van die leidende party gebruik. Die bane aan die wapperkant het ’n amptelike verhouding van 9:1:4:1:9.
Simboliek duimnael|links|’n Wapperende vlag van Botswana Die kleure van die vlag het kulturele, politieke en streeksbetekenisse. Die ligblou verteenwoordig water — veral in sy vorm van reën, aangesien dit ’n kosbare bron is in Botswana, wat op landbou staatmaak, en weens die droë en dorre klimaat van die Kalahariwoestyn onder reëlmatige droogtes gebuk gaan. Die blou verwys ook na die leuse op die wapen van Botswana — Pula, wat in Tswana “Laat daar reën wees” beteken — sowel as die lewe wat deur water onderhou word.
Die swart band met die wit fraiing het twee betekenisse. Eerstens simboliseer dit die harmonie en samewerking tussen die mense van verskillende rasse wat in Botswana bly, asook die rassediversiteit in die land. Verder verteenwoordig dit die strepe van die sebra, die nasionale dier van Botswana wat die nasionale wapenskild ondersteun.
Ontwerp 350px|centre|Konstruksietekening
Geskiedenis In 1885 het Betsjoeanaland ’n protektoraat van die Verenigde Koninkryk binne die Britse Ryk geword. Dit het gebeur nadat die leiers van die Tswanas met die Britte onderhandel het om aan hulle beskerming te verleen teen die Boere wat hul land uit die naburige Zuid-Afrikaansche Republiek binnegeval het. Ten spyte van hierdie nuutgevonde beskerming het Suid-Afrika steeds die Britte onder druk geplaas om hulle toe te laat om Betsjoeanaland tot hul unie te annekseer. Dit het weens die wydverspreide teenkanting van die Batswana-bevolking egter nie gebeur nie, en Betsjoeanaland het in 1966 sy onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk verkry; die nuwe nasie in na Botswana hernoem.
Voor sy onafhanklikheid het Botswana nie oor sy eie koloniale vlag beskik nie, en die vlag van die Verenigde Koninkryk is as die de facto-vlag van die protektoraat gebruik. Toe Botswana se nasionale vlag in 1966 geskep is, is dit simbolies ontwerp om in kontras met die destydse vlag van Suid-Afrika te wees, aangesien laasgenoemde land onder ’n apartheidsregime verkeer het. Vervolgens toon die swart streep met die wit fraiings die vrede en harmonie tussen die mense van Afrika- en Europese afkoms wat in Botswana bly. Die nuwe vlag is middernag op 30 September 1966, die dag toe Botswana ’n onafhanklike land geword het, vir die eerste keer gehys.
Ander vlae
Sien ook
Verwysings
Eksterne skakels
Botswana by Flags of the World
Kategorie:Botswana Botswana