Moenie verwar word met Kasakke nie. duimnael|320px|Die Zaporozje-Kosakke skryf ’n brief aan die Ottomaanse sultan (Ilja Repin, 1891)
Kosakke (Oekraïens: козаки́, kozaki; Russies: казаки́, kazaki; Pools: Kozacy) was oorspronklik lede van demokratiese, halfmilitêre gemeenskappe in die Oekraïne en Suid-Rusland, veral in ylbevolkte gebiede en aan die Don- en die Dnjepr-rivier. Hulle het ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van hierdie streke.
Naam Die woord "Kosak" kom van die Turkse woord quzzaq, wat "avonturier" of "vry man" beteken. Die term is die eerste keer gebruik in ’n Russiese dokument uit 1395.Казак // Этимологический словарь Фасмера "Kosakke" (Kozacy) was ook die naam van ’n soort ligte infanterie in die Pools-Litause Gemenebes. Dié naam word egter nie met enige etnisiteit verbind nie.
Oorsig duimnael|links|170px|’n Zaporozje-Kosak. Dit is onseker hoe die Kosakke ontstaan het. Die mees algemene teorie is dat hulle afstammelinge was van kleinboere wat gevlug het om slawerny vry te spring. Dié mense was van verskillende etniese groepe soos Roeteniërs, Turke en Duitsers, maar veral Oekraïners en Russe.
Hulle het in die 14de tot 15de eeu militêre gemeenskappe gevorm om hul leefstyl van seerowery, strooptogte en onwettige jagtogte te kan voortsit en om hulself teen aanvalle van Tartare, Mongole en ander nomadiese volke op die steppe van Suid-Rusland te verdedig. Hulle het grondgebied gekoloniseer wat voorheen deur nomadiese stamme bewoon is en het ook in ’n mate met dié stamme vermeng.
Die twee grootste Kosakke-gemeenskappe was:
Die Zaporozje-Kosakke, wat teen die einde van die 15de eeu ’n leër rondom die Dnjepr-rivier op die steppe van die Oekraïne gestig het. Hulle was aanvanklik onder beheer van die Pools-Litause Gemenebes, maar die toenemende sosiale en godsdienstige druk van die gemenebes het hulle genoop om in die 17de eeu ’n onafhanklike Kosakke-staat uit te roep. Later het die Verdrag van Perejaslaf met die Russiese Ryk die meeste van hulle vir die volgende 300 jaar onder Russiese beheer geplaas.From Da to Yes: Understanding the East Europeans, Yale Richmond, Intercultural Press, 1995, p. 294
Die Don-Kosakke, wat in die 16de eeu ’n leër gestig het in die opvanggebied van die Don-rivier in Rusland.Britannica Don River – History and economy Hulle was die eerste mense wat permanente nedersettings in die Don-gebied gevestig het. Hul hoofstad was eers Tsjerkassk (vandag Starotsjerkasskaja) en later Nowotsjerkassk.
Later het nog Kosakke-groepe ontstaan in die Suid-Oerals, Siberië en die Kaukasus. Die Poolse Kosakke (Kozacy) en Tartaarse Kosakke (Nağaybäklär) was minder bekend.
Die Kosakke het met die Tsaredom van Rusland saamgewerk en met ’n stelselmatige verowering en kolonialisasie van grondgebied begin wat Rusland se grense vasgestel het op die Wolga-rivier, die hele Siberië en die Oeral- en Terek-rivier.
In die laat 18de eeu het Rusland, met sy toenemende ambisie om uit te brei, al hoe meer staatgemaak op die lojaliteit van die Kosakke en dit het hulle tradisioneel onafhanklike leefstyl bedreig. Die gevolg was opstande wat gelei is deur onder andere Stenka Razin en wat deur Rusland onderdruk is. In sommige gevalle is hele leërs ontbind, soos in 1775 die geval was met die Zaporozje-Kosakke.
Teen die einde van die 18de eeu was die Kosakke onder Russiese beheer; hulle het gedien as grenswagte en moes soldate verskaf vir konflikte soos die talle Russies-Turkse oorloë. In ruil daarvoor dat hulle die suidelike grense van Rusland verdedig het, het hulle sekere voorregte geniet soos kwytskelding van belasting. Die mag van die tsaar was ook in Kosak-grondgebied nie so outoritêr as in die res van Rusland nie.
In die Russiese Burgeroorlog het Kosak-streke sentrums vir die Wit Leër geword. Die Don- en Koeban-Kosakke het selfs kortstondige onafhanklike state in hul onderskeie gebiede gestig. Na die oorwinning van die Rooi Leër is die Kosakke in ’n groot mate onderdruk. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Kosakke vir beide Rusland en Nazi-Duitsland geveg, waarna hulle verder onderdruk is.
