Die Limpopo-spoorlyn verbind gebiede rondom Bulawayo en Gweru in Zimbabwe met die hawe van Maputo in Mosambiek.

Roete in Zimbabwe Die spoorlyn gebruik Kaapspoor en is nagenoeg 1000 km lank. Op sy noordelike punt sluit die lyn aan by die spoorweg van Beira na Bulawayo. Dit is by die stasie Sumabhula in die Midlands. Suidwaarts tot Maputo is daar 12 stasies en 19 spoorweghaltes. By Zvishavane is daar ‘n taklyn suidwaarts in die stad en by Rutenga sluit die lyn vanaf Beitbrug aan. Verder suid by Mbizi is daar ‘n taklyn na Mkwasini. Vanaf Nyala gaan die hooflyn na Sango (by 22° 4′ 0″ suid en 31° 40′ 8″ oos) op die grens met Mosambiek.

Roete in Mosambiek Die eerste stasie in Mosambiek is Malvernia, ook bekend as Chicualacuala, by 32° 4′ 49″ suid en 31° 40′ 21″ oos. Daarna gaan die spoor suidweswaarts na die Limpoporivier en volg die oostelike rivieroewer verby die stasies Mapai, Combomunne, Mabalane, en gaan oor die rivier by Macarretane by 24° 24′ 28″ suid en 32° 52′ 46″ oos. Daarna volg Chokwa en by Magude gaan die spoorlyn oor die Komatirivier. Daarna word via Manhica die hawe van Maputo bereik. Hier sluit die Limpopo-lyn aan by ‘n plaaslike lyn na Goba en die internasionale Pretoria-Maputo-spoorlyn.

Geskiedenis Die bou van ‘n spoorlyn vanaf die destydse Lourenco Marques noordwaarts via die valleie van die Incomati- en die Limpoporiviere het reeds in 1910 begin. Ná baie onderbrekings het dit in 1955 die grens by Malvernia bereik. In die 1960’s is die lyn vanaf die grens na Sumabhula voltooi. Tydens die Mosambiekse burgeroorlog is spoorvervoer tot stilstand gebring weens aanvalle op treine en sabotasie van die spoorlyn. Daarna is dit herstel, maar weens geweldige storm- en vloedskade in die jaar 2000 in die klowe van die groot riviere moes die spoorlyn so te sê heeltemal herbou word.

Hierdie spoorverbinding is van groot belang vir die ekonomie van Zimbabwe. Aanvanklik is veral passasiers en landbouprodukte, veral suiker, vervoer. Teenswoordig word ook litium met eindbestemming China na Maputo vervoer. Die spoorlyn word nie optimaal benut nie.

Bibliografie https://clubofmozambique.com/news/mozambique-limpopo-line-re-opens/ https://www.cfm.co.mz/en/linha-do-limpopo/ https://www.channelafrica.co.za/channelafrica/news/zimbabwe-adds-freight-rail-option-to-lithium-export-gateway/ https://www.heraldonline.co.zw/railway-line-underutilised/

Kategorie:Zimbabwe Kategorie:Mosambiek Kategorie:Spoorvervoer in Suid-Afrika