Primal Fear is 'n Amerikaanse regsriller van 1996 wat deur Gregory Hoblit geregisseer is. Dit is geskoei op die roman met dieselfde naam deur William Diehl. Die hoofakteurs is Richard Gere, Laura Linney, John Mahoney, Alfre Woodard, Frances McDormand en Edward Norton in sy rolprentdebuut.
Die rolprent gaan oor 'n advokaat in Chicago wat glo sy kliënt, 'n altaarknaap, is onskuldig aan die moord op 'n Katolieke biskop.
Die prent was 'n treffer by die loket en het goeie resensies gekry, met veral Norton se spel wat geprys is. Norton het die Golden Globe vir beste manlike byspeler in 'n drama gewen en is in dieselfde hoedanigheid vir 'n Oscar en Bafta benoem. Rolverdeling
Richard Gere as die advokaat, Martin Vail Edward Norton as Aaron Stampler/Roy, die beskuldigde Laura Linney as die staatsaanklaer Janet Venable John Mahoney as die staatsaanklaer John Shaughnessy Alfre Woodard as regter Shoat Frances McDormand as dr. Molly Arrington Terry O'Quinn as Yancy Andre Braugher as Tommy Goodman, Vail se ondersoeker Steven Bauer as Joey Piñero, 'n plaaslike misdaadbaas en Vail se kliënt Joe Spano as Stenner Tony Plana as Martinez Azalea Davila as Linda Forbes Stanley Anderson as aartsbiskop Richard Rushman Maura Tierney as Naomi, Vail se assistent Jon Seda as Alex, 'n voormalige altaarknaap Reg Rogers as Jack Connerman
Verskeie televisienuuspersoonlikhede van Chicago het kameeverskynings as hulleself gemaak terwyl hulle oor die saak berig het.
Storielyn
Martin Vail is 'n arrogante advokaat van Chicago wat bekend daarvoor is dat hy ongewilde maar hoëprofielkliënte verdedig, insluitend die beweerde Mafiabaas Joey Piñero. Hy is lief vir die kollig en is bestem om op die voorblad van 'n tydskrif te verskyn. Hy probeer om weer 'n los verhouding met 'n voormalige kollega, die aanklaer Janet Venable, aan te knoop.
Die publiek se geliefde aartsbiskop Rushman word vermoor en vermink in sy slaapkamer aangetref. Aaron Stampler, 'n 19-jarige altaarknaap van Kentucky, word betrap terwyl hy bebloed van die toneel af vlug en word daarna van moord aangekla. Vail bied aan om hom pro bono te verdedig. Die bedeesde, hakkelende Aaron beweer hy is onskuldig, maar ly aan geheueverlies en kan nie onthou wat tydens die moord gebeur het nie. Hy beweer daar was 'n derde persoon in die kamer. Vail glo Aaron, terwyl die staatsaanklaer, John Shaughnessy, Venable aanwys om die saak te vervolg en die doodstraf na te streef. By Aaron se woonstel word Vail se ondersoeker, Tommy Goodman, deur 'n ander altaarknaap, Alex, aangeval, waarna Alex vlug. Die neurosielkundige dr. Molly Arrington ondervra Aaron oor sy moeilike kinderjare, sy geheueverlies en sy vermiste meisie, Linda.
Met Piñero se hulp ontdek Vail dat invloedryke burgerlike leiers, insluitend Shaughnessy, miljoene verloor het in eiendomsbeleggings weens Rushman se besluit om nie kerkgrond te ontwikkel nie. 'n Stuk teks wat met die boek The Scarlet Letter verbind word, is in Rushman se bors uitgekerf, wat die polisie as die motief vir die moord vertolk en die aartsbiskop as "vals" uitbeeld. Vail en Goodman vind Alex, wat beweer dat hy na 'n videokasset in Aaron se woonstel gesoek het. Vail en sy span ontdek beeldmateriaal wat deur die aartsbiskop verfilm is waarin hy Aaron, Linda en Alex dwing om seks te hê. Vail en sy span neem aan dat Rushman die jong mense met uitsetting uit hulle groepshuis gedreig het, wat 'n motief vir Aaron sou verskaf om Rushman te vermoor.
Vail konfronteer Aaron woedend omdat hy inligting verswyg het, maar Aaron ontken die beskuldigings en raak toenemend ontsteld namate Vail hom verder onder druk plaas. Aaron se houding verander skielik van onderdanig in aggressief, en hy berispe Vail omdat hy Aaron "weggejaag" het. Dié gewelddadige persoonlikheid, wat homself Roy noem, erken hy het die aartsbiskop vermoor, maar dreig Vail om niks in die verhoor van die kasset te sê nie. Skielik keer hy terug na Aaron se mak persoonlikheid sonder enige herinnering aan die voorval. Dr. Arrington kom tot die gevolgtrekking Aaron het dissosiatiewe identiteitsteuring, wat veroorsaak is deur jare lange mishandeling deur sy vader en later deur Rushman. Vail raak innerlik verdeeld omdat hy weet hy kan sy kliënt deur middel van 'n waansinverweer laat vryspreek, maar dat hy nie volgens die reg sy strategie in die middel van die verhoor kan verander nie.
Vail lewer die bewyse anoniem aan Venable, wat haar dwing om die band as bewys van Aaron se motief te gebruik, ten koste van die aartsbiskop se reputasie en met die risiko dat simpatie vir Aaron gewek word. Shaughnessy eis dat sy die bewyse vernietig, maar sy weier en dien dit in die hof in. Piñero word vermoor aangetref, en Vail verras die hof deur Shaughnessy as getuie te roep. Vail suggereer dat Shaughnessy die aartsbiskop verpes het omdat hy die grondontwikkelingsprojek van $60 miljoen stopgesit het, en beskuldig hom daarvan dat hy vroeëre bewyse van die aartsbiskop se seksuele uitbuiting verdoesel het en medepligtig aan Piñero se dood was.
Die regter gryp in en beboet Vail omdat hy die hofsaal vir sy persoonlike vendettas gebruik. Sy verwerp ook dr. Arrington se getuienis omdat dit te na aan 'n waansinpleit kom. Vail roep Aaron na die getuiebank en lok hom doelbewus uit om Roy te word, en dié vloek en rand Venable aan. Die regter ontbind die jurie ten gunste van 'n regterverhoor en verklaar Aaron onskuldig weens waansin. Vail lig Aaron in dat hy na 'n psigiatriese hospitaal verwys gaan word vir behandeling en waarskynlik later vrygelaat sal word. Toe Aaron sê hy is jammer dat hy Venable se nek beseer het, besef Vail dat Aaron bewus was van sy optrede tydens die aanval, wat sy beweerde geheueverlies weerspreek. Aaron prys die prokureur vir sy insig; hy spog dat hy Linda en Rushman sonder enige berou vermoor het en onthul dat daar nooit 'n "Roy" was nie. Vail verlaat die hofgebou deur 'n agterdeur, verstom en ontnugter.
Uitreiking en ontvangs Die rolprent is op 5 April 1996 uitgereik en het die no. 1-posisie drie agtereenvolgende weke beklee. Dit het wêreldwyd $102,6 miljoen dollar verdien.
Op Rotten Tomatoes was 77% van 48 resensies positief, met 'n gemiddelde punt van 6,8/10. Die webtuiste se konsensus lui: "Primal Fear is 'n reguit, maar vermaaklike riller wat verhef word deur 'n uitsonderlike vertolking deur Edward Norton." Op Metacritic het die prent 'n gemiddelde telling van 47 uit 100 gekry op grond van 18 resensies, wat dui op 'n "gemengde of gemiddelde" ontvangs.
Roger Ebert van die Chicago Sun-Times het Primal Fear met drie en 'n half sterre bekroon en geskryf "die intrige is so goed as wat misdaadprosedures kan wees, maar die rolprent is eintlik beter as sy intrige danksy die driedimensionele karakters". Ebert het Gere se vertolking as een van die bestes van sy loopbaan beskryf, Linney geloof omdat sy daarbo uitstyg in plaas daarvan om in 'n stereotiepe karakter te verval, en Norton geprys vir 'n "heel oortuigende" uitbeelding. Janet Maslin van The New York Times het geskryf die rolprent het 'n "goeie mate van oppervlakkige bekoring", maar dat "die verhaal op te veel syspoor-subintriges staatmaak om dit besig te laat lyk".
Pryse Edward Norton het die Golden Globe en talle ander pryse gewen as beste manlike byspeler en belowendste akteur, en is vir nog meer pryse benoem: onder meer 'n Oscar en Bafta.
Primal Fear word op die volgende lyste deur die American Film Institute erken: 2003: AFI's 100 Years...100 Heroes and Villains: Aaron Stampler – benoemde skurk 2008: AFI's 10 Top 10: Benoem as hofdramarolprent
Verwysings
Skakels
Kategorie:Amerikaanse rolprente