Hierdie artikel handel oor die Spaanse nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Spaanse nasionale vrouerugbyspan.

Die Spaanse nasionale rugbyspan (Spaans: Selección nacional de rugby de España) is die nasionale rugbyspan wat Spanje in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Dié span se bynaam is Los Leones (“die leeus”). Rugby word in Spanje geadministreer deur die Spaanse Rugbyfederasie (Federación Española de Rugby, FER) wat in 1923 gestig is. Spanje word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Daarmee behoort Spanje tot die beste Europese rugbyspanne naas die Sesnasies. Die Spaanse rugbyspan is tans (Maart 2026) 17de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.

Spanje het in 1929 sy eerste toetswedstryd teen Italië gespeel. Spanje het tot dusver vir een rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer, maar hulle is in 1999 reeds in die groepfase uitgeskakel. Hulle het tydens die Europese Rugbykampioenskap nog geen titel ingepalm nie, vyf keer as naaswenner en agt keer in die derde plek geëindig. Spanje speel tradisioneel in rooi truie met blou broeke en blou sokkies.

Beheerliggaam

Die beheerliggaam vir rugby in Spanje is die Spaanse Rugbyfederasie (Federación Española de Rugby, FER). Die FER is in 1923 gestig en het in 1988 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Spaanse Rugbyfederasie in 1934 ’n stigterslid van die Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE). Van 1934 tot 1941 is die streek Katalonië verteenwoordig deur sy eie nasionale span, en dié beheerliggaam was ook ’n lid van FIRA.

Die hoogste rugbyliga in Spanje is die semiprofessionele División de Honor de Rugby, waaraan twaalf spanne deelneem. Weens die beter finansiële moontlikhede verkies baie spelers egter ’n loopbaan op professionele vlak by ’n klub in Frankryk of ’n ander Wes-Europese land. In Spanje aktiewe nasionale spelers draf meestal uit vir die professionele span Castilla y Leon Iberians wat sedert 2021 aan die Rugby Europa Superbeker deelneem. Vir slegs een seisoen, van 2009 tot 2010, het die professionele liga Superibérica de Rugby bestaan.

Naas die amptelike nasionale span roep die FER ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Spanje oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Europese en Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Die Spain Sevens is die Spaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Derhalwe het die beheerliggaam ’n uit verskeie module bestaande konsep ontwikkel, wat deur sportonderwysers op Laer- en Hoërskool gebruik kan word.

Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby Die presiese beginpunt van rugby in Spanje is onbekend. Dié sport is waarskynlik in die land vir die eerste keer deur Britte beoefen. Onder andere word berig dat by die Engelse Skool (Colegio de los Ingleses) in Valladolid van 1875 tot 1887 wedstryde beslis is, waarvan die reëls sterk ooreenkomste met dié van rugby getoon het. Aan die einde van die 1890’s was rugby ook op enkele Spaanse skole se leerplanne. Kort daarna het sokker egter oorgeneem, wat weens sy elegansie baie meer belangstelling onder Spanjaarde gewek het. Rugby, wat as “brutal” bestempel is, kon rondom die eeuwisseling eers slegs in Barcelona en dele van die Baskeland vestig, veral danksy die nabyheid van die rugbysentrums in die suidweste van Frankryk. In Februarie 1901 is in Bilbao se Velodrom die eerste gedokumenteerde rugbywedstryd gespeel, nadat die Engelsman Stuart Nicholson by die Paryse Racingklub vir hulp aangeklop het. Hy het vir “’n opvallende teenstander vir ’n toernooi met drie spanne gevra, waaraan ook emigrante uit Barcelona sou kon deelneem”. Vir Barcelona se keurspan het onder andere die Switserse Hans Gamper verskyn, die stigter van FC Barcelona. Rugby het in Spanje vir jare egter ’n onbekende sportsoort gebly en daar is slegs sporadies wedstryde met veral buitelandse deelnemers gereël.

