Die Maatskappy vir Europese Immigrasie (MEI) het in die middel van die 20ste eeu mense in Europa gewerf om hulle in Suid-Afrika te kom vestig.

Hierdie nutsmaatskappy is in 1949 gestig met die aanvanklike doel om die immigrasie van Nederlandse Protestante te bevorder. In Duitsland en Nederland is mettertyd veral vakmanne gewerf.

Oor die hele Suid-Afrika heen is spesiale komitees in die lewe geroep om die nuwe setlaars te help vestig en inskakel en so die Afrikanersaak te bevorder. Die nuwe setlaars moes vertroud raak met die Afrikaner se leefwyse en sy lewens- en wêreldbeskouing. Daarom is aandag gegee aan die kerklike, kulturele, ekonomiese, opvoedkundige en maatskaplike inskakeling van die immigrante in die Afrikanersamelewing.

Die MEI is deur die Afrikaanse susterkerke, die groot Afrikaanse kultuurorganisasies, sekere groot sake-ondernemings en die staat finansieel ondersteun.

‘n Soortgelyke organisasie gemik op Engelstalige immigrante was die 1820 Settlers’ Association.

Bibliografie Swart, M.J. (red.): Afrikaanse Kultuuralmanak. Aucklandpark: Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, 1980. ISBN 0-620-04543-4

Kategorie: Suid-Afrikaanse organisasies