Nasel ’n “Nasel” kan omskryf word as ’n afsonderlike vaartbelynde omhulsel op ’n vliegtuig waarin iemand of iets, byvoorbeeld die bemanning of ’n enjin, beskerm of gehuisves word. Die term “nasel” verwys na enige klein konstruksie op ’n vliegtuig, insluitende die romp van ’n vliegtuig of die nasel vir die bemanning, op vliegtuie met ’n stertvlerk wat op ’n uithouer gemonteer is. Vandag is dit oor die algemeen van toepassing op die hulsel of nasel waarin die enjin is.

Daar word tussen ’n nasel en ’n gondel onderskei. Daar is byvoorbeeld die terme “enjinnaselstut”(engine nacelle strut), “naselraam” (nacelle frame) en “naselsykap” (nacelle side cowl) en die terme “enjingondelplasing” (engine-pod location), “gondel-en-boomstruktuur” (pod-and-boom structure) en “gondelligging” (pod location). Volgens die Vliegtuigbouterme word die keuse van die Afrikaanse vertaling dus bepaal deur die Engelse term wat gebruik word.

AANTEKENINGE

Foto 1

Die nasel van die Convair CV-990 hang onder die enjinnaselstut.

Foto 2

Die kap op die enjinnasel van hierdie vliegtuig is oop.

Illustrasies van verskillende naselle en die verskillende maniere waarop enjinnaselle op vliegtuie gemonteer is AANTEKENINGE

Foto 1

Die Lockheed P-38 Lightning, uit die Tweede Wêreldoorlog, het drie naselle, naamlik een sentrale nasel wat die stuurkajuit en bewapening bevat en twee naselle wat die enjins bevat (links en regs van die sentrale nasel).

Foto 2

Die Vickers Viscount is ’n viermotorige turboskroefvliegtuig met kenmerkende, dun enjinnaselle wat deel van die vlerk uitmaak en oor die vlerk versprei is.

Foto’s 3 en 4

Die Hawker Siddeley Nimrod is ’n viermotorige maritieme verkenningsvliegtuig waarvan die eninnaselle in die vlerkwortels ingebou is.

Foto 5

Die vier enjins van die Vickers VC10-straalpassasiersvliegtuig is agter op sy romp gemonteer. Die enjinnaselle is in twee pare gemonteer.

Foto 6

Die enjinnasel van die Boeing 707-straalpassasiersvliegtuig is die vaartbelynde omhulsel wat die enjin self bevat.

Foto 7

Die Basler BT-67 se enjinnasel is agter die lugskroef.

Gondel ’n “Gondel” word as ’n omhulsel, hulsel of ’n afhaalbare houer op ’n vliegtuig of ruimtevaartuig omskryf. “Gondels” word omskryf as vaartbelynde houers wat by wyse van kort stutte onder ’n vliegtuig se vlerke hang of aan die kant van ’n romp gesteun word.

Volgens ’n Engelse verklarende woordeboek word “pod” (gondel) (betekenis 4a) omskryf as ’n vaartbelynde kompartement (byvoorbeeld vir brandstof) onder die vlerk of romp van ’n vliegtuig.

Volgens ’n ander bron word “nasel” en “gondel” uitruilbaar gebruik: naselle word soms gondels genoem. Dieselfde bron wys egter ook daarop dat nie elke gondel ’n nasel is nie. ”Gondel” is ’n meer algemene term vir enige vaartbelynde omhulsel wat heeltemal buite die lugraam aan die vliegtuig geheg is. Die funksie van die gondel is om die lugvloei rondom die inhoud van die gondel gladder te maak.

Illustrasies van verskillende gondels en die verskillende maniere waarop gondels op vliegtuie gemonteer is AANTEKENINGE

Foto 1

Drie van die Gatling-tipe masjiengewere van die Douglas AC-47D word in Viëtnam gesien. Die gondel waarin so ’n geweer is, kan in die oop vragdeur gesien word.

Foto 2

Hier word ’n gondel onder ’n Douglas A-1E Skyraider geïllustreer.

Foto 3

Dit is ’n Boeing EA-18G Growler met vyf gondels: twee op die vlerkpunt, twee onder die vlerk en een in die middel van die romp. Van links na regs (op die linkerdeel van die vlerk) is daar die vlerkpuntgondel, ’n missiel, ’n steurtoestelgondel en ’n eksterne brandstoftenk. Sien die artikel Vlerkkonfigurasie rakende 'n omskrywing van die term "vlerk".

Foto 4

’n Spaarenjin vir ’n vliegtuig word in ’n gondel onder die vlerk vervoer.

Foto 5

Dit is ’n enjingondel op ’n Boeing B-47.

Verwysings