Die Uruguaanse nasionale rugbyspan (Spaans: Selección de rugby de Uruguay) is die nasionale rugbyspan wat Uruguay in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Hulle dra die bynaam Los Teros (Spaans vir: “die Teros”), ontleen aan die bronskiewiet (Vanellus chilensis), die nasionale voël van dié Suid-Amerikaanse land. Rugby word in Uruguay geadministreer deur die Uruguaanse Rugbyunie (Unión de Rugby del Uruguay, URU) wat in 1951 gestig is. Uruguay word as die vierde beste rugbyspan in die Amerikas beskou (ná Argentinië, die Verenigde State en Kanada) en deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Die Uruguaanse rugbyspan is tans (September 2025) 19de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Een voormalige Uruguaanse rugbyspeler is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.

Uruguay het in 1948 sy eerste internasionale wedstryd teen Chili gespeel. Uruguay het tot dusver vir vyf van die tien rugbywêreldbekertoernooie gekwalifiseer, maar hulle het nie die uitklopfase gehaal nie. Die span het tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap vyf titels ingepalm, 27-keer keer tweede en agt keer in die derde plek geëindig. Sedert 2016 neem Uruguay ook aan die jaarlikse Amerikaanse Rugbykampioenskap deel, saam met die tweede Argentynse span, Brasilië, Chili, Kanada en die Verenigde State. Uruguay speel tradisioneel in hemelblou truie met wit kleuraksente, wit broeke en blou sokkies – wat aan die kleure van die vlag van Uruguay ontleen is.

Beheerliggaam

Die beheerliggaam vir rugby in Uruguay is die Uruguaanse Rugbyunie (Spaans: Unión de Rugby del Uruguay, URU). Die Uruguaanse Rugbyunie is in 1951 gestig en het in 1989 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Uruguaanse beheerliggaam in 1988 ’n stigterslid van CONSUR (Confederación Sudamericana de Rugby, “Suid-Amerikaanse Rugbykonfederasie”; nou Suid-Amerika Rugby, SAR).

Die hoogste rugbyliga in die land is die Campeonato Uruguayo de Rugby wat in 1950 gestig is en tans deur elf spanne beslis word, waarvan die meeste uit die hoofstad Montevideo. In die verlede was die meeste spelers van die Uruguaanse nasionale span uit dié amateurliga afkomstig. Sedert 2020 draf die meeste Uruguaanse spelers egter uit vir die keurspan Peñarol wat aan die professionele Superrugby Amerikas deelneem. Hieraan neem ook spanne uit Argentinië, Brasilië, Chili en Paraguay deel. Van die ander spelers is veral op professionele vlak in Frankryk of die Noord-Amerikaanse Major League Rugby aktief.

Naas die amptelike nasionale span roep die Uruguaanse Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Uruguay A is die tweede nasionale span van Uruguay en hulle neem aan Wêreldrugby se Stille Oseaan-uitdaagtoernooi deel. Net soos ander rugbylande beskik Uruguay oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Die Uruguay Sevens is die Uruguaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.

Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby In die buurlande Argentinië en Brasilië het in die laat 19de eeu veral Britse emigrante rugby gespeel. Waarskynlik was dit in Uruguay ook die geval, maar die bronne is nie eens nie. Krieketklubs wat deur Engelse gestig is, het rugby saam na Suid-Amerika geneem, wat in hierdie lande heelwat langer voortgegaan het as van die klubs se hoofaktiwiteit. Die Montevideo-krieketklub (MVCC) beweer dat hulle in 1865 die eerste rugbywedstryd in Uruguay gereël het. Die eerste bekende rugbywedstryd is in 1880 tussen Uruguaanse en Britse MVCC-lede gespeel. Die MVCC is volgens sy eie siening die oudste rugbyklub buite Europa en ondanks sy naam het hy nie meer ’n krieketafdeling nie.

