Die Zimbabwiese nasionale rugbyspan (Engels: Zimbabwe national rugby union team) is die nasionale rugbyspan wat Zimbabwe in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Zimbabwe geadministreer deur die Zimbabwiese Rugbyunie (Zimbabwe Rugby Union, ZRU) wat in 1895 gestig is. Hulle dra die bynaam Sables, genoem na die swartwitpens (Engels: sable antelope). Zimbabwe word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Zimbabwiese rugbyspan is tans (Julie 2025) 24ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Saam met Ivoorkus en Kenia is Zimbabwe tradisioneel een van die sterker nasionale Afrikarugbyspanne na die Suid-Afrikaanse Springbokke en die Namibiese Welwitschias.

Rugby het aan die einde van die 19de eeu onder “wit” setlaars begin versprei, terwyl die inheemse bevolking aanvanklik meestal uitgesluit was. Die Britse kolonie Suid-Rhodesië (en die in 1965 eensydig vir onafhanklik verklaarde Rhodesië) was oor dekades heen in die buurland Suid-Afrika se speelprogram geïntegreerd en het gereeld toerende oorsese nasionale spanne gehuisves. Die onafhanklike en volgens internasionale reg erkende Zimbabwe het in 1981 sy eerste toetswedstryd teen Kenia gespeel. Zimbabwe het al aan twee rugbywêreldbekertoernooie deelgeneem, maar sowel in 1987 as in 1991 al sy wedstryde in die groepfase verloor. As gevolg van dié land se ekonomiese agteruitgang het ook die inheemse rugbysport se vlak afgeneem. Hulle het tydens die Afrikabeker drie titels ingepalm, drie keer in die tweede en twee keer in die vierde plek geëindig. Die Zimbabwiese span speel tradisioneel in groen-wit-gestreepte truie met wit broeke en groen-wit-gestreepte sokkies. Twee voormalige Zimbabwiese rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.

Beheerliggaam

Die beheerliggaam vir rugby in Zimbabwe is die Zimbabwiese Rugbyunie (Engels: Zimbabwe Rugby Union, ZRU). Die Zimbabwiese Rugbyunie is in 1895 as die Rhodesiese Rugbyvoetbalunie (RRVU; Rhodesia Rugby Football Union, RRFU) gestig, in 1980 hernoem en het sewe jaar later ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens het die Zimbabwiese Rugbyunie ook in 1987 by die een jaar vroeër gestigte Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération africaine de rugby; nou Rugby Afrika, RA) aangesluit.

Vanweë die swak strukture beskik Zimbabwe slegs oor ’n klein rugbyliga, die Super Six Rugby League met ses spanne. Die meeste spelers van die Zimbabwiese nasionale span speel in dié liga. Van die ander spelers is veral in Suid-Afrika of Europa op professionele vlak aktief.

Naas die amptelike nasionale span roep die Zimbabwiese Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Zimbabwe oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Die Zimbabwe Sevens is die Zimbabwiese sewesrugbyspan. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Die aantal skole wat rugby aanbied, is om historiese redes egter klein. Dit is veral privaat skole wat op die behoeftes van ’n klein hoër- en middelklas gemik is en deur die bevolkingsmeerderheid nie bekostig kan word nie.

Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby duimnael|Fort Victoria in 1952, waar in 1890 glo die eerste rugbywedstryde in die destydse Rhodesië beslis is In 1890 het die Pionierskolom, ’n mag huursoldate wat deur Cecil John Rhodes en die British South Africa Company (BSAC) saamgestel is, vanuit die Kaapkolonie die gebiede noord van die Limpoporivier bereik. Die eerste rugbywedstryde is glo in dieselfde jaar in Fort Victoria beslis. Toe die huursoldate gekies is, het die koloniale amptenare, wat hul opleiding hoofsaaklik aan Britse openbare skole ontvang het, groot waarde aan sportprestasies geheg. Hulle het daarin belanggestel om Britse balsporte in die nuwe kolonie te vestig. Dienooreenkomstig het rugby en krieket ’n prominente rol gespeel, aangesien hulle ’n ideale verbinding met die Verenigde Koninkryk sou vorm. Volgens die koloniste se siening het dié twee sportsoorte in ’n besondere mate “imperiale ideologieë van die Britte se mag en van manlikheid, wat uitgedruk is in sportprestasies” bevorder. In dié kolonie se beginjare, wat veral deur militêre konflikte (Jameson-inval, Matabele-opstand, Tweede Vryheidsoorlog) gekenmerk was, het die BSAC gepoog om deur gereelde sportverslae in die Suid-Afrikaanse en Britse pers ’n soort normaliteit voor te gee om die toestroming van nog setlaars aan te moedig.

