Libertas Parva is ‘n historiese huis in die Kaaps-Hollandse boustyl in Dorpstraat op Stellenbosch.

Ligging Die huis by Dorpstraat 33 is op die westelike hoek van Aan de Wagenweg en Dorpstraat. Dit is by 33° 56′ 23″ suid, 18° 51′ 23″ oos en naby die Victoriabrug oor die Eersterivier.

Geskiedenis J.H. Hoffman verkoop in 1771 aan ds. Johannes van Appeldoorn ‘n 4 ha van sy plaas Libertas, voorheen die eiendom van Adam Tas. In 1783 bou Lambertus H. Fick die groot H-vormige huis. Metterjare het die huis verskeie einaars gehad: Dirk Hamman in 1819, Philip Haupt in 1838, Paul Ryk Roux in 1862, J.D. Krige in 1869 en later nog landmeter Garfield. J.D. Krige was die skoonpa van J.C. Smuts. Laasgenoemde en Isie Smuts is in hierdie huis getroud. In die jare 1969 tot 1971 het die Historiese Huise van Suid-Afrika die huis met sy vier holbol-gewels gerestoureer en in 1970 is dit tot monument verklaar.

Naam Soms word na die huis verwys as Klein-Libertas. Parva is die vroulike vorm van die Latynse woord parvus, met die betekenis van klein, gering of onbelangrik. Ook word die naam Huis Krige soms gebruik.

Bibliografie Fransen, Hans en Christo S. Botha: Discovering historical Stellenbosch. Kaapstad: H.A.U.M., 1979. ISBN 0-7986-0366-6 Fransen, Hans: A guide to the old buildings of the Cape. A survey of extant architecture from before c1910 in the area of Cape Town, Calvinia, Colesberg, Uitenhage. Kaapstad: Jonathan Ball, 2004. ISBN 1-86842-191-0 Oberholster, J.J.: Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972. ISBN 0-620-00191-7

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:Stellenbosch