Kalkoenvisse is predatoriese straalvin-seevisse van die genus Pterois, wat inheems is aan koraalriwwe, rotsbodems en strandmere van die Indo-Pasifiese gebied. Hulle is suksesvolle en dikwels algemene rif- en bodemvisse met stabiele of onlangs uitbreidende bevolkings. Benewens seewater kan hulle ook aanliggende varswater benut. Pterois-spesies is gewilde akwariumvisse.
Pterois radiata, Pterois volitans en Pterois miles is die mees algemeen bestudeerde spesies in die genus. P. volitans en P. miles is onlangse lewenskragtige indringerspesies in die westelike Atlantiese Oseaan, Karibiese See en Middelandse See.
Verwantskappe Die koraalduiwels (Pteroinae) is 'n subfamilie van die skerpioenvisse (Scorpaenidae) en is endemies aan die tropiese Indo-Pasifiese gebied. Die Pteroinae bestaan uit 17 spesies wat in vyf genera onderverdeel is, naamlik Pterois (agt spesies), Dendrochirus (vyf spesies), Ebosia (twee spesies), Brachypterois (een spesie) en Parapterois (een spesie).Eschmeyer en Rama-Rao, 1977; FishBase, 1999; Nelson, 1994 Die genera Pterois en Dendrochirus is sodanig nou verwant, dat daar nie volle eenstemmigheid oor die noodsaak van aparte genera is nie.Eschmeyer en Randall, 1975Cantor, 1849; Jordan, 1917–1920; Swain, 1882Beaufort en Briggs, 1962; Günther, 1873; Klunzinger, 1870 Die onderskeid berus op twee morfologiese kenmerke: onvertakte borsvinstrale by Pterois teenoor enkele boonste vertakte borsvinstrale by Dendrochirus, boonste borsvinstrale wat by Pterois vry van die membraan is, teenoor geen wat by Dendrochirus vry van die membraan is nie.
Kenmerke Pterois word gekenmerk deur hul opvallende waarskuwingskleure en die skakering van alternerende rooi, bruin en swart bande, benewens hul vertonerige rug- en borsvinne waarvan sommige strale in giftige stekels eindig, en as hul vernaamste beskerming teen ander predatore dien. Die lyf is met ovaalvormige skubbe met gladde rande bedek. Soos by etlike skerpioenvisse het hulle vlesige antenne-agtige tentakels bokant hul oë en onder die mond.
Lewenswyse Hulle word as volwassenes tussen 30 en 45 cm groot. Die naverwante genera Pterois Oken, 1817 en Dendrochirus Swainson, 1839 bestaan oorwegend uit visse wat 'n teruggetrokke lewe op koraal- of rotsriwwe lei en snags aktief is. Pteroinae voed hoofsaaklik op skaaldiere, maar sommige spesies jag ook visse vanuit 'n hinderlaag. Pterois-spesies kan van 5 tot 15 jaar lank leef en het komplekse hofmaak- en paringsgedrag. Wyfies stel dikwels twee slymgevulde eiertrosse vry, wat uit soveel as 15 000 eiers kan bestaan. Elke wyfie kan jaarliks om en by 2 miljoen eiers lê.
Spesies Agt tot nege spesies word erken: Rooikoraalduiwel (Pterois volitans) – breër Indo-Pasifiese streek; van Wes-Australië en die oostelike Indiese Oseaan tot by Frans-Polinesië, noord tot by suidelike Japan en suid tot by Nieu-Seeland. Indringerspesie in westelike Atlantiese Oseaan, die Karibiese See en dele van Brasilië. Duiwelvuurvis (Pterois miles) – Indiese Oseaan; aanwesig van die Rooisee langs die kus van Oos-Afrika tot by Suid-Afrika, en oor na Indonesië. Dit het ook dele van die Middellandse See binnegedring. Breëbalk-vuurvis (Pterois antennata) – wydverspreid oor tropiese Indo-Wes-Pasifiese gebied, van Oos-Afrika en die Rooisee tot by Frans-Polinesië en die Pitcairneilande. Straal-vuurvis (Pterois radiata) – tropiese Indo-Pasifiese gebied; strek van die Oos-Afrikaanse kus tot by Frans-Polinesië en noord tot by suidelike Japan. Bleekstertkalkoenvis (Pterois russelii) – van die Persiese Golf en Oos-Afrika tot by Nieu-Guinee, en suidwaarts tot aan Wes-Australië. (Let wel: Molekulêre studies dui daarop dat Pterois lunulata 'n junior sinoniem van hierdie spesie is). Andover-kalkoenvis (Pterois andover) – hoofsaaklik in Indonesië, Papoea-Nieu-Guinee, Sabah (Maleisië) en die Filippyne Afrikaanse kalkoenvis (Pterois mombasae) – westelike Indiese Oseaan, insluitend Oos-Afrika en die waters rondom Mombasa en Madagaskar Hawaiise kalkoenvis (Pterois sphex) – endemies aan Hawaii-eilande en omliggende waters van die sentrale Stille Oseaan Rooisee-kalkoenvis (Pterois cincta) – hoofsaaklik beperk tot die Rooisee-streek
Vergiftiging Die gifstekels is by alle Pterois- en die naverwante Dendrochirus-spesies aanwesig, en word in die dorsale, anale en buikvinne gevind. Die gif word deur klierweefsel in lengtegroewe aan weerskante van die stekels geproduseer.Randall et al., 1997; Shiomi et al., 1989 Die gifstekels kan intense pyn veroorsaak wat weke lank kan duur. Sedert die eerste toksikologiese beskrywings, is aansienlike navorsing oor die biochemiese karakterisering daarvan gepubliseer.Candelario Rodriguez, Jafeth Carrasco, Gaspar Bruner-Montero, Edgardo Díaz-Ferguson, Januarie 2025. Components and Biological Activities of Venom from Lionfishes (Scorpaenidae: Pterois) Afgesien van die erge pyn wat deur die gif veroorsaak word, loop die slagoffer die risiko van ernstige sekondêre infeksies wat aggressiewe antibiotiese behandeling mag vereis. Die aanwesigheid van ander gesondheidsprobleme kan ook tot ernstiger reaksies bydra. Die stekelgif van kalkoenvisse bevat molekules met 'n lae molekulêre massa (<1000 Da), ook bekend as sekondêre metaboliete, vanweë hul ekologiese rolle in verdediging en voortplanting.
Sien ook Alfabetiese lys van visse Lys van Suider-Afrikaanse visse volgens wetenskaplike name Lys van visfamilies
Verwysings
Kategorie:Beenvisse