‘n Intervarsity is ‘n meesal jaarlikse interuniversitêre sportbyeenkoms.

Begrip Die woord intervarsity verwys eintlik na ‘n gebeurtenis, geleentheid, aktiwiteit of wedstryd wat plaasvind tussen twee of meer universiteite. Gewoonlik word die term gebruik by sportbyeenkomste, maar ook by debatskompetisies, redenaarskompetisies en vasvrawedstryde wat tussen spanne van mededingende universiteite gehou word. In Suid-Afrika verwys dit egter meesal slegs na sportwedstryde en dan eintlik net na rugbykragmetings.

Bekendste Die bekendste intervarsity wat gehou word, is waarskynlik tussen sportspanne van die Universiteit van Oxford en die Universiteit van Cambridge in Engeland. Daar word in ‘n 20 sportsoorte meegeding. Die bekendste is sekerlik die roeiwedstryd op die Teems oor ‘n 6.8 km van Putney na Mortlake. Hierdie wedstryd vind al sedert 1829 plaas.

Suid-Afrika Hier vind ook sulke wedstryde in verskillende sportsoorte plaas. Waar in Engeland die bekendste wedstryde in roei is, is dit hier in rugby. Hierdie rugby-kragmetings dateer uit 1911 toe spanne van die Suid-Afrikaanse Kollege en die Victoria-kollege teen mekaar te staan gekom het. Nadat die SA Kollege en die Victoria Kollege in 1918 tot onderskeidelik die Universiteit van Kaapstad (die Ikeys) en die Universiteit van Stellenbosch (die Maties) verhef is, het die werklike intervarsities tussen die Ikeys en Maties begin. Jaarliks vind die hoofwedstryd om die beurt op Nuweland en Coetzenburg plaas, Dit gaan gepaard met ‘n feestelike atmosfeer gekenmerk aan sang gelei deur harlekynagtige rasieleiers en sjampanjenooientjies, baniere, die optrede van trompoppies en studentekaskenades en word gewoonlik goed ondersteun deur alumni en geniet besondere aandag van die koerante. Soortgelyke feestelike byeenkomste vind sedert 1915 plaas tussen die studente van die Universiteit van die Witwatersrand, die Witsies, en die Tukkies van die Universiteit van Pretoria. Vanaf 1929 kom die Kovsies van die Universiteit van die Vrystaat en die Pukke van die Noordwes-Universiteit teen mekaar te staan.

Lees ook Gimkana

Kategorie:Rugby Kategorie:Universiteite Kategorie:Sport Kategorie:Roei