It's Complicated is ’n Amerikaanse liefdeskomedie van 2009 wat deur Nancy Meyers geskryf en geregisseer is.

Meryl Streep speel die rol van die eienaar van ’n bakkery en ’n enkelma van drie wat 10 jaar ná haar egskeiding ’n geheime liefdesverhouding met haar eksman (Alec Baldwin) begin.

Intussen voel sy ook aangetrokke tot haar argitek, Adam (Steve Martin). John Krasinski is in ’n byspelerrol te sien.

It's Complicated het ’n gemengde reaksie gekry: Die akteurs se toneelspel is geprys, terwyl die “effens voorspelbare storie” kritiek gekry het. Die prent, met sy begroting van $75 miljoen tot $85 miljoen, het teen Januarie 2010 sowat $112,7 miljoen in Amerika en Kanada ingesamel en eindelik wēreldwyd $219,1 miljoen.

It's Complicated het op die 67ste Golden Globe-toekenningsaand drie benoemings gekry: vir beste blyspel of komedie en beste draaiboek (albei vir Meyers) en beste aktrise in ’n blyspel of komedie vir Streep.

Baldwin is vir ’n Bafta benoem as beste manlike byspeler, terwyl die ensemble die National Board of Review Award vir beste akteurspan gewen het.

Rolverdeling

Meryl Streep as Jane Adler, die eienaar van 'n suksesvolle bakkery Steve Martin as Adam Schaffer, Jane se argitek en liefdesbelangstelling Alec Baldwin as Jacob "Jake" Adler, Jane se eksman Lake Bell as Agness Adler, Jake se nuwe vrou Hunter Parrish as Luke David Adler, Jane en Jake se seun Zoe Kazan as Gabby Adler, Jane en Jake se jongste dogter Caitlin FitzGerald as Lauren Adler, Jane en Jake se oudste dogter John Krasinski as Harley, Lauren se verloofde Mary Kay Place as Joanne Rita Wilson as Trisha James Patrick Stuart as dr. Moss, die plastiese chirurg Jimmy Clabots as Chase Blanchard Ryan as Annalise Michael Rivera as Eddie Robert Curtis Brown as Peter Peter Mackenzie as dr. Alan, Jane se terapeut Rosalie Ward as Alex Emjay Anthony as Pedro Adler Nora Dunn as Sally Bruce Altman as Ted

Storielyn

Jane, wat ’n suksesvolle bakkery in Santa Barbara, Kalifornië, besit, en Jake Adler, ’n suksesvolle prokureur, is al 10 jaar geskei. Hulle het drie kinders saam: twee dogters en ’n seun, van wie die jongste pas kollege toe is. Dit laat Jane eensaam voel. Jake is intussen getroud met Agness, die veel jonger vrou met wie hy Jane verkul het.

Agness bly tuis omdat haar seun, Pedro, siek is, en Jane en Jake woon hulle seun, Luke, se gradeplegtigheid in New York by. Die twee drink saam iets en geniet ’n aangename aand terwyl hulle herinneringe uit die verlede ophaal, wat daartoe lei dat hulle saam in die bed beland. Jane is onmiddellik spyt oor wat hulle gedoen het, terwyl Jake verheug is en haar steeds probeer nader toe hulle na Santa Barbara terugkeer. Hulle begin gou ’n verhouding.

Terwyl Agness gereelde afsprake vir Jake by ’n vrugbaarheidskliniek reël, neem Jake in die geheim medikasie om sy gereelde urinering te verminder. Die newe-effekte daarvan is ’n verlaagde spermtelling en duiseligheid. Ná een van sy sessies het hy ’n middageteafspraak met Jane by ’n hotel.

Jake sak in die hotelkamer inmekaar en ’n dokter word ontbied. Die dokter vermoed Jake se toestand word moontlik deur die medikasie veroorsaak en sê hy moet ophou om dit te gebruik. Jake en Jane se kinders weet niks van die verhouding nie, maar Harley, wat aan hulle oudste dogter verloof is, sien die twee saam met die dokter in die hotel. Hy verduur daarna aansienlike spanning terwyl hy hulle geheim bewaar.

thumb|240px|Hoewel die verhaal in Santa Barbara afspeel, is die fliek hoofsaaklik in New York verfilm. Jane bestee ’n aand daaraan om op Jake se versoek ’n uitgebreide maaltyd te berei, maar hy daag nie op nie omdat Agness haar planne verander het. Jane beëindig gevolglik die verhouding. Sy begin daarna vir Adam sien, die argitek wat sy aangestel het om haar huis te verbou en wat self nog besig is om van ’n egskeiding te herstel. Op die aand van Luke se gradeplegtigheidspartytjie in Santa Barbara nooi Jane Adam as haar metgesel. Sy is onder die invloed wanneer hy haar kom haal, omdat sy vroeër ’n trek van ’n daggasigaret wat Jake vir haar gegee het, geneem het. Voordat hulle by die partytjie aansluit, rook Adam saam met Jane van die sigaret. Binne lag hulle en is hulle albei vrolik en onder die invloed. Jake raak jaloers terwyl hy hulle dophou en, nadat hy Jane daaroor uitgevra het, rook hy ook saam met haar. Agness sien daarna hoe Jake en Jane saam dans en besef hulle het ’n verhouding.