’n Waarnemer, wat oënskynlik die vermenging van Britte met “inheemses” afgekeur het, het die 1880-wedstryd soos volg beskryf:

Dit is nie bekend watter spanne die eerste rugbywedstryd in Uruguay gespeel het nie, maar dit word algemeen erken dat Britse emigrante dié sport in die 19de eeu saam na Uruguay geneem het, terwyl dit veral deur die Rooms-Katolieke skole van die Gemeente van Christenbroers, wat van Ierse herkoms was, versprei is. Vervolgens beskik Uruguay oor een van die oudste rugbykulture buite die Britse Eilande. Rugby was egter vir ’n lang tyd die hoërklas se sport, terwyl die onderklas veral sokker gespeel het.

Die nasionale span se eerste jare duimnael|Uruguay teen Chili tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1951 Die Uruguaanse rugbyklubs het ’n nieamptelike speelprogram gehandhaaf en volgens die tradisionele amateurisme van vaste strukture afstand gedoen. Ná die Tweede Wêreldoorlog het dit verander veral danksy die moeite van Carlos E. Cat, wat gedurende die 1920’s in die Argentynse hoofstad Buenos Aires vir die CA San Isidro gespeel het. Hy was in 1950 by die stigting van die Campeonato Uruguayo de Rugby betrokke. Die stigting van die nasionale kampioenskap het geslaag, waarvolgens in 1951 die beheerliggaam Uruguaanse Rugbyunie (Spaans: Unión de Rugby del Uruguay, URU) gestig is met Cat wat tot in 1957 as eerste president gedien het. Die beheerliggaam se kenteken toon van die begin af ’n bronskiewiet, wat in Spaans Tero genoem word.

Reeds drie jaar voor die beheerliggaam se stigting het die land se leidende klubs ooreengekom om ’n amptelike nasionale span te stig en spelers beskikbaar te stel. Op 5 Augustus 1948 het Uruguay sy internasionale verskyning (toetswedstryd) teen Chili gemaak. Dit is op neutrale bodem in Buenos Aires aangebied en het in ’n 3–21-nederlaag geëindig. Op 11 September 1950 het die eerste tuiswedstryd in Montevideo gevolg wat die gasheer teen Brasilië met 8–6 kon wen. In Februarie 1951 sou die Teros aan die eerste Pan-Amerikaanse Spele in Buenos Aires deelneem, maar die rugbytoernooi is om organisatoriese redes nie beslis nie. Dit moes tot in September uitgestel word en is onder die naam ABCU-toernooi aangebied (genoem na die vier deelnemende lande). Tydens die eerste Suid-Amerikaanse vastelandse rugbytoernooi het die Uruguane verrassend goed presteer en die tweede plek behaal. Hulle het beide Chili en Brasilië naelskraap geklop, maar hulle is deur die baie meer ervare Argentyne met 62–0 verneder. Sewe jaar later is dié toernooi terugwerkend erken as eerste Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap.

In die daaropvolgende jare het hulle slegs twee toetswedstryde teen Brasilië en Chili gespeel. In 1958 het Uruguay aan die eerste amptelike Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap deelgeneem. Ná swak nederlae teen Chili en Argentinië het hulle in hul laaste wedstryd Peru met 10–6 geklop. In 1960 het Uruguay vir die eerste keer een van Europa se leidende rugbylande gehuisves en hulle het teen die deur Suid-Amerika toerende Franse met 0–59 verloor, maar die Franse Rugbyfederasie het vanweë die klasverskil aan die wedstryd nie amptelike toetsstatus toegeken nie. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1961 het Uruguay in die eerste taai wedstryd Brasilië met 11–8 verslaan, maar daarna is hulle deur beide Chili en Argentinië maklik geklop. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1964 het hulle ’n oorwinning oor Chili aangeteken, maar ook nederlae teen Argentinië en – ietwat verrassend – Brasilië gely. Aan die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1967 het slegs drie spanne deelgeneem, waarby Uruguay deur beide Argentinië en Chili geklop is. Die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1969 het op ’n soortgelyke manier verloop.

Geleidelike vestiging duimnael|Uruguay teen Argentinië tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1983 Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1971, waaraan vir die eerste keer vyf spanne deelgeneem het, het Uruguay vir die eerste keer teen Paraguay te staan gekom en met 56–3 geseëvier. Daarop het ’n oorwinning oor Brasilië en nederlae teen beide Chili en Argentinië gevolg, waarna die Teros met hul derde plek vir die eerste keer ’n positiewe punteverskil behaal het. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1973 het Uruguay sy beste prestasie by dié vastelandse toernooi ooit behaal, toe hulle Brasilië, Chili en Paraguay geklop en in die tweede plek geëindig het; teen Argentinië was hulle weereens sonder enige kans. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1975 het die Teros twee oorwinnings en nederlae elk aangeteken. Die Nieu-Seelandse All Blacks se 1976-toer deur Suid-Amerika het in die Estadio Centenario in Montevideo afgeskop. Die wedstryd, wat nie amptelike toetsstatus geniet het nie, het in ’n 3–64-nederlaag geëindig. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1977 het die Teros oorwinnings oor Brasilië, Chili en Paraguay aangeteken, waarvolgens hulle in die tweede plek geëindig het; teen Argentinië was hulle weer sonder enige kans en is met 0–70 verneder. In die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1979 se eerste wedstryd teen Argentinië het hulle amper ’n sensasie behaal, toe hulle naelskraap met 16–19 verloor het.

Net soos die ander rugbylande was die Uruguaanse verhoudinge met die Suid-Afrika onder apartheid ambivalent. Ter omseiling van die regering se verbod op al die wedstryde teen Suid-Afrikaanse spanne is in 1980 onder Argentynse leiding die “skaduspan” Sudamérica XV (ook Jaguares Sudamericanos genoem) gestig. Vir die span het spelers uit vyf Suid-Amerikaanse lande uitgedraf, maar die Argentyne het meer as die helfte van die spelers beskikbaar gestel. Die span is deur die betrokke beheerliggame nie amptelik erken nie, maar in die geheim geduld. Gedurende die volgende vier jaar het die Sudamérica XV agt keer teen die Springbokke gespeel, maar hulle kon slegs een wedstryd wen (op 3 April 1982 in Bloemfontein).

Argentinië, die onoorwonne wenner van al die vorige vastelandse rugbykampioenskappe, het in 1981 nie aan die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap deelgeneem nie. Dit het aan die ander deelnemers die kans gebied om dié toernooi vir die eerste keer ooit te wen. Uruguay kon al sy drie wedstryde teen Paraguay, Brasilië en Chili maklik wen en sodoende die grootste sukses in die beheerliggaam se geskiedenis behaal. Twee jaar later het Argentinië weer aan die toernooi deelgeneem en Uruguay kon slegs die tweede plek beklee, in 1985 later het hulle dieselfde uitslag behaal. In Junie 1985 het Frankryk aan die einde van sy 1985-toer deur Suid-Amerika Uruguay besoek en met 34–6 gewen; dié wedstryd is ook nie as ’n toetswedstryd erken nie. In dieselfde jaar het die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby), wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar Uruguay het geen uitnodiging ontvang nie.

Eerste rugbywêreldbekerdeelname Op 2 Augustus 1987 het met Spanje die eerste Europese span Uruguay besoek wat aan die Teros toetsstatus toegeken het; die besoekers het die wedstryd met 16–8 gewen. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe in 1987 en 1989 het die Teros weer na Argentinië in die tweede plek geëindig. In September 1988 het hulle teen België hul eerste oorwinning oor ’n Europese span ooit aangeteken (met 39–13). ’n Maand later was die URU in Asunción een van die vastelandse beheerliggaam CONSUR (Confederación Sudamericana de Rugby, “Suid-Amerikaanse Rugbykonfederasie”; nou Suid-Amerika Rugby, SAR) se stigterslede; die ander was Argentinië, Brasilië, Chili en Paraguay. In April 1989 het dit ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad geword. In November dieselfde jaar het hulle vir die eerste keer teen die Verenigde State te staan gekom, maar die Teros is met 6–60 maklik verslaan. Aan die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering het Uruguay nie deelgeneem nie.