Na die verbrokkeling van die Sowjetunie het die leefstyl en idees van die Kosakke weer in Rusland herleef. Spesiale Kosakke-eenhede bestaan in die Russiese weermag, terwyl Kosakke ook ’n parallelle polisiediens en burgerlike besture in hul onderskeie gebiede het.
Oekraïense Kosakke Zaporozje-Kosakke duimnael|200px|Die Kosak Mamai – ’n tipiese uitbeelding van ’n Kosak in die Oekraïense folklore. Die Zaporozje-Kosakke (Oekraïens: эапорожці, zaporozjtsi), wat op die Oekraïense steppe gewoon het, was ’n bekende groep waarvan die getalle tussen die 15de en 17de eeu baie toegeneem het. Hulle was hoofsaaklik handelaars en kleinboere van die Pools-Litause Gemenebes. Hulle was betrokke by vele konflikte en bondgenootskappe met die Pools-Litause Gemenebes, die Tsaredom van Rusland en die Ottomaanse Ryk.
Die eerste bekende Zaporozje-leër is in 1552 aan die oewers van die Laer Dnjepr gestig toe Dmitro Wisjnewetski ’n fort op die eiland Chortitsija gebou het. Hulle was bekend vir hul strooptogte in die Ottomaanse Ryk en state onder sy beheer, maar hulle het soms ander lande ook geplunder. In 1539 en 1549 het grootprins Wasili III van Rusland en Iwan die Verskriklike onderskeidelik op versoeke van die Ottomaanse sultan dat ’n einde aan die strooptogte gemaak word, geantwoord dat die Kosakke nie aan hulle verantwoording doen nie, maar maak soos hulle lus het.
In die 16de eeu, toe die Pools-Litause Gemenebes sy mag suidwaarts uitgebrei het, het die gemenebes die Kosakke as sy onderdane beskou.Ure, John. The Cossacks: An Illustrated History. Londen: Gerald Duckworth Die sogenaamde Geregistreerde Kosakke was tot in 1699 deel van die gemenebes se weermag.
Die Kosakke se plundertogte en seerowery het die spanning aan die suidgrens van die Pools-Litause Gemenebes verhoog en dit het gelei tot ligte oorlogvoering in dié streke vir feitlik die hele bestaan van die gemenebes.
duimnael|170px|links|Zaporozje-offisier in 1720 Omstreeks die einde van die 16de eeu het die gespanne betrekkinge tussen die Pools-Litause Gemenebes en die Ottomaanse Ryk ’n verdere knou gekry weens toenemende aanvalle deur die Kosakke. Die Poolse regering kon die Kosakke nie beheer nie, maar omdat hulle in ’n sin onderdane van die gemenebes was, is dié vir die Kosakke se aanvalle verantwoordelik gehou. Op hul beurt het die Tartare onder Ottomaanse beheer weer gebiede in die gemenebes aangeval. Hulle teikens was hoofsaaklik ylbevolkte suidelike streke, terwyl Kosak-seerowers ryk hawestede naby die mond van die Dnjepr-rivier in die hartjie van die Ottomaanse Ryk aangeval het. Teen 1615 en 1625 het hulle selfs woongebiede aan die buitewyke van Konstantinopel verwoes, met die gevolg dat die Ottomaanse sultan uit sy paleis moes vlug.
Volgens verskeie verdrae tussen die Pools-Litause Gemenebes en die Ottomaanse Ryk moes hulle onderskeidelik die Kosakke en Tartare in toom hou, maar min is van albei kante af gedoen om die aanvalle te stuit.
Die Kosak-getalle het toegeneem namate al hoe meer kleinboere die lyfeienskap in die gemenebes probeer ontduik het. Nadat die szlachta, ’n bevoorregte klas van die gemenebes, probeer het om lyfeienes van die Kosakke te maak, het die Kosakke se taamlike sterk lojaliteit teenoor die gemenebes afgeneem. Die Kosakke se ambisie om as gelykes van die szlachta beskou te word, is voortdurend gefnuik en van planne om die gemenebes van twee nasies te omvorm in ’n gemenebes van drie nasies (met die Roeteense Kosakke as derde nasie) het niks gekom nie weens die Kosakke se ongewildheid. Die Kosakke se sterk trou aan die Oosters-Ortodokse Kerk het hul betrekkinge met die oorheersend Katolieke gemenebes verder versuur. Die spanning het toegeneem nadat die gemenebes se beleidsrigtings verander het van redelike verdraagsaamheid tot die onderdrukking van die Ortodokse Kerk. Dit het die Kosakke sterk anti-Katoliek gemaak – in dié tyd sinoniem met anti-Pools.