Ná die partytjie gaan Adam en Jane na Jane se bakkery, waar hulle saam sjokolade-croissants maak en die aand met ’n romantiese soen afsluit. Jake en Agness gaan uitmekaar, hoewel dit nie duidelik is wie vir wie verlaat het nie. Die kinders, wat simpatie het met Jake se oënskynlike hartseer, vra hom om by hulle in Jane se huis te bly, waar hulle as ’n gesin ’n aangename aand saam deurbring.

Jake gaan na Jane se slaapkamer en trek sy klere uit in ’n poging om haar te verlei, onbewus daarvan dat sy met Adam via ’n webkamera gesels. Hy sien Jake, en Jane moet noodgedwonge aan hom en haar kinders erken dat sy en Jake wel ’n verhouding gehad het, maar dat dit verby is en dat sy nie daarin belangstel om weer saam met hom te wees nie. Die kinders ry ontsteld weg.

Adam sê later vir Jane hy kan haar nie meer sien nie omdat hy vrees dit sal uiteindelik net tot hartseer lei. Jane raak eindelik met haar kinders versoen en hulle erken hulle was ontsteld oor wat tussen hulle ouers gebeur het omdat hulle steeds van die egskeiding herstel. Jane beëindig dus haar verhouding met Jake vir goed en op ’n vriendskaplike wyse.

Op ’n reënerige dag arriveer die konstruksiespan by Jane se huis om met die verbouing te begin. Adam verskyn onverwags en sê vir haar dat dit goeie geluk bring om die grondwerk in die reën te begin. Die twee lag saam toe hy haar vra of sy weer bereid sal wees om sjokolade-croissants te maak.

Ontvangs Op Rotten Tomatoes was 58% van 183 resensies positief, met ’n gemiddelde gradering van 5,80/10. Die webtuiste se kritiese konsensus lui: "Ondanks goeie werk deur ’n goeie rolverdeling, is It's Complicated voorspelbare romantiese komedie, wat eerder op breë humor as op subtiliteit en nuansering staatmaak." Op Metacritic het die fliek ’n telling van 57 uit 100 gekry op grond van 30 resensies, wat dui op ’n "gemengde of gemiddelde" ontvangs. Gehore wat deur CinemaScore ondervra is, het die prent ’n gemiddelde telling van "A-" op ’n skaal van A+ tot F gegee.

Wesley Morris van die Boston Globe het die prent "die emosioneel gesofistikeerdste van al Meyers se fantasieë" genoem en die toneelspel daarin geprys. Hy het geskryf dit voel of "die prent vir Meryl gemaak is. Streep was volgens hom “onweerstaanbaar" en Baldwin is ’n waardige teenstander vir haar. In sy resensie vir die Washington Post het Michael O'Sullivan die fliek ’n "baie volwasse – en baie snaakse – liefdesverhaal genoem wat daarin slaag om tegelyk ligvoetig en swaar genoeg te wees om ’n soort boodskap oor te dra". Hy het afgesluit: "Food Network-pornografie, warm middeljarige seks en ’n gelukkige, hoewel effens bittersoet, einde. Vir ’n bepaalde gehoor – maar nie net vir daardie gehoor nie."

Roger Ebert van die Chicago Sun-Times het dit twee en ’n halwe sterre gegee en dit ’n uitstekende voorbeeld genoem van Meyers se gevestigde "klein filmbedryf van rolprente oor middeljarige mense wat romanties ingestel is". Hy het die rolverdeling, insluitend Streep en Baldwin, geprys. Van eersgenoemde het hy gevoel dat sy "ons, soos so dikwels, inspireer om te glo dat sy goed is in alles wat sy doen", maar hy het opgemerk dat hoewel die film "snaakse dinge" en aangename karakters bevat, It's Complicated meer ’n "herrangskikking van die goedere in Nancy Meyers se bakkery is, en sommige daarvan hoort op die rak vir produkte van gister."

Mary Pols het Streep se "stralende, snaakse en innemend kwesbare" vertolking en Meyers se "slim en vars [...] voorneme om die werklikheid van die fantasie wat waar word, te toon" in die tydskrif Time geprys. Sy het egter gevoel It's Complicated word eerder as ’n "watter-man-sal-sy-kies-verhaal" aangebied, wat nie die "dramatiese spanning het om daardie storielyn te voed nie." Lisa Schwarzbaum van Entertainment Weekly het die prent ’n gradering van B− gegee en beskryf as "middeljarige pornografie, Meyers se spesialiteit".

Verwysings

Skakels

Kategorie:Amerikaanse rolprente