Facebook Marketplace is ’n aanlyn geklassifiseerde advertensie- en handelsplatform wat deel van die Facebook-sosialenetwerkdiens vorm. Dit stel gebruikers in staat om produkte wat te koop aangebied word volgens ligging, kategorie en prys te vind en om deur Facebook Messenger met kopers of verkopers te kommunikeer.

Geskiedenis Facebook het Marketplace op 3 Oktober 2016 in die Verenigde State, Verenigde Koninkryk, Australië en Nieu-Seeland bekend gestel. Die diens was aanvanklik beskikbaar aan Facebook-gebruikers van 18 jaar en ouer deur die Facebook-toepassings vir Android en iOS. Facebook het in hierdie aanvanklike weergawe nie self betalings of die aflewering van produkte hanteer nie; kopers en verkopers moes dié besonderhede onderling reël.

Marketplace is in Augustus 2017 na 17 Europese lande uitgebrei. Teen 2018 het Facebook kunsmatige intelligensie begin gebruik om onder meer advertensies te kategoriseer, prysklasse voor te stel, soortgelyke produkte aan te beveel en advertensies wat die platform se handelsbeleide oortree, op te spoor.

Mededingingsaangeleenthede Die Europese Kommissie het Meta in November 2024 met €797,72 miljoen beboet vir die oortreding van die Europese Unie se mededingingsreëls. Volgens die Kommissie het Meta Facebook Marketplace onregmatig aan Facebook gekoppel en onbillike handelsvoorwaardes op mededingende verskaffers van aanlyn geklassifiseerde advertensies toegepas. Die koppeling het aan Marketplace ’n verspreidingsvoordeel gebied wat mededingers nie kon ewenaar nie. Meta het aangekondig dat hy teen die beslissing sou appelleer, maar intussen aan die Kommissie se bevel sou voldoen.

Verwysings

Eksterne skakels Amptelike webwerf

Kategorie:Facebook Kategorie:Elektroniese handel Kategorie:Aanlynmarkte Kategorie:Internetdienste