Tydens die Eerste Wêreldoorlog het die Spaanse belangstelling in rugby vir ’n rukkie verdwyn. Dit het in April 1921 verander, toe die klub US Perpignan die Franse kampioenskap gewen het. Die Katalaans-nasionalistiese koerant La Veu de Catalunya het dié sukses uitbundig as ’n patriotiese triomf gevier, aangesien die stad Perpignan (Katalaans: Perpinyà) in die streek Noord-Katalonië geleë is en derhalwe al die spelers glo Katalane was. Kort daarna het Baldiri Aleu Torres, wat in Toulouse in veeartsenykunde gegradueer en daar rugby leer ken het, na sy tuisdorp Sant Boi de Llobregat (’n voorstad van Barcelona) teruggekeer. Daar het hy Unió Esportiva Santboiana, die eerste Spaanse rugbyklub, gestig. Met ondersteuning van die Franse rugbybeheerliggaam, met wie daar kontak gemaak is tydens die Olimpiese Kongres in Lausanne, het rugby eers spoedig in Katalonië versprei en toe ook na ander streke. Reeds op 13 April 1922 is die nasionale beheerliggaam Spaanse Rugbyfederasie (Federación Española de Rugby, FER) gestig en in 1923 het Santboiana die eerste Spaanse kampioenskap gewen. Op 20 Mei 1923 is die eerste wedstryd in die hoofstad Madrid op die Metropolitano-stadion gespeel voor ’n gehoor van 10 000 (waaronder koning Alfons XIII), toe die Franse klubs Biarritz Olympique en Stadoceste Tarbais teen mekaar te staan gekom het.

Die nasionale span se eerste jare In 1927 het ’n nieamptelike Spaanse keurspan in ’n wedstryd gespeel teen Frankryk (insluitende Yves du Manoir), maar dit word oor die algemeen nie as ’n toetswedstryd erken nie. Tydens die wêreldtentoonstelling Exposició Internacional de Barcelona het die Spaanse nasionale span op 20 Mei 1929 op Barcelona se Estadi Olímpic de Montjuïc in sy eerste toetswedstryd gespeel, waar hulle Italië met 9–0 gewen het. Die Spaanse koninklike gesin het dié wedstryd bygewoon en al die spelers was uit Katalonië afkomstig. Op 18 Mei 1930 is die eerste wegwedstryd in Dresden teen Duitsland gespeel en met 0–5 verloor. In 1934 was die FRR een van die stigterslede van die vastelandse beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE) wat onder Franse leiding as mededinger tot die destydse eksklusiewe, Angel-Saksies oorheersde Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig is. Op 13 April 1935 het die tot op hede voortdurende mededinging met die buurland Portugal met ’n 6–5-wegoorwinning in Lissabon afgeskop.

Toe die Tweede Spaanse Republiek in 1932 aan die streek Katalonië volle outonomie toegeken het, het dit ongekende sportiewe gevolge gehad. Die Katalaanse streeksbeheerliggaam (Federació Catalana de Rugbi, FCR), wat entoesiasties na onafhanklikheid gestreef het, die Kastiliaanse streeksbeheerliggaam en die FER het in 1933 hopeloos uitgeval. In reaksie op die nasionale beheerliggaam se wanbestuur het die FCR 1934 nog voor die FER by die FIRA aangesluit en sy eie nasionale span saamgestel. Dié radikale skuif het tot Katalonië se skorsing uit die FER gelei, aangesien die FIRA op sy beurt geweier het om een van sy lede te ontslaan. Vervolgens het die Katalaanse nasionale span verskeie wedstryde teen Frankryk, Italië en Roemenië gespeel. Ná die Spaanse Burgeroorlog is in 1940 die sportiewe onafhanklikheid beëindig. Die regering onder die diktator Francisco Franco het die FCR ontmagtig, hulle van ’n groot deel van hul finansiële hulpbronne ontneem en baie van sy lede in hegtenis geneem. Hulle het ook die FCR se uitsluiting van die FIRA afgedwing en die Katalaanse span tot ’n streekspan gerelegeer. In die daaropvolgende jare het Katalonië sy voorheen onbetwiste oorheersing binne Spanje verloor.