In 1894 is in Bulawayo die land se eerste twee rugbyklubs gestig, Queens en Bulawayo Athletic Club. Een Jaar later is die beheerliggaam Rhodesiese Rugbyvoetbalunie (RRVU; Rhodesia Rugby Football Union, RRFU) gestig. Dié beheerliggaam was aanvanklik slegs verantwoordelik vir die kolonie Suid-Rhodesië, maar later ook vir die protektorate Noord-Rhodesië en Njassaland. Rhodes het na ’n geruime tyd besef dat die BSAC alleen nie in staat was om die deur die setlaars verkiesde suidelike deel van Rhodesië doeltreffend te administreer nie. In 1897 het hy dus sy vriend William Henry Milton as administrateur van die gebied Masjonaland (van 1901 af ook van Matabeleland en dus van die hele Suid-Rhodesië) aangestel om ’n siviele administrasie te vestig. Milton het in 1874/75 vir die Engelse nasionale rugbyspan uitgedraf en was van 1889 tot 1892 kaptein van die Suid-Afrikaanse nasionale krieketspan. Tydens sy ampstermyn, wat tot 1914 geduur het, het hy onder meer strukture geskep vir sportaktiwiteite, byvoorbeeld deur die bekendstelling van skoolsport. Vir die setlaars was die beoefening van sport ’n belangrike manier vir sosiale akkulturasie, aangesien dit die interaksie tussen betreklik ver afgeleë nedersettings bevorder en tot die skepping van ’n eenvormige “wit” kultuur bygedra het. Die vorming van ’n uitsluitende setlaaridentiteit was glo noodsaaklik vir die handhawing van die oppergesag en beheer oor die veel groter inheemse bevolking. Milton se rassistiese invloed was aansienlik en hy was meer as enige ander verantwoordelik vir die skepping van ’n gesegregeerde speelprogram. Gevolglik is rugby feitlik uitsluitlik deur “wit” mense gespeel.

Rhodesiese rugby Toe die spoorlyn in 1897 Bulawayo bereik het, het dit die vestiging van gereelde sportverhoudings met Suid-Afrika vergemaklik. In 1898 het vir die eerste keer ’n keurspan van die RRVU deelgeneem aan die Curriebeker, die Suid-Afrikaanse beheerliggame se kampioenskap. Die keurspan het bestaan uit spelers van die vyf grootste klubs in die land se twee belangrikste stede, Bulawayo en Salisbury (nou Harare). Met ’n gelykop teen Transvaal, asook oorwinnings oor Oostelike Provinsie en Oranje-Vrystaat het dit al die verwagtinge oortref. Daarna was die Rhodesiese rugby steeds blootgestel aan ’n sterk Suid-Afrikaanse invloed. Toe die Suid-Afrikaanse nasionale span in 1906/07 deur Europa getoer het, het met Freddie Brooks ook ’n Rhodesiese setlaar deelgeneem, maar vir sy tuisland Engeland verskyn. Dit was ’n voorbeeld van Rhodesië se tweespalt, wat van die suidelike buurland afhanklik was, maar nie deel wou word van die beplande Unie van Suid-Afrika nie. Die Suid-Afrikaanse Rugbyraad (SARR) se voorstel om die Rhodesiese rugby heeltemal in die beheerliggaam Griekwaland-Wes te integreer, is in 1908 eenparig verwerp. Dié voorstel het die feit geïgnoreer dat onder die “wit”, meestal Brits-gebore Rhodesiërs intussen ’n nasionale gevoel ontwikkel het, wat van dié van die Afrikaanstalige Boere (wat binnekort die toekomstige staat sou oorheers) verskil het.

