Die Woermann-lyn (Woermann-Linie) was ‘n Duitse skeepsredery met sy hoofkantoor in Hamburg wat in die jare 1885 tot 1941 passasiers en vrag vervoer het tussen hawens in Europa en Afrika. In sy tyd was dit die belangrikste redery wat hawens in Afrika bedien het.
Ontwikkeling Hierdie firma, amptelik bekend as die Afrikanische Dampfschiffahrts-Actiengesellschaft, is op 15 Junie 1885 in Hamburg gestig deur Adolph Woermann. Aanvanklike vervoerroetes verbind Hamburg met hawens aan die weskus van Afrika, naamlik in Kameroen, Liberië, Gaboen, Sierra Leone, Ghana, Nigerië en Angola en vanaf 1890 Swakopmund. In 1890 stig die firma die Deutsche Ost-Afrika Linie en brei met sy tientalle stoomskepe die netwerk uit na Kaapstad, Dar-es-Salaam, Aden en selfs Indië. Vroeë bekende skepe in die vloot was die Gertrud Woermann (gebou 1885 en van 1816 ton), Professor Woermann (1903, 5631 ton), en die Adolph Woermann (1922, 8577 ton). Verskeie van die latere skepe van die redery het as tweede naam Woermann gehad.
Vrag Die vloot stoomskepe vervoer grondstowwe soos koffie, rubber, ivoor, kakao en palmolie na die fabrieke in Europa en vervaardigde goedere soos tekstiel, masjinerie, alkoholiese dranke wapens en buskruit na die markte in Afrika. Baie van die passasiers was koloniale amptenare en soldate op weg na die Duitse kolonies. Hamburg het ontwikkel as een van Europa se belangrikste hawens vir die handel met Afrika.
“Om Afrika”-diens In 1904 het die Woermann-lyn en sy vennoot die Deutsche Ost-Afrika Linie saamgesmelt met die Hamburg-Amerika Linie. Daarna het die firma ‘n diens rondom die hele Afrika gelewer. Alle hawens is egter nie op alle reise deur alle skepe aangedoen nie. Die roete was Hamburg, Rotterdam. Southampton, Boulogne, Las Palmas, Takoradi, Accra, Lagos, Douala, Lobito, Swakopmund, Walvisbaai, Lüderitzbucht, Kaapstad, Port Elizabeth, Oos-Londen, Durban, Lourenco Marques, Beira, Mocambique, Porto Amélia (Pemba), Dar-es-Salaam, Zanzibar, Tanga, Mombasa, Aden, Suez, Port Said, Genua, Marseille, Málaga, Ceuta en terug via Rotterdam en Bremen na Hamburg. Soms is die reis verleng na Indië.
Monopolie Toe Duits-Suidwes-Afrika (die huidige Namibië) in 1884 ‘n Duitse protektoraat (dus eintlik ‘n Duitse kolonie) word, is die Woermann-vloot met die beoogde ontwikkeling vergroot. Tydens en na die opstande van die Herero en die Nama verdubbel die redery sy skepe op die roete om troepe en wapentuig te vervoer. Die maatskappy het toe geweldig baie geld verdien weens sy alleenreg om na Swakopmund te vaar.
Einde Die Eerste Wêreldoorlog, die opkoms van die Nazi-party en die gevolglike Tweede Wêreldoorlog het die skeepvaartonderneming tot ‘n einde gebring. Baie skepe is gesink, ander is buit gemaak en weer ander bloot deur die Geallieerdes gekonfiskeer. Die nalatenskap van die Woermann-lyn leef egter voort in die C. Woermann-groep se tegniese diensverlening en handelsaktiwiteite in Afrika.
Monument Afrikahaus in Hamburg het sedert 1899 die hoofkantoor van die bedryf gehuisves. Hierdie monumentale gebou met sy standbeelde, gietyster- en mosaïekkunswerke is in die Tweede Wêreldoorlog ernstig beskadig. Dit is herstel en tot gedenkwaardigheid verklaar. Die Woermann-huis in Swakopmund is ‘n dubbelverdiepinghuis in die karakteristieke Duitse styl uit die koloniale era. Dit is in 1905 opgerig vir die Damara- und Namaqua-Handelsgesellschaft. In 1972 is dit eweneens tot monument verklaar.
Lees ook Holland-Afrika Lyn Norddeutscher Lloyd Union-Castle-Redery
Bibliografie https://www.c-woermann.de/englisch_de/history https://www.benjidog.co.uk/TheShipsList/WoermannLinie.php https://grokipedia.com/page/woermann_linie
Kategorie:Namibië Kategorie:Vervoer Kategorie:Rederye Kategorie:Duitse rederye