Die Makgadigadi-panne in Botswana is ‘n laag geleë, sanderige gebied met van die grootste soutvlaktes in die wêreld.

Ligging Suidoos van die Okavangodelta in die noordooste van die Kalahari is verskeie panne in ‘n rotskom laer as die omringende sand. Hulle is tussen die 890 m tot 1200 m bo seespieël en vorm die laagste dele van die Kalahari. Die middelpunt va hierdie groep panne is 21° suid en 25° 31′ oos, en dit is ‘n 225 km wes van Francistown. Gweta, tussen Maun en Nata, is die toegangsroete.

Panne Die grootste van die panne is die Ntwetwe-pan, ‘n 120 km van wes na oos en ±160 km van noordoos na suidwes, en die Sowapan aan die oostekant, ±70 km van wes na oos en ‘n 110 km van noord na suid. Hulle twee het ‘n omtrek van nagenoeg 1000 km. Al hierdie panne saam het ‘n area van 15000 km². Die vlakte is, soos ook die Okavangodelta en die Ngamimeer, ‘n oorblyfsel van die Makgadigadimeer wat hier ‘n 10 000 jaar gelede bestaan het. Weens klimaatverandering het daar minder reën geval en deur seismiese aktiwiteit is die lope van die Zambezirivier, Kafuerivier, Luangwerivier en ander strome weens verskuiwende sandduine afgesny van hierdie area. Dus het die meer opgedroog.Gedurende die grootste deel van die jaar word die panne bedek deur ‘n droë, sout en kleierige kors. In die somertyd is dit meesal ‘n vleiland. Die hooftoevoerbron is die Natariver uit die rigting van Bulawayo, dus uit die noordooste en die Botetirivier uit die Okavangodelta, dus die noordweste. In die suide verbind die twee groot panne deur ‘n vlakte waar die waters van die panne en die Botetirivier slegs in goeie reënjare saamvloei. Geoloë is onseker oor hoe die situasie duisende jare gelede hier was. Vermoed word dat die vol meer oorgeloop het in die Shasherivier en die Motloutserivier. Indien dit so is, was die Botetiriver toe ‘n boloop van die Limpoporivier.

Flora, fauna en ekonomie Hierdie is ‘n afgeleë, onherbergsame plek. Die wind is warm, dit is droog en die water brak. In die poele groei slegs alge. Aan die some van die poele groei gras en struike. Daar is ‘n beperkte wildlewe. Zebras, wildebeeste, pelikane, flaminke, volstruise, meerkatte, hiënas, skilpaaie, slange en akkedisse kom voor. Toerisme en ander skonomiese aktiwiteite word gestrem deur die gebrek aan drinkwater en elektrisiteit. By die Suapan groei kremetartbome wat besienswaardig is. Die potensiaal van die soutafsetting is groot. Sedert 1992 word sout en soda-as by die Suapan gewen. ‘n Plan bestaan om water vanaf die Natarivier vir besproeiingsdoeleindes hierheen te lei.

Naam In Afrikaans word meesal die naam Makarikari-panne gebruik. Die Botetirivier word ook dikwels die Botletle-rivier genoem. Die woord “makarikari” beteken “groot, lewelose land”. Die Ntwetwepan staan ook bekend as die Mokoamotopan. Mokoamoto beteken “vuil voete” wat verwys na die modder in die pan. Die Sowapan is ook bekend as die Suapan en die Natapan.

Ander panne Van die bekendste panne in Suider-Afrika is Verneukpan, Hakskeenpan, Etoshapan en die Nxaipan.

Lees ook Kudiakampan Panneveld Kalahari-besproeiingskema Kalahari-pannestreek

Bibliografie https://www.botswana.co.za/africa_makgadikgadi.html https://botswanafootprints.com/destination/makgadikgadi-pans-nxai-pan/ https://www.info-botswana.com/activities-and-places-of-interest/makgadikgadi-nxai-pans/makgadikgadi-pans-national-park https://science.nasa.gov/earth/earth-observatory/makgadikgadi-salt-pans-92394/

Kategorie:Botswana Kategorie:Water Kategorie:Geologie Kategorie:Meteorologie