duimnael|Rob Out in 1974 Robert Simon (Rob) Out, gebore as Simon Out (Amsterdam, 4 Maart 1939 – Laren, Noord-Holland, 25 Desember 2003), was 'n Nederlandse platejoggie by die seesender Radio Veronica en daarna (program)direkteur van dieselfde omroep. 'n Bekende program van hom was Goud van Out.

Biografie Out het vanaf die vroeë 1960's eers as verkoper in 'n platewinkel gewerk, het hoofredakteur van die blad Muziek Parade geword en het as platejoggie by die NCRV begin met die program Op tienertoeren. In 1961 was hy 'n paar maande lank die "Bob" van die duo Bob en Brenda, wat 'n program by Veronica aangebied het. In 1965 het hy die kans aangegryp om werklik by Veronica te begin, wat destyds nog as seerowerstasie vanaf die see uitgesaai het. By die NCRV het hy gedurig probleme met die tegnikus gehad: "Ek het nogal hard geskreeu, waardeur die meters altyd in die rooi gestaan het." By Veronica kon hy soveel lawaai maak as wat hy self wou.

In 1970, ná die gedwonge vertrek van Jan van Veen, kon Out hom programleier noem. Nadat die Verdrag van Straatsburg in 1974 in Nederland bekragtig is, moes Radio Veronica sy uitsendings vanaf die see staak. Op 31 Augustus 1974 het Out vanaf die skip van die seerower-omroep Veronica die laaste woorde uitgespreek: "Met die afskeid van Veronica sterf die demokrasie ook 'n bietjie. Dit spyt my. Vir Nederland." Ses weke later was hy alweer by die TROS te sien, maar die televisieprogram Ons kent Ons is gou weens 'n gebrek aan sukses gestaak.

Onder leiding van Out, wat intussen deur 'n netwerk van beslote vennootskappe heelwat geld verdien het, het Veronica op 1 Januarie 1976 teruggekeer, hierdie keer as aspirant-omroep in die Nederlandse publieke uitsaaibestel.

Toe Veronica 'n amptelike omroep met radio- en televisieprogramme geword het, is hy aangestel as direkteur van die Veronica Omroep Organisatie. Out het daarin geslaag om van Veronica die grootste omroep te maak, met meer as 'n miljoen lede. Hy het dan ook as Mr. Veronica bekend gestaan.

Die keersy van sy impulsiewe en geesdriftige persoonlikheid was dat hy hom as 'n tirannieke leier ontpop het; hy het al die toutjies styf in die hand gehou en geen teenspraak geduld nie. In die artikel "Veronica: het schrikbewind van Rob Out", wat die Haagse Post op 28 Augustus 1976 gepubliseer het, skryf die joernalis Michiel Berkel dat Out 'n personeellid wat pas 36 uur aaneen aan die werk was, op staande voet ontslaan het omdat sy nie vir hom 'n pakkie sigarette wou gaan haal nie. Ook bekende name soos Henk Terlingen en John de Mol snr. moes die veld ruim. Sy organisasie is skertsend die Veronica Ontslag Organisatie genoem. Out het erken dat hy foute gemaak het en het hom verweer met die woorde: "Ek is té kreatief om soos 'n eenvoudige bestuurder agter my lessenaar te sit. In my geesdrif vergeet ek soms om die mense wat onmiddellik daarby betrokke is, in te lig. Dan voel hulle soms oorheers."

Out het die slagspreuk "Je bent jong en je wilt wat" ("Jy is jonk en jy wil iets hê") bedink. Sy krag is gesien in die feit dat hy vinnig besluite oor die aankoop van programme kon neem en nie teruggedeins het vir gewaagde konsepte soos die PinUp Club nie.

Mettertyd het hy hom uit die organisasie teruggetrek.

Out het die laaste jare van sy lewe 'n teruggetrokke bestaan gevoer. Hy is in 2003 op 64-jarige ouderdom ná 'n lang siekbed oorlede. Sy weduwee, Marion Out-De Jager, is in 2010 onverwags op 63-jarige ouderdom in haar woonplek Laren oorlede. Hulle dogter Birgit is in 2012 op 45-jarige ouderdom aan die gevolge van kanker oorlede. Out se kleinseun Benjamin Buit het in 2023 met die YouTube-kanaal Benderbij bekend geword.

Op 31 Augustus 2019, presies 45 jaar nadat die seesender Radio Veronica sy uitsendings moes staak, het Bert van der Veer die Rob Out-biografie MISTER VERONICA uitgegee. Op 16 Oktober 2019, presies 60 jaar ná die stigting van die Vrije Radio Omroep Nederland, het die regisseur Steven de Jong bekend gemaak dat hy die filmregte by die uitgewery Tens Media gekoop het om 'n film oor die stigter van Veronica te maak.

Musikale loopbaan duimnael|Egbert Douwe op pad na Brussel Onder die kunstenaarsnaam Egbert Douwe het Out in Maart 1968 saam met Peter Koelewijn 'n enkelspeler met die titel Kom uit de bedstee mijn liefste uitgereik. Dit is 'n parodie op Come to my bedside van Eric Andersen. Hy het daarmee die eerste plek in die Nederlandse Top 40 behaal. In November 1968 het hy nog 'n beskeie treffertjie met Vader is de dader gehad. Hierdie enkelspeler is saam met die kinderkoor De Ockenburgertjes opgeneem.

In 1969 het hy meegewerk aan die geleentheidstrio Los Piratos (Lex Harding, Out en Jan van Veen), wat 'n alarmskyf en 'n klein treffer behaal het met Wij zijn piraten, 'n weergawe van die liedjie Na na na hey hey kiss him goodbye van Steam. Die lied het in 1971 weer op enkelspeler verskyn, toe gesing deur Peter Koelewijn en getiteld Na na na hey hey van Tribune, en is nogmaals uitgereik as Whoopy whistle van Los Piros.

In 1974 het hy saam met sy dogter Birgit onder die naam Rob & Birgit die enkelspeler Papa wat gebeurt er gemaak, wat deur Frank Jansen (Bovema) vervaardig en deur Dimitri van Toren geskryf is en wat die Tipparade gehaal het.

Langspeleruitgawes In 1971 is 'n langspeler uitgereik: Goud van Out (Columbia Records), saamgestel deur Rob Out en Adje Bouman. Die opbrengs het na die Stichting Eemeroord gegaan, 'n inrigting vir mense met 'n verstandelike gestremdheid in Baarn. Die album het op 18 Desember 1971 in die trefferlys verskyn, die eerste plek as hoogste posisie behaal en tien weke lank daarin gebly.

In 1972 het Goud van Out Deel 2 (Columbia Records) gevolg, 'n opvolg van die album van 1971 wat weer deur Rob Out en Adje Bouman saamgestel is. Die opbrengs het andermaal na die Stichting Eemeroord gegaan. Dié album het op 1 April 1972 in die trefferlys verskyn, die agtste plek as hoogste posisie behaal en agt weke lank daarin gebly. Benewens hierdie twee langspelers het EMI/Bovema later ook 'n langspeler Goud van Oud uitgereik, terwyl Polydor dit met Goud van Oud, Volume 1, 2 en 3 nagedoen het.

Literatuur "Van dj tot Mr. Veronica", nekrologie in NRC Handelsblad, 27 Desember 2003 Arjan Snijders, Herinnert u zich deze nog. Uitgewery Aspekt, 2007

Verwysings

Kategorie:Geboortes in 1939 Kategorie:Sterftes in 2003 Kategorie:Nederlandse aanbieders Kategorie:Nederlandse sangers Kategorie:Nederlandse entrepreneurs