Vanweë die Chmelnitski-opstand in die middel 17de eeu het die Zaporozje-Kosakke ’n kortstondige onafhanklike staat gestig wat later die outonome Kosak-hetmanaat geword het. Nadat hulle met die Verdrag van Perejaslaf onder beskerming van die Russiese tsaar geplaas is, is hulle steeds ’n halfeeu lank deur plaaslike hetmans regeer.
In die laaste helfte van die 18de eeu is die leër deur die Russiese owerheid ontbind. Van die Kosakke het na die Donau-deltagebied en later die Koeban-streek getrek. Na 1828 het die meeste van die Donau-Kosakke eers na Azof en later Koeban getrek. Hoewel sommige Koeban-Kosakke hulself nie as Oekraïners beskou nie, praat hulle 'n Sentraal-Oekraïense dialek en hulle volksverhale is onmiskenbaar Oekraïens.
Geregistreerde Kosakke duimnael|250px|Zaporozje-seerowers Die Geregistreerde Kosakke (Oekraïens: реєстрові козаки, rejestrowi kozaki; Pools: Kozacy rejestrowi) was ’n elite-groep onder die Kosakke en het in die Pools-Litause weermag gedien. Hulle het baie voorregte gehad, soos vryheid en die kwytskelding van belasting. Die getalle het gewissel tussen ’n paar honderd en ’n paar duisend – dit is gewoonlik in oorlogstyd verhoog. Die Kosakke se eise dat die getalle permanent verhoog word, is voortdurend van die hand gewys.
Die afname van die Kosakke se lojaliteit en die szlachta se arrogante houding teenoor hulle het gelei tot verskeie Kosak-opstande teen die gemenebes in die vroeë 17de eeu.
Eindelik het die koning se weiering om die Geregistreerde Kosakke te vermeerder gelei tot die grootste van hierdie opstande: die Chmelnitski-opstand, wat in 1648 begin het. Dit was een van die gebeure wat katastrofiese gevolge gehad het vir die gemenebes en een van die redes wat gelei het tot die verbrokkeling daarvan 100 jaar later.
Die opstand het in 1654 geëindig met die Verdrag van Perejaslaf waarin die Kosakke trou beloof aan die Russiese tsaar en waarin laasgenoemde onderneem om die Kosakke te beskerm, hul starsjina (adel) erken en hulle van hulle outonomie onder sy heerskappy verseker. So het die Kosakke onder Poolse invloed uitgekom.
Onder Russiese beheer is die Zaporozje-leër verdeel in twee onafhanklike republieke van Moskowië: die Kosak-hetmanaat en die meer onafhanklike Zaporozje. Die twee groepe het geleidelik hulle onafhanklikheid verloor en is in die laat 18de eeu deur Katharina die Grote ontbind.
Swartsee-, Azof- en Donau-Kosakke Met die ontbinding van die Zaporozje-leër het baie Kosakke in die gebiede aan die Donau of aan die See van Azof gaan woon en bekend geword as onderskeidelik die Swartsee- en die Azof-Kosakke. Sommige van die laasgenoemde groep is later verskuif na die Koeban-steppe, ’n belangrike vastrapplek vir Russiese uitbreiding in die Kaukasus. Ander het oor die Donau getrek, waar hulle ’n leër gestig het, en eers later by die Koeban-groep aangesluit.
Russiese Kosakke Don-Kosakke 280px|duimnael|Die Verowering van Siberië deur Jermak, deur Wasili Soerikof duimnael|220px|Don-Kosakke (skildery deur Juliusz Kossak, 1877) Die Don-Kosakke (Russies: донские казаки, donskije kazaki) was Kosakke wat in die gebiede aan die middel- en laer Don-rivier in Rusland gewoon het. Dié steppe was bekend as die "Wilde Veld" (Дикое Поле). Verskeie groepe gewapende Tartare het in die gebied rondgeswerf en reisende handelaars aangeval.
Mense wat van slawerny gevlug het of ontevrede was met die bestaande orde in hul lande het hulle sedert die 14de eeu hier begin vestig. Hulle het aanvanklik gejag en visgevang en moes hulself voortdurend verdedig teen die Turke en Tartare wat hulle aangeval het. Later het hulle hulle permanent in die gebied gevestig en die land bewerk.