Gemengde resultate by die Europese Nasiesbeker Eers in 1951, ná ’n onderbreking van vyftien jaar, het die Spaanse nasionale span weer in ’n toetswedstryd gespeel. ’n Jaar later het hulle vir die eerste keer aan ’n Europese Nasiesbeker deelgeneem, die FIRA-beker 1952. Tydens die FIRA-beker 1954 het hulle, danksy oorwinnings oor Portugal en België, die halfeindrondte gehaal, maar teen Italië vasgeval en die derde plek met Duitsland gedeel. Die Europese Nasiesbeker is vir ’n dekade lank nie beslis nie, waarvolgens hulle slegs vriendskaplike wedstryde teen ander Europese spanne kon speel. ’n Uitsondering hierop was die Mediterreense Spele, waarvan die tweede toernooi in 1955 in Barcelona aangebied is. Tydens dié Spele se rugbytoernooi het Spanje ná Frankryk en Italië met die bronsmedalje weggestap. Toe die Europese Nasiesbeker in 1965 onder deelname van Noord-Afrikaanse lande hervat is, het die Spanjaarde in die tweede afdeling begin en verskeie kere tevergeefs op die eerste afdeling gemik. Hulle het dit tydens die FIRA-nasiesbeker 1969/70 naelskraap misgeloop ná ’n 8–11-eindstrydnederlaag in Casablanca teen Marokko. Hulle het tydens die FIRA-nasiesbeker 1971/72 teen Italië wél daarin geslaag, ná ’n 10–0 in die tuiswedstryd in Madrid en ’n 6–6-gelykop in die wegwedstryd in Ivrea.

In die daaropvolgende jare het die Spanjaarde in die eerste afdeling gemiddelde prestasies behaal, maar sonder enige groot suksesse. Nietemin het hulle in 1977 ’n oorwinning oor Italië aangeteken, terwyl hulle teen onder andere Roemenië of Frankryk steeds sonder enige kans was. Tydens die FIRA-beker 1978/79 het hulle al hul wedstryde verloor, waarna hulle gerelegeer is. Nadat hulle tydens die FIRA-beker 1979/80 se tweede afdeling al hul teenstanders heeltemal oorheers het en regstreeks gepromoveer is, is hulle slegs een jaar later ná die FIRA-beker 1980/81 weer gerelegeer. In November 1982 het Spanje vir die eerste keer nasionale spanne van buite Europa en Noord-Afrika gehuisves. Eers het hulle twee wedstryde teen die Nieu-Seelandse Maori (die Maori's se keurspan) ver verloor. Daarna kon hulle teen Argentinië, Suid-Amerika se oorheersende span, vir ’n lang tyd goed tred hou en het redelik naelskraap met 19–28 verloor.

Spanje het drie jaar in die tweede afdeling gespeel, voordat hulle tydens die FIRA-beker 1983/84 weer na die eerste afdeling gepromoveer is. In Julie 1984 het die span ’n kort toer deur Suider-Afrika aangepak, waartydens die twee toetswedstryde teen Zimbabwe in een oorwinning en een nederlaag elk geëindig het. Spanje het die FIRA-beker 1984/85 in die vyfde plek afgesluit en moes vervolgens in die promosie-relegasiewedstryd teen die sesde geplaasde Tunisië te staan kom. Hulle het die beslissende wedstryd in die Franse dorp Lavelanet met 9–12 verloor. Tydens die FIRA-beker 1985–1987 se tweede afdeling het die Spanjaarde weer hul teenstanders oorheers en vyf van hul ses wedstryde gewen. Hulle het die promosie-relegasiewedstryd teen Nederland in Bordeaux met 28–10 gewen. As ’n pas gepromoveerde span is Spanje in 1987 nie vir die eerste rugbywêreldbekertoernooi genooi nie. Pleks daarvan het die nasionale span ’n toer na Suid-Amerika onderneem; onder andere het hulle Uruguay geklop, maar teen Argentinië verloor. In 1988 het die Spaanse beheerliggaam ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad geword. Aangesien Spanje in die FIRA-beker 1987–1989 se eerste afdeling die laaste plek beklee het, is hulle weer gerelegeer.

Eerste rugbywêreldbekerdeelname