duimnael|Die Hester Rupert-kunsmuseum Die Hester Rupert-kunsmuseum in Graaff-Reinet is gehuisves in ‘n kerkgebou wat tot gedenkwaardigheid verklaar is.

Museum Die museum in Kerkstraat is in ‘n voormalige kerk wat in 1965 deur die Rembrandt-groep gekoop en tot museumgebou omskep is om die voortbestaan van die historiese en argitektoniese juweel in die hart van die dorp te bewaar. Dit is op 26 Julie 1966 geopen en dra die naam van die moeder van Anton Rupert. Suid-Afrikaanse kunstenaars het die oorspronklike 86 werke geskenk. Metterjare het dit tot 126 kunswerke deur 106 kunstenaars aangegroei. Onder andere het Moses Kottler, Coert Steynberg, Lippy Lipshitz, Edoardo Villa en Gerard de Leeuw beeldhouwerke geskenk. Kottler se werk “Oom Fanie” en Steynberg se “Louw Wepener” is te sien. Hier is skilderye en grafiese werke van onder meer Maggie Laubser, Erik Laubscher, Irma Stern, Lawrence Scully en Alexander en Marianne Podlashuc.

Gebou Hierdie voormalige N.G. Sendingkerk dateer uit 1821 en is op vyf na die oudste bestaande kerkgebou in die land. Boonop is dit een van slegs drie voorbeelde van ‘n tipiese kruisplan-kerk in Suid-Afrika. Vier gewels versier die gebou. Dit is sedert 4 Oktober 1968 ‘n monument.

Bronnelys https://hesterrupertartmuseum.co.za/permanent-exhibition-hester-rupert-art-museum-graaff-reinet/ Oberholster, J.J.: Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:Kunsmuseums en galerye van Suid-Afrika Kategorie:Kunsversamelings