Die RRVU het onafhanklik gebly, maar dit was as ’n deelbeheerliggaam van die SARR steeds in die Suid-Afrikaanse speelprogram geïntegreer. Die inkomste wat gegenereer is deur deelname aan die Curriebeker was van groot belang vir die uitbreiding van die Rhodesiese sportinfrastruktuur. Enersyds is Rhodesiërs onbeperk toegelaat om vir die nasionale span van die buurland te speel, andersyds was dit nou interessant vir oorsese spanne om ’n draai na Rhodesië te kom maak wanneer hulle Suid-Afrika besoek het. Die eerste “toetswedstryd” sonder toetswedstrydstatus is op 30 April 1910 beslis, toe die Britse Leeus (die vier Britse Tuislande se keurspan) tydens hul maandelange toer na Suid-Afrika Bulawayo besoek en met 24–11 geseëvier het. Verdere besoeke deur die Leeus het tydens die 1924- en 1938-toere gevolg. Die Nieu-Seelandse All Blacks is in 1928 gehuisves, die Australiese Wallabies in 1933. Na ’n afwesigheid van meer as dertig jaar was die Rhodesiese span van 1947 af deurlopend betrokke in die Curriebeker se eerste afdeling.

Twee jaar later het die All Blacks weer Rhodesië besoek. Die gashere het op 27 Julie 1949 in Bulawayo ’n heeltemal verrassende 10–8-oorwinning aangeteken. Hoewel die Nieu-Seelanders weens die onlangs ingestelde apartheidwette sonder hul Maori-spelers moes klaarkom, is hulle as groot gunsteling beskou. Hulle is nogtans deur die Rhodesiërs se aanvallende speelstyl verras, wat met Salty du Rand en Ryk van Schoor oor twee Springbokspelers beskik het. Drie dae later het Rhodesië in Salisbury met ’n 3–3-gelykop bewys dat dit geen toeval was nie. In 1953 kon hulle tydens die besoek deur die Australiërs nog ’n gelykop aanteken. Die Leeus is weer in 1955, 1962, 1968 en 1974 gehuisves, die Franse in 1958, 1964 en 1967, die Nieu-Seelanders in 1960 en 1970, die Australiërs in 1963 en 1969. Die gashere kon slegs in 1967 teen Frankryk ’n gelykop aanteken. Die Rhodesiërs het in 1965 teen Argentinië en in 1973 teen Italië geseëvier.

Die sedert 1953 bestaande Sentraal-Afrikaanse Federasie is tien jaar later ontbind, waarmee die RRVU sy verantwoordelikheid vir die nuwe onafhanklike lande Zambië en Malawi kwyt was. Die “wit” minderheid van Suid-Rhodesië het destyds oor ’n groot mate aan selfregering beskik en hulle wou hul bevoorregte posisie behou, wat vir die Britte weens die toenemende dekolonisasie egter onaanvaarbaar was. Nadat onderhandelinge oor die “swart” meerderheid se politieke gelykstelling misluk het, het die regering onder Ian Smith op 11 November 1965 eensydig Rhodesië se onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk verklaar. Die Britse regering onder Harold Wilson het dié gebeurtenis as ’n opstandige daad bestempel en talle pogings op internasionale vlak aangewend om die Rhodesiese regering enige internasionale legitimiteit te ontsê. Dit het spoedig die sportwêreld ingesluit en van 1967 af het die Britse regering aangevoer dat verbindinge op sportvlak ’n vorm van “ondersteuning vir die onwettige regime in Rhodesië” sou wees. Dit sou egter nog sewe jaar neem voordat die Rhodesiese rugbyspan heeltemal geboikot is.

Die boikotpogings was nie op die rasseskeiding as sulks gemik nie, dit was egter uitdruklik gefokus op die onwettigheid van die Smith-administrasie. In teenstelling met Suid-Afrika was die diskriminasie van die bevolkingsmeerderheid in Rhodesië nie op ’n staatsbepaalde en georganiseerde apartheid gegrond nie, veral as sulks in Rhodesië weens ’n gebrek aan die nodige veiligheidsmagte in elk geval nie afdwingbaar was nie. Dit was eerder ’n uitdrukking van uitsluiting op sosiale en ekonomiese vlak. Op die gebied van sport het dit op verskillende maniere gemanifesteer. Sportsoorte wat duur toerusting en fasiliteite of spesiale afrigtingsmetodes vereis het, is oorheers deur die gegoede “wit” setlaargemeenskap, terwyl baie “swart” Rhodesiërs uitgesluit was bloot weens ’n gebrek aan finansiële middele. In sportsoorte sonder sulke vereistes was reeds sedert die 1950’s ’n wegval van skeidende hindernisse waarneembaar, wat veral die geval in sokker en atletiek was. Daarenteen het sportsoorte soos krieket en rugby, wie se beheerliggame noue verbindings met hul Suid-Afrikaanse eweknieë gehandhaaf het, ’n hoë mate aan segregasie getoon.

Ná onafhanklikheidwording