Die Hessekwa (soms Hessequa) was die belangrikste Khoikhoi-stam oos van die Hottentots-Hollandberge tydens die bewindstydperk van die VOC aan die Kaap.

Woongebied Hulle het rondgetrek tussen die Langeberge en die see en ongeveer van die Sonderendrivier en die Breederivier in die weste en die Attakwaskloof en die Gouritsrivier in die ooste. By die aanvang van die 18de eeu het hulle steeds onaangetas op hierdie wye kusvlakte gewoon.

Geskiedenis Die Hessekwa onder kapt. Goukou was veral in die 1670’s weens hul groot veekuddes ‘n sterk en besonder welgestelde stam. Dus kon hulle goed aan die VOC se onversadigbare behoefte aan skaap- en beesvleis en trekosse voldoen en boonop het hulle nog net binne redelik maklike bereik van die Fort de Goede Hoop gewoon. In 1734 stig die VOC self die buitepos Oude Post aan die Buffeljagsrivier. Weens die pokke-epidemies van 1713, 1750 en 1780, onderlinge struwelinge en die voortslepende ekonomies-politieke druk van die VOC, trekboere, San en Xhosa] het Khoikhoi-groepe soos die Hessekwa verbrokkel en is hulle feitlik uitgeroei. Geleidelik het die Europeërs besit van die Khoikhoi-weivlede geneem.

Dorpe Woongebiede waarin veral verre nasate van die Hessekwa woonagtig is, is Genadendal, Suurbraak, Slangrivier en Askraal.

Lees ook Goukourivier Hessequa Plaaslike Munisipaliteit

Bibliografie de Jongh, Michael: A forgotten first people – the Southern Cape Hessequa. Durban: The Watermark Press, 2006. ISBN 978-0-620-69319-6

Kategorie:Etniese groepe in Suid